Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die Handves van Menseregte is geen Skriftuurlike begronding nie. Dis in werklikheid skadelik omdat dit die staat van sy waarde en waardigheid stroop en tot ’n belangegroep met ’n skeidsregter-funksie verskraal ten einde burgerlike konflik te vermy of te ontlont. Gevolglik het gruwels soos homoseksualisme selfs vandag regte! Dink maar aan die onlangse saamtrek van meer as 20,000 homoseksuele in Knysna wat jaarliks as The Pink Day gevier word. Almal was met sg. Gay rights op loop!
BROKKIES UIT DIE BOEK: POENA (3)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
“Daar voor brand iets,” kraak die walkie-talkie.
“Ek sien dit. Wakker wees manne, ons ry nou in moontlike gevaar in.”
Die brug oor die N4 by Tambotielaan is aan al vier kante versper. Onder die brug is ‘n vragmotor skuins oor die pad na die Ooste toe getrek en aan die brand gesteek. Die ander kant is met motors toegemaak wat omgegooi is. Tussen-in, op die middelmannetjie, brand konkas en bande. Die dik, olierige rook trek in dik kolomme die lug in, waar dit deur die wind geskep word en oor die woonbuurt waai. In die gloed van die vure beweeg honderde figure. Daar is ‘n vreemde magsbewustheid in die afbrand van goed wat jy nie self kan maak nie. Sommige dans nog rond en swaai wapens in die lug, maar ander is al uitgeput van die dag se getoyi-toyi en sit-lê maar net rond. Stukke plastiek, papier, karton en leë plastiekbottels lê verstrooi tussen hulle.
Eenkant het iemand ‘n rusbank uitgedra en ‘n paar manne sit dit vol. Meer as vier honderd meter na Witbank se kant toe staan ‘n half-dosyn motors in die donker. Een van hule se parkeerligte brand nog, maar die ander is bloot donker kolle teen die teerpad. Weerskante van die snelweg is dit donker, met huisligte en straatligte wat lankal nie meer werk nie. Die pad na Pretoria-middestad is verlate.
Diek se konvooi ry stadig, met net die voorste voertuig, Diek se ou Jeep CJ6, se ligte aan. Die ander volg meer as ‘n honderd meter agter hom. Hulle ry al met die M16 na waar die brande is.
‘n Entjie voor die kruising met die N4 en die oorbrug, draai die pad effens na links, en hulle volg die teerpad. ‘n Honderd meter van die brandpunt hou hulle stil, en sien hoe sommige van die oproermakers van die ander wegbreek en na die Jeep toe aangehardloop kom. Waar ligte skyn, is daar iets om te roof en te buit.
“Wag tot ek die bevel gee!” roep hy oor die radio.
Diek wag tot die naaste man nie meer as veertig meter weg is nie. Die man moes onraad vermoed het as hy die ander ses voertuie sien en gaan staan stil. Een van sy makkers wat kort op sy hakke gevolg het, stamp hom raak en hy val hande-viervoet op die pad. Sodra hy regop strompel, tref die eerste koeël hom onder die kuiltjie van sy nek.
Al sewe voertuie skakel nou hulle ligte aan en ry sover moontlik langs mekaar na die klein skare toe. Gewere knal aanmekaar en die lug is gevul met lood. Onder die brug, op die gras, by die pad val mense om, soos goed-gemikte skote hulle tref. Waar daar netnou nog oproer gemaak en gesing is, is daar nou benoude uitroepe en gille. Hulle spat na alle kante toe, maar die projektiele haal hulle in en net dié wat buite die lig kon kom, platval en wegkruip, word die aanvanklike sarsies gespaar. Die voertuie ry tot by die versperrings, waar wapens opnuut knal en die oorlewendes uit hulle nood verlig word.
Na ‘n halfuur is Diek-hulle by die N1-Stormvoël kruising. Die situasie hier verskil nie veel van die vorige een nie en hulle modus operandi is ook soortgelyk.
