Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die beloning vir harde werk is nie wat ‘n leier daarvoor ontvang nie, maar wat hy daardeur bereik. Niemand behaal per toeval sukses nie. Dis harde werk. Die geheim van enige leier se sukses is dat hy doodgewone werk buitengewoon goed doen. Hy beland nie in die seekatgreep van ydele, onversadigbare drange na sukses nie. Wie hierin beland, is soos ‘n man wat met ‘n gorilla stoei en nie kan nie ophou as hy moeg word nie. Die dierasie moet eerste moeg word!
BROKKIES UIT DIE BOEK HELDELAND (7)
083 444 7672)
Niemand gee handelsware van miljoene rande sommer prys nie. Nogtans het hy hulle gevra om die kinders te laat gaan. ‘n Mens probeer mos immers die geweldlose opsie eerste.
“Los die kinders. Niemand hoef vanaand seer te kry nie.”
Ongelukkig is die woorde van Al Capone meermale as nie, waar:
“You can get much further with a kind word and a gun, than just a kind word”.
Die enigste reaksie was geweld. En vir elke aksie is daar ’n teenoorgestelde reaksie, maar nie altyd gelyke nie. Die leier van die groep het onmiddellik die Makarov, wat hy reeds in sy hand gedra het, gelig. Basjan het die lang geweer agter sy blad gehang en met die nege millimeter CZ in sy hand het hy egter tussen die groep en die kar ingeloop en die manne kan hom nie sien teen die helder ligte in nie.
Die eerste skoot uit die Makarov tref die windskerm van die Mercedes en dit bars rondom die ronde gaatjie, soos ‘n sneeubal wat op die grond val. Onmiddellik daarna skiet Basjan terug. Die CZ se klap is harder as die ander pistool s’n en baie maal meer akkuraat. Drie skote tref die man en hy laat val die pistool, sak op die grond neer en gee die stryd gewonne.
Die volgende skoot tref die een wat vir Jona stamp en dan is Basjan tussen die ander. Hy is bang die kinders word raakgeskiet, en hy sny, steek en slaan met die mes. Die geveg is oor so gou as wat dit begin het.
Jona is nog jonk, en later sal hy die waarheid besef van die ou spreekwood: “Die vyand van my vyand, is my vriend”. Nou egter, is dit ‘n instinktiewe besluit wat hy neem.
“Is Oom hier om ons te red?” vra Jona.
“Ja. Kruip agter my weg.”
Jona kan sien dat Bella huiwer om saam die oom te gaan.
“Kom, Bella. Ons moet saam met die oom gaan. Ons kan nie anders nie.”
Selfs dan huiwer sy nog, maar Jona se ooglopende vertroue in die man kalmeer haar en sy kom ook huiwerend nader.
Vanaf die hek kom drie bakkies aaangejaag. Hulle het die skote gehoor, en al is dit BBP’s, mag daar steeds nie in hulle land sommer geskiet word nie.
Die manne op die boot het die enjins aangeskakel en agter die agterstewe borrel die water soos die skroewe draai. Die boot lig sy neus in die water, maar beweeg nie. Die meertou aan die agterkant is vas aan die kaai en hulle het in hulle angstigheid om weg te kom vergeet daarvan. Die enjinrewolusies daal en bevele word uitgeskreeu. Die loopplank word weer uitgesit en iemand begin afhardloop daarmee.
Een van die groot verskille tussen ‘n goeie soldaat en ‘n uitnemende een is die vermoë om jou planne aan te pas by die omstandighede. As dit wat by jou ingedril is deur die jare nie meer van toepassing is nie, vergeet jy van die drils.
Nie dat Basjan aanvanklik ‘n plan gehad het nie, maar indien wel, is dit nou gefnuik. Hy besef hy sal nie die kinders betyds kar toe kan kry om weg te jaag nie. En ‘n swart Gelandewagen met koeëlgate in, sal maklik wees om op te spoor en voor te keer. Hy kan dit nie waag nie. Die Volkswagenbussie is afgeskakel en hy sal nie tyd kry om die sleutels te soek nie. Hy het een opsie oor en dis een wat hy nog nooit in sy lewe gedink het hy sou oorweeg nie.
