THELMA CILLIE
Die verhaal van Suid-Afrika se grootste aardbewing ooit - 1969 in die Ceresgebied.
Lees reeks by Die aarde het gebewe!
(Lees ook meer oor aardbewings by Aardbewings - teken van ons tyd)
MY ganse lewe deur het ek nog nooit van my huis en meubels 'n afgod gemaak nie; maar alles wat ek besit, het ek graag na die beste van my vermoë goed versorg, want ons het dit stuk-stuk aangekoop, soos die meeste mense maar, en elke ou stukkie hoe gering ook al, het ek op 'n besondere manier lief.
'n Paar maande voor die aardbewing is ons huis nuut uitgeverf en gedeeltelik geplak. Ons het ook volvloer tapyte in al ons slaapkamers gelê, en sommige gordyne het ek vervang met nuwes wat ek self gemaak het — keurig, soos ek daarvan hou. Ek was tevrede toe dit alles klaar was — dit was myne, en ek het lank uitgesien daarna om, wanneer ek van my bed afklim, die sagte pool onder my voete te voel. Ek was opreg dankbaar dat alles in my huis nou weer so skoon en netjies was.
En nou? Na hierdie ramp? Ek kan waarlik nie my gevoelens uitdruk nie. Daar lê 'n belangeloosheid in my. Alles bly vol stof - die meubels, matte, gordyne en alle bekleding voel vuil. Ek kan nie verdra om na die liederlike barste in die mure te kyk nie en die plakpapier hang in repe — asof 'n stout kind behae daarin geskep het om dit af te trek. Ek het die gewoonte aangekweek om kop onderstebo deur my huis te loop, sodat ek die barste kan miskyk. Miskien was alles maar net 'n droom, het ek soms verslae gedink. Maar, dit was nie 'n droom nie — dis die naakte werklikheid en ek vind dit na al die maande soms nog moeilik om te aanvaar.
Wanneer sal ons huis tog weer herstel kan word? en wanneer sal die skuddings eendag ophou sodat ons weer rustig in ons steenhuise kan slaap?
Ek probeer elke dag om weer normaal voort te gaan, maar gly telkens weer terug in selfbejammering. Ek voel verward en kan myself nie verstaan nie. Ek is so lief vir my blomtuin - maar kom feillik nooit daar nie. Ek koop wel plantjies vir die volgende seisoen, maar gee dit net aan my getroue ou tuinjong om te plant, want ek kan hom nie soos gewoonlik daarmee help nie. Nogtans is ek teleurgesteld dat daar so baie plantjies doodgaan en dat die wat wel lewe so triesterig is. Ek het vergeet dat die plantjies geen aandag kry nie. Alles wat lewe moet immers versorg en vertroetel word, anders volg agteruitgang en uiteindelik die dood, tog vanselfsprekend.
Ek gee deesdae ook te min aandag aan my kinders, voel ek. Ek raas aaneen met hulle. Hulle het klere nodig, maar ek maak dan geen aanstaltes om dit in die hande te kry nie. My naaldwerk bly agter en die stopwerk hoop op. Nagereg was lanklaas op ons tafel, want ek het sommer net roomys gekoop of ek haal iets uit 'n blik — dit was makliker en het geen inspanning vereis nie. Hierdie “skok-traagheid" duur nou al maande.
Gister egter, het ek besluit om 'n tapioka-nagereg te maak en het tot my verbasing gevind dat ek sonder enige moeite, baie gou die skottel voorberei het. Toe die kinders uit die skool kom, kon Andrew eenvoudig nie glo dat sy versugtinge waar geword het nie. Hy neul nou al dae oor 'n tapioka-poeding. Nadat hy 'n groot bak vol ingeskep het en volop heuning daaroor gegooi het, het ek hom met vreugde dopgehou terwyl hy met sigbare genot die koningsdis geniet het. Die goue heerlikheid het van sy oorvol lepel gedrup, en nadat hy die derde bakvol weggepak het, het hy versadig van die tafel opgestaan, sy armpies styf om my nek gesit en my met sy heuning-besmeerde lippies 'n regte dierbare ou seunsoentjie gegee: “Dankie my ou Moetsie, dit was heerlik."
