HOE DIEP IS ‘N ROMMELHOOP DAN?

Suid-Afrika het sy plek in die wêreld as misdaadhoofstad waarlik verdien. Ons het ‘n nuwe status bereik met 6 163 moorde per kwartaal, die hoogste ooit. Dit is duidelik dat die publiek geen beskerming van die polisie kan verwag nie en op hul eie veiligheidsmaatreëls aangewese is.

In die afgelope tien jaar het moorde in Suid-Afrika met ongeveer 75% gestyg.

Die laaste van die goed opgeleide polisielede uit die ou bedeling, kom nou in aanmerking vir pensioen of vervroegde pensioen. Meer nog, die polisie is gretig om van die lojale ou garde ontslae te raak, want daar is planne om die vervroegde pensioen van 55 jaar tot 50 jaar te verlaag.

Baie polisielede wat naby aan pensioenouderdom kom, tree nie meer af nie, maar neem ontslag sodat hulle hul pensioengeld kan kry om dit self te belê of om ʼn aftree-besigheid daarmee te begin.

Die probleme met die forensiese laboratorium van die polisie, sowel as hulle chaotiese vuurwapenregister, is aanduidings dat daar nie net op operasionele vlak nie, maar ook administratiewe vlak groot probleme is wat moeilik, indien enigsins, opgelos gaan word binne die afsienbare tyd.

Geen nuwe rekrute is ook die afgelope twee jaar in diens geneem nie. Dit laat die polisie tans met ʼn agterstand van 14 000 lede.

Die statistiek wat Cele vrygestel het, dui op ʼn toename van 1 056 moorde teenoor dieselfde tydperk verlede jaar. Nie minder nie as 6 163 moorde is in een kwartaal gepleeg, wat neerkom op ongeveer 67 moorde per dag, wat waarskynlik die hoogste is ooit. Dit is 41,7 per 100 000 van die bevolking waar dit voorheen 35 per 100 000 was en toe reeds van die hoogste in die wêreld. Die wêreldgemiddelde is 6,1 per 100 000.

Motorkapings het toegeneem van 4 803 tot 4 973.

Rooftogte by woonhuise het daarenteen effe afgeneem van 5 760 tot 5372. Maar daarvoor is ‘n goeie verklaring: inbrake is baie moeiliker as om eienaars by hulle ingang te kaap!

Verkragting het toegeneem van 8 922 tot 9556, maar hierdie syfer sal aansienlik hoër wees omdat nie alle sake aangemeld word nie. Plaasaanvalle het weer eens gestyg.

Dus, Suid-Afrika, die vraag is of daar ‘n status nog laer is as waar ons reeds is naamlik tweede rommelstatus; hoe diep kan ‘n rommelhoop dan wees?