Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons moet ophou wegskram oor ons liefde vir God; selfs val jy in mense se oë oor jou liefde vir God, sal jy soos 'n ster verrys - veral dan!
BROKKIES UIT DIE BOEK PANIEKLAND (1)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
As daar enigiets is waarvoor ‘n gesagsliggaam die bangste is, is dit paniek. Jy kan die gepeupel onder bedwang hou met vrees en menige regering gebruik dit juis om die onderdane in bedwang en rustig te hou. Vrees vir straf, vergelding, inperking of selfs die dood, word dwarsdeur die eeue gebruik, sodat elke mens, hetsy man, vrou of kind, die wette en reëls, geskrewe of mondelings oorgelewer, gehoorsaam. Natuurlik loop dit saam met respek, maar wat menige gesagvoerder vergeet is dat gesag nie afgedwing behoort te word nie, dit word eerder verdien, net soos respek.
Ongelukkig het mag die manier om te korrupteer en soos John Emerich Edward Dalberg Acton, first Baron Acton (1834–1902), tereg gesê het oor veral die Romeinse keisers en selfs Napoleon Bonaparte, absolute mag korrupteer absoluut. Dit veroorsaak dat gesagsfigure wat hulleself oorgee aan korrupsie en daarom respek van die burgoisie (gepeupel, of soos die Grieke dit noem: die “hoi polloi”) verloor, hulle onder beheer moet hou deur dreigemente.
Hierdie dreigemente, op hulle beurt, kan verbaal, skriftelik of per implikasie gestel word. Baie maal is die dreigemente sonder die gewig van uitvoering en dit ondermyn die gesag net verder. Wette moet dan verhewig word, die strawwe swaarder en al meer onbillik. Dit het ‘n manier om die onderdane net tydelik op hulle plek te hou, voordat ongelukkigheid begin toeneem, dit hier en daar tot uiting kom en die gesag al meer minag. Die enigste manier om dit te onderdruk is om meer en meer drakonies op te tree, maar uiteindelik is dit ook nie genoeg nie. Dit lei tot outokrasie of uiteindelik na totalitarisme
Wannneer gesag begin verdwyn, neem die gepeupel reg in eie hande, boendoe-howe begin hier en daar hulle verskyning maak en die owerhede word stelselmatig uit hierdie herstel van die status quo uitgeranggeer. Enige samelewing, hetsy gevorderd of primitief, leef volgens reëls wat hulle as genoegsaam, maar ook nie onbillik moet sien nie. Dit is daar om die mense se lewens en besittings te beskerm, ‘n millieu te skep waarin hulle voorspoedig kan wees en wat nie enigiemand voortrek of met opset benadeel nie.
As die reëls nie meer geld nie, of subjektief toegepas word, begin ordeloosheid voorkom. Sodra dit gebeur, verval die mense se sin vir veiligheid en sekuriteit en die wette en reëls begin plek maak vir alternatiewe wettte wat vir die hier en nou geld. Die owerhede word met al meer toenemende agterdog bejeen en wetstoepassing raak al moeiliker. Dis asof die gemeenskappe hulleself afgrens en toemaak en die owerhede begin uitsluit. Een van die maniere waarin dit gesien kan word is wanneer mense belasting doelbewus begin weerhou; wanneer hulle nie meer die amptenare vertrou met hulle basiese menslike behoeftes soos beskerming, die voorsiening van kos, water en riolering nie.
In plaas van om in gesprek met die gemeenskap te tree, om toe te gee waar die situasie ongelukkigheid veroorsaak en van die betrokke amptenare en gesagsliggame te vervang met toegewyde en kundige mense, is die owerhede se intuïtiewe knie-refleks om die moeilikheidmakers en gemeenskapsleiers te identifiseer en voor die reg te daag. In plaas van die opstandigheid te onderdruk hiermee, jaag dit die gemoedere net verder op en die leiers word met ander vervang en in die meeste gevalle is hierdie leiers meer radikaal en onvergewensgesind as die voriges.
Wat ‘n molshoop was, begin dreig om ‘n berg te word. Geringe oortredings deur amptenare, wat in die verlede met gesprekvoering reggestel kon word, word nou aan die grootklok gehang en in sommige gevalle word die amptenare ook opgehang. Natuurlik moet die owerheid dan met mening en fermheid optree. Indien die opstand nie summier en finaal onderdruk word nie, eskaleer dit ondergronds en spring hardnekkig net op ‘n ander plek uit.
