Deur Medewerker
“Maar toe daal die “nuwe” Suid-Afrika op ons neer. Oor die politiek agter daardie besluit wil ek hier nie veel uitwei nie, behalwe dat elkeen wat nugter oor die saak nadink vandag moet erken, dit ‘n fatale besluit was gesien die gevolge wat dit nie net vir die Afrikaner inhou nie, maar vir al die mense van ons land.”
Elders lees ek op Judy Ward, ‘n vriendin van my uit die jare toe beide van ons dosente was in Johannesburg, se Facebook-blad, oor die verval in Krugersdorp. Foto’s is natuurlik die beste bewys van die verval wat nie alleen daar nie, maar in die res van ons land so opmerklik (en grusaam om te aanskou), aan die orde van die dag is. Die reaksie van mense is al voorspelbaar: “skande”. Tog wil ons nie erken dat ons hulpelose toeskouers van hierdie verval geword het nie.
En voor mens die vraag probeer beantwoord; “waar gaan dit eindig?”, kom ons ervaar so bietjie“heimwee” oor wat was, ten einde opnuut te besef hoe dramaties dinge verander het. In net sowat 27 jaar.
In 1982 het ek, na my 2-jaar diensplig, in “Johies” beland om in te skryf aan die RAU, die Afrikaanse universiteit in die “Engelse”stad. My koshuis was Afslaan wat toe geblyk het ‘n uithalerkoshuis was wat jaar na jaar sangfeeste, die “Baron Gawie” (die Jooltrofee) en talle sport kompetisies, waaronder natuurlik koshuisrugby, gewen het. Waar braaivleisvure omtrent gebrand het soos die “Ewige Vlam van Mamajef Kurgan in Stalingrad”.Ja, ons het selfs die akademiese trofee jaar na jaar gewen…
En waar die Weermag van jou ‘n “man” gemaak het, veral “basiese opleiding” en jy intens bewus geword het van ons land se stryd met die “vyandelike”magte wat hierdie vaderland van ons “onregereerbaar” wou maak, het jy aan die RAU die idilliese van die lewe intens beleef en allerlei akademiese argumente gehad waarom die vyande nie in hulle doel sou slaag nie. Dis nou, as mense net na jou sou wou luister!
Dit was wonderlike jare (sekerlik van die heel beste) en die RAU het dan ook beslis die mooiste meisies in ons land gehad. Daarom was dit baie lekker om klasse by te woon waar die proffie nie altyd al die aandag gekry het nie… Ja selfs in die HF Verwoerd Biblioteek (jy het reg gelees ja!) het jou kop gereeld gedraai as jy veronderstel was om “navorsing” te doen!
Dis hierwaar die sportgogga my werklik gebyt het en ek die voorreg kon smaak om aan SAU’s deel te neem aan onder meer atletiek en landloop. Oral in die land. Sorgvrye, kommervrye dae. Behalwe nou as eksamens aanbreek en jy inderhaas jou nota’s agtermekaar moes kry. Dis veral hier waar jy vriende ontmoet wat lewenslank jou vriende sou bly. Al bly baie van hulle nou regoor die wêreld…
Wat was lekkerder as om ‘n meisie uit te neem en by Café de Paris in Hillbrow koffie te gaan drink, daarna in boeke by Estorill Books rond te snuffel of saam met pelle ‘n hoender by Fontana (wat 24 uur van die dag oop was) te gaan verorber? Ja, Hillbrow was ‘n baie veilige plek in daardie dae en die Afrikaanse kerk waarvan ek lidmaat was het selfs daar ‘n kerkgebou gehad en het ons talle eredienste daar bygewoon. Sal ek die ooit die dag vergeet toe ds Tony Simpson oor die “wil van Here” gepreek het? Hy’t onder andere gesê dat as jy teen 120 km/h in Eloffstraat afjaag met ‘n motor en jy verongeluk, jy nie moet redeneer dat dit die Here se wil is nie. Sulke onvergeetlike oomblikke wat onuitwisbare indrukke gelaat het en daar was so baie! Is dit nie trouens waar dat die meeste daarvan uit ons studentedae kom nie?
Ons universiteitslied het gepraat van “die Rand so tuis so anders”. Hoe waar was dit nie! Johannesburg met sy aangename somers en, vir ‘n Bosvelder, snerpende winters. Ek was nooit eendag spyt dat ek by die RAU studeer het nie. Uitstekende professors, waaronder my promotor professor Barrie, onder wie se bekwame leiding ek my doktorsgraad voltooi het en wat vandag al 80 jaar oud is; professor JC Sonnekus, dalkeen van die beste akademici wat hierdie land ooit opgelewer het,en professor JC van der Walt wat, in my oë een van die beste dosente was wat ek ooit teëgekom het. ‘n LLB-graad aan die RAU verwerf was in hoë aansien! In elk geval, in daardie dae.
