DIE AARDE HET GEBEWE! (17)

THELMA CILLIE

Die verhaal van Suid-Afrika se grootste aardbewing ooit - 1969 in die Ceresgebied.

Lees reeks by Die aarde het gebewe!

DIE DOOD van Matheus Steenkamp en sy twee seuns tydens 'n vakansie, het ons gemeenskap diep geskok. Hierdie man wat die nag van 29 September sy lewe saam met drie ander gewaag het om Ceres se watervoorraad te red, en gespaar gebly het, moes nou op hierdie tragiese wyse saam met sy twee seuns en 'n kleurlingarbeider verdrink. Nee, ons sal nooit die weë van die Here verstaan nie.

Ek glo dat die beproewinge tydens en na die aardbewing later as een van die hoogtepunte in ons lewenservaring sal uitstaan — ek glo dat ons eendag, as ons so lank gespaar mag bly, sal terugkyk na hierdie fase van ons lewe as die mees verrykende.

Soos wat 'n mens simpatiseer met 'n vriend wat 'n dierbare aan die dood afgegee het — maar nie regtig jouself in die persoon se plek kan stel nie, so is dit nou ook met ons. Ons weet baie mense dink aan ons en ons weet hulle voel saam met ons — maar hulle sal nie regtig verstaan wat ons deurgemaak het nie, voordat hulle nie self ook 'n ramp van hierdie omvang belewe het nie. Dis 'n ondervinding wat nie ligtelik verbygaan nie, en elke regdenkende mens het 'n heilige ontsag vir hierdie aardskokke oorgehou . . .

As 'n mens nou jou huis so met elke skudding gadeslaan —hoe dit meer en meer stukkend ruk — dan eers besef jy hoe lief jy die tuiste het — noudat jy besig is om dit stuksgewys te verloor.

Ek glo vas ons sal eendag weer gelukkig en gerus lewe — elkeen in sy eie plekkie; hetsy van hout, steen of staal en asbes. Ek glo die tyd sal heel en genesing bring vir ons almal se gemoedskwellin gs.

Intussen heers hier by sommige van ons dorp se mense, 'n onverstaanbare geestestoestand. Ek weet nie presies hoe om dit te omskryf the, maar party mense is deurtrek met bitterheid — hulle het dit teen alles en almal. Ander bly weer ontevrede, hetsy met die hulp wat verleen is of wat ook al. Daar heers ontevredenheid en dwarstrekkerigheid oor baie dinge — ja, selfs haat en nyd is aanwesig. Vir my is dit 'n haas onbegryplike toestand in so 'n tyd van beproewing. Waarom is die mense so? vra ek myself dikwels af. Met wie baklei hulle nou eintlik oor bierdie ongerief en teenspoed? En kan hulle dan nie begryp dat ons op alle hulp wat ons ontvang het, in werklikheid nie eens geregtig was nie? Nee, dit is alles genadegawes, uit die welwillendheid van ons regering en ons land se mense.

Sommige mense is selfs ontevrede oor die grond waarop hulle tydelike huise opgerig is, te hard is — en dit was goedgunstiglik geskenk! Wil jy nou meer. 'n Dik streep ydelheid is ook vir baie van die klagtes verantwoordelik.

Ek wil egter glo dat hierdie soort reaksies van mense maar net nog 'n vorm van vertraagde skok is. Ons ly beslis almal nog aan die een of ander vorm van skok; sommige in 'n veel erger mate as ander, daarvan is ek baie seker.

Die grootste groep van ons mense is egter oortuig daarvan dat hulle hier moet bly, saam moet staan en deurdruk met ons planne om ons dorpe weer op te bou.

EK HET nou eendag stadig in die hoofweg afgery. Al lyk die geboue heel skaflik van buite, weet ek dat hulle van binne almal skewebek staan. Toe ek by Gemeenskapsbou se kantoor verby ry, dink ek onwillekeurig aan wat een van die amptenare daar ondervind het.

