BANTOE-ONDERWYS TEENOOR ANC/SAKP/COSATU-ONDERWYS
http://www.anbsa.co.za/wp-content/uploads/2016/08/NB58a.pdf
Die onderwys is een van die populêre speelballe wat gedurig deur die liberales en die ANC-regime gebruik word om Dr HF Verwoerd en apartheid mee by te kom. Apartheid kry die skuld vir die katastrofale mislukking van die ANC op die onderwysgebied. In hierdie artikel word gekyk na die stand van die huidige onderwys en die positiewe invloed van Verwoerd se onderwysbeleid op die lewens van die Swartes.
Die ANC-Regime se onderwysstelsel Die onderwysstelsel het tot so 'n lae vlak gedaal dat die liberaliste en regeringsliggame aanvallend en negatief daarop reageer. Volgens Statistiek Suid-Afrika is die nuwe generasie Swartes in die ouderdomsgroep 25-34 minder bekwaam as hul ouers en die ander rasse in dieselfde ouderdomsgroep.
Die aantal professionele Swartwerkers het oor die afgelope 20 jaar afgeneem met 2%. Volgens die Statistikus Generaal, Pali Lehohla, se verslag The Social Profile of Youth 2009-2014, is dit 'n teken van agteruitgang wanneer ouers beter toegerus is as hul kinders. In dieselfde tydperk is daar 'n afname in die persentasie Swartstudente wat hul voorgraadse studies voltooi.
Op skoolvlak voltooi slegs die helfte van die leerders wat inskryf vir graad 1 uiteindelik graad 12. Volgens Lehohla sal dit rampspoedige gevolge vir die toekoms van Suid-Afrika hê. Werkloosheid word gekoppel aan opleidingsvlakke. Lehohla sê verder, "Education is the solution to the problem. We are not increasing the proportion of people in education". Hy beskryf die toestand as "a coctail of disaster" omdat die jeug nie 'n toereikende bydrae tot die samelewing maak nie.
Dr. Iraj Abedian, hoofuitvoerende beampte van Pan-Afrika Beleggings Navorsing Dienste, sê dat geld nie die probleem in die onderwys is nie. Per capita is Suid-Afrika een van die hoogste spandeerders op onderwysgebied. Volgens hom is die staatsinstellings arm aan etiese fondamente, tegniese vaardighede en korrekte aanstellings om waarde vir geld te kry.
Die anti-apartheid aktivis, dr. Mamphela Ramphele, het reeds in 2012 gesê dat die krisis in die onderwys die uitsluitlike mislukking van die ANC-regering is en nie aan dr Verwoerd toegedig kan word nie. Volgens haar is kinders beter geleer onder die "gutter" apartheidstelsel as onder die huidige stelsel van die ANC-regering. Sy brei verder uit deur te sê dat kinders onder die apartheidskoolstelsel ten minste kon lees en skryf en baie van hulle het selfs geskiedenis en aardrykskunde verstaan.
Prof. Servaas van der Berg van Stellenbosch Universiteit het gesê dat 60% van graad vier leerlinge geen begripsvermoë het nie. 'n Wits Besigheidskool-akademikus, Rabelani Dagada, het in 2013 beaam dat Bantoe-onderwys van die apartheidsera baie beter was as die huidige onderwysstelsel. Hy sê ook dat bemagtiging slegs verkry kan word deur opleiding en nie deur dit wat ander het weg te neem en te verdeel nie.
Nieteenstaande die hoogste per capita besteding is die onderwysstelsel minderwaardig in vergelyking met dié van die res van Afrika. Pik Botha het gesê dat die ANCregering se regstellende aksie die meeste Swartes benadeel en dat selfs Zimbabwe se onderwysstelsel beter is as die van Suid-Afrika. Volgens Prof. Daniël Plaatjies van die RGN is daar 'n probleem as die onderwysers nie die toetse kan slaag wat vir hul leerders gegee word nie. Hy is van mening dat die standaard van onderwys in menige plekke so laag is dat dit as 'n vorm van kindermishandeling beskou kan word.
Die DA-parlementslid Gavin Davies het tydens die onlangse parlementêre debat oor onderwys gesê, dat indien jy arm, of 'n Swart kind is, is daar so te sê geen kans op onderwysopleiding in die demokratiese Suid-Afrika nie. Davies sê verder dat die gees van Verwoerd, wat op 6 September 1966 deur Demitri Tsafendas vermoor is, nog steeds in die sittingsaal teenwoordig is. Hy probeer weer, soos die ANC, die mislukking van die ANC-onderwys voor die deur van Verwoerd lê. Dit is 'n veer in die hoed van dr Verwoerd dat sy onderwysbeleid na meer as 20 jaar van die sogenaamde demokrasie en 50 jaar na sy moord, nog steeds die onderwysstelsel beïnvloed. Die slaagsyfer van matrieks in Swart skole het in die afgelope jaar gedaal en soortgelyk is daar 'n afname in die slaagsyfer vir wetenskap (60.5% na 49.5%) en wiskunde (48.6% na 36.9%).