Hy gryp sy dra-sak uit die kar, hardloop terug na die kinders toe en met Bella onder sy linkerarm, die CZ in die regterhand en Jona wat agterna kom, hardloop hy al skietende na die man wat die tou wil losmaak. Die bakkies is nou nie meer ver nie en hy hardloop met die kinders teen die loopplank op en op die dek van die boot. Hy sit vir Bella neer, ruil die CZ met die MP5 en skiet op die twee manne wat nog steeds op die dek staan.
“Wag Oom! Wag eers!”
Hy kyk verergd na Jona.
“Kom Oubaas, kom!”
Basjan het vergeet van die hond en met die kardeur steeds oop, kom Oubaas aangehardloop, sy slap ore wat op en af wip. Basjan sny die meertou af en die boot ruk van die kaai af weg.
Die stuurman, wat besef dat hulle nie meer vasgemeer is nie, druk die twee enjinkontroles vorentoe en die boot lig weereens sy neus op. Hierdie keer tel dit vinnig spoed op en, alhoewel die bakkies reeds by die kaai is en die deure oopgaan met hawepolisie wat op hulle begin skiet, is die skote onakkuraat in die donker en dit tref niks.
Die deur van die bo-dek gaan oop en nog twee manne in wit verskyn voor die drie. ‘n Kort sarsie met die MP5 en Basjan kan oor hulle tree. Hy hardloop die trappe op na die brug en met ‘n verskrikte stuurman en, wat hy veronderstel die kaptein moet wees binne, klap hy die deur oop. Hulle wys dat hulle ongewapen is en dat hulle oorgee. Die taalkwessie word oorbrug met die gebare en Basjan is seker dat hulle nie weerstand gaan bied nie.
Hy beduie met die loop van die sub-masjiengeweer vir die stuurman om oopsee in te vaar, verby die vernouing in die mond van die hawe. Sodra hy seker is dat hulle veilig deur is, beduie hy dat hulle stadiger moet vaar. Jona en Bella het intussen ook die brug binnegekom.
“Seun, weet jy hoe om hierdie boot se stuur vas te hou?”
“Dis seker nie moeilik nie, Oom. Ek kan trekker ry.”
“Nou, kyk reg vorentoe, hou die stuur vas en ry aan.”
Nie Basjan of Jona weet enigiets van ‘n groot jag soos hierdie af nie, maar as ‘n ding ‘n stuurwiel het, kan hy in ‘n rigting gery word.
Basjan wys vir die twee bemanningslede om saam te kom. Buite op die dek, beduie hy vir hulle of daar nog iemand aanboord is.
Uiteindelik kom dit in ‘n geradbraakte Engels:
“Tha cook ana da engineer.”
“Call them.”
Hy druk die loop van die MP5 onder die kaptein se strot in en herhaal die opdrag. Die kaptein wys met sy hand na ‘n handstuk teen die kant van die bo-dek, met bang wilde oë en ‘n kop wat agteroor gebuig is. Basjan gee hom die handstuk aan. ‘n Bevel in ‘n vreemde taal, wat Basjan veronderstel Arabies moet wees, word gegee.
Na ‘n halfminuut verskyn twee manne op die dek. Die een wil in ‘n aggressiewe beweging na Basjan mik, maar ‘n benoude kreun van die kaptein af en wilde handgebare maak dat die ou gaan stilstaan. Basjan maak die vier manne teen die reling staan. Dan wys hy hulle moet oorspring.
“No canna swim, master!”
“Then learn. It is not far.”
Hy skiet ‘n kort sarsie oor hulle koppe en hulle spring soos een man oorboord. Basjan maak ‘n kursoriese deursoeking van die boot, en as hy seker is daar is nie nog mense aan boord nie, keer hy terug na die brug. Hy het nie veel kennis oor bote nie. Hy gaan sit in die stuurman se stoel.
