DIE AARDE HET GEBEWE! (15)

THELMA CILLIE

Die verhaal van Suid-Afrika se grootste aardbewing ooit - 1969 in die Ceresgebied.

Lees reeks by Die aarde het gebewe!

(Lees ook meer oor aardbewings by Aardbewings - teken van ons tyd)

EK HET vanoggend in die dorp gaan tee drink. Nie te lank nie of die gesprek gaan maar weer terug na die aardbewing.  Dit kan eintlik nie anders nie, want ons ontwrigte leefwyse herinner ons voortdurend daaraan.

My gasvrou vertel my toe van Oom Jan en Tant Hanna. Toe die skudding van 5 November hulle oorval het, het oomJan met 'n glas water in die hand gestaan. Hy het sy vrou aangejaag met die aantrekkery, sodat hulle ook saam met vriende kon uitry na Bangbroeklaagte. Die oom is later moeg van die wag en ongeduldig skiet hy die glas water weg, net toe sy ou vrou uiteindelik aankom. Tant Hanna kon kwalik loop — kompleet of sy die een voet nie voor die ander kon plaas nie — maar uiteindelik sit hulle tog veilig in die motor, en daar trek hulle! Toe hulle nou by hulle bestemming aankom, begin die tannie ondersoek instel waarom sy dan tog so snaaks styf en stram beweeg. By nadere ondersoek vind sy tot haar ontstellende verleentheid dat sy altwee haar bene in die een pyp van haar belangrikste onderdingetjie het!

Oom Jan weer, kon dan nou glad nie behoorlik praat nie totdat hy met 'n skok besef dat die glasie water wat hy weggegooi het sy kunsgebit bevat het...!

Tant Gienie van langsaan kom sluit by ons aan, terwyl ons nog oor 'n koppie tee sit en koukus, en sy vertel ons toe 'n grappie ten koste van haarself. Om die storietjie regtig te waardeer moet mens eintlik vir taut Gienie ken. Sy is baie klein en fyn gebou en kwalik vier voet ses duim lank. Sy en haar gesin het ook in 'n tent gewoon na die skudding van September. Omdat sy so klein is, het sy die gewoonte aangekweek om sommerso van enige kant of die tent binne te gaan deur net die seil op te lig. Die aand van 5 November wou sy gou 'n skottel hê. Sy lig toe ook sommer die seil op en steek haar kop deur. Net toe sy die skottel raakvat, kom daar weer ‘n vreeslike skudding en tart Gienie val met die geweldige geskommel, plat op haar maag, maar klou aan die skottel vas. Terwyl haar agterlyfie komies buitekant die tent lê en spartel, het haar voorlyf binne die tent met die skottel geworstel, en kon sy net benoud skree: “Help ! help !" Van alleen opstaan was daar geen sprake nie...

As 'n mens die tyd gehad het, sou jy werklik boekdele vol kon skryf van die verskillende situasies waarin mense hulle bevind het tydens die aardskokke — om nie eers te praat van die uiteenlopende reaksies nie.

Louis vertel my dat hulle ook die aand van die 29ste besluit het om uit die dorp te ry. Die belangrikste items wat hulle behalwe haar troeteldiere saamgeneem het, was: al die kontantgeld in die huis, alle sigarette, een bottel whisky, een plastiese glas en 'n kan water ! Voor hulle vertrek besluit hulle egter om saam met die bure oorkant die straat, eers gou 'n versterkinkie te drink. Louis waag dit terug na hulle huis, wat sy deur die agterdeur ingaan, en voordat sy “instap," sê sy: “Ding ! hou asseblief net eers 'n oomblikkie op met bewe — ek wil net gou die whisky in die hande kry, want ons kan dit nou nie meer hou nie."

In die gloed van die vuur op die berge as enigste lig, het almal in die straat 'n kalmerende snapsie gekry en toe hulle aan 'n jongman vra of hy nie ook vir sy skoonouers 'n versterkinkie wil neem nie, antwoord hy: “Nee wat, hulle is vreeslik teen drank. Kom ons maak liewer nog 'n dop !"

Toe die motors later ry aan ry buite die dorp staan, hoor Louis 'n klein kindjie vreeslik huil in die motor net voor hulle. Sy gaan vra toe of die kind nie dalk dors is nie, en bied hulle toe water in die plastiese glas aan. Dit was een van die pastoriegesinne, en mevrou dominee merk toe op dat die water darem baie eienaardig ruik ! Louis het doodstil gebly, want hoe kon sy dan nou vir die dominee se vrou se dat dit whisky is wat so ruik ! Toe die dominee wat die aand in Pretoria was, later die storietjie hoor, het hy opgemerk: “En het jy nou regtig gedink my vrou het nie geweet dat dit whisky was wat so geruik het the?"

