DIE AARDE HET GEBEWE! (13)

THELMA CILLIE

Die verhaal van Suid-Afrika se grootste aardbewing ooit - 1969 in die Ceresgebied.

Lees reeks by Die aarde het gebewe!

(Lees ook meer oor aardbewings by Aardbewings - teken van ons tyd)

MENSE het die nag van die groot skudding die mees uiteenlopende gewaarwordings gehad. Baie mense het vreeslik benoud gevoel — so asof hulle verwurg word en geen asem kon kry nie. Presies so was dit ook met Eddie gesteld. Toe hy wakker word, het hy eers gedink dit is die bulhond wat op sy bors gespring het. Hy het met alle mag probeer om “die hond" van hom af te gooi, maar kon nie daarin slaag nie. Hy het tot die dood toe benoud gevoel en toe gedink dat hy 'n hartaanval het! Hy soek in die donker na sy botteltjie hartpille wat gereeld voor sy bed staan, maar onthou skielik dat hy vergeet het om die pille uit sy bakkie te haal. Hy staan op, strompel na die deur en meteens sien hy deur een van die vensters hoe die hele berg in ligte laaie staan. Tot die dood toe verskrik kon hy net sug: “te laat, te laat" ... en daar het sy vrou hom gekry en op die bed gehelp.

Ek wil ook net verwys daarna, dat dit opvallend was hoe baie mense se gedagtes ná die aardbewing vasgesteek het op ‘n onbenulligheid. Soos byvoorbeeld met Tobie. Hy het hom net niks bekommer oor die groot skade aan sy huis nie — nee, hy het net rondgeloop met 'n koperketeltjie wat vol duike geval het, en net vir almal gewys hoe die pragtige ou keteltjie nou lyk ... !

Die ydelheid van die vrou vier in die benoudste oomblikke ook nog hoogty. ... want, die heel eerste ding wat Sarina gesoek het na hul skrik op 5 November, was haar twee bondels vals hare. Nadat hulle effens van die skrik herstel het, het Sarina verseg om die nag alleen saam met haar man op die plaas deur te bring. Nee, daar moes mense kom om by hulle te slaap! en hulle het besluit om 'n vriend te gaan haal. Sy het in haar geskokte toestand egter geweier om te vertrek voordat sy eers haar vals hare in die hande gekry het — “vir ingeval iets onvoorsiens gebeur en ons dalk nie gou weer by die huis uitkom nie!"

In haar angstige gespartel om weg te kom, het sy 'n ou doekesak uit die jaar toet uit een van die kaste opgediep, die hare daarin gegooi en met die kosbaarheid styf onder die arm, en 'n flits in die hand, in die motor gespring. Hier het onse vriendin nou met haar nagkabaai aan en die hare vol krullers gesit, want hulle was al in die bed toe die aarde begin skud het. Hulle was egter nie ver nie of sy kom tot die ontstellende ontnugtering dat sy nie 'n enkele haarknippie in die sak gesit het om die valse haardos mee vas te steek nie! Sy sou dus maar vir eers tevrede moes wees met die bietjie waarmee die Skepper haar bedeel het! Gelukkig het hulle die nag weer veilig na hulle woning teruggekeer, saam met die vriend wat ewe gedwee die nag by hulle kom slaap het...!

Hoe lagwekkend sommige van die reaksies ook al mag klink, is dit nogtans oorweldigend vir die persone wat dit ondervind. Die verskriklike gewaarwordings en helse angs wat die meeste mense in die rampgebied deurgemaak het, kan baie moeilik omskryf word — dit is nou eenmaal so dat sommige mense verpletterende ervaring makliker as ander kan verduur.

Ten spyte van die dramatiese stories en foto 's wat reeds in tydskrifte en koerante verskyn het oor die aardbewings, het hier daagliks mense van elders gekom wat stom geslaan was by die aanskouing van soveel verwoesting. Ongevraagd het baie van hierdie mense na die Departement Gemeenskapsbou se kantore gegaan en donasies tot hulpverlening geskenk.

LEON, 'n privaat boekhouer, moes die middag van 29 September na 'n plaas gaan om daar te gaan werk. Net voordat hy ry, vra by sy vrou om met hul baba saam te gaan. Sy was eers huiwerig maar hy hou so aan dat sy later instem. Toe hulle na die aardbewing tuis kom, het hulle gevind dat hul huis in 'n gehawende toestand was en reg in die bababedjie het 'n hoop klippe en pleistering gelê...

Ons weet ook van Ria, wat die aand om geen besondere rede nie, voordat sy gaan bad het, haar baba uit die bedjie gehaal het en die kleinding in die waentjie neergele het - met die waentjie se kap opgetrek.

Die aardbewing het haar in die bad oorval, en die badkamer is so verniel dat sy glad nie daar kon uitkom nie! Nadat mense haar uitgehelp het, het hulle na die kinderkamer gehardloop — die bababedjie het vol klippe gelê, terwyl haar suigeling ongeskonde in die waentjie geslaap . het ... Sien u die beskermende hand van God...?

