VRYHEID ONS EINDDOEL

DIE VERROTTE BESTEL

Die afgelope weke se gebeure het weer eens die onwerkbaarheid van die eenheidstaat beklemtoon, terwyl die sogenaamde reënboognasie al meer van ‘n onhaalbare illusie word ― behalwe dalk nog vir mense soos Max du Preez.

Die wrede moord op die jong boer van Senekal het enersyds nuwe aandag op plaasmoorde gevestig, en andersyds die keelvolheid van die boere daarteen getoon. Dit is die eerste keer dat die boere se frustrasies so hoog opgeloop het dat hulle selfs polisievoertuie fisies verwyder het, nadat dié uiters uittartend tussen die boere ingery het. Die gebeure wat daarop gevolg het, moet suiwer voor die deur van die polisie gelê word.

Wat egter toe gebeur, is dat die breedsprakige hoedeminister van polisie eis dat die boere wat betrokke was by die polisievoertuig wat omgekeer is, aangekeer moet word. Inderdaad word ‘n boer aangekeer, en word die volle onredelike mag van die staat op hom uitgeoefen, word hy voor ‘n naweek in hegtenis geneem om seker te maak hy bly in aanhouding tot die eerste hofverskyning die volgende week. Hy word ‘n eerste borgtog geweier, en aanvanklik word hy vir so ‘n onbenulligheid sommer aangekla vir terrorisme! Uiteindelik moet hy hom tot die hooggeregshof wend om borgtog van R15 000 te kry ― ‘n belaglik hoë bedrag.

Met die steeds bestaande beperking op internasionale reise as gevolg van Covid 19, kan niemand ‘n vlug risiko wees nie. Maar hy is ‘n Blanke en inverset, en dit is waarom hy so behandel word.

Tydens ‘n tweede hofverskyning word die EFF, wat dreig met burgeroorlog, toegelaat om reg voor die hof te betoog, terwyl die boere-betogers ver daarvandaan toegelaat word. Natuurlik raak die EFF-betoging tot ‘n sekere mate gewelddadig, terwyl die boere vreedsaam is. In die hof sit die leier van die EFF knus langs sy ministersvriend met die hoed. Is dit hoe politieke vyande optree?

Verder nog verklaar Malema dat geen blanke boere vermoor word nie, en Bheki Cele swyg in al elf landstale. Maar die blanke optrede by Senekal was gemik teen die terroriste wat die jong boer vermoor het, en toe die polisie hulleself ook wangedra, het die betoging teen hulle gedraai. Die kafee om die hoek is nie daarvoor aan die brand gesteek nie, en geen voertuie naby die hof is met klippe bestook nie. Dan, ‘n week later, steeds in die Vrystaat, is daar ‘n klomp swart betogers wat betoog teen dienslewering teen een van die talle vrot munisipaliteite. Hulle brand nie die munisipale kantoor af nie, maar steek boere se veld aan die brand. Met die droogte en sterk wind versprei hierdie veldbrand en meer as 100 000 hektaar en verskeie distrikte brand af. Vee en wild brand dood of moet van kant gemaak word as gevolg van die lyding. Huise en opstalle word vernietig en mense word beseer. Die slagoffers van die terroriste wat die veld aan die brand gesteek het, het net mooi niks met die vrot munisipaliteit te doen nie, maar hulle word die slagoffer.

Talle van die boere gaan hierdie skade nie oorleef nie. Die brande is nog nie eens behoorlik geblus nie, of groot skenkings rol in van geld, voedsel en voer vir diere van die slagoffers in die Vrystaat, en groot vragmotors vertrek onmiddellik met voorrade om mede-boere te gaan help in ‘n poging om verligting te bring. Die boere wat die skenkings maak, kan dit in wese ook nie bekostig nie, want hulle is ook slagoffers van die droogte, van bek- en klouseer en Covid-inperkings wat hulle bedrywe hard geslaan het. Tog doen hulle dit, want dit is die Witman se kultuur om sy medemens in nood te help. Dit is sy Christelike opdrag en sy waardestelsel. Daarteenoor versuim die swart regering weer eens om die boere te help of om dit ‘n rampgebied te verklaar. Die boere is immers maar net wit...

Hierdie duidelike skeidslyne tussen rasse en kulture gaan altyd so bly. Daarom gaan die reënboognasie altyd ‘n hersenskim bly van enkeles wat in hulle eie gekkeparadys woon. Maar ook die staat met sy korrupsie, diskriminasie en openlike anti-blanke sentimente wys hoe intens verrot hy is.

Wat moet gebeur is om uit die verrotte bestel te onttrek en Afrikanervryheid te bewerk. Onthou net, kulturele selfbeskikking is geen vryheid nie. Solank as ‘n vreemde regering enige seggenskap oor ons sake het, is dit geen vryheid nie. Vryheid sal ons einddoel bly!

Medewerker