LAND VAN ONS VADERS
(Lees reeks by Land van Ons Vaders)
Abraham H de Vries
Hulle is versprei oor ons land. Daar is die grotes en daar is die kleintjies, daar is dié waar die man alleen agter die toonbank staan en daar is dié waar hy en sy vrou Saterdagagtermiddae meel en suiker en mieliegrys en gebreekte ertjies uitweeg. Hulle is versprei oor ons land, en hulle verskil van plek tot plek. Bind my oë toe en hou 'n laventellappie voor my neus en ry met my ses dagreise ver – as jy my aflaai en ek voel oor die negosie met my kantoorhandjies, en jy vat net die laventellappie weg dat ek die lampolie en die stukkende botteljie hêrmesdrip kan ruik, dan sal ek jou vertel waar ek staan; en as jy my verder aan die hakskene kielie, gaan ek jou ook nog sê by wie se plaaswinkel in die wye Karoo ek staan!
Want boetie stadsjapie, jy wat jou naweek se eetgoed by die Supermark loop koop, met jou oë teen die naaste geboue, jy moet nog iets leer; jy moet nog aan jou neusgate leer besluit wat jy wil koop. En daar is maar een soort winkel waar jy dit kan doen: 'n plaaswinkel. Julle supermarkte en julle blinkoog-winkels hier in die stad is – so vertel jy my – is higiënies. En goed belig. Pryse voor jou oë, net waar jy kyk, dat hy kan sweer 'n ding is sy prys werd, en daar is nie meer iets soos 'n winskopie in hierdie Republiek nie. Maar, Broertjie, jy mis baie; jy mis jou neus, en jy mis jou oë, want jy het nie een van die twee meer nodig as jy iets koop nie. Nou wil ek jou stadjie nie slegmaak nie, o nee, dis verre van my en my soort – ons brom in die donker, en geen mens weet van ons lede en ons huile nie – maar kén jy die higiëne van die hart? Ken jy dit? Ken jy die reuk wat nie één reuk is nie maar baie: lampolie, anys, gebrande koffie, streepsakke, pyptwak en Duitse sis? Dis die reuk waarvan ek praat, die reuk wat gesond is vir die hart. Want streepsak alleen kan vuil wees, of lampolie, of pyptwak – maar as diè dinge nie meer agter mekaar staan op die wind nie, nee, sommer so wie's-wie? by jou lyf instroom, dan is die reuk doktersmedisyne se moses.
Op sy inkomstebelastingvorm vul die eienaars van plaaswinkels nouse dae mos "winkelier" in. Aaaa... dis al wat die regering hoef te weet maar dis nie al wat daar te wete is nie. Want wat 'n plaaswinkelier alles doen, is soos die spreekwoordelike helfte in die Nederlandse taal: dit word jou nooit vertel nie.
Kyk, hy's in die eerste plek die man wat Saterdagoggende die laatste slaap van al die plaasmense, want sy besigheid, dié begin maar eers wanneer die ander boere hul naweeksklere al aangetrek het. Dis nie te sê dat die winkelier (en die woord laat my aan die dorp dink, hy's soos 'n voorhuisvadoek te deftig) nie naweeksklere het nie, maar nee, dié trek hy eers Sondagoggende aan. Dat hy Sondagoggende laat slaap, dit weet almal, maar daar het almal ook deel aan, want nêrens, nêrens in die wye Karoo is daar mos beter geselsplek as in die winkel Saterdagaande nie. Wat praat ek, Saterdagaande, hmff – 'n Saterdagaand in 'n plaaswinkel is partmaal langer as wat 'n lamp se olie hou, dit loop tot vlak teen Sondagoggend se witgestrykte boordjietyd.
