THELMA CILLIE
Die verhaal van Suid-Afrika se grootste aardbewing ooit - 1969 in die Ceresgebied.
Lees reeks by Die aarde het gebewe!
(Lees ook meer oor aardbewings by Aardbewings - teken van ons tyd)
HANNES, ons buurman, glo dat ons nie naasteby soos hý geskrik het nie. Hy het geen elektrisiteit op sy plaas nie en maak gebruik van olielampe. Hy sê sy skrik was groter, omdat ons ligte doodgegaan het, terwyl hy in die lig van die olielamp alles waargeneem het. Hy het vir maande in sy motor geslaap, totdat sy opslaanhuis klaar opgesit was. “Nee," sê hy, “ek weet nie of ek ooit weer vertroue in 'n steenhuis sal hê nie. Julle moet darem weet die aand met die groot skudding het ek nog ewe rustig na die radio sit en luister en meteens begin die lamp oor die tafel gly. Ek gryp hom vas want ek besef as die lamp nog moet omval kan die huis dalk afbrand. En met die lamp in my hand, dans ek potsierlik op en af saam met die aarde! Ek probeer die stoel waarop ek gesit het vasvat, maar dit het heeltemal agter my padgegee. Ek het gevrees die mure gaan enige oomblik op my val, want dit het heeltemal vorentoe gekom. Meteens was iets vas teen my — ek het eers gedink dit is die muur, maar toe ek omkyk, sien ek dit is die koelkas wat teen my aangedans kom! My vrou en kind het vanuit die slaapkamer gegil, maar ek was geheel en al nie in staat om hulle te help nie! Nee, ek glo nie ek sal ooit weer gerus wees in my huis nie!"
Baie mense in die rampgebied, deel nou sy vrees vir 'n steenhuis
Ons dink aan vriend M. wat die aand tydens die groot skudding ook in die bad gevang is. Terwyl hy angstig gewonder het wat sy huis getref het, het die ligte meteens doodgegaan. Lam van vrees het hy versteen in die bad bly sit en toe hy weer omkyk, gesien hoe die motors reguit na hom toe aangery kom! Oorstelp van vrees het hy eers gedink dat hy nou van sy verstand af is, totdat hy met 'n skok besef het, dat daardie een hele muur van sy woonstel op die eerste verdieping, omgeval het, en dat hy nou alles op die straat uit sy bad kon waarneem! In die kamer langsaan het die deure so erg toegeval dat sy vrou nie kon uitkom nie maar haar seun het gelukkig kop gehou en haar daar uitgehelp.
Niemand wat nakend in die bad gevang is, het ooit hulle toestand besef nie. Vrees het hulle geheel en al oormeester.
By die aanhoor van talle wonderbaarlike ontkomings van mense sien ons al hoe meer die reddende hand van God, tydens hierdie ramp. Die ondervinding van die familie op die plaas Verdun in Prince Alfred's Hamlet distrik, bewys dit treffend.
Die twee oudste seuns Izak (21) en Adrian (17) het die aand dorp toe gestap, langs 'n pad wat deur 'n akkerbos loop. Terwyl hulle aanstap, het hulle 'n eienaardige soort van “woer-woer" geluid in die akkerblare gehoor. Vas oortuig dat dit die hond is wat die laataandwandeling meemaak, het hulle hom aanhoudend huis toe gejaag, maar later besef dat daar geen hond naby hulle was nie. Hulle kon op daardie stadium geheel en al nie die eienaardige verskynsel verklaar nie.
Toe hulle net voor tienuur weer tuis kom, is hulle reguit kombuis toe om te gaan koffie maak. Hulle onthou egter dat daar nog koeldrank in die huis is, en besluit om elkeen 'n bottel koeldrank te neem. Hulle is sitkamer toe, het die radio aangeskakel, en op die rusbank gaan sit, toe Izak met stomme ongeloof en 'n uitroep van “Nee! nee!" sien hoedat 'n stuk pleistering net bokant die radiogram losruk, en kletterend afval. Die ligte begin meteens heen en weer swaai, en met 'n onheilspellende gegrom en gedreun van die aarde het die huis begin wankel en kantel ... en meteens was dit stikdonker.
