WONDERWERK IN ONS GELOFTELAND

ONS LAND SÁL HERSTEL

Jeanette Koekemoer

Daar is talle Christene in hierdie land wat besef dat net 'n wonderwerk weer orde ná die chaos van die kommunistiese rewolusie sal bring. Terwyl sommige nog dink hulle sal in eie krag oorleef en plannetjies maak weet ons dat dit alleen God se genade in die vorm van 'n wonderwerk sal wees wat ons Gelofteland weer sal herstel tot 'n veilige hawe waar ons in vrede ons Vader kan dien.  Onwillekeurig ontstaan die vraag dan hoe gebeur 'n wonderwerk.

In die Bybel vind wonderwerke op verskeie manier plaas.

Eerstens kan 'n wonderwerk al die bekende natuurwette oortref. Die skeppingsdaad was sekerlik dié wonderwerk wat alle natuurwette oortref het.

Ook vervang 'n wonderwerk die natuurwette, soos toe Elia teen die beginsels van die swaartekragwet opgevaar het na die hemel.

Natuurwette word ook opgeskort soos toe Christus op die water geloop het.

Wonderwerke vind ook plaas wanneer die natuurwette versterk word om 'n wonderbaarlike gevolg te hê, soos toe Jesus water in wyn verander het.

Dan kan 'n wonderwerk die wette van die natuur in 'n ander rigting stuur, soos toe die waters van die Rooi See geskei is.

En laastens gebeur 'n wonderwerk wanneer die gevolge van die siekte van sonde geneutraliseer word, en dit is hier waar ons wat wag op God se wonderwerk in Suid-Afrika in die prentjie kom, want dit is óns volk se siekte wat eers geneutraliseer moet word alvorens Hy ons land sal herstel. Ons volk is siek as gevolg van misleiding agter die sonde aan, siek van ongehoorsaamheid aan God se Gebooie, siek en sterwend daarby omdat ons nie ons saak met Hom regmaak nie.

Intussen wag Hy vir ons sodat Hy daardie wonderwerk kan kom verrig waar Hy weer die wette van die natuur in 'n ander rigting sal stuur en vir ons ons eie Rooi See middeldeur skei en ons na veiligheid en vryheid lei.

Onthou dat die skare nie net gesien het hoe Jesus 5 000 mense met vyf brode en twee vissies gevoed het nie, hulle het ook deelgeneem omdat hulle die brood en die vis geëet het. Tog het daardie selfde mense die volgende dag vir Jesus gevra: "Watter wonderteken kan U doen sodat ons dit kan sien en in U glo? Wát gaan U doen?" (Joh 6:30).

As ons nie die wonderwerk in ons mooi land sien gebeur nie, weet dan dat dit as gevolg van ons ongeloof is en wat weer lei tot ons ongehoorsaamheid, maar ek het 'n vaste geloof dat God ons stelselmatig forseer om tot die geloofspunt te kom waar ons vrywillig op ons knieë sal smeek vir genesing. Dit is geloof wat red, die geloof van die menslike hart wanneer God se plan in die Bybel gesien word en wanneer Jesus Christus as Verlosser van sondes aanvaar word.  Dán red Hy nie net individue nie maar hele volke. Soos Hy Gideon met net driehonderd manne gebruik het om die volk te red, en die duisende huistoe gestuur het omdat Hy sy eie Naam wou verheerlik onder die volke sodat niemand kon spog dat dit in hul eie krag gebeur het nie, só sal Hy ons verknelde volkie kom uitred selfs al is ons net 'n handjievol getroue gelowiges.

Weet dit, hou hieraan vas, en wees gereed, want daar is verseker 'n Gideonsbende vandag besig, en Hy is oppad!