So kan mens voortborduur oor die Goudstad. Intervarsities, ja die dag toe ons die magtige Tukkies die eerste keer die loef afgesteek het. Ons het in daardie dae nog lekker gesing op die pawiljoen met ‘n rasieleier van formaat.
Waar Koos du Plessis die lof van Pretoria besing met sy “Pretoria, Jakarandastad” het ons na Johannes Kerkorrel geluister met sy “Gee jou hart vir Hillbrow!.” Dit was in daardie dae ‘n skoon, ordelike en lieflike stad om in te woon. So sou ek ondermeer in Crosby (Brixton), Aucklandpark,Triomf (Sophiatown) en Florida-Glen bly voor ek einde 1994 die pad terug Bosveld toe gevat het. Ja, en selfs die Engelse van “Johburg” was nie te“onaardig”nie. ‘n Paar van ons vriende was sommer baie tuis by Pirates Club in Greenside (waar die Engelse besigheidsmanne ons arm studente se drank op Dinsdae-aande betaal het na die 8 km “time trial” en ons tot laataand in die “pub” gekuier het. Met trots het ons (ek, Deon, die twee Andre’s en Martin) in die Pirates-frokkie menige Comrades-marathons kafgedraf. My heel eerste Comrades was dan ook as ‘n lid van Pirates en nogal in ‘n silwer! Gaan kyk maar in hulle klubhuis as julle my nie glo nie!
Maar toe daal die “nuwe” Suid-Afrika op ons neer. Oor die politiek agter daardie besluit wil ek hier nie veel uitwei nie, behalwe dat elkeen wat nugter oor die saak nadink vandag moet erken, dit ‘n fatale besluit was gesien die gevolge wat dit nie net vir die Afrikaner inhou nie, maar vir al die mense van ons land. RAU het geheel en al verengels en sy naam verloor, so ook die bekende strate van “ons” stad, waaronder DF Malan rylaan en selfs Jan Smuts rylaan. Toe ek die anderdag verby my Alma Mater ry, was dit asof dit ‘n wildvreemde plek was. Of iemand besig is om fisies my herinneringe uit te vee. Iets in my wou weerstand bied, maar dan die besef jy is weerloos. Jy is tandeloos. Jy is uitgelewer.
Uitgelewer aan wat? Aan die realiteit van Afrika wat niks en niemand ontsien nie. Waar regerings nie ‘n flenter omgee vir hulle onderdane nie. Die mense (onderdane) plunder en breek omdat die regering dit doen. Dis tog die voorbeeld! Ja, in ‘n tyd waar almal so versigtig is om reguit en openlik te praat, het ek daardie eienskap nog nooit verloor nie. Dit het my my hele lewe lank “gekos”, maar my nog nooit gestuit nie. Ja, die besluit om die welvarende land in die hande van swart meerderheidsregering te plaas, was fataal. Dit was dwaas. En wat ons moet besef –dit sal onder hierdie swart regering, waar ‘n klein groepie politici al die mag ten alle koste sal behou, tot ewige nadeel en verdriet van almal in hierdie land, nie verander nie. Ons gaan dit nie reg praat nie en is weens die, verdoem tot ‘n hulpelose minderheid wat jaar na jaar sal kla en hier en daar probeer regstel; maar waarvan die uiteinde, tensy ons weer oor onsself kan regeer, uitwissing is. Dis nie iets wat mense wil hoor nie en ‘n onderwerp wat baie nie wil aanraaknie, maar ek daag enigeen tot ‘n debat uit om die teendeel te bewys.
Sonder ‘n vryheidsideaal lewe ons bloot van dag tot dag en jaar tot jaar. Kan ons dalk weer eie universiteite bou, dorpe skoonmaak en hofsake wen, maar weens die mag van die politiek, die hoogste kroonrat in ‘n volk en ‘n land se bestaan, sal ons deurgaans “tyd wen”, soos ‘n bekende politieke party in die tagtiger jare gepraat het, maar die finale oorwinning nie behaal nie.Trouens, sonder ‘n vryheidsideaal is die skrif verseker aan die muur.
Johannesburg sal, tensy ons tot die besef kom dat ons êrens ‘n streep in die sand moet trek, nie net verder verval wat betref sy strate en sy geboue nie, maar ditsal by uitstek die kriminele mekka van hierdie land word. Onregeerbaar, onrehabiliteerbaar, en aan die genade van die Malema’s en hulle juigkommando’s oorgelaat.
Die vuur brand nie meer net nader aan ons nie, die rewolusionêre vuur brand nou om ons. Ons voel die hitte daarvan. Dit sal ons weldra verteer. Ja saam met Judy treur ek ook oor ons stad van weleer, dog staan ek verwonderd oor ‘n volk wat sy durf, waarvoor hy so bekend was, verloor het!