Ag ja, Boetie, jy sien ek vertel jou hóé hy lyk, en ek maak die vensters bietjie oop op sy doen en sy late, maar wat hy regtig doen, daarvoor moet jy nog eers gaan katkiseer. Want weet jy hoe swaar weeg 'n pakkie êpsimsôls, of 'n pakkie bakpoeier? En weet jy hoe min mense sien dit raak as dit onder in die skaalbak lê? Haa... ek sien jou oë begin flikker soos 'n kers se lig as daar 'n trek in die kamer inkom. Maar jy verstaan nog nie, al dink jy jy verstaan. Al dink jy hier in jou agterkop: ek weet wat jy met die ompad langs wil sê. Jy wil sê 'n plaaswinkelier is vol jakkalsstreke, hy knyp die kat in die donker. Dís wat jy dink dat ek wil sê, maar jy het dit mis, Boetie. Hy's nie jakkalskind nie en hy wil van donkerwerk niks af weet nie want hy ken die Bybel en hy lees hom elke aand, en wat daarin staan, dit doen hy. Nee, hy sny maar net sy riempies só dat hy môre weer kan kerf aan die vel, want een ding weet jy nog nie: jy weet nog nie hoe lyk 'n plaaswinkel se slegte skuld nie!
Jy weet ons lewe in 1965, nè? En die jaar loop staan ook al weer penorent vir die oorvalslag anderkant Junie. Maar weet jy dat daar nog slegte skuld staan van 1958, ag wat praat ek: van 19-nog voor toe? Aaa, en wie betaal daarvoor? Ek sal jou die waarheid vertel: niemand betaal daarvoor nie, en almal betaal daarvoor, want een, twee onse te min op 'n paar pond, dit beskou jy tog nie as betaal nie, of hoe? En dis wat almal betaal.
Ag, jy moet nie met jou slimstories van advokate en prokureurs kom nie, man! Wie gaan nou 'n goeie vriend laat aanskryf vir R2 of vir minder? Dis dorpstories daardie. En daarmee moet jy nie by 'n plaaswinkelier instap nie, want hy het genoeg moeite daarmee. Hy het genoeg moeite om twee ander goeie ou vriende, maar aan weerskante van 'n watersaak, te bedien sonder om op één van hulle se tone te trap. Nee, voertsek met jou prokureurstories, en – en wat ek jou vertel het, hou dit maar onder die verekombers. As jy graag 'n les daaruit wil leer, dan wil ek dit vir jou sê: fynverneuk is soos 'n vroumens – jy moet eers van al die kante af na haar kyk voor jy jou winkeltande uit die glas water voor die bed uithaal om mee te skel.
Ag, maar ek het jou nog niks vertel nie! Niks. Absoluut niks, Ek het jou nog nie vertel waar die winkelier so weke lank heen weggaan as jy sy vrou alleen agter die toonbank sien nie...
Dan gaan hy ook winkel hou; dit glo jy nie maar dit is so. Want aan die een kant is 'n plaaswinkelier soos 'n kind: hy gee nie om waar hy winkel-winkel speel nie, en 'n hoendereiertjie vir geld, dit ken hy goed. Kyk, ons ou land se gesig is groot en daar is diep groewe in van die ouderdom, want jy weet wat die geleerde mense sê van die Kangogrotte en hoeveel ouperd se jare daar agter hulle rug lê. En in dié diep rimpels, dáár kry jy die klowe, en in die klowe, daar is vrugbare grond, luserngrond. Daarom woon daar mense dáár in Anysberg en daar op Pathuis, om maar net van my ou Karoowêreld te praat.
Nou moet jy hierdie mense kén, Broertjie, kén nie net van "môre oom" en "hoe gaan dit oom?" nie, jy moet hulle in die krop kyk. Hulle is mense wat graag, baie graag by 'n toglorrie koop, en dis te verstane ook. Want Wynand Plesie en sy seun Mertiens Plesie, en Thys – hulle is mense wat die behoeftes geken het, en hulle het nie altyd net om die geldsonthalwe daaraan voldoen nie. Nee, hulle het dit gedoen oor hulle winkeliers en togryers was, oor dit in hulle bloed was, en 'n weegskaal kry jy nie met baie water uit iemand se bloed uitgespoel nie. Vra vir my, ek weet!
Hulle was nie net winkeliers nie, nog meer; hulle was half dokters. Want jy moet verstaan: op so 'n toglorrie is daar nie net materiaal en eetgoed en huisraad nie, nee, daar is ook medisyne. Al die patente-medisynes waaraan jy kan dink, dié was daar ook op die lorrie. En wie anders as die togryer het ooit ondervinding genoeg gehad om te weet en te sê hoeveel jy bymekaar kangooi om dit en dat gesond te maak? As jy tog ry, ry jy ook boererate met jou saam. En wat het vir fytvinger gehelp voor daar penisillien was? Of vir 'n stukkende knieg wat in die winter rooirantjies begin kry? Die skim op die konfyt, Broertjie, dít het gehelp. En dáár moes die togryer van weet.