En wat van tant Bes wat die oggend van die 29ste haar huis bietjie skoongemaak het? Sy het haar man se bed van die muur of weggetrek sodat sy beter kon uitvee, en dit toe nie teruggeskuif nie, omdat die vloer effe ongelyk is en sy dit nie alleen kon doen nie. Teen die muur aan die koppenent van die bed het 'n massiewe ou spieël gehang, en toe die geweldige aardbewing hul die aand oorval, het die spieël tesame met al die pleistering van die muur, reg agter die bed se styl afgestort. Haar versuim om die bed terug te stoot, het die oom van 'n ernstige besering gered.

'n Ander ou dame het alleen gewoon. Toe haar bure haar gaan soek het omdat sy nie uitgekom het nie, het hulle haar ook nog vas aan die slaap, met bakstene rondom haar op haar bed gevind — en geeneen hethaar getref nie...

ENIGE blyk van belangstelling wat ons die nag van ons groot beproewing van mekaar ontvang het, sal ons soos 'n kosbare kleinood aan ons hart bewaar. Ek onthou veral dat mev. ds. Coetzee by 'n geleentheid beklemtoon het hoe wonderlik dit vir haar was dat dr. Beets, die leraar van die N.G. Sendingkerk, die nag sy hulp vir haar en Ouma en Saartjie kom aanbied het.

Die nag net na die aardbewing, het hy en sy gemeentelede bymekaar gekom en eers 'n diens gehou. Daarna het by dadelik na mev. Coetzee gegaan om te verneem of alles wel is en of daar enigiets was wat by vir haar kon doen, aangesien ds. Coetzee in Pretoria, by die kongres was. Dit is bedagsaamheid soos hierdie wat vir ons altyd betekenisvol sal bly...

AG, EN DAN weer dink ek aan die stomme Naomie, 'n weduwee wat so bang was die dag met die donderstorm. Dit was skuddings en dan weer donderweer, sodat jy later nie mooi geweet het of dit in die aarde of in die lug dreun nie! Sy besluit toe om liewer na Hester en Tommie toe te ry, want die donderslae kon sy nou nie weer 'n oomblik langer uitstaan nie. Toe sy nou daar aankom, vind sy die egpaar op pad na Ceres om hulp te verleen met al die nuwe probleme wat die haelstorm daar geskep het. Naomie het egter nie omgegee om dan maar alleen op die plaas te gaan bly nie. Terwyl sy angstig op en af deur die huis loop, en wonder waarom sy altyd alleen moet wees in hierdie krisistye, kom daar 'n geweldige donderslag! Vervaard hardloop sy heen en weer deur die huis om êrens skuiling te vind, en besluit om in die ingeboude kas in die gang te kruip. Terwyl sy met bonsende hart daar skuil, kom Kobus, Hester se seun, by die huis ingehardloop en roep angstig na sy ma: „Ma, waar is jy?" roep hy weer 'n slag toe hy in die gang afkom. Versigtig gaan die kasdeure in die halfskemer gang oop en: “Jou ma is nie hier nie!" — hoor hy, voordat die deure weer “woeps" toe gaan! Die arme kind was versteen geskrik en so wit soos die dood. Hierdie skrik was vir hom waarlik groter as die skok tydens die aardbewing self . . .

Sal ons ooit 'n denkbeeld kan vorm van hoe dit by die hospitaal gegaan het? Van die taak wat die verpleegster en geneeshere gehad het om hulle pasiënte te kalmeer, terwyl hulle self verstok geskrik was? Sommige verpleegsters het net vir goed weggegaan van Ceres af; ander vir rukkie om eers oor die ergste skok te kom. Vir tye ná die groot aard skok, het alle nie-blanke pasiente tydens elke skudding net eenvoudig uitgehardloop — ongeag hoe ernstig siek hulle ookal was! Geneeshere en verpleegsters het groot moeite ondervind om hulle elke keer weer in die bed te besorg.

TYDENS een van die groot skuddings wat ons ondervind het, het die pastoriemoeder van ons moedergemeente haar na Huis Maudie Kriel vir bejaardes gehaas. Voordat sy vertrek het, het sy aan dominee gevra of hy dan nie 'n bietjie brandewyn het om vir die oues saam te neem nie. “Nee, brandewyn het ek nie, maar wat van jou bottel whisky wat jy vir jou bloeddruk moet gebruik?" het hy gevra. Met die bottel whisky onder die blad sit die geskokte pastoriemoeder toe die straat af na die oues van dae. Soos ek later verneem het, het die matrone van die tehuis op daardie tydstip die versterking eintlik meer nodig gehad as die oues van dae! By dieselfde geleentheid het die einste “mevrou dominee” 'n paar jong mans wat in die straat gestaan en gesels het, gekommandeer om behulpsaam te wees met die verwydering van die ou mense uit die gebou na veiliger plekke. Toe sy later vra of al die inwoners buite is, antwoord een jong man: “Ja, almal is nou tevrede. Ons moet nog net gou kamer nommer 38 se kunsgebit in die hande kry."

So het ons dikwels met 'n grappie op die lip en 'n traan in die oog mekaar te hulp gesnel; en as ons nog nie voorheen die betekenis van die woord “galgehumor” geken het nie, het ons nou almal wel deeglik daarmee kennis gemaak.

Vervolg...