Hoe kosbaar is die paar woorde nie? En ek staan vir die soveelste keer verwonderd oor die feit dat dit so verskriklik maklik is om iemand gelukkig te maak. Vir Andrew was dit 'n tapioca-poeding; vir 'n bedrukte vriend net 'n bemoedigende woordjie; vir 'n bejaarde net 'n vriendelike “goeiemore", en vir jou huweliksmaat net so 'n klein bietjie bedagsaamheid. En kyk, elke dag verander in 'n simfonie. Die liefde tussen mense moet ook gedurig vertroetel en versorg word, anders kwyn en sterf dit. Dit weet ek mos.
Daarom wil ek verbeter. Ek wil weer blymoedig word, soos ek altyd was - en so bly. Ek moet weer soggens na my tuin gaan en my aan die skoonheid daarvan vergryp, terwyl die blomme nog papnat van die dou lê; en ek moet weer arms vol blomme pluk en my huis daarmee verfraai. Dan sal ek God weer dank vir die wonder van die lewe en vir die skoonheid van elke nuwe dag, het ek besluit. Eintlik het ek . . . Ons, mos niks verloor nie.
EK GLO dat menige kinders in hierdie gebied, hulle gespaarde lewe daaraan te danke het dat hulle die verskillende kampe, wat daar tydens die skoolvakansie gereel was, bygewoon het.
Op die beddens waarop hulle normaalweg sou geslaap het, het die nag van 29 September 'n hoop klippe gelê. Die bed van die Blom-dogter was nie alleen toe onder die klippe nie, maar die bed het geheel en al middeldeur gebreek onder die gewig van die massa klippe. Sy is van 'n gewisse dood gered, omdat sy die kamp bygewoon het. Katy, haar moeder, het self 'n baie noue ontkoming gehad terwyl sy gestaan en teegoed was het. Die geweld van die aardbewing het haar heen en weer gepluk en uiteindelik het sy 'n kosyn vasgegryp om haar balans te hou. Terwyl sy met alle mag aan die kosyn vasgeklou het, het die mure rondom haar omgeval. Hier waar sy instinktief op die veiligste plek gestaan het, het die mense haar later ongedeerd tussen die klippe, wat halflyf om haar gelê het, uitgehaal - hulle huis was van yslike klipblokke gebou.
Irene wat die dag van die aardbewing my familie op D.F. Malan gaan haal het - vir my moeder se begrafnis - vertel my later hoe pootuit sy die aand was. Haar dag het die oggend al baie vroeg begin soos sy vertel:
“Ek het met 'n laaste vermaning om tog versigtig te wees, en nie alleen te gaan swem of alleen te gaan stap nie, van Liezel en Pieter-Malan afskeid geneem – die oggend van 29 September. Hulle was op pad na hulle eerste Voortrekkerkamp. Ek kon nie help om 'n bietjie hartseer te voel toe ek die vertrekkende bus agterna staar nie. Min het ek kon dink dat juis hierdie kamp sommige kinders se redding sou wees. Ek het pas tuis gekom, of ek moes weer die dertig myl terug dorp toe en toe na die lughawe in Kaapstad. Daarna weer terug na Ceres en uiteindelik weer plaas toe. Ek kon nou in 'n warm bad ontspan en het daarna heerlik verfris, met 'n boeiende boek in die bed geklim. Dit het my getref hoe salig dit was om na so 'n vermoeiende dag so rustig te kan verkeer. Koos, my man, was lankal in droomland en so ook Oubasie ons jongste spruit.
“Voordat ek egter die stilte na waarde kon waardeer, het ek die geklop-klop in die dak gehoor. Nee, wat darem te erg is, is te erg, het ek gedink. Koos moet 'n plan maak met die muise op die dak. Dit voel later of derduisende muise met 'n sokker-wedstryd op die solder besig is, en meteens besef ek - hier is 'n groot fout! Voordat ek Koos kon wakker maak, is die boek uit my hand geslinger en die ligte uitgedoof. Koos het wakker geskrik van die geweld en sy arm om my geslaan terwyl hy uitroep: ‘Wat van die kind!' Ek het opgespring, en dit het gevoel asof die mure elke oomblik op my gaan intuimel, maar ek het nooit aan uithardloop gedink nie! Ek het Oubasie gegryp en bo-oor hom gaan lê - vas teen die muur toe ek besef dat dit 'n aardbewing moet wees, aangesien ons in 1963 ook 'n ligte aardtrilling beleef het. Toe die skokke en trillings begin bedaar, was dit 'n geharwar op soek na 'n flits en vuurhoutjies. Ek het voor my bed rondgekruip op soek na die flits wat altyd voor die bed staan en gevind dat dit met die skudding heeltemal na 'n ander plek gerol het. Toe ons ons spraak teruggekry het, was Koos se eerste woorde aan my: ‘Nou besef 'n mens hoe nietig jy is.’
