THELMA CILLIE
Die verhaal van Suid-Afrika se grootste aardbewing ooit - 1969 in die Ceresgebied.
Lees reeks by Die aarde het gebewe!
(Lees ook meer oor aardbewings by Aardbewings - teken van ons tyd)
EK KAN nie nalaat om ook te vertel hoe dit daardie verskriklike nag van die aardbewing, by Belmont, een van die plaaslike hotelle toe gegaan het nie. Ek glo en weet dat elke hotel in die rampgebied hulle eie angswekkende ondervinding gehad het, maar ek skryf van Bettie en Faan van die Belmont, omdat ek hulle so goed ken.
Bettie was die aand besig om voorbereidings te tref vir 'n swierige silwerbruilof wat die volgende dag by hulle in die hotel gevier sou word. En soos ons Bettie ken, sou hierdie geleentheid ook in die fynste besonderhede be plan word — sy wou dit so graag baie mooi hê.
Nou ja, haar tafel was reeds gedek en sy het 'n lieflike ruiker van ses dosyn angeliere op die keurige gedekte tafel gesit — alles in wit en goud. Die lieflike vertrek het waarlik feestelik daaruit gesien. Dankbaar dat die voorbereidingswerk so ver was, het Bettie na 'n ander vertrek gegaan om kleiner ruikertjies te maak wat sy ook oral in die feesvertrek wou plaas — en toe tref die aardskok...
'n Totale verwarring het ontstaan. 'n Watertenk bokant die vertrek het losgeruk en dwarsdeur die plafon met 'n verwoestende gedonder reg bo-op die keurige gedekte tafel geval — alles was fyn en flenters — geheel en al verwoes. Bettie self het die geweld van die slag met enkele minute vrygespring.
Ten spyte van die stikdonker het Bettie gehardloop om alle hoofskakelaars af te skakel; om brandgevare uit te sluit. 'n Groep van nagenoeg honderd verbysterde gaste, het spoedig in verdwaasde groepies buite rondgestaan en jy kon net af en toe kermgeluide hoor wanneer 'n trilling voorgekom het.
Faan wat ook by die stadsraadsvergadering was, vertel dat hy die tafel wou vasgryp om op te staan, maar die tafel het padgegee en hy het op die vloer geval. Japie 'n ander raadslid moes skynbaar ook geval het, want hy het weer Faan se voete beetgekry. Eindelik het hulle op hulle voete gekom en uit die gebou gestrompel.
Bettie en haar kinders het mekaar intussen krampagtig vasgeklou en gesmeek, soos ons almal op daardie oomblik gedoen het, om genade en gespaarde lewens. Pierre, hul seun wat in die kroeg was om vir die aand te sluit, het sy hande vol gehad om die histeriese kroegman te kalmeer.
Mev. Hester C. wat by die Belmont werk, het net met 'n kombers om haar liggaam gewikkel, uitgehardloop en Floors, haar man, het met Jaco hulle baba wat hy onder 'n hoop stene uitgehaal het, in sy arms gestaan — totaal onbewus daarvan dat hy sonder broek was! Genadiglik het die kind net ligte beserings opgedoen.
By die Belmont aangekom, het Faan kopgehou. Hy het die hotelregister opgeneem en die name van alle gaste uitgelees — asook hulle kamernommers. Kol. Steynberg wat toevallig daar oornag het, was hom behulpsaam met die taak. Almal het “teenwoordig" geantwoord, behalwe Jodi in kamer No. 6 en nog 'n persoon in kamer No. 10. Hulle het na daardie deel gehardloop en veraf die angsgille uit kamer No. 6 gehoor. Die betrokke kamer se deur en venster het toegeval en die dame kon nie uitkom nie. Maar voor Faan-hulle haar nog kon bereik, het daar, asof deur 'n onsigbare hand weggeneem, 'n paar groot klippe uit die een muur geval, sodat die dame daardeur kon klim. Hoewel ontsettend geskok, het sy geen verdere beserings opgedoen nie.
Die besoeker in kamer No. 10 het dwarsdeur die ontsetting van die aardbewing “geslaap!" Faan moes hom behoorlik wakker skud om hom tussen die klippe en pleister uit die gevaarlike kamer te verwyder.
Met al die gaste veilig bymekaar, moes hulle beraadslaag oor die res van die nag. Meeste mense het verkies om die nag in die opelug deur te bring nadat hulle die nodige komberse en kussings uitgedra het. Baie het hulle weer so gerieffik moontlik in hulle motors ingerig. Dr. Barn, 'n gas wat teenwoordig was, het kalmeerpille byderhand gehad en uitgedeel waar dit nodig was.
Bettie het haar twee dogters, Lucia en Esme en vier babas van die gaste na 'n veilige rondawel geneem — een van die babas het om alles te kroon, toe nog kinkhoes gehad. Esme het die hele nag vreesbevange aan haar moeder se sy gebly, terwyl Lucia haar moeder ewe braaf en wonderlik bygestaan het. Sy het die beskadigde hotelkamers gaan deursoek om droë doeke en bababottels te kry, maar daar was geen water nie en die ligte was dood, sodat die babas se melk nie kon aangemaak word nie. So tussen die bewery en die babasussery deur, het hulle woordeloos gebid vir daglig en dat die verskrikking van die nag tog net moes verbygaan!
Eindelik het die dag aangebreek en Bettie het manhaftig kombuis toe gegaan om nou vir die gaste te gaan koffie maak.
Terwyl sy aangestap het, het sy gehoor hoe sommige gaste uitroep “Oh! how wonderful," en sy het geweet hulle het nou net soos sy, groot behoefte aan 'n lekker warm koppie koffie.