‘n Voorbeeld word dikwels van die opstandiges gemaak en in plaas van orde en gesag daarmee te skep, skep dit verdere ongelukkigheid. Wat die owerheid as rebelle sien, sien die gewone man op straat martelare. Rondom hierdie werklike of gewaande martelare se nagedagtenis gedy geweldadige optrede. Vrees maak nou plek vir woede.
Die regering begin nou om voorsorg te tref teen rebellie en die eerste stap is om die mense te ontwapen. Hierdie manier van optrede kan in die geskiedenis van die Skotte, die Amerikaanse pioniers deur die Engelse, die Boere voor die Rebellie van 1914, maar ook onder die skoen van die Khmer Rouge, Pol Pot, Lenin, Stalin, Hitler, die regerings van Sarajevo, Kroasië en in Suid-Afrika, onder die ANC gesien word. Hulle neem nie die woorde van Cicero in gedagte nie:
“Be not of the folly to disown the peasant’s club or knife, which he uses to keep the wolves at bay, for he will replace it with a sword.”
Waar korrupsie vantevore onder die dekmantel plaasgevind het, kom dit nou al meer overt voor. Eers sal kleiner bedrae voete vind, maar namate die absolute mag totale korrupsie baar, word die land leeggestroop van alle bates, sonder regstelling deur die howe. Dis soos water wat bloot in die sand verdwyn en daarmee saam ook respek vir die gesag van die owerheid en die regstelsel.
Vrees vir vergelding maak plek vir die drang ter oorlewing. Sodra geregtigheid begin minder word, word die invloed van volksleiers omgekeerd eweredig groter. Mettertyd begin die owerheid openlik uitgedaag te word en geweld vanuit owerheidsweë word nie meer aanvaarbaar nie, maar word met teengeweld begroet. Vrees maak plek vir angs, nie net in die geledere van die regering nie, maar ook die burgerlikes. Hierdie golf van verset, wat eers lydelik is, word uiteindelik geweldadig en word aangevoel as ‘n manier om bloot te oorleef.
Die tweede wapen in die regering se arsenaal is om die gemeenskap te straf met weerhouding. Kos, geld, brandstof en water raak skaarser en duurder. Die regering begin om ‘n deel van die burgery te blameer vir hulle eie onkundigheid en nalatigheid. Petrus word nie net beskuldig nie, maar word beroof om Paulus te betaal. Julius Njerere het gesê ‘n leë hand word ‘n vuis. Daar is niks wat ‘n mens so vinnig kwaad maak as ‘n honger maag nie.
Die derde wapen is natuurlik om die geregsdienaars te vervang met ‘n militêre skild. Weermagslede is nie opgelei om teen hulle eie mense oorlog te voer nie en dis nooit ‘n sukses nie. Na militêre optrede volg noodwendig opstand, anargie en wetteloosheid. Wetteloosheid skep uiteindelik paniek.
Paniek is wanneer ‘n mens of groep mense deur vrees en angs sodanig van rede ontneem word, dat daar geen manier is om hulle onder bedwang te bring nie. ‘n Mens wat in paniek verkeer kan nie beheer word nie en hy kan ook nie self sy paniek beheer nie. Hy of sy sal enigiets doen om uit die situasie te ontsnap en is geneig om redeloos en radeloos tot uiterste vorme van geweld oor te gaan. In sò ‘n toestand sal die beskaafde, onderdanige, wetsgehoorsame burger oorgaan tot stappe wat hy of sy nooit in hulle wildste drome gedink het kan gebeur nie. So ‘n mens sal ‘n wapen prakseer uit enigiets wat byderhand is.
In 2021 het die regering vrees verruil vir paniek.
*
Verval tree soms, en wel in die meeste gevalle, geleidelik in. Hier en daar sal iets breek, gebreek word en bloot verweer, sonder om dit heel te maak of te vervang. Onderhoud kos geld en luukse motors, huise, horlosies, klere en selfone ook. Indien ‘n agtergeblewe kader moet kies, dan verloor onderhoud loshande.
Wanneer mense die opvatting verkry dat die wêreld of ‘n groep mense hulle iets skuld, dan neem hulle dit hetsy met geweld of gekonkel. Uiteindelik is die uiteinde dieselfde. Orde, beskawing, medemenslikheid en die gereg moet agter in die ry gaan staan as hierdie die denkwyse word.
