VADER VAN SA SPESIALE MAGTE OORLEDE

Legendariese Suid-Afrikaanse soldaat, Jan Breytenbach het die goeie stryd geveg, die Geloof behou en nou sy wedloop voltooi.

Op Vadersdag, Sondag 16 Junie, op die ouderdom van 91, is die vader van Suid-Afrikaanse Spesiale Magte deur sy Opperbevelhebber tot Hoër Diens geroep.

Jan Breytenbach het 'n voortreflike loopbaan in die SAW gehad.

Kolonel Breytenbach het nie net die Suid-Afrikaanse Spesiale Magte (die Verkenningskommando's, of "Recces") en 44 Valskermbrigade gestig nie, maar ook 32 Bataljon. Ons loof God vir 'n goeie lewe, vir 'n moedige Christen-soldaat wat lewensbelangrike bydraes tot die ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse Weermag gelewer het en wat 'n groot rol gespeel het in die nederlaag van die Sowjet-geleide kommunistiese magte in Angola. Sodoende het hy grootliks bygedra tot die nederlaag van die Sowjetunie en die oorwinning van die Koue Oorlog.

Kolonel Breytenbach was 'n goeie vriend van die Sending en 'n energieke en entoesiastiese getuie vir Christus.

Ons neem van hom afskeid met groot dankbaarheid dat hy sy aardse reis tot diens van sy land, volk en God voltooi het.