'n Sekere persoon gaan klop by Gemeenskapsbou aan en vra wanneer hy dan nou verdere vergoeding uit die rampfonds gaan kry. Die betrokke amptenaar antwoord toe dat sy besondere geval mos nou al afgehandel is en dat hy streng volgens sy skade vergoed is — wat verlang hy dan nou meer? “Wat!" se die klaer. “Vergoeding vir al die verskriklike ongerief wat die aardbewing meegebring het, natuurlik. Ek moet mos daarvoor ook vergoed word!" “My liewe meneer," antwoord die amptenaar van die rampkantoor, “ek is bevrees u is by die verkeerde adres. U moet na 'n Hoër Komitee gaan as u wil murmureer oor die ongerief wat die aardbewing veroorsaak het. Ons is net hier om te help. Ons het nie die aardbewing gestuur nie — dit kom van 'n Hoër Gesag!"

Het my mense, my Afrikanermense regtig so pap geword? Het ons werklik so stomp geword en so afhanklik? Waarom is ons so onvergenoegd? so ontevrede? Waarom murmureer ons en waarom is sommige van ons so gierig? Dit stem my onrustig.

Daar is mense wat wil twis met die regering omdat die koshuise en skole nog nie klaar herstel is nie. Is ons werklik so onopgevoed of is ons net dom? Yster kan tog nie met hande gebreek word nie. Hoe kan geweldige groot geboue oornag herstel word? Daarvoor is immers tyd nodig, maar almal is nou ewe haastig en ongeduldig om hulle woonplekke weer reggemaak te kry .

Ons dorp het vir ons vreemd geword. Honderde — nee, duisende mense werk in die gebied. Vreemde mense van vreemde nasies en vreemde kleure werskaf onverpoosd aan die oprigting van nuwe geboue. Al wat nog eie is aan ons dorpies is die name van die strate. Daar is nie meer bekende bakens of huise met 'n eie karakter nie; alles het onpersoonlik geword en nuwe geboue verrys stadig maar seker. Ons sal gewoond moet word aan die andersheid van die gebied en ons dorpe van nuuts of moet leer ken.

Ek wonder opeens hoekom ons nie na al die ontberings nederig word en nederig bly nie? God het tog nou baie duidelik aan ons gewys dat Hy met 'n enkele bevel, almal binne sekondes kan neerslaan.

Op pad na my huis ry ek by Ansie verby en ek onthou dat sy my eendag vertel het dat sy sedert die aardbewing nooit meer in die aand bad nie — liewer in die oggend — want sy is te bang daar kom weer 'n skudding en dan moet sy weer in die koue aandlug kaal uithardloop buitentoe! Nou een oggend sê haar bediende vir haar: “Maar het nôi nou al daaraan gedink hoe naar dit sil lyk as nôi nou hiller oordag kaal uithardloop?"

Hester wuif vrolik toe ek by haar verbyry. Ek sal haar dankbaar bly vir die pragtige spierwit naeltjie-blom wat sy my die ander dag gegee het juis toe ek so mismoedig gevoel het en ek 'n vreeslike behoefte aan blomme had.

Ek ry by Basie se huis verby en ek dink aan die aand toe hy my verseker het dat hy nie omgee om as die bangste man in die dorp bestempel te word nie, en dat hy sedert die aardbewing ook maar baie aan weggaan gedink het — veral in die aand. Maar as hy in die oggend gewek word deur die geroep van die fisante, besluit hy elke keer opnuut: hier moet ek bly. Ek sal nooit kan weggaan nie. Dit vertel hy dan ook vir sy vrou Soekie, en sy stem saam. Daarom is ek vir hulle lief.

TOE ek eindelik tuis kom is ek nie eens lus om uit die motor te klim nie. Ek dink nog maar aldeur aan al die ontwrigting wat die ramp veroorsaak het. Neem nou byvoorbeeld my huis. Ek vind geen genot meer in hom nie. Ek kan my nie meer uitleef in hom nie. Ek voel nie meer veilig in hom nie. Ek staan geheel en al apart van hom.

Ons slaapkamers is almal ontruim want dit blyk te gevaarlik te wees om daarin te slaap. Ons kombuis, sitkamer en eetkamer is nog in gebruik. Ons woon bedags in ons huis en in die aand word alles toegesluit en ons oornag in die veilige opslaanhuis langsaan die woonhuis. En elke aand as ek my deure agter my toesluit om in die “ander plek" te gaan vernag, breek iets in my. Eintlik is ons bevoorreg want baie mense gebruik deesdae hulle huise gedeeltelik; slaap in 'n opslaanhuis en bêre hulle besittings op ander plekke, met die gevolg dat hulle gedurig tussen drie plekke moet beweeg.