Dis amper soos ‘n trein wat teen ‘n opdraande uitbeur. Soms gly die wiele effens, maar die traksie herstel naderhand, die kole word gegooi, stoom en rook word aan die bokant en kante uitgeblaas.
Naby die kruin van die bult gaan dit stadiger, maar uiteindelik maak die trein dit tot bo. Daarna is dit afdraande al die pad, met die remme wat nie meer kan beheer nie. Die versnelling is eers stadig, maar soos Newton se wet intree, begin die voertuig momentum kry en later verloor die drywer totaal en al beheer, totdat dit uiteindelik aan die onderkant homself te pletter loop.
In Suid-Afrika het alles aanvanklik geblyk onder beheer te wees. Die Nasionale Party het naelskraap die verkiesing in 1994 verloor, maar die mag is gaandeweg totaal uit hulle hande geneem, totdat die party later heeltemal ontbind het.
Die ANC het totale mag begin smaak en hulleself begin verryk ten koste van die infrastruktuur van die land. Die belastingbetalers het die “regte” ding gedoen en getrou betaal aan SARS wat die keiser toekom. Almal het meegedoen om die trein teen die berg uit te probeer kry. Die blankes het egter begin agterkom dat hulle alleen die trein stoot, terwyl die ANC en sy meelopers heerlik binne-in die sous leeggeskep het. Etlike blankes is hier en daar beloon vir hulle hulp aan die “struggle” en is ‘n broodkorsie gegooi. In die meeste gevalle is hierdie manne en vroue nie net deur hulle eie mense nie, maar ook deur die nuwe bedeling met minagting behandel.
Ten spyte daarvan dat Suid-Afrika geen noemenswaardige vyande kon identifiseer nie, is aan die einde van die millenium besluit om miljarde rande se wapens aan te koop. Uiteindelik het almal besef dis net ‘n rookskerm om daardie geld in sommiges se sakke te pomp. Meer as twintig jaar later is niemand nog in die tronk gegooi daarvoor nie, maar het die dubbel en drieverdieping huise gebou gekraak, belastings is verhoog en die buitelandse skuldlas al groter. Apartheid het holrug gery geraak en die perd het later gevrek, maar die stank daarvan word steeds as verskoning gebruik vir elke vorm van korrupsie, onbekwaamheid en openlike diefstal.
Omgekeerd eweredig aan die gulsigheid begin die verval intree. Die algemene opvatting tree in dat daar ‘n onbeperkte hoeveelheid geld beskikbaar is. As die staat dit nie het nie, steek die blankes dit iewers weg en tot dit gevind word en word die land suid van die Limpopo stelselmatig aan buitelandse geldskieters verpand. Met ‘n gebreekte venster hier en daar wat nie vervang word nie, ‘n staatsvoertuig wat skeef staan op ‘n bergingsarea, ‘n straat waarvan die slaggate aanvanklik met sand en ‘n paar klippes herstel word, nog spoorstawe wat gesteel word, koperkabels wat ten duurste (met geleende geld) vervang moet word, tree die verval vinnig in.
Staatsbeheerde Entiteite (Semi-Staatsinstellings) wat bestuur word deur onbekwame, maar polities-gekoppelde kaders begin die een na die ander in plaas van geld vir die staat genereer, eers gelyk breek en later bakhand staan om voortdurend uit die gemors getrek te word. Paaie het uitmekaar begin val, die weermag, eens die sterkste in Afrika en volgens Jane’s fighting Weekly van 1981, die negende sterkste militêre moontheid ter wêreld, word in ‘n veldslag feitlik verslaan deur Lesotho.
Die spoorstelsel, wat werk aan honderde duisende verskaf het, word al kleiner en slegs sommige hoofroetes is later begaanbaar. Treine wat baie miljarde gekos het, staan onaanwendbaar op syspore. Die president word toenemend betrek by skelmstreke. Sy gebrek aan leierskap veroorsaak dat sy party dreig om te skeur. Hy erken dat hy nie die land se leier is nie, maar die hegpleister vir ‘n verskeurde ANC. Sy teenstanders staan met messe teen sy keel. Die vorige president weier om gehoor te gee aan die hoogste hof in die land om verslag te doen van sy betrokkenheid, terwyl hy steeds in ‘n woning uitspan wat deur gesteelde belastinggeld gebou is. Faksieverskille skeur mettertyd die ANC.