ONS het later uit ondervinding geleer, dat 'n klein bietjie “kromhoutsap" in water of koffie meer doeltreffend was as die kalmeerpille, wat jou heeltemal suf gemaak het. Hierdie is nie as 'n ligsinnige stelling bedoel nie. In ons huise is drank nie misbruik nie — slegs aangebied wanneer iemand dit regtig nodig gehad het.

EK HUIWER soms om sekere reaksies te beskryf, want nou klink dit so lagwekkend dat 'n mens dit kwalik kan glo, en die indruk geskep kan word dat ons onverskillig staan oor die wederkoms van Christus. Aan die ander kant kan die leser dalk 'n beter begrip kry van die ontsettende skok en angs wat ons deurgestaan het, aangesien honderde mense gedink het dat die nag van 29 September die einde van die wêreld was. In sommige vertellings noem ons nie name van die mense nie, omdat hulle erg verleë voel oor hulle snaakse reaksies. Maar, elke storietjie is nietemin die volle waarheid.

'n Sekere egpaar het gereed gemaak om te gaan slaap, en die man was al gou-gou in droomland terwyl die tannie nog met allerhande ou dingetjies besig was. Hulle seun en 'n vriend het in 'n buitekamer op die werf geslaap.

Toe die aardskok tref, het die tannie benoud na haar man geroep en gesê hulle moet uitgaan want sy dink dat dit sekerlik niks anders as die oordeelsdag is nie ! Toe hulle dood ontsteld buite kom, en die vure teen die berghange sien, was hulle oortuig daarvan dat hulle veronderstelling juis was. Terwyl hulle nog beraadslaag wat hulle te doen staan, het hulle skielik twee wit gedaantes by die laning sien beweeg — uit die rigting van die plaaskerkhof ! Hulle het nou nie meer getwyfel nie! — die ontslapenes het reeds begin opstaan ! “Ou man," sê die vrou met diep ontsag, “ons moet seker nader gaan en die mense gaan groet ! Maar, wat sê 'n mens nou aan sulke mense?" Toe hulle naderstaan, vind hulle egter dat dit hulle seun en sy vriend was, wat met hulle nagklere aan, gaan probeer vasstel het wat gebeur het !

Net so is daar die storie van Paulus, wat tydens die aardhewing op 'n dorpie baie na aan die rampgebied gekuier het. Hy het saam met die huismense in die kombuis gesit en hulle was net gereed om na hulle slaapkamers te gaan toe die aardskudding tref. Hulle het ook gehoor hoe Halleluja-liedere gesing word, en was vas oortuig dat dit die einde van die wêreld was. Dis mos toe wat Paulus sê: “Mollie ons moet op ons knieë gaan. Hoor hoe sing die Engelkore ..." Eintlik was dit net die kampeerders in 'n A. C.S.V.-kamp daar naby, wat juis op daardie tydstip in die straat geloop en sing het.

En wat dan van Jimmy en Bettie? Na 'n vermoeiende dag in die stad, was almal vas aan die slaap toe die aardskudding kom. Jimmy het dadelik besef wat gebeur, en hulle het almal na buite gevlug. Bettie - sonder haar bril — kon nie so goed sien nie en dit het vir haar gelyk asof die vlamme van die berge af, al nader kom. “Nee," het sy vir Jimmy gesê, “dit is nie 'n aardbewing nie, dit is die oordeelsdag en dit help nou nie om te vlug nie." Jimmy het toe hul kinders gerieflik buite op stoele ingerig en warm toegemaak, en terwyl hy en Bettie beskermend hulle arms om die kinders gevou het en die “tyd" ingewag het, het hulle dankbaar gebid omdat die Here nogtans vir hulle so goed was, dat hulle ou gesinnetjie so bymekaar kon wees in hierdie ontsettende donker uur ... Toe hulle na 'n tydjie die gillende geskree van mense en die gejaag van die motors hoor, het hulle tog besef dat dit niks anders as 'n aardbewing was nie...

Nollie se bejaarde ou moeder in die kamer net langs syne, het meteens angswekkend begin te gil toe die aardskok tref. Hoe harder sy gegil het hoe meer het hy gesukkel om van die bed af op te staan en haar te gaan help. Hy kon egter nie daarin slaag nie, want die hele kamer het gerondomtalie. Toe die skuddings uiteindelik effens bedaar, vind hy dat hy op die vloer lê en daarom nie van die bed af kon klim nie! Met die eerste geweldige skudding was hy onmiddellik van die bed geslinger .. .