Min het sy geweet wat vir haar wag. Die kombuis was bestrooi met breekgoed. 'n Berg van grond en klippe het in die eetkamer gelê en stoele en tafels was gebreek. Die hele gewel het ingeval en verwoesting gesaai. Sy vind Faan en Pierre waar hulle besig is om haar persoonlike ornamente en blompotte in haar woonstel op te tel, en versoek hulle om na die eetkamer wat in 'n ontsettende puinhoop omskep was, te gaan. Die nagwag het verdwyn met die skudding en nooit weer opgedaag nie en hulle was genoodsaak om buite te gaan vuur maak om water en melk te kook vir koffie.
Hulle het mekaar gehelp om vir ontbyt, toebroodjies vir die gaste te maak en dit buite op die tafeltennistafels bedien. Bettie het dit oor en oor beklemtoon dat die gaste deurgaans wonderlik braaf opgetree het.
Die volgende dag het Pierre verjaar en by dié geleentheid het Faan hulle met die mooi woorde getroos “Ons het niks verloor nie. Ons is nog almal bymekaar. Die Here het maar net met ons gepraat. En ons moet luister, sy weë bewandel aan Hom vashou."
In die kroeg en bottelstoor het chaos geheers. Honderde bottels wyn, brandewyn en bier het alles deurmekaar van die rakke afgetuimel en soos die “voggies" gevloei het, poeletjies gevorm. Net daar het 'n paar volkies die geleentheid te baat geneem om op hulle maag te gaan en sommerso kosteloos 'n lekker lyf te kry!
Hulle het na die aardbewing baie groot probleme met hulle personeel ondervind. Die meeste wou nie kom werk nie gedeeltelik uit vrees en andersyds omdat hulle huislike omstandighede nou self so vreeslik ontwrig was. Na die eerste week het sewe van die blanke personeel opgepak en vertrek. Sommige het verklaar dat niks hulle hier in Ceres bind nie en dat hulle nie kans gesien het daarvoor dat hulle dalk onder kluite moet begrawe word nie!
Die dag met die haelstorm het die Belmont ook swaar deurgeloop. Terwyl water deur die beskadigde plafonne stroom het, het Bettie en haar gewilliges 'n klomp baddens wat uit die vernielde kamers losgeruk het, na die eetkamer gesleep om die ergste water op te vang. Die arme Faan het aanhoudend water uitskep. Die volvloer tapyte wat baie geld gekos het, het hulle net so verloor onder die morsige, modderige pappery.
Dorman Long se manne, wat destyds besig was om Evkom in Ceres te werk, het met 20 Bantoes by hulle opgedaag en gehelp om alle meubels uit die beskadigde dele die hotel te verwyder.
Faan kon eenvoudig nie sy personeel sover kry om te werk nie en Bettie moes later self in die kombuis gaan regstaan en die spit afbyt. Die werkers het net kombuis toe gekom koffie te kom haal en dan teruggegaan na hulle tente waar hulle die tyd verwyl het met grammofoonspeel. Hulle glo gereken as 'n mens in 'n tent woon, word daar gekamp en 'n mens kan dit net sowel opvrolik met 'n bietjie musiek.
Nancy, wat tog in die kombuis gehelp het, het elke keer ‘n lang uitgerekte geluid, soos 'n toeter wat blaas, na elke geringste trilling gemaak. En ou Katrina het volgehou: “Madam, voor die mense nie ophou om met die maan te foeter nie, sal ons nie in vrede lewe nie!"
Faan en Bettie het ook baie bemoedigende woorde en boodskappe van verskillende mense ontvang — van die hoogste tot die laagste vlak — en selfs ou Ben, 'n gewese hoofkok van die hotel, het sy goeie wense gestuur.
TOE DIE skool weer heropen het, was Sannie, een van die onderwyseresse wat in die hotel loseer het so bang dat hulle haar in hulle eie woonstel gehuisves het, maar nadat 'n trilling hulle weer een nag uit die bed gejaag het, kon niks die ontstelde Sannie weer beweeg om na haar kamer terug te keer nie. Nee, sy het haar motor verkies en het dieselfde dag haar goedjies opgepak en liewer by die Moutons 'n entjie buite die dorp, gaan bly.
DIE MEESTE huise van die hotelpersoneel was beskadig, en Bettie en Faan het koppe bymekaar gesit om die hele personeel op een of ander manier in die hotel te huisves. Die mense het toe somnner van die geleentheid gebruik gemaak om vir pa en ma en skoonouers ook saam te bring!
Een egpaar se dogter wat al begin rooihakskeentjies kry het daar en dan besluit dat sy nog 'n bikini nodig het! — want as jy in 'n hotel bly, is een baaikostuum darem gans te min!
Dofie, hy is gedeeltelik doofstom, het egter besluit om nie die aangebode huisvesting in die hotel aan te neem nie. “O! nee, ek nie hier bly — my vrou baie bang — te na berge — ek, sien kom klaar — tent by Bangbroeklaagte!" So het hy sy eie storie in sy besondere brabbeltaal vertel. Die R2 wat hy saans altyd geleen het, het nou skielik R6 geword. “Maar Dofie," het Bettie een aand gevra, “hoekom dan nou R6? Dit is darem baie geld." Daar het 'n lig vir Bettie opgegaan toe Dofie verduidelik: “Baie vleis koop nou — ons eet so saam-saam — by tent — nou baie lekker — ons almal een. My kinders so skrik-skrik — almal so help-help — Dofie nou baie bly."
TOE die meeste mense nou van Bangbroeklaagte of versit het, en Dofie alleen oorgebly het, het by met die volgende storie gekom: „Dofie nou liewer Worcester slaap — rivierkant van berge, verkeerde kant — klippe so val-val — vrou baie bang — kom liewer elke oggend terug." Dofie was dan ook getrou elke more die eerste op sy pos.