Hy beaam verder dat ses keer meer geld aan skole in Swartgebiede spandeer word en dat geld dus nie die blaam vir die gefaalde onderwysstelsel kan kry nie. Hy sê verder, "The failure to educate a black child remain ANC's greatest failure to date. Verwoerd must be proud of them."
Weens die Departement van Onderwys se druk om matriekslaagsyfers na te jaag, was daar in 2015 reeds 1 uit 4 skole wat nie wiskunde in graad 10 tot 12 aangebied het nie. Volgens Doran Isaacs van Equal Education is dit 'n nuwe vorm van "Bantu Education". Met verwysing na wiskunde en wetenskap is Suid-Afrika tweede laagste op die wêreldranglys volgens 'n verslag van die Organization for Economic Co-operation and Development.
Wat 'n mens se verstand te bowe gaan is dat die ANC regering, wat gesmag het na 'Blanke-onderwys', nie die 'Blanke-onderwys' tot die beskikking van die Swartes gestel het nie. Hul gaan toe en vernietig die stelsel wat werk en vervang dit met allerhande foefies met die katastrofiese gevolge soos hierbo getuig. Die kwaliteit van onderwysers, geld, taal en apartheid kry die blaam vir die swak prestasies van die leerlinge. Die vraag word nie gevra, of dr Verwoerd se benadering van onderrig op die vlak van ontwikkeling van die leerlinge, nie die oplossing is nie?
- Menige van die Swart-leiersfigure is akademies onderrig op die fondamente wat deur die Verwoerd-apartheidsregering en onderwysstelsel daargestel is.
- Pravin Gordhan, die huidige Minister van Finansies, behaal in 1973 'n graad in aptekerswese aan die Universiteit van DurbanWestville.
- Die visie-president van Suid-Afrika, Cyril Ramaphosa, het aanvanklik regte studeer aan die Universiteit van die Noorde (Turfloop) waar sy studies opgeskort is weens sy arrestasie onder die Wet op Terrorisme. Hy behaal in 1981 'n B.Proc graad aan UNISA.
- Blade Nzimande, Minister van Hoër Onderwys, behaal sy Sielkunde graad in 1980 en Meestersgraad in 1981 aan die Universiteit van Natal. Hy het ook 'n PhD graad aldaar verkry.
- Die Minister van Gesondheid behaal 'n B-graad in medisyne en chirurgie aan die Universiteit van Natal.
- Nkosazana Dlamini-Zuma behaal 'n BSc graad aan die Universiteit van Zululand. Sy begin haar mediese studies by die Universiteit van Natal maar behaal haar graad by die Universiteit van Bristol in 1978. Bogenoemde is voldoende bewys dat daar nie 'n plafon vir Swart onderrig was nie, dit het bloot van die individu self afgehang.
Die Swart skoolkinders van Soweto is in die 1970's deur revolusionêre agitators (heelwaarskynlik die Amerikaanse Intelligensiediens) gebruik, om 'n politieke standpunt te bevorder onder die dekmantel van Afrikaans as onderrigtaal in die skole. Netso is dieselfde agitators verantwoordelik vir die vernietiging van menige skoolgeboue en die agterstand wat die skoliere weens hierdie aksies opgebou het. Geen vakke is in Afrikaans aangebied by die twee voorbok-skole van die 16 Junie 1976 Soweto-opstand nie.
Nou, na meer as twintigjaar van sogenaamde demokrasie en vryheid, word die revolusionêre agitasie voortgesit. Dit pas in by Jacob Zuma se siening dat bevryding belangriker is as onderrig.
Tydens besprekings oor die onluste verwys Swartes na die Nasionale Demokratiese Revolusie. Net soos met die Soweto-onluste van destyds, word die onderwys-infrastruktuur in hierdie revolusionêre proses vernietig. Dit wat die Swartes nodig het om hul uit die staat van ongeletterdheid te kry word deur hulself vernietig. Gedurende die tweede kwartaal van 2016 is meer as twintig skole afgebrand en ander beskadig. Meer as 50 000 leerders is gevolglik sonder onderwys. Soortgelyk het ons in 2015 die "Rhodes must fall" en die "Fees must fall" revolusionêre opstande gesien, wat ook groot skade aan Universiteite aangerig het. Die revolusie word huidig by dié instellings voortgesit met "Afrikaans must fall".