Om in twee huise te woon is nie lekker nie. Ek is te dom om dit voordelig te benut. Baie aande het ons al in gietende reën na ons opslaanhuis gehardloop om te vind dat ons iets belangriks vergeet het. Dan weer terug ou huis toe om dit te gaan haal. As ons eindelik almal gebad en in die bed is, begin die klagtes.

“Ou vrou, my kop is so seer. Is hier dan nie pille of vrugtesout in die huis nie?"

Ek hou my doof.

“Mamma, die plek op my voet is nog nie heeltemal gesond nie. Is hier dan nie eers 'n pleister in die huis nie?"

Ek trek die kombers oor my kop en maak vlugtig 'n aantekening in my agterkop om tog môre al die belangrike dingetjies te kry. Ek moet reeds twee van alles aanhou. As daar mense by my kom kuier terwyl ek in die “ou huis" is, moet ek die nodige mooimaakgoedjies daar hê om my respektabel te maak. Betrap hulle my egter in die opslaanhuis, moet ek daar ook my toorgoedjies hê om haastig in te kleur voor ek te voorskyn kan kom.

As ek vir Lona roep sodat ek haar gou kan vrae vra oor die belangrike toets wat hulle more moet skryf, sê sy: “Mamma kan nie nou wil vrae vra nie. My boek is in die ander huis!"

Andrew vergeet sy boek moedswillig in die “ander huis". Hy het buitendien geen erg aan skool nie. Vir hom is dit 'n verspotte onbelangrikheid. Dit is 'n vreemdsoortige kind hierdie van my. Hy lewe in 'n wêreld van sy eie — verhewe bo die “alledaagsheid van skoolgaan".

As die skool in die môre begin, vou hy hom netjies toe soos 'n oesterskulp, en hy loop ver lope met sy eie gedagtes. Hy loop tot onder in die boord by die diep leivoor; tot by die kwartelnessie waarvan net hy weet. Hy loop na die skaapkraal waar die wasem van warm nat mis nog in die lug hang. Hier woon 'n troppie patryse en hy groet hulle een vir een.

Hy loop ver — tot in die vlakte waar Witlies op die groen lusern staan en trots aan haar pasgebore kalfie lek. In sy verbeelding ry hy op 'n vaal ribbok om en om die rante; hy koggel 'n korhaan; hy vat 'n gladde blink ronde klippie en gooi hom fyn en sekuur ver oor die watervlak van die groot gronddam dat dit so net-net raak-raak. En terwyl die sirkels al wyer kring, kies hy sy eie koers.

Hy huppel oor die bossies en sing 'n lied van vryheid en hy verlustig hom aan kindwees in die veld. Hy is salig onbewus van sy klasmaats wat op 'n ruwe see saam met Dias en Da Gama worstel op soek na 'n seeweg na Indië, en hoe hulle sweet aan die datums van die verwoestende oorloë toe swartes al wat blank is wou uitmoor.

Vroeg in die môre as ek die kinders aanjaag met die aantrekkery dat ons tog betyds kan klaar wees vir skool, hoor ek sugtend uit die kinders se kamer: “Ag Mamma, nou lê my kouse weer in die ander huis," of “O! maar dit is koud en nou is my trui nie in die huis nie."

Ek dink aan my eie skoene wat nou ook in die ander huis is, en glimlaggend onthou ek die skoene-episode in 'n groot Kaapstadse winkel:

'n Paar maande na die aardbewing gaan 'n paar van ons vrouens Kaapstad toe vir inkopies. Ons neem die hele stad op horings en bars by 'n skoenwinkel in. Ons lag en gesels en beduie, en die hele winkel is net ons s'n. Drie van ons besluit op dieselfde skoen, en terwyl Marie, Irene en ek self ons voor die spieël bekyk, moet Sarina beoordeel — nie dat ons eintlik luister na wat sy sê nie. Ons wonder watter kleur om te neem en ons lag uitbundig by die gedagte dat ons dalk by dieselfde funksie sal opdaag, almal met eenderse skoene!

Skielik kom ons agter dat dit net ons vier is wat aanmekaar babbel. Geen klerk of kliënt is besig nie; almal verlustig hulle aan ons aanpassery. 'n Baie deftige dame kom na my en vra: “From where are you?"