Irene, hulle moeder, het geskree dat Pietie hulle jongste spruit, in sy bed moet bly en Izak het vinnig deur die onheilspellende donkerte beweeg en Pietie in die hande gekry. Hy kon net nie begryp waarom hy kort-kort teen die gangmuur vasloop nie, totdat hy besef hy word met die slapende kind in sy arms, heen en weer geslinger teen die sesvoet-wye gangmure. Die gangvloer was die een oomblik hoog en die volgende oomblik weer laag. Uiteindelik was die kind ook veilig in die motor, en sy moeder gerusgestel.
Piet, hulle vader het 'n paar weke tevore 'n emstige operasie ondergaan en het nog gelê. Sy bed het voor 'n groot venster met skuiframe gestaan, en die onderste raam was opgeskuif. Die gesin het besef dat hulle almal uit die huis moet padgee, en terwyl Irene nog sy kamerjas aangee en Piet sy voete van die bed af sit om sy pantoffels aan te trek, kantel die hele huis weer. Hy kon toe met 'n enkele beweging deur die oop venster buite kom! Toe Irene weer hoor, roep haar man van buite af. Adrian het sy moeder te hulp gesnel en met 'n paar komberse is hulle by 'n sydeur uit. Net op daardie stadium het hulle bo die angswekkende gerammel deur, gehoor hoe die yslike gewels van die huis met 'n donderende slag meegee en omval. Piet het ons vertel dat die kurwes van die gewels 'n gat van ongeveer agt druim diep in die betonstoep geval het.
Wat hierdie storie merkwaardig maak, is die feit dat in die kombuis, waar die twee jong mans aanvanklik sou koffie gemaak het, algehele verwoesting gesaai is. Reg op die tafel waar hulle sou gewerk het, het 'n yslike sementlatei losgeruk en alles te pletter geval. In die kamer waar Pietie was, was net die bed waarop by gelê het, ongeskonde. Die beddens van Adrian en Izak was heeltemal toe onder die puin, net soos die bed van Catherine, hul dogter, wat tydens die aardbewing in Port Elizabeth gekuier het.
Hierdie familie het net deur 'n Godsbestiering uit hulle huis gekom — en dit sonder 'n letsel.
Een van Piet se arbeiders het die volgende môre, toe hy verneem dat dit 'n aardbewing was, ewe verbaas opgemerk: “Ek wou mos sê dit was iets baie erger as swaarweer!"
Piet was baie onhandig sonder sy tande wat hy in sy ontkoming deur die venster, agtergelaat het. Die volgende oggend het sy hele familie die tande tussen die rommel gesoek. Eindelik het een van die seuns die kosbare kunsgebit tussen 'n idomp kluite gevind en dit triomfantelik aan sy vader oorhandig. Omdat daar toe geen water in die onmiddellike nabyheid was nie, het Piet wat buite op 'n stoel gesit het, die gebit sonder meer in die visdammetjie langs hom afgewas, en dit ewe selfvoldaan ingesit.
Piet het 'n groot waarheid kwytgeraak, wat vir my persoonlik baie stof tot nadenke gegee het. Hy het gesê: “Ons het nie 'n ramp deurleef nie, ons het 'n ontkoming beleef... !"
SOOS die dae nou verbygaan en ons so stadigaan begin rigting kry, begin mense nuwe huise bou en die beskadigde huise word weer herstel. Geleidelik begin ons besef dat ons met hierdie beproewing moet saamleef, en dat ons net vol geloof en vertroue moet wees.