*
Net na twaalfuur kom los een van die jonger manne vir Paul af.
“Niks nie, Paul?”
“Nee. Alles is stil Attie, maar kyk so na daardie kant toe.” Paul wys met sy uitgetrekte arm.
“Ek verbeel my ek het beweging daar gesien, seker so drie- tot drie honderd en vyftig treë weg. Dis heel moontlik niks nie, maar jy moet maar dophou. Jou oë is in elk geval jonger as myne. As jy iets sien, gooi ‘n klip teen die boom waar ek slaap. As ek nie wakker word nie, roep dan maar.”
“Ek maak so. Lekker slaap.”
Dit voel vir hom asof hy net aan die slaap geraak het toe pandemonium losbreek. Tussen die karre en slapende mense wemel dit van donker lywe. Skote klap van die rots se kant af waar Attie is, ‘n flits en dan nog een verlig ‘n streep deur die donker.
Iemand het die Land Cruiser, wat met sy voorkant na die kamp toe geparkeer is, se ligte aangeskakel. Paul ruik die stink, ongewaste lyf nog voordat hy ‘n donker liggaam voor hom sien, druk die geweer se loop in die massa donkerte voor hom en trek die sneller. Hy kom regop en slaan kolf-eerste na nog een. Skote klap twee meter van hom af, waar Hannie gelê en slaap het. Dis knalle wat jou oordromme laat toeklap, vyf vinnige skote na mekaar, ‘n oomblik spasie en dan nog ses.
“Dis okay, Helen, dis okay!” sê sy.
Langs die Syncro, tussen die Toyota Hilux en die Lexus, klap nog handwapen-skote. Paul kry sy flits langs sy kussing, haal die Poena weer oor en die oomblik wat hy lig maak, is daar weer ’n dik, donker lyf reg voor hom. Die .303 koeël op trompafstand is vernietigend. Nog twee skote en dan is dit stil. Hy hoor hoe Hannie in die donker, met geoefende vingers, haar twee wapens laai. Hy hoor die klik-klik van haar rewolwer se haan wat oorgetrek word.
“Kom help iemand!” skeeu ‘n vrouestem.
Nog ligte kom aan en in die straal van ‘n flits sien hy vir Stiaan Grobler op die grond sit. Hy het ‘n diep sny in sy linkerarm. Dis nie dodelik nie, maar bloei baie. ‘n Kussingsloop word opgeskeur en die wond so ver moontlik verbind. Onder normale omstandighede sou hy ‘n hele paar steke moes kry, maar dis natuurlik nou buite die kwessie.
Paul lig rondom hom en sien dat Stiaan die enigste ongeval aan hulle kant is. Die aanvallers was nie so gelukkig nie. Daar is vyf dood en twee wat sleg gewond is.
“Attie?”
“Hier, Paul. Ek is jammer. Ek het net vir ‘n oomblik my oë toegemaak.”
“Ons kan later by die verwyte kom. Laai alles in die karre – ons moet wegkom.”
*
“Ons kan nie vir altyd swerf nie. Een of ander tyd sal ons uit kos en brandstof raak, of onsself in ‘n massa vasloop wat groter is as wat ons kan hanteer.”
“Dit is so. Die probleem is waar sal ons so ‘n plek kry? By jou pa-hulle is dit relatief veilig, maar ek is nie so seker iemand gaan nie een of ander tyd daardie bamboese aan die brand gesteek kry nie. Wat dan?”
“Jong, my pa is ‘n uitgeslape ou kalant. Hy gaan hom nie so maklik laat vang nie. Jy is reg, die bamboesbos, al is dit groen en vol sap, is nie ondeurdringbaar nie en kan sekerlik uiteindelik aan die brand gesteek word, maar dit gaan nie so eenvoudig wees nie.”
