Jeanette Koekemoer
18 MEI 2011: 4e MUNISIPALE VERKIESING ONDER DIE ANC – 18 MEI 1938: ALGEMENE VERKIESING
Daar het vandag weer 'n verkiesingsirkus in ons land plaasgevind en mens wonder nie waarom daar niks was om voor te stem nie. Een telefoonkortboodskap wat vandag rondgesirkel het, het dalk in sy grappige gees die werklikheid vasgevang met dié woorde: "Ek het die hele dekselse dag in 'n ry gestaan om te stem en toe ek uiteindelik voor is toe sê die kluite vir my my party staan nie!" Nou ja, as ons nog vir onsself kan dink sal ons besef daar was nie 'n party by die stembus waarvoor gestem kon word nie; nie vir beginsels nie, en nie een vir positiewe ekonomiese omstandighede nie (waarsonder noodsaaklike dienste nie gelewer kan word nie) – die hoofredes waarom 'n verkiesing eintlik plaasvind. Buitendien sou die party wat tans dink hulle is besig om die land te regeer terwyl hulle daarvan niks weet nie, op hulle gewone trant deur middel van korrupsie sorg dat opposisiepartye nie 'n meerderheidstem bekom nie – onthou regter Kriegler se bekentenis oor die "verkiesingsbordeel" waarin hy moes werk toe die land ten alle koste aan die ANC gegee is (en volgens ons internasionale volksvyande wat die toutjies trek sal dit so moet bly, met goeie rede tot húlle voordeel).
Die algemene verkiesing van 18 Mei 1938 het uitdruklik om beginsels gegaan. In 1933 nog was ekonomiese omstandighede deurslaggewend maar daarna in 1934 het Hertzog en Smuts, as leiers van die Nasionale Party en die Suid-Afrikaanse Party onderskeidelik, polities saamgesmelt. Dr Malan het as getroue Afrikaner eenkant gestaan. Vir hom was dit belangriker om volksideale te handhaaf as om 'n verkiesing te wen – 'n voorbeeld wat ons moes gevolg het.
Dr Malan het baie goeie redes gehad waarom hy nie in 'n verkiesing belanggestel het nie: hy wou naamlik propaganda vir 'n republiek maak, die land van Brittanje en die Britse Ryk afskei soos die Afrikanervolk dit begeer het, en hy wou, in geval van 'n Europese oorlog, neutraal staan – alles baie belangriker sake wat aandag moes kry ter wille van volksoorlewing in 'n baie moeilike tyd waar verkiesings nie die volk sou red nie - soos vandag wat die verkiesing van nul en gener waarde vir die Afrikanervolk was, hom net verder verarm het deur sy belastinggeld op 'n onvergeeflike wyse te vermors.
Die Arbeidersparty het drie setels op stemdag 18 Mei 1938 verower, die Britsgesinde Dominion Party agt, die Nasionale Party van dr Malan 27, die Sosialiste een en die Verenigde Party 111. Hertzog het dus premier gebly, Smuts was sy adjunk en dr Malan was Leier van die Opposisie.
Die Eeufeesjaar het egter 'n besielende oplewing van Afrikanernasionalisme na vore laat kom. Die Afrikaner was weliswaar ekonomies swak en polities verslaan maar kultureel opreg trots –iets wat nie vandag blyk te bestaan nie en ons finale ondergang sal meebring as ons nie ernstig poog om weer ons trots te herwin deur ons eie kultuur eenkant te handhaaf nie.
Presies hieruit het ook in Mei 1948 politieke triomf vir dr Malan gevolg. Immers, toe Hertzog in September 1939 deur Smuts van sy premierstoga beroof is deur Suid-Afrika teen die meerderheid Afrikaners se sin met Brittanje saam in 'n wêreldoorlog te dompel, het juis dr Malan vir Hertzog as Afrikanerpatriarg en volksleier en taalgenoot terugverwelkom – nog 'n les wat ons vinnig sal moet leer wanneer sake tussen ons vyande hier so handuit gaan ruk dat ons nie sal kan bekostig om mekaar verder te verwyt en te verwerp nie.
Hieruit is, sonder Hertzog, die Afrikanerparty in 1941 gebore. Malan self het met sy Herenigde Nasionale Party of Volksparty die Afrikanermens polities, kultureel, ekonomies en Christelik-nasionaal gehuisves. Hieruit is ook die politieke roem van Mei 1948 gebore want 'n getroue volk is magtiger as enige politieke party en sy verkiesings.
Maar getrouheid is ongelukkig nie 'n eienskap wat vandag meer algemeen onder die oorblyfsels van ons arme volkie gevind word nie – van getrouheid aan die beginsels waarvoor in 1938 gestem is, is daar vandag nie sprake nie. Die bewys het ons in ons oorlewering aan 'n terroristebende wat hierdie land reeds ekonomies geruïneer het terwyl hulle ons volk teen 'n skrikwekkende tempo uitmoor.
Daarom kon ons nie vandag by die stembus staan en 'n kruisie trek nie - daar was werklik niks om voor te stem nie.