Sal ons hulle nooit afskud nie?
Die Afrikaner
Kykers op die staatsuitsaaier se nuus kon die week sien hoedat plaasbesetters ’n plaas by Komatipoort gaan beset het, en hoe arrogant en aggressief hulle was.
In dieselfde week het ’n klomp Afrikaanses agter geslote deure met die ANC gaan gesels, omdat die ANC wil weet waarom Afrikaners nie vir hulle wil stem in verkiesings nie.
Laat ons net begin deur die onderskeid baie duidelik te maak: die klomp wat hulle laat vang het om agter geslote deure te gaan konkel met die ANC om dié klomp voormalige terroriste aanvaarbaar vir die Afrikaner te maak, verteenwoordig nie die Afrikaner- of Boerevolk nie. Hulle verwys baie graag na hulleself as AfrikaanSES, en dis ’n baie sinvolle en duidelike onderskeid tussen ons.
Waarom wil die Afrikaners niks met die ANC te doen hê nie? Dis tog eenvoudig. Die ANC neem die Afrikaanse krummels in sy geledere, soos die Carl Niehause, Derek Hanekoms en in lewe die Beyers Naudé’s. Dit is die soort mense wat hulle lewe lank hulle bes gedoen het om die ANC te bevoordeel, ten koste van hulle eie mense. Dit was in ’n tyd dat die ANC Kerkstraatbomme en landmyne op plaaspaaie geplant het sodat vroue en kinders daardeur vermoor is. Daardie Afrikaanses het dus gewoon verraad gepleeg teen hulle eie mense wat deur die toenmalige terroriste vermoor is.
Ook het die ANC min of meer in dieselfde week begin om Pretoria se straatname te verander, en Afrikanername te vervang met hulle eie oud-terroristename, met hier en daar ’n naam tussenin van Afrikaanses wat destyds verkies het om hulle rug op die Afrikaner en sy selfstandigheid te draai, soos Johan Heyns, Nico Smith en dergelikes.
Die ANC doen alles in sy vermoë van sy kant om die Afrikaner te beledig, te verneder en selfs fisies uit te roei met die volksmoord waaraan hy niks doen nie behalwe skynbaar goedkeurend toekyk.
Waarom het die ANC enige rede om te dink dat met sodanige optrede die Afrikaner enigsins belangstel om nader aan hom te beweeg of selfs vir hom te wil stem? Netso kan gevra word waarom enige regdenkende intelligente Afrikaner enigsins wil oorweeg om met die ANC te gesels met die oog daarop om die Afrikaner te oortuig om vriendeliker teenoor sy hardste vyand te moet wees? ’n Mens wil byna sê dat net verraad en kruipery sulke mense dryf, want daar is geen rasionaal vir sodanige gesprek nie.
Nadat die gesprek verby was, het van die Afrikaanses wat daar was, jubelend vertel van die reguit en positiewe gesprek wat dit was, en daar is gepraat oor onderwys en so ’n paar ander kultuursake. Waarom sal ons glo dat die ANC nou skielik iets vir Afrikaner-onderwys sal begin voel? Vir agtien jaar het hy sy bes gedoen om Afrikaanse skole te omvorm na sogenaamde dubbelmedium, net om hulle dan eentalig Engels te maak, en hulle sodoende te verswart. Die ANC het dan juis die BCVO se suksesvolle eksamineringsraad nek-om gedraai, omdat Afrikanerkinders in BCVO-skole kop en skouers uitgestaan het bo staatsonderrig.
Ons is bly dat daar organisasies is, soos die HNP, TLU SA en selfs die Solidariteit-Beweging wat openlik gesê het dat hulle niks vir die ANC te sê het nie, en beslis nie agter geslote deure nie.
Intussen kom die ANC nie vorendag met ’n afspraak aan die Volksraad, om die vryheidseis te gaan stel nie. Die ANC is dus fyn genoeg om te sif wie is dié in Afrikaanse geledere wat hy kan manipuleer om homself te laat goed lyk. Dan nooi hy ’n klomp akademici en organisasies wat al totaal Afrikaner-vreemd geword het. ’n
Instelling soos die Volksraad, met bewese steun, word ooglopend geïgnoreer. Met sodanige optrede skep die ANC toenemende spanning tussen homself en die vryheidsgesinde Boere- of Afrikanervolk. Dit gaan een of ander tyd op ’n baie openlike en ernstige dispuut uitloop, waarvoor hy net homself kan blameer.
Intussen moet ons plan maak met die opportuniste wat maar kruiperig bly voor die ANC. Hoe lank moet ons nog met diesulkes in ons midde opgeskeep bly?