“Jy het my nog nie vertel waarom jy so angstig was om saam met my te kom nie. En nou is ons baie ver van die Noorde af, waarheen ons op pad behoort te wees.”
“Moenie so nuuskierig wees nie, Paul. Is ek vir jou ‘n oorlas?”
“Glad nie. Ek vra maar net.”
“Tyd sal leer. Aanvaar dit net, asseblief.”
Paul kyk vir die soveelste keer na Hannie. Al het sy geen grimmering aan nie en haar hare kort meer as net ‘n was met die lyfseep wat sy daarvoor gebruik, is sy baie mooi. Haar donker hare en treffende blou oë, simmetriese gelaatstrekke, binne die volmaak-gevormde beenstuktuur van haar ken, wange en voorkop, die fyn, effens groot, maar reguit en smal neus, lippe wat vol en sag is (al het hy dit een maal gevoel teen syne). Onder ander omstandighede sou sy dalk ‘n briljante loopbaan kon volg in wat sy ookal wou. Sy voel sy oë op haar en kyk ongemaklik weg.
“Hou op om na my te staar.”
“Ek is jammer. Dis net dat ek nog nooit so ‘n mooi meisie geken het nie.”
“Jy voel so omdat daar niemand is wat so oud soos ek is in hierdie groep nie. Wag maar dat ons weer in die beskawing kom, dan sal jy anders voel.”
Paul weet sy is verkeerd en hy weet sy weet dit ook, maar sy steek haar verleentheid so weg.
“Jy praat van beskawing. Dink jy daar gaan ooit weer ‘n beskawing in hierdie land wees? Alles is verwoes of afgebrand of beide. Niemand voel meer iets vir ander nie. Niks nie, behalwe haat en vyandskap. Ek kan my nie indink hoe ons hier gekom het nie, laat staan nog hoe ons hier gaan uitkom. Ek weet die natuur bepaal dat mense wat tussen ander bly later reëls maak waarvolgens hulle kan leef en diegene wat hulle nie daaraan steur nie mettertyd verban word, maar die afgelope jare het die teenoorgestelde gebeur. Diegene wat orde en wette verontagsaam het was aan bewind. Of is dit andersom, dat die wete dat hulle aan bewind is en daarom half onaantasbaar gemaak het dat hulle hulleself bokant die wet geag het? Wat sal moet gebeur dat ons weer in ‘n ordelike saambly kan kom? Op die oomblik geld die wet van die natuur, dat die sterkeres floreer en die swakkeres krepeer. Ek onthou dat Al Capone gesê het – ek dink dit was hy, of was dit Sean Connery se karakter uit die fliek – ‘you can get much further with a kind word and a gun, than just a kind word’.”
*
Waar Diek en sy manne sit, is hulle van ver af sigbaar. Hulle het die voetuie op ‘n effense hoogtetjie getrek so ‘n agt kilometer buite Pretoria. Die voordeel van die plekkie is dat hulle ook ver rondom hulle kan sien. Die vroeg-wintergras is droog en word yl, hier is dit die voorstoep van die Bosveld en bied nie juis dekking vir iemand om hulle te bekruip nie.
Die wagte word elke twee ure geruil, sodat niemand oorgerus of oormoeg word nie. Beide hierdie situasies kan gevaarlik word. Iemand wat te gemaklik is, kan konsentrasie verloor en ‘n man wat moeg raak, kan dit nog makliker doen. Elkeen wat wagstaan weet dat die ander se lewens in sy hande is en daarom neem hulle dit ernstig op. Hulle weet ook dat Diek, wat oor die algemeen baie gemoedelik kan wees, net so moeilik kan raak as dissipline laks raak of as reëls oortree word. Net so beskou hulle dit as ‘n voorreg om saam met hom en die ander te wees en sal niks doen om weggejaag te word nie.
Diek het ook beveel dat elke mens wat binne drie honderd meter van hulle af kom, geskiet sal word.