Maar laat ons weer huiswaarts keer, na daar waar die plaaswinkelier se vrou alles in die sakke gehou het terwyl hy weg was na sy ander speelplek toe. Dan sal jy sien hy kom in die aand daar aan, en wat bring hy saam? Hy bring groente saam vir die huis, en vrugte as daar vrugte is. En vir betaling het hy hoendereiers by die dosyne gevat, en húlle bring hy saam. Waarin? Moenie lag nie, want dis waar – in 'n streepsak, in een van die leë suikersakkies. Sien jy nou? Jy met jou opletloop as jy vir jou vrou eiers gaan koop het by die kaffe op hoek! As daar ná 'n terugkoms van 'n tog oor die Karoopaaie – wat partymaal taamlik sit-en-hang, sit-en-hang kan wees – drie eiers in so 'n hele sak gebreek het, is dit baie. Eiers breek nie so maklik as wat jy dink nie.
Hoe weet ek dit alles, sal jy vra – want jy's nuuskierig soos die meeste mense wat nie genoeg het om hulle besig te hou nie. Hoe weet ek al hierdie dinge? Ek het jou dit gesê. In 'n kamer neffens so 'n plaaswinkel het ek die eerste maal op die naat van my rug gelê en gesien hoe mooi die nokbalke van 'n plaashuis kan wees. Hulle het dit my eerste skree genoem, ja, ek weet, maar dis nie wat dit was nie, 'n los geskree nie. Dit was, kan jy maar sê, my prys wat ek aankondig het, daardie skree.
Maar los my uit. Die wind waai my waar hy wil en soos hy wil en so lank soos wat my oë nog kan dink 'n modderplassie is 'n plek op die straat waar 'n lampoliedrommetjie gelek het, so lank sal ek skop en bly skree.
Van die reuke het ek jou vertel en van die geluide, van die gesels en van die fynverneuk. Maar ek het iets uitgelaat. Nie almal het die kans om winkel toe te kom nie, Broertjie. En die plaasskool, hy staan nie verniet daar anderkant die rivier nie. En anderkant die draai by Baas Bruwer, daar staan nie verniet 'n diederse bruinmensskool nie. Winkeltoekom is nie nodig vir dié wat kan skryf nie.
Hier sit ek met so 'n briefie in my hand. "Mies", staan hier, "stuur esseblief voor my één visblik, 'n boksie mêtjies en trek 'n sieling af van die ophoopskuld. Ek sal mies goed mishandel. Sit die boksie mêtsjies maar op die boek."
Jy moenie jou tande so wys van die laggerigheid nie, Broertjie. Hierdie brief kom uit 'n warm hart en 'n goeie hart en daardie mishandel – ag, wat is in onse dae in elke geval die verskil tussen behandel en mishandel. Jy weet dit nie aldae nie. Die visblik? Dis 'n blik vis. Daar kón ook gestaan het 'n blik sirdiense – was dit dan meer verstaanbaar?
Nou vra jy my waar ek aan al my praatjies kom – en nou weet jy dit ook. Ek het dit in die plaaswinkel opgetel, van die dae af toe ek spykers in die deurdrumpel gesit en inslaan het. Wat ek bygeleer het, was ek dankbaar voor, maar dit was nie eerste nie.
Jy sê hulle is aan die verdwyn... Nee, Broertjie, nee. Al wat gebeur, is dat daar nouse dae koerante ook verkoop word, want ons mense het mos begin leer van die wyer wêreld. Maarl uister met jou oor en maak oop jou hart. Dis goed so. Hoekom? Aaaa... vir die beter gesels, natuurlik. Saterdagaande by die lig van die lamp wat op die toonbank staan. Want sê my, Wysneus, sê my – het jy al gehoor, met jou hart gehoor hoe twee ou vriende wat nie glo dat die wêreld draai nie, 'n Russiese maantuig kan bespreek? Jy het nog nie?
Jy het baie om te leer. Ek ook, ja. Ek van jou en van jou wêreld. En jy van myne. So, op dié manier draai ons miskien nog binne praatafstand van mekaar verby. En is ons albei minder alleen.