Ek sê toe op my beste Engels:

“We are from Ceres."

“From Ceres?" herhaal sy, ongeloof en verbystering duidelik op haar gesig. “And you are so jolly?"

“Yes, we are jolly," sê  ek, “why not?" So raak ons toe aan gesels.

Dikwels daarna, soos nou ook weer, is ek veral om twee redes bly dat my pad gekruis het met die onbekende dame in die skoenwinkel in Kaapstad. Eerstens dat ek weer herinner is daaraan dat mense van buite nog steeds met liefde aan ons dink, en tweedens dat ons waarlik daartoe in staat is om “ jolly" te kan wees.

Nee waarlik ek het geen ondervinding van in twee huise bly nie en ek het ook nie aldag die nodige krag en wysheid om hierdie situasie te hanteer nie. Dit is seker net die koninklikes en die rykes wat van so iets kennis dra. Ek wonder moedeloos en magteloos hoe lank ek nog so sal moet woon. Miskien raak mens later gekonfyt in die soort leefwyse — wie weet.

Ek het dikwels die rykes beny dat hulle meer as een woning het, maar nou weet ek baie beslis dat ek net een woonplek wil hê: 'n woonplek waar ek elke ding netjies op sy plek kan bêre; 'n huis waar ek veilig en gelukkig my eie drome kan droom.

DINSDAG 14 APRIL, 1970, was 'n heerlike dag — sonnig en sonder wind. Die aand is ons besonder vroeg bedtoe, en nege-uur het ek reeds die lig afgeskakel. Malan het soos sy gewoonte is, feitlik onmiddellik aan die slaap geraak, maar ek wat van nature 'n slegte slaper is, het weer aan die aardbewing van 29 September, 1969 lê en dink — aan al die ontwrigting en ontberings; en vir die soveelste keer gewonder wanneer hierdie dorpe weer eendag opgebou sal wees en wanneer die skuddings heeltemal sal ophou.

En toe, meteens gebeur dit weer!           .

Net soos die eerste keer, sonder enige waarskuwing. 'n Oorverdowende lawaai, asof 'n reuse hamer die huis tref, pleistering wat afbreek, en die mure wat kraak asof hulle met ontsettende geweld verder uitmekaar gewring word. Ek het so gou as moontlik val-val in die donker na my kinders se kamer gehardloop, ons twee slapende dogtertjies gegryp en voortgebeur na die agterdeur toe, met Malan en Andrew kort op my hakke. Agter ons het ons gehoor hoe die kluite val.

Een ding is seker: as jy wil beweeg met 'n aardbewing, moet jy dit blitsvinnig doen of jou kanse om vorentoe te kom is absoluut nul.

Hier sit ons nou weer net waar ons 29 September, 1969 was. 'n Magtelose ou groepie vreesbevange mense voor die Almagtige.

Van oral kom die motors uit die dorp na ons toe. Ons maak maar weer aanmekaar koffie op gasstofies, en gee 'n paar pilletjies of 'n bietjie brandewyn waar dit nodig is. Ons sleep ook gou 'n bed uit vir ouma Vermaak, wat saam met Hennie en Marie by ons aangekom het, en ons sit die bed lekker beskut op die pophuis se stoep. Hier maak ons vir ouma lekker warm toe, en net gou was sy, danksy 'n kalmerende inspuiting, in droomland. Die res van ons slaap weer vir die soveelste keer onder die bloue hemel — met al die kinders beskermd tussen ons. Hoe onskuldig lê hulle hier op 'n ry, en ons wil hulle so graag enige leed bespaar — Almarie, Henobie, Marelise, Lona, Riana, Andrew, Louise, Soekie, Carol en nog baie ander. Ons is weer tot die dood ontsteld en die angs kom lê weer pynlik en verdwasend in ons. Hoeveel keer sou ons nog in die toekoms weer so beproef word?

