Dries Bergman
Vir die handhawing van demokrasie is burgerlike veiligheid van uiterste belang. Waar misdaad hoogty vier, kom demokrasie nooit tot sy reg nie. Misdaad is meer as net moord, roof of verkragting. Dis dwang en ontneem burgers die reg op 'n eie keuse. Dit maak hulle bang om te leef. Mense hou op om normaal te funksioneer.
Ware demokrasie draai nie uitsluitlik om die as van getalle nie. Besluitneming is van uiterste belang. Daarvoor is kundigheid, bekwaamheid en uitvoerbaarheid absoluut noodsaaklik. As dit ter wille van getalle prysgegee word, is die resultaat 'n ellende-skeppende getalle-diktatuur. Afrika het genoeg aanskouingslesse hiervan. Hoeveel kundiges is nie al in Afrika voor die vuurpeloton van 'n onkundige, ongekwalifiseerde een-mens-een-stem kieserskorps tereggestel nie! Duisende! Suid-Afrika en Zimbabwe is seker die twee lande met die slegste rekord in hierdie verband!
As daar slegs by wyse van getalle regeer word, heers die gepeupel. En dis ‘n resep vir die dood. Sodra die gepeupel daarin slaag om een saak te skaad, begin hulle ook op ander gebiede druk toe te pas. Demokrasie werk beslis nie so nie!
Die sogenaamde demokratiese Suid-Afrika is allermins ‘n demokrasie. Dis veel eerder ‘n regering deur die gepeupel of tewel, die proletariaat – die massas. Minderheidsgroepe word blatant geminag omdat hulle die verloorders is. Nee, ware demokrasie word eerder deur goeie orde as deur getalle ondersteun. Daarom verkies ek eerder ‘n opgevoede outokratiese regering bo een wat deur ‘n onbevoegde meerderheidstem aan bewind gehou word.
Brutale intimidasie en 'n ontvlugting in getallepolitiek is eie aan Afrika. Van ware demokrasie word daar net so min as die tandemuis gesien! Kyk maar net wat dwang en getallepolitiek nie van ons eens voorspoedige land gemaak het nie! Ons is besig om in 'n Derdewêreldland vol ellende en bedelbakke te versink!
Swart vakbonde sorg dat die ANC na die sosialistiese gepeupel se pype dans. Die meeste van hierdie vakbondleiers verstaan geen snars van 'n vryemark-ekonomie nie. Desnieteenstaande doen hulle hul altyd as demokrate voor.
Dit bewys een ding: ‘n Gepeupel kan 'n swak regering dwing om ander te dwing; nie omdat dit noodwendig reg is nie, maar omdat die meerderheid dit eis. Dan word sulke politieke stoomrollery kwansuise demokrasie genoem!