THELMA CILLIE
Die verhaal van Suid-Afrika se grootste aardbewing ooit - 1969 in die Ceresgebied.
Lees reeks by Die aarde het gebewe!
(Lees ook meer oor aardbewings by Aardbewings - teken van ons tyd)
DIE AAND van die 29ste September terwyl die wêreld so onheilspellend gedreun het, het Tobie sy vrou beveel om onder die bed in te kruip terwyl hy self die kinders sou probeer versorg. Terwyl hy sy weg voel-voel deur die donker huis probeer vind het, het vroutjie gesukkel om onder die lae bed in te kom. Sy het egter net daarin geslaag om haar kop onder in te kry — die agterstewe was nog buite. Met 'n oorverdowende geratel het al die ingeboude kaste agter haar ook nou oopgevlieg en die inhoud het onsag op haar rug te lande gekom. Asof dit nie genoeg was nie is 35 dosies met legkaarte ook nog deur die lug geslinger en hul inhoud deur die kamer gestrooi. Hierdie omstandighede het haar gedwing om haar onder die rommel uit te wikkel en ook maar haar weg al vallende, na buite te baan.
'N NUWE padkafee is in dié dae in Ceres oopgemaak; asook 'n pragtige skaatsbaan. Hierdie nuwigheid was werklik vir meer as een in die gebied 'n ligpunt, en dit het werklik al plesier vir die dorp se kinders geword — ten koste van hulle ouers se sakke natuurlik, maar tog welkome afleiding.
IN DIE Courier wat maandelank weekliks in die rampgebied verskyn het, het ons baie stof tot nadenke gekry. Ons het in daardie dae na elke boodskap gegryp om gemoedsrus en versekering to probeer vind. Dit was interessant hoe elke mens op sy eie manier deur die gebeure aangegryp is, maar een ding was duidelik, en dit is dat elke mens hoe hy ook al getref is, duidelik die hand van God in die gebeure kon raaksien. Ons herhaal graag onveranderd die volgende hoofskappe wat die rampgebied se predikante by geleenthede in die Courier geplaas het:
Ds. J. W. Coetzee, N.G. Kerk — Ceres:
Job. 1:14: “Laat julle harte nie ontsteld word nie: glo in God: glo ook in My."
“Dit was 'n donker uur vir die dissipels toe Jesus hierdie woorde tot hulle gespreek het. Hy gaan van hulle of weg. Hulle word ontsteld en met hierdie woorde troos Hy hulle. Donker dae kom ook in ons lewe. Dan is hierdie woorde ook vir ons. Dit is altyd sy beste troos en bemoediging: Glo in God.
Slegs vertroue elke dag.
Moed hou in die swartste nag
Jesus trou staan vas en pal.
Slegs vertroue dit is al.
“Dit is al, ja! Maar dit is so groot. Dit is die een reguit pad na die Bron van troos en krag:
“Slegs vertroue ..."
Ds. H. A. A. Lambrechts, N.G. Kerk — Tulbagh:
“Die ware geloof staan nooit verleë nie. Die Here neem nooit alles van ons weg nie. Hy wat neem is die Een wat weer so ryklik kan gee.
“Dit is 'n groot gevaar dat 'n mens ten tye van beproewings en teleurstellings net jou verliese raaksien. Dit is belangrik vir ons voortgang dat ons nie net let op hoeveel ons verlaat het nie, maar om te dink aan alles wat ons nog oor het. Kom ons sê dankie vir ons lewe, gesondheid, vir 'n hardwerkende en getroue man, vir 'n dierbare vrou wat elke dag alles in die huis gereed maak, vir laggende kinders ... Dan lyk die krake daarbuite nie so allesoorheersend nie en ons weet daar sal weer 'n oes wees.
„Wat ons nooit moet vergeet nie, is dat die Here somtyds dinge van ons wegneem, sodat ons meer ontvanklik kan wees vir kosbare gawes uit sy Hand. In 'n tyd soos hierdie bied Hy Homself in sy volheid vir ons aan as ons Verlosser, maar ook as ons Vader wat in al ons behoeftes kan voorsien . ."