Oom Joe se vrou was weer die 29ste September in Kaapstad, en kon glad nie die aand na Ceres terugkeer nie, omdat die pas toegeval was. Oom Joe en 'n paar manne het toe besluit om deur die dorp te ry en te kyk wat hulle kon doen om te help. Meteens sien hulle toe 'n “dame" in 'n fraai groen nagrokkie wat vervaard in die hoofstraat afhardloop. Toe hulle by “haar" stilhou, vind hulle dat dit 'n baie bekende heer is, en wat meer is, 'n mannetjie wat eintlik nog op sy wittebrood is ! Hy het opgewonde verduidelik dat hy darem nog “in staat was om met my eie hande my ou bruidjie veilig na buite te dra". Oom Joe het die storie baie prettig gevind, want hy bly mos nou aan wonder of die egpaartjie in hulle geskokte toestand nagkleertjies omgeruil het - en of hulle dalk altwee nagjurkies dra ! ...

Een ou kleurling het sy baas ontsteld voorgekeer, toe hy sien sy baas en gesin klim in die motor om weg te ry.

“Wat dan van ons, baas?" het hy gevra. Die boer antwoord toe: “Jy moet mos die vragmotor vat en met al plaasvolk agterna kom !" Vir baie aande het hulle 'n ent gaan ry en ver in die veld gaan slaap. Die baas en sy familie in die motor en al die plaasarbeiders agterna in die vragmotor ..

Ons eie werksmense het ook maar bewend op 'n hopie, die ontstellende nagte deurgebring, en daarna vertel dat hulle nog nooit so baie gebid het soos daardie nag van 29 September nie - baie van hulle het ook tot ligdag Halleluja-liedere gesing. . .

BY DIE “rampkantore" in die dorp het baie briewe ingestroom - soms is net meegevoel betuig, en by ander was geld ingesluit. Sommige van die briewe het ook raad aangebied vir ons spesifieke probleme - soos blyk uit die brief van 'n raadgeefster, uit Noord-Transvaal:

Edelagbare burgemeester,

Met verwysing na u brief Oktober gestempel deur die Kaapse Gemeenskapkas met sy beroep vir fondse vir die geteisterde gebiede van Wolseley, Ceres en Tulbagh, wil ek u meedeel dat ek ook 'n tjek aan die gemeenskapkas Kaapstad gepos het.

Ek sal dit waardeer as u en ander die bergklimmersklub wil versoek om die Witzenberge, Winterhoekberge, en Saalkop te ondersoek, vernaamlik Saalkop, want ek het in die SAUK Bulletin van 27 Oktober gelees dat toe een van hulle mense 'n onderhoud gehad het met 'n ou man, toe het die man gesê dat toe hy buitekant kom, sien hy die Witzenberge tot by die Winterhoekberge ... kolle vuur, en toe hy sy rug omdraai en kyk in die rigting van Saalkop, sy eie woorde: “...dit is daardie kop nou reg voor my — toe sien ek dan ook vlamme. Toe het ek nie geweet wat aangaan nie. Kon nie verstaan hoe die vlamme daar gekom het nie. Dis die grootste skrik wat ek in my lewe geskrik het.”

Edelagbare burgemeester, volgens wat mev. Krone, van die plaas Jongegezellen, en mnr. Coetzee van die plaas Modderasrivier gesien het, wys dit mos uitdruklik dat die vliegvoorwerp oor Witzenberg en Winterberge gevlieg het en toe teen Saalkop neergestort het.

'n Mev. Lily Jooste, het gesê dat die maan was eienaardig rooi met 'n hap uit, en ná die ontploffing het die lug na swael geruik.

Wat was daardie vliegvoorwerp? Dalk nog 'n kliprots van die maan. In dié geval kan ons regering mos so 'n paar duisend miljoen dollars eis van die Amerikaners.

Die Amerikaners met hul vlag wat hulle op die maan geplant het kon dalk die rotse los gewikkel het deur sekere elemente in die maan toe hulle die vlag geplant het.

Die aarde se natuurkundiges het nog nie kennis van al die chemikalieë op die maan nie.

Ek is 80 jaar oud en my stokperdjie is om koerantuitknipsels te versamel van meteore en vlieënde pierings. Dus is ek baie angstig om uit te vind wat daardie voorwerp was wat teen Saalkopberg neer gestort het die aand van 29 September,1969, en as daar so 'n groot kliprots gevind word wat wys dit is die voorwerp uit die maan, dan moet die owerhede geen uitlander dit lat sien voor ons land se natuurkundiges navorsingswerk gedoen het nie.

Ek hoop die mense van die drie geteisterde dorpe teen Kersfees onder hulle eie dak kan deurbring en 'n goeie Kersfees vier.

Baie jammer om u te pla,

Eerbiedig,

Die uwe.”

Dierbaar nê ... ?