“Niemand sal oor die kaal veld kom om vriende te wees nie. Elkeen wat nader as dit kom, is hier om moeilikheid te maak.”
Dié wat nie wagstaan nie, is besig met take rondom die kamp. Diek en nog vier ander is klaar met hulle s’n en sit om die vuur, elkeen met ‘n beker koffie.
“Diek, dis nogal vir my opvallend dat ons land se inwoners nog altyd verdeel is – of was. Hoe langer ek in die Nuwe Suid-Afrika geleef het, hoe meer het ek begin dink dat ons verskillende velgroepe nie veronderstel is om saam te leef nie. Jy weet, ek het in my jongdae gedink die groepsgebiede-wet, of wat dit ookal genoem is, is sò verkeerd. Nou besef ek dat die oumense nié verkeerd was nie. Ek dink die liewe Vader het ons voorouers na die suidpunt van Afrika gestuur om die inboorlinge te kersten en vir hulle te sorg, omdat hulle nie die vermoë het om dit self te doen nie.”
“Dis bietjie kras gestel, Uys?”
“Ek weet dit klink so, maar dink ‘n bietjie daaraan. Dis nie net hier waar dit so gebeur het nie. In Europa het hulle ervaar dat die immigrante uit Afrika inkom, omdat hulle eie lande nie voorspoed bied nie. Hoekom wil Moslems na Christenlande toe gaan, om daar ‘n Moslemgebied te maak en almal onder sharia-wette te plaas? Hulle kom in Europa aan, waar dinge goed gaan, maar breek dan af, net soos dit in hulle eie lande gebeur het. Hoekom dink jy Trump wou daardie muur oprig om die mense uit Sentraal en Suid-Amerika anderkant te hou? Het jy gesien hoe dit in Detroit en New Orleans lyk? Daar sê die mense transformasie is die tydperk vandat die eerste anderskleurige intrek, totdat die laaste witmens uit trek. Hulle neem dan die stad oor en kla en betoog oor die plek wat hulle afbreek, so afgebreek is. Dan los hulle daardie stad en trek na een waar dit nog nie deur hulle eie mense afgebreek is nie.”
Gert drink sy koffie klaar en gooi die dreksels in die vuur. Hy sit ‘n paar minute, asof hy wag dat die goed wat Uys sê, insink. Uiteindelik praat hy.
“Ek onthou ‘n praatjie van daardie ou wat ‘n recce was – wat is sy naam nou weer? Hy het gesê elke stad en dorp word in so ‘n hoefyster-fomasie deur plakkerskampe toegemaak. Dit word al groter en trek al nader na die middel van die dorp toe, totdat die blankes te skrikkerig raak en wegtrek. Dan trek hulle bloot daarin, totdat hulle die dorp doodgewurg het. Uiteindelik, toe die bom bars, was daar soveel van hulle aan die rande van die dorpe en stede, dat hulle dit kon toemaak. Niemand in nie, niemand uit nie.”
“Ons praat heeltyd oor die blankes wat nie gewaarsku wou wees nie. Die swart en bruinmense het hulle ook nie gesteur aan die gematigde leiers onder hulle, soos Meshoe en Terror Lekota nie. Julle besef dat die swartmense ook hulle eie rasgenote uitwis? Hierdie ‘bom’ wat gebars het, soos Gert sê, het begin toe hulle mekaar getakel het, toe die suipplekke langs die trog wat die blankes gebou het, te klein geword het vir elke aasvoel, jakkals en hiëna wat daaraan wou deel hê. ‘Trog’ is miskien nie die regte woord nie. Ons moet eerder van ‘n ‘karkas’ praat”.
“En die hartseer van die saak”, sê Diek, “Is dat die afstand tussen swart en wit ‘n armlengte binne die supermarkte was. Nou is dit ‘n geweerskoot ver.”
*
“Dries, sit gou die gennie aan!”
“Wat…?”