“Meteens het die plaastelefone begin lui, want almal wou weet wat aangaan. Gehoorstukke is opgetel en almal het saam gesels. Dit het by tye erger as die gekwetter van 'n duisend spreeus gegaan. Almal gee raad. Sarina voel ontsteld en wil flou word. Die een buurman beveel brandewyn aan, en toe die drankie al aan haar lippe is, beveel iemand anders weer suikerwater aan! So bly dit 'n heen en weer pratery totdat ons almal skielik besef ons moet ons motors vat en gaan kyk of ons nie êrens ons hulp moet gaan aanbied nie.”
BAIE MENSE was die nag egter huiwerig om na mekaar toe te ry, want menigeen het die alleroorheersende vrees gehad dat daar dalk êrens 'n skeur oor die pad kon wees . . .
Ek hoor van 'n ander voorval wat ook tydens die eerste groot skok hier plaasgevind het. 'n Oulike seun van Kaapstad, Howard Sher het na baie mooipraat eindelik sy vader se toestemming verkry om die Septembervakansie saam met sy maats op Ceres te kom uitkamp. Aanvanklik wou sy vader nie eers toestemming gee nie en het hom gewaarsku dat as enigiets onreëlmatigs sou gebeur hy hom nooit weer saam met ander mense sou laat gaan nie.
Die aardbewing het toe sommer die eerste aand van die so begeerde vakansie gebeur, en 'n bekommerde vader het na Ceres gehaas — doodbenoud dat sy seun iets oorgekom het tydens die aardskok. Toe vader en seun eindelik teenoor mekaar te staan kom, het Howard dadelik verontskuldigend uitgeroep: “Really Dad, you must believe me, the earthquake was not my fault . . !"
'n Groot vragmotor vol skape was op pad na Kaapstad. In Ceres het die bestuurder by die Total-motorhawe brandstof ingeneem en verder gery. Toe hy aan die voet van Michellspas kom, het die aardskok getref en die verskrikte bestuurder het besluit om om te draai Calvinia toe. Terwyl hy deur Ceres gery het, het by opgemerk hoe die mense uit hulle huise vlug en hoe die bergbrande al groter en groter word! Hy het oopgetrap en toe hy sien hoe die motors in strepe agter hom aantou, het hy laat waai — dankbaar dat hy aan die spits van die stoet was! Toe hy teen voordag, uitgeput op die plaas in Calvinia aankom, kon die eienaar glad nie verstaan hoekom die vrag skape dan nie in Kaapstad was nie! Op sy vraag wat dan die moeilikheid was, het die uitgeputte bestuurder geantwoord: “Baas, die wêreld is aan die vergaan van Ceres se kant af. Alles is aan die brand en die mense kom in stringe aangery baas — hulle sal nou-nou hier wees."
HIER in ons distrik was 'n ou Bantoe besig om vir water te boor. Hy het getrou op sy pos gebly en alles met belangstelling dopgehou. Meteens kom die aardbewing. Die boormasjien begin op en of te kantel en te dans en die hele wêreld dans saam! Die stomme ou Bantoe het alles net so gelos en soos die wind na die plaashuis gehardloop. Asvaal geskrik en met groot wit oë het hy verwilderd gestamel: “Baas, laat weet asseblieftog vir my baas hy moet dadelik kom! Ek het 'n verskriklike ding raakgeboor ..."
ALET vind die situasie waarin Louis haar bevind het tydens die aardbewing skreeuend snaaks, en elke keer as sy daarvan praat, wil sy haar gedaan lag.
Louise is baie lief vir kunsnaaldwerk en het die gewoonte gehad om elke aand, as die dagtakies afgehandel is, eers 'n bietjie naaldwerk te doen. Eers hang sy 'n groot vergrootglas om haar nek en sit dan die spesiale bril op. En so geniet sy haar stokperdjie aand na aand.
