Dr Danie Odendaal, hoogs gerespekteerde SA veearts en lid van die ministeriële BKS-taakspan, direkteur van Veeartsnetwerk, het gister skokkende onthullings gemaak op sy Facebook-blad.
Die SA landbouminister se bekendstelling van die sogenaamde "nuwe" plaaslik vervaardigde entstof van die staatsondernemings ARC-OVR op Vrydag (6 Februarie) is nie 'n deurbraak nie.
Dit is 'n nasionale skande!
Hierdie entstof is nie nuut nie. Dit is sedert 2010 deur 'n span navorsers, onder wie twee Nederlandse spesialiste, teen hoë koste (gefinansier deur die belastingbetaler) ontwikkel by die Landbounavorsingsraad (Onderstepoort). Dit is reeds vier jaar gelede in 2022 volledig geregistreer as 'n entstof in SA, en ook soos Vrydag, in 2023 as 'n deurbraak bekend gestel.
Die doelwit was om 'n doeltreffende entstof beskikbaar te hê vir wanneer die bek-en-klouseer siekte (BKS) weer uit die Kruger Nasionale Park versprei.
Die ARC-OVR het willens en wetens op die entstof gesit terwyl boere, diere en die hele landbousektor die afgelope vier jaar aan die siekte blootgestel is, met die huidige uitbrekings as die ergste.
Indien die entstof gelisensieer en op skaal vervaardig was deur 'n kontrak vervaardiger toe dit geregistreer was, kon Suid-Afrika die uitbreking in 2022 beheer het met genoegsame entstof, terwyl beheer en voorkoming steeds moontlik was.
Die staat sal die entstof nooit weer koste-voordelig kan produseer nie. Daarvoor is private maatskappye net te doeltreffend en tegnologies gevorderd.
In plaas daarvan om die entstof in 2022 te laat vervaardig, het onaktiwiteit, onbevoegdheid en vertraging die krisis buite beheer laat raak.
Die gevolg was die ergste dieregesondheid- en welsynsramp in ons leeftyd wat boere miljarde rande kos, lewensonderhoud vernietig en onmeetbare lyding aan diere veroorsaak.
Nou, ná al hierdie verwoesting, word sowat 12 000 duisend dosisse aangebied om 'n "deurbraak" te vier. Ons het 14 000 000 dosisse elke ses maande nodig net om weer beheer oor die siekte te kry.
Dit is 'n belediging vir elke boer wat alles verloor het, en vir elke Suid-Afrikaner en verbruiker wat afhanklik is van 'n funksionerende landboustelsel. Hierdie ramp was voorkombaar.
Die verantwoordelikheid daarvoor lê vierkantig by diegene wat versuim het om op te tree toe aksie nodig was.
Dit is nie 'n deurbraak nie. Dit is 'n growwe versuim van plig – verraad teen openbare vertroue, dierewelsyn en die boere wat hierdie nasie voed.
Dieselfde het gebeur totdat BKS-monsters vir die eerste keer in 14 jaar gestuur is na die wêreld spesialis-verwysingslaboratorium volgens die landbouminister se aankondiging op 23 Januarie. Vir 14 jaar het die ARC-OVR die plig versaak, en dit was deel daarvan dat die uitbreek nie doeltreffend beheer kon word nie, want sonder die monsters by die Pirbright-instituut in Engeland kon ons nie soek vir buitelandse entstowwe vir ons virusstamme nie.
Dit bly vir my ongelooflik hoe die regering 'n totale mislukking kan omdraai en dit aan die publiek as 'n deurbraak voorhou..