Terwyl ons nog so verslae op 'n hopie sit, kom Irene en Koos met hul kroos ook asvaal van die skrik by ons aangery. Irene vertel grootoog hoe dit hulle getref het: “Julle weet, Mike en Koos was na die politieke vergadering. Ria en ek het ons lekker gemaklik ingerig om 'n heerlike aandjie deur te bring met ons handwerkies, en net toe kom Pikkie daar aan met vier heerlike gebraaide harders. Soos hy sê, is hy dan so lief vir die vrouens en die mans gooi ons dan nou vanaand so weg vir 'n politieke vergadering! Oubasie het vas aan die slaap, op die eetkamermat gelê, en met die ander kinders ook in droomland, het ek en Ria besluit om die harders in vrede en stilte in die kombuis te gaan eet ... Dit was net toe ek die harder se kop met mening afbreek, dat die getrommel meteens weer begin het! Ek glo nie 'n mens besef wat jy alles op so 'n oomblik doen nie — jy skrik so groot dat jy alles om jou vergeet. Ek het nou al oor en oor aan my kinders gesê: as daar weer 'n aardbewing kom, moet hulle dadelik onder 'n deur se kosyn gaan staan — maar ek self het dit nou tog nie gedoen nie. Ek het nog altyd 'n obsessie om teen 'n muur te gaan skuil. Dit volg nog uit my skooljare in die oorlogtyd, toe ons geleer is om teen 'n muur te gaan staan as daar 'n bomaanval sou kom. Verbeel jou, in my verskrikte toestand het ek amper my kind vergeet! En toe ek omkyk sien ek net hoe Ria se sitkamergordyne afval en hoe die ornamente op die kaggelmantel begin te dans en aftuimel.

“Toe eers kry ek lewe. Ek spring op en gryp vir Oubasie - wat nie lig is nie hoor, en vind die kortste pad uit. Ons besluit op die kombuisdeur. Daar het die besemkas oopgevlieg en dit het struikel-struikel oor die omgevalle besems gegaan! Eindelik buite, het ons na die motors gehardloop. Die Kotze kinders, langs Ria-hulle, het ook almal uitgehardloop en ons het hulle ook almal in die motor geboender, want hulle ouers is met vakansie ... Die mans by die vergadering het glo mekaar se hakskene vertrap om eerste by die stadsaal se deur uit te wees! Oom Dokkie het glo sy arms om sy vrou gesit en haar so vinnig by die saal uitgestoot, dat haar voetjies net hier en daar grond geraak het . . . !"

Die volgende môre, so het ek later verneem, het die begeerde, koplose harders 'n kattedis geword — daar waar dit koud en onaangeraak tussen die stof in die kombuis gelê het.

Ag, ons was baie teleurgesteld na hierdie skudding! Ons het dan nou so ons bes gedoen om onsself 'n bietjie reg te ruk, en ons was nou weer verslae en magteloos! Die elektrisiteit was weer afgesluit, maar genadiglik is die watertoevoer na die dorp nie hierdie keer onderbreek nie.

Gode sy dank, dat daar al heelwat opslaanhuise klaar was. Nog lank nie genoeg nie — maar dit help darem baie.

Hierdie aardbewing het the so lank geduur soos die een van 29 September nie — maar het tog sy verwoestende streep nagelaat. Die intensiteit van die skudding was 6.2 — die helfte so sterk as die skudding van 29 September wat 6.5 was. Daar is weer baie skade aangerig, en nuutgeboude huise is weer uitmekaar gebars. Huise wat al herstel was, is weer van vooraf verniel, en baie huise wat miskien nog herstel kon word is nou onherstelbaar beskadig. Winkelvensters lê weer aan skerwe op die strate, en oom Pieter Retief-hulle wat soos baie ander gesinne net 'n paar nagte in 'n splinternuwe huis deurgebring het, se huis is sodanig beskadig dat hulle weer in woonwaens slaap.

Mense wie se ligte dwarsdeur die skudding gebrand het, kon nie uitgepraat raak oor die ontstellende bewegings in hulle huise nie — dit lyk kompleet asof die mure en kaste enige oomblik op jou gaan val. “Dit is verskriklik," het Max opgemerk, “om darem te sien dat drievoet-dik mure lyk asof hulle dans!" Hulle woon omtrent tien myl uit Ceres en hulle huis het soliede drie-voet dik mure; selfs daarin is barste.

Ons eie huis het nog groot barste bygekry en die wat daar was het wyer oopgegaan. Baie mense was nou genoodsaak om hulle huise te ontruim en die volgende more het die mense tou gestaan om nog opslaanhuise aan te vra. Ons self moet ook nou ‘n opslaanhuis bekom aangesien ons slaapkamers kwaai deurgeloop het.

Vervolg...