“Gou!”
Dries loop die vier treë na sy regterkant toe en skakel die kragopwekker aan. Die groot diesel vat dadelik, met ‘n gerammel van die staalkas waarin dit gebou is. Onmiddellik gaan van die huis se ligte aan, die lugversorger gee ‘n piepgeluid, die TV gaan aan, maar bo al dié geluide is die harde uitroep van ‘n man teen die verkant van die erf. Onmiddellik daarna is ‘n doefgeluid aan die anderkant van die muur.
“Wat was dit?”
“Dit was iemand wat oor die muur geklim het. Hy het gevoel of die elektriese draad byt in het en toe begin oorklim. Daardie gennie van jou en die draad het inderdaad nogal woema, ek moet dit sê!”
Terwyl Dries praat, verskyn die bopunt van ‘n lang aluminium leer bokant die heining en die elektriese drade. Die oomblik wat dit teen die drade sak, is daar ‘n paar helder flitse en vonke, soos dit die dun drade wegbrand met die kortsluiting. Die kragopwekker trek vir ‘n paar sekondes swaar en dan loop hy weer gemaklik.
“Soveel vir elektriese heinings!”
‘n Swart krulkop verskyn bokant die muur, agter die leer, gevolg deur die res van die man. Hy klim na die kant toe van die leer af en staan met albei voete op die muur, reg om af te spring. Voordat Dries sy pistool uit die holster aan sy sy kan trek, bulder Jan se haelgeweer. Die skoot donshael het al begin sprei, maar dit maak steeds baie seer. Elke fyn stukkie lood dring deur die vel en maak ‘n groot, ontsettende pynlike kol so groot soos ‘n ou asblikdeksel op die man se bors, maag, nek en selfs sy gesig.
Hy spring om, sodat hy weer die heining tussen hom en Jan kan kry en dis net wanneer Jan die tweede loop aftrek. Hierdie loop is effens ge”choke” en die hael is baie meer gekonsenteerd. Dit vang die man op sy boude, dring deur sy broek, en is net so pynlik as die eerste skoot. Dis onwaarskynlik dat die skoot uit die haelgeweer hom vorentoe gestamp het, maar feitlik oombliklik is hy weg van die muur af.
Jan hardloop om die punt van die swembad, knak die geweer oop terwyl hy hardloop, haal die leë doppe uit, sit nuwe rondtes in die lope en klap die geweer weer toe. Hy spring op die swembadpomp se kas, sodat hy net hoog genoeg is om te kan sien aan die anderkant van die muur is ‘n dosyn of so mense. Die man wat die skote ontvang het staan hande-viervoet en skreeu van pyn. Jan druk die haelgeweer se lope oor die muur en trek die twee skote af in die algemene rigting waar die spul staan. Hulle vertrap mekaar om so gou moontlik pad te gee.
Vir die oomblik is die hele situasie vir Jan komieklik en hy bars uit van die lag. Dis miskien ‘n ontlading van die spanning wat hy die afgelope tyd ervaar, miskien vanweë die feit dat ‘n klomp potensiële aanvallers so maklik kan weghol, hy weet nie, maar hy lag en dis sò aansteeklik dat Dries ook aan die lag gaan.
Die twee vroue kom uit die huis, met die klein kindertjies wat agter die glasdeur staan met hulle neusies platgedruk teen die ruite.
“Wat gaan aan? Ons het skote gehoor. Het een van julle seergekry?”
Dries verduidelik wat aangaan. Hy het opgehou lag, maar Jan nie.
“En julle lag daaroor? Sê nou net daar was onskuldige mense daar agter die muur?”
Jan hou onmiddellik op lag, word inteendeel baie ernstig en dan sê hy duidelik en versigtig:
“Daar is nie meer skuldige mense of onskuldiges in hierdie land nie. Dis òf vriend, òf vyand. Dis al. Niks tussen-in nie.”