SOOS DIE DAE verbygaan, hoor ons nog dikwels staaltjies van hoe mense die eerste aand getref is. So hoor ons die volgende storietjie van die godvresende egpaar op Tulbagh:
Die agtermiddag van die 29ste September was daar ligte aardtrillings waarneembaar op Tulbagh. Terwyl die ou egpaar hulle aandete nuttig, sê die oom aan sy gade dat hy baie onrustig voel oor die trillings wat die agtermiddag voorgekom het en dat hy baie seker is dat die einde van die wêreld in sig is. Sy praat hom moed in oor hy so swartgallig is en sê die trillings is seker “sommer maar". “Nee, vrou," antwoord hy “dit help nou nie, in die Bybel staan uitdruklik dat die laaste dae aangekondig sal word met aardbewings en vuurspuwende berge, en ek sê nou vir jou ons kan ons maar gereed maak." Later is die twee bed toe. Hulle is egter wreed uit hulle slaap gesteur deur die donderende gedreun van die aardbewing. Die tannie het opgespring en deur die venster die verskriklike vure gesien. Sy roep toe haar man en se aan hom dat hulle moet vlug want die wêreld is aan die brand. “Nee," sê die oom “dit sal nou nie help om te vlug nie — dit is die oordeelsdag. Kom lê maar rustig in jou bed — die dinge sal ons nie kan ontduik nie." Terwyl hulle hul lê probeer kry, kom daar meteens weer 'n hewige skudding wat die watertenk op die dak laat bars. Die plafon gee mee en strome water val op hulle. “Kom vrou, kom laat ons maar nou vlug," sê die oom, „in die Bybel staan niks van water wat die laaste dae teenwoordig sal wees nie!"...
Omdat ontspanning in enige vorm regtig in die beproewende tyd 'n rariteit was, was dit vir die gholfliefhebbers veral 'n heerlikheid toe Gary Player ingestem het om op Ceres te kom gholf speel. Die toernooi is vir die 21e Januarie, 1970 gereël en toevallig word die toernooi op Suid-Afrika se eerste metrieke gholfbaan, dié van Ceres gespeel. Die toernooi is gereël ter stywing van die fondse vir rekonstruksie en om landwye reklame vir die gebied te maak.
Die waarnemende Administrateur van Kaapland het vir ons 'n besielende boodskap deur middel van ons Courier gestuur, en die verslag daarvan wil ek graag ook onveranderd her plaas:
“Die teëspoed wat die Noord-Boland getref het, kan onder meer beskou word as 'n geleentheid vir sinvolle heropbouing en vindingryke hernuwing van die betrokke dorpe," het mnr. F. D. Conradie, waarnemende Administrateur van Kaapland, in 'n spesiale Nuwejaarsboodskap aan ons Courier gesê:
“Ek vertrou dat mense wat die aardskudding beleef het dit nie alleen sonder ernstige letsel van permanente aard sal oorleef nie, maar dat hulle selfs daarin sal slaag om dit in sekere opsigte om te sit in positiewe wins en voordeel.
“Ceres, Tulbagh en Wolseley het stellig nog nooit in hulle geskiedenis soveel warme liefde en opregte belangstelling soos tans ervaar nie. Hoeveel duisende dwarsdeur die land het nie hul meegevoel en belangstelling op tasbare wyse gedemonstreer nie. Hoeveel tienduisende is nie vandag simpatiek bewus van u beproewing en belewe dit saam met u in gedagtes en gebede nie?
“Maar ook in 'n meer fisies-aktuele sin is daar vir u potensiële voordeel in die skade wat gekom het deur die vernietiging van mense-werk.
“Veral in die lig daarvan dat werklike finansiële verliese beperk sal wees — danksy die milde basis waarop aanspreeklikheid vir vermoënskade van owerheidsweëen deur versekeringsmaatskappye aanvaar is — sal die rampskade 'n goeie geleentheid skep vir sinvolle heropbouing," het mnr. Conradie gesê.
“In laasgenoemde verband, verdien die restourasie van beskadigde geboue van historiese betekenis spesiale vermelding en beklemtoning. As die lofwaardige oogmerke van die komitee wat homself daarvoor beywer, met 'n redelike mate van welslae verwesenlik kan word, dan sal met reg gesê kan word dat die ramp dermate 'n bedekte seën was.
“Dink ook aan al die ervaring wat die ramp vir u ryker gemaak het — ryker as wat u selfs voorheen was en ook ryker as almal wat so iets nog nie belewe het nie.