Die Swartonderwysstelsel wat deur die Nasionalistiese-regering van dr. Malan geërf is, het neergekom op 'n stelsel van gesubsidieerde sendingskole, waarvan die meeste deur Rooms-Katolieke en Anglikaanse sendingstasies bedryf is. By van die sendingskole was 'n toelatingsvereiste dat kinders gedoop moes word. Die ouers was nie by die skole betrokke nie en die meeste kinders het nog nooit die binnekant van 'n klaskamer gesien nie. Die staat het die onderwysers se salarisse aan die kerke oorbetaal, maar baie daarvan het nie die onderwysers bereik nie. Die kerke het Europese leerplanne gevolg. Daar was geen sprake van Swarttale nie. Alle onderrig was op Engels. Skoolgeboue is deur die gemeenskap op die kerkterreine opgerig, sonder vergoeding, maar het kerkeiendom geword.
Die Eiselen-verslag is in 1951 ter tafel gelê en dit is hierdie dokument wat die grondslag gelê het vir die Bantoe-onderwyswet No. 47 van 1953. Met dié wet is die beheer van Swartonderwys na die Minister van Naturelle-sake oorgeplaas. Binne weke na Verwoerd Eerste Minister geword het, het onderwys 'n afsonderlike departement met sy eie Minister geword. Sendingskole is vervang deur gemeenskapskole sodat die verantwoordelikheid uiteindelik by die Swartgemeenskap sou lê om hulself op te hef. Dit het 'n geweldige negatiewe reaksie van die Anglikaanse biskoppe (Clayton, Alderson en Reeves) sowel as die Rooms-Katolieke aartsbiskop (Dennis Hurley) uitgelok omdat hul invloedsfeer daardeur ingekort is.
Skoolkomitees en skoolrade is gestig om Swartouers by die onderwys te betrek. Landbou as skoolvak, asook landboukolleges is in die tuislande ontwikkel om die Swartgemeenskap te help om weg te beweeg van 'n bestaansekonomie. Alhoewel die amptelike landstale Afrikaans en Engels verpligte vakke gemaak is, is daar besluit om van graad 1 tot standerd 6 onderrig deur medium van moedertaal te gee. Nuwe terminologie moes geskep word vir vakke soos rekeningkunde, aardrykskunde en wetenskap aangesien die terminologie nie in die Swarttale bestaan het nie. 'n Meningsopname onder al die Swart-beheerliggame oor die voorkeurtaal van onderrig in sekondêre skole, het die volgende resultaat opgelewer (persentasies afgerond):
- Afrikaans en Engels: 64%
- Slegs Afrikaans: 5%
- Slegs Engels: 31%
- Moedertaal: 1%
Die beleid van Afrikaans en Engels as voertaal in die sekondêre skole, het dus die Swartmense se eie voorkeur weerspieël. Die keuse van watter vakke in Afrikaans en Engels aangebied word is oorgelaat aan die skole. Die klagstaat teen die Afrikaans-oorheersde regering, is dat die 1976 Soweto-skoolonluste primêr gegaan het oor Afrikaans as voertaal in die skole, asof dit die enigste taal was waarin die Swart kinders onderrig was. In die lig van bogenoemde feite is dit vals en wat ten hemele skree, is die feit dat nie 'n enkele vak in Afrikaans aangebied is vir die seniorsertifikaat-eksamen nie en dit 22 jaar nadat die Wet in werking getree het!
Vir die laaste twee skooljare kon die Swartskole kies tussen die Gemeenskaplike Matrikulasieraad of die Departement van Nasionale Opvoeding se leerplanne en eksamens. Dit was presies dieselfde as in blanke skole! Die bewering dat Bantoe-onderwys minderwaardig was, is dus ook van alle waarheid ontbloot. Wat wel die standaard van onderwys bepaal het, is wat in die klaskamers gebeur. Sonder nougesette bywoning en gedurige toetsing om vordering te bepaal kan ‘n hoë standaard nie behaal word nie.
Die Verwoerd onderwysstelsel het dit ten doel gehad om ongeletterdheid uit te wis. Sy standpunt was dat Swartmense gelei moet word om hul eie mense te dien, in plaas van hul hoop daarop te vestig om in die blanke gemeenskapslewe opgeneem te word. Dit was dr Verwoerd se erns dat daar vir die Swartman geen plafon sal wees nie. Vyf nuwe universiteite is deur die regering tot stand gebring en het dit moontlik gemaak vir Swartstudente om gevorderde akademiese kwalifikasies te verwerf.
Dit is duidelik dat dr Verwoerd uit sy pad uitgegaan het om die Swart-onderwys wat deur die liberaliste van die onderskeie Engelse kerke bedryf was, uit die modder te lig en te omskep in 'n menswaardige onderwysstelsel.
Oorgeneem uit die September 2016 Nuusbrief van die Afrkaner Nasionalistiese Beweging