Dikwels hoor ons in hierdie tyd ook van verwoestende aardbewings in ander wêrelddele. Waar ons in die verlede skaars bewus was van hierdie soort rampe, gaan ons meegevoel nou uit na hierdie mense; want ons weet mos nou wat hulle moet deurmaak. Hulle ontberings is dikwels net nog baie erger as ons s'n. En elke keer as ons so van die geweldige lewensverlies in ander lande hoor, kan ons God net oor en oor dank dat Hy ons lewens so wonderbaarlik gespaar het.
DIS REEDS ses maande sedert die groot aardbewing van 29 September, 1969, en ons het nog nie die verskrikking daarvan vergeet nie, want ons word feitlik daagliks nog deur skuddings daaraan herinner. Sommige trillings is nog taamlik hard, terwyl ander net sagte plofgeluide in die verte is.
Soet en suur was in die afgelope maande dikwels met mekaar vermeng, want daar was altyd 'n tikkie humor aanwesig; selfs in die donkerste uur. Grappies is gereeld oor die aardbewing gemaak, en aan pittige sêgoed het dit nooit ontbreek nie. Soos Bettie, wat byvoorbeeld ewe sedigeendag opmerk:
Nog 'n klag om teen die aardbewing te lê is dat so baie mense nuwe babas gaan hê .. . Dit het glo gekom, deur 'n te kleine verskil, tussen die kalmeer- en die ander soort pil!
Baie mense, onder wie onsself, wou nog nie begin om te herbou nie, want ons vertrou nog nie die vrede nie. Op 7 April 1970 het ek darem al my moed bymekaar geskraap en weer vir die eerste keer sedert die 29ste September 1969 na my vernielde slaapkamer terug getrek — dit ten spyte van 'n paar harde skokke dieselfde dag. Eintlik was ek daartoe genoodsaak omdat ons toe so baie kuiermense gehad het.
Ek geniet dit ten voile om weer in my eie kamer te wees, en stuur 'n stille gebed op dat dit tog asseblief nou rustig moet bly. Elke kind slaap ook nou weer in sy eie kamer en sake in ons huishouding verloop so te sê normaal, maar 'n matelose hartseer oorweldig jou as jy deur die dorpe van die rampgebied ry. Die meeste dakke, vensters en deure, van onherstelbaar beskadigde geboue is reeds verwyder en die murasies staan gereed om gesloop te word. Dit lyk soos spookhuise wat ry aan ry staan, en 'n mens wonder onwillekeurig oor die gemors wat dit sou afgee indien dit op hierdie stadium straf sou begin reën.
Ons lieflike bome, wat gelukkig nog vol blare is, bedek gedeeltelik die droewige tonele, want ons wat hier gebore is en groot geword het, ervaar die aftakelingsproses met groot weemoed. Iemand wat dit nie meegemaak het nie, kan beswaarlik verstaan hoe ons voel, en tog, ten spyte van al die ontwrigting, teleurstellings en verskriklike ongerief, glo ek dat geen inwoner in die gebied hierdie ondervinding regtig sou wou misgeloop het nie. Alphonzo my broer, het ook opgemerk, toe hy net na die aardbewing hier aangekom het: “Wel, noudat ek sien julle lewe almal, sou ek wat wou gee om dit saam met julle te kon meegemaak het." My oudste seun se kommentaar was ewe wysneusig: “Nee wat oom, oom sou dit nooit kon ‘gevat' het nie."
Ons glo vas dat ons almal as gelouterde mense, eendag anderkant sal uitkom.
Baie inwoners is nog baie gespanne en verslae, maar 'n groot groep openbaar verbasend baie moed, en neem die leiding waar hulle kan. Nog iets wat ons in hierdie maande ondervind het, was dat mense van wie jy leierskap in krisistye verwag het, totaal magteloos was en net altyd op die vlug uit, terwyl die mense van wie jy dit die minste verwag het, na vore gekom het met die helpende hand — gereed om te dien en te lei, onder alle omstandighede ..
Vervolg...