So het die aardbewing haar toe ook betrap. Sy het die stuk naaldwerk net so gelos, die hondjie en haar katjie onder die een arm gegryp en met die ander die koutjie met die parakiet daarin. Sy en haar mense het in die motor gespring en die dorp uitgejaag. Hulle het egter net 'n paar myl gevorder toe die motor sonder brandstof gaan staan het. Hier het hulle nou in die middel van die nag gesit en kon nie her- of derwaarts nie.
Toe daar later nog mense by hulle aansluit en haar attent maak op die brilletjie en die vergrootglas om die nek, het sy vir die eerste keer besef water potsierlike prentjie sy nou seker slaan — en dit nog met al die troeteldiere steeds in haar beskermende arms.
Die storietjie eindig nie hier nie. Onse vriendin Alet is self lief vir haar kunsnaaldwerk, en op 'n ander aand — die 5de November het sy weer vroeg-vroeg in die bed geklim en haar lekker gerieflik ingerig om 'n stukkie naaldwerk te doen. Sy het 'n helder liggie aangeskakel, wat nou lekker op die handwerkie skyn, en die yslike vergrootglas om haar nek gehang. Met haar bril op het sy presies die derde stekie gegee, toe gebeur dit ! Die plafon het op en af beweeg en die mure heen en weer. Die ou vergrootglas was in haar pad, en in haar verskrikte toestand het die gedagte tog by haar opgekom: “Met spot gaan jy na bed!"
Dit is ook goed om te weet van die verskriklike toestand waarin die mense wat by die telefoonsentrales aan diens was, die nag van 29 September, verkeer het. Dit was byna onbeskryflik. Toe Dr. Reinach hom die nag daarheen gehaas het, was sommige van die mense heeltemal histeries. Hulle gewaarwordinge in die kantelende geboue was ontsettend, omdat dit daar nooit heeltemal donker was nie — sommige van die skakelborde werk met batterye — en daarom kon hulle sien wat aangaan.
Dit het die hele tyd gelyk en gevoel asof die skakelborde op hulle gaan val, terwyl hulleself heen en weer geslinger is. Van die dames het later flou geword en kon nie met die veeleisende werk voortgaan nie, want hulle het tydens die eerste 40 uur ná die aardbewing, 20,000 oproepe hanteer. Van hierdie mense se stemme het later ingegee en hulle kragte het breekpunt bereik. Amptenare het later van ander dorpe gekom om hulle behulpsaam te wees. Ons sal die werk van die amptenare wat diens gedoen het op die telefoonsentrales, altyd met waardering onthou. In die sentrales van die ander rampdorpe het dit nie anders gegaan nie. Dit was op hierdie stadium seker die mees onbenydenswaardige werk in die rampgebied.
VERSKEIE mense het reeds bely dat hulle nou ná die ramp nader aan Christus lewe as ooit tevore. Dit was treffend dat ons die nag van 29 September — al was dit net vir 'n kort oomblik - almal een gevoel het in ons nood. Geen geld of besitting kon iemand op daardie oomblik enige beskerming bied nie. Geen status of posisie kon jou uitsluit van hierdie helse angs nie. Dit wys ons net hoe maklik God ons in 'n oogwenk op een vlak kan plaas.
AANGESIEN dit tydens die skoolvakansie gebeur het, was hier ook baie van die inwoners van die dorpe wat nie die grootste aardskudding deurgemaak het nie. Alet en haar familie was ook met vakansie maar het dadelik toe hulle van die ramp verneem, teruggekom om te sien hoe dit hier gesteld was. Sy het my daarna vertel dat sy seker nooit solank as wat sy leef, die uitdrukking op haar skoonvader se gesig sal vergeet toe hulle hom gegroet het nie. Hierdie ou grysaard van in die tagtig, het haar met 'n verwese gelaat net aangestaar en geprewel: “O ! Alet my kind, die hel self kon nie erger gewees het nie."
My gedagtes gaan nou ook na Marie, 'n driejarige dogtertjie in die distrik. Sy wou die betrokke aand nie in haar bedjie gaan slaap nie. Sy wou by haar Ouboetie Awie, vir wie sy baie lief is, gaan inkruip. Haar ouers het haar maar laat begaan, aangesien Awie op kosskool is en net tydens vakansies tuis is. Sy het heerlik aan die slaap geraak in haar Ouboetie se arms, en toe die aardskok tref, het die pleistering rondom hulle afgeval, en net 'n paar klein stukkies het op Marie se koppie geval. Haar eie bedjie was egter toe onder die kluite...
Vervolg...