Geleidelik begin die besef onder die blankes posvat dat hulle dae getel is, tensy hulle ‘n haas uit die hoed kan trek. Maar hoede is skaars en die hase is opgeëet. FW de Klerk, wat “wigte en teenwigte” belowe het, vertel in 2018 sedig dat die blankes uit die land verdryf sal word. Die res van die gestorwe NP se eks-lede is tjoepstil. Hulle het immers klaar hulle loon geneem, maar vergeet Elisa se woorde aan Gehasi, sy slaaf. “En daarna het Gehasi die vertrek verlaat, melaats soos sneeu.” Waar die ou bedeling as melaats geag is deur die liberale politici wêreldwyd, loop die Nuwe Suid-Afrika dieselfde pad. Nog nooit in die geskiedenis van die Afrikaner is ‘n man so gehaat en verag as FW de Klerk nie.
In 2020 het die trein sy kruin bereik. Die Covid-19 virus het lompe en onbedagte inperkings tot gevolg gehad en, al het die kaders paniekerig die 573 miljard rand wat onder die dekmantel van gesondheidstoerusting geleen is, onder mekaar verdeel, soos die Romeinse soldate gedoen het met Christus se klere, is die uiteindelike verloop dat miljoene mense hulle werk verloor het. Vir elke loonverdiener wat werkloos raak, raak tien afhanklike mae leeg.
Sonder uitsondering word daar elke dag paaie versper, buitebande verbrand en staatsgeboue verniel. Prasa, die SAL, Poskantoor, Denel, SABC, Telkom, en alle ander staatsdepartemente kreun eers onder onbevoegdheid en val dan dawerend grond toe. Algaande begin geluide gehoor word van pensioenfondse wat beveel gaan word om in staatsdepartemente te “belê”. Elke mens weet dit beteken dat die krane daarvan oopgemaak sal word en via die departemente direk in die kaders se sakke gaan vloei, sonder om ‘n snars verskil te maak aan die (her)lewensvatbaarheid daarvan.
Die rand waarmee ‘n Amerikaanse dollar in 1972 gekoop kon word, met 29 sent kleingeld, koop nou ses Amerikaanse sent. Die arme geldeenheid word dunner gerek soos die kaders daaraan hang, totdat dit soos ‘n rekkie wat te ver getrek word, breek en die hele land stort in duie. Die Trein het die kruin bereik en is onkeerbaar.
Vragmotors word gestop, geskaak en aan die brand gesteek, aanvanklik om ‘n punt te bewys, maar later is dit toenemend lorries wat kruideniersware vervoer. Suid-Afrika begin honger word. Minimumlone word verhoog en die handjievol blankes wat huisbediendes kon bekostig, raak van hulle ontslae. Plase wat nie hande-arbeid kan vervang met tegnologie nie, boer onderdeur. Industrieë maak by die dag toe en enige produksie wat nog uitgevoer word, is sò klein dat slegs die eienaars en ‘n paar van hulle mees getroue en hardwerkende, kundige en bekwame werknemers ‘n loon huis toe neem.
Die SAPD trek die kabels al stywer rondom wettige wapeneienaars, met die verskoning dat vuurwapens in elke roof en moord gebruik word. Die feit dat dit feitlik nooit deur wettige, gelisensieerde wapeneienaars gepleeg word nie, word verswyg. Die rede is voor die hand liggend: die regering weet dat ‘n honger burgery mettertyd op die onbeheerbare strooptog na lewensmiddele oor sal gaan en dit buite die beheer van ‘n lompe, oorgewig en onderopgeleide, ontmande en oorbetaalde gewapende mag sal wees.
Die wetsgetroue inwoners wat hard en kundig werk, wat voorsiening maak vir ‘n donker toekoms, is die eerste teiken van hierdie onversadigbare gepeupel wat breek, moor, brand en gryp. Daarom mag hulle nie die wapens hê om hulleself te verdedig nie. Groepe breek uit en hou skuil op voorafbepaalde veilige plekke.
Uiteindelik is daar geen sin daarin om enige staatsinstelling aan die gang te hou nie en die leë doppe tuimel op hulleself in. Ook Eskom hou op werk. Alle produktiwiteit kom smorend tot stilstand. Daarmee saam ook water, riool, brandstof. Die trein, wat die mislukte staat Suid-Afrika is, het die onderkant van die berg bereik en breek skreeuend onder sy eie gewig aan stukke.
Paniek tree in.
Demas Barth besef dit uiteindelik met ‘n skok wat allesoorheersend is.