“En, wie weet, dalk het die ramp vir u as gemeenskappe mekaar in sekere opsigte ook beter laat leer ken en nader aan mekaar gebring...
“Dit alles sal loutere wins wees, bedekte seëninge, wat in verrekening gebring kan word teen die sigbare skade en oënskynlike beproewing.
“Ek wens en bid vir u toe ware Kersvreugde en gemoedsvrede hier oor die groot dae, en geloofsvertroue vir seën en voorspoed in die Nuwejaar. ..."
INTUSSEN bly die verskillende boukontrakteurs pal besig om tydelike huise op te sit. Ons het werklik gehoop dat die mense gouer kan klaarmaak met die grootskaalse onderneming, want as die winter hulle sou vang sou dit vir hulle - die werkers — sowel as vir die inwoners van die gebied baie ongerieflik wees .
HIER by ons op die plaas, het veral in die boorde, verskeie skeure ontstaan tydens die aardbewing. Die skeure was omtrent so wyd dat 'n man se vingers maklik daarin kon pas. Oral by die skeure het water uitgesyfer en dit het later so 'n nat moerasagtige toestand afgegee dat sommige van ons peerbome begin doodgaan het. Die gevolg was dat Malan die waterare moes laat afboor. Daar is toe verskillende gate geboor en daar loop permanent 'n straal water uit die boorgate. Op sommige plekke verneem ons weer, het boorgate wat nog al die jare standhoudend was, weer heeltemal opgedroog. Droë fonteine wat jare laas water gehad het, het nou skielik weer begin loop .
EK DINK nou net aan 'n familie wat besonder lief is vir uitkamp — Piet en Esther-hulle. Hulle was die aand met die ramp reeds aan uitkamp by die plaaslike swembad. Hulle besluit toe om maar dadelik op te pak en huis toe te gaan, maar daar aangekom vind hulle dat hulle huis so beskadig is dat hulle maar dadelik weer moes tent opslaan op hul werf. “Ja", sê hulle seuntjie Michel toe, “dit het ons nou daarvan. Ons kan mos nooit genoeg van kamp kry nie, en nou het Liewe Jesus gedink — nou kan julle maar kamp dat dit bars!"
Ou Toes, my een bediende, het altyd met die vreeslikste stories hier aangekom. Eendag vertel sy my toe weer van 'n vreeslike voorspelling wat die mense nou gemaak het oor 'n ramp wat ons nou weer sou tref. “My liewe genade, Toes," vra ek haar toe “waar op aarde kom julle aan die verskriklike stories?" Dadelik antwoord sy dat sy dit by die volkies gehoor het wat 'n “wirelis" het. Ek sê toe dat dit vir my darem baie snaaks is, want oor ons radio is daar beslis nie melding van so 'n “voorspelling" gemaak nie. “Dit mag wees," antwoord sy “want die ‘wirelis' daar by ons lyk darem baie annister as kleinnooi hulle s 'n!"
TERWYL ek eendag besig is met inkopies in een van die winkels, kom 'n vreeslike lawaaierige klomp kinders die straat afgehardloop. Ek merk toe op teenoor die dame wat my bedien, dat die aardbewing 'n eienaardige uitwerking op my het — en dit is dat ek geen geraas van enige aard kan verdra nie. Kinders wat skree, honde wat blaf, motorfietse, trekkers, motors — ja, enige ding se geraas kan my nou feitlik rasend gek maak! Sy vertel my toe dat dit met haar presies dieselfde gesteld is. “En nou moet mevrou weet, ons buurvrou en al haar kinders hardloop elke keer in die nag met die geringste trilling uit die huis uit, en gee sulke lang reguit skreeue. Dit voel vir my of ek kan mal word daarvan!" Ek wonder toe so in die stilligheid hoe 'n “reguit skree" nou eintlik klink!
'n Ander dame wat na ons gesprek staan en luister het, voeg by: “Daardie is nog niks! My buurvrou se hond se blaffery werk so op haar senuwees dat sy die hond elke aand ‘n slaappil ingee!” Dit was darem vertroostend om te hoor dat ek nie die enigste is wat nou allergies vir geraas geword het nie...
Mense is op verskillende maniere aangetas van die groot skrik. Ons weet van mense wat heeltemal flou geword het, en ons weet ook van gevalle waar mense met alle geweld wou weghardloop. Hulle moes met alle mag vasgehou word.
Vervolg...