Daar is ‘n magdom meters, knoppe, skakelaars, hefbome en goed waarvan hy nog nooit gehoor het nie. Arabiese letters is oral. Hy karring met sy duimnael aan een van die plakkers en tot sy verligting kom dit af. Tot sy verdere verligting is daar die oorspronklike Engels onder die plakker. Die eerste een wat hy aftrek sê Fuel. Dit staan ook onder die een langs dié betrokke meter. Hy sien die twee tenks is driekwart vol. Onder die volgende een is Engine Revolutions. Dit maak sin, maar hy kan nie verstaan waarom die revolusies laag is, maar in die rooi wys nie. Hy soek die versnellerpedaal onwillekeurig met sy voet, maar daar is niks op die vloer nie. Hy onthou dit lyk soos twee kort knopkieries, maar hy sien niks nie. Dan merk hy op dat twee hefbome met ‘n stuk vlekvrye metaal verbind is. Dit is tot reg voor gedruk en hy trek dit terug, totdat die rewolusiemeters ver in die groen is. Die boot verloor spoed, maar nie so baie dat dit hom ontstel nie.
Hy roep vir Jona en Bella om te kom help plakkers aftrek en geleidelik begin hy al die name van die meters herken. Uiteraard is die voertuig, oftewel vaartuig, dieselaangedrewe; dit het brandstofmeters, oliedrukmeters – hy sien vir albei die enjins is daar onderskeie meters – en nog vele ander.
Hy hoop maar hy kan betyds alles uitpluis. Betyds? Waarvoor? Hy het nog nie daaraan gedink nie. Hy weet hulle is nou op die oopsee, maar het nie ‘n idee waar of waarheen nie. Hy soek rond en sien ‘n kompas en volgens dié ding, as hy hom reg lees, is hulle besig om reg Weswaarts te vaar.
“Wat is julle name, seun?”
“My naam is Jona en my sussie is Bella.”
“Jona soos in die Bybel.”
“Ja, Oom.”
“Wel, Jona en Bella, ons is nog nie heeltemal uit die woude nie. Ek weet nie of daardie klomp moere ons miskien met ‘n motorboot of selfs ‘n helikopter gaan probeer opspoor nie. Ek weet ook nie wat vir ons op hierdie waters wag nie. Jona, ek glo darem nie dat daar enige visse oppad is om ons in te sluk nie.”
“Ek is eintlik vernoem na Jona...”
Terwyl Jona verduidelik, is Basjan se kop besig. Hy luister met een oor, maar hy is ook besig om planne te bedink.
“Waar de donner is ons?” dink hy hardop en val Jona in die rede.
‘Oom, is daardie ding nie ‘n GPS nie?” vra Jona.
“Moenie my pla nie…’n GPS?”
Uiteraard weet Basjan baie van moderne tegnologie, omdat hy in baie gevalle daarvan afhanklik is, maar hy voel dat hy die kind iets moet gee om oor belangrik te voel.
Basjan besef dat die seun na die GPS verwys. Hy was so besig om seker te maak dat alles in orde is dat hy nie eers daarna opgelet het nie. Hy dink by homself dat hy seker ook bietjie aan skok ly. En, soos Murtoch in Lethal Weapon altyd sou sê, hy raak miskien too old for this shit.
Hy kyk terug na Bella. Sy sit met haar arms om haar kniee gevou en staar net na die grond. As selfs hy, wat ‘n verharde voormalige spes-magte soldaat is bietjie aan skok ly, hoe erg moet dit nie vir hierdie twee kinders wees nie? Hulle was nou-net amper verkoop as seksslawe. Hy kan nie dink vir wie dit erger moet wees nie. Bella is ‘n klein dogtertjie, en alhoewel dit uiters traumaties moes wees vir haar, het sy dalk nie die volle implikasies verstaan nie. En vir klein Jona? Dit is duidelik dat hy sterk probeer wees vir sy sussie. Miskien het hy besef watter lot op hom en sy sussie gewag het. Basjan dink by homself dat, as so ‘n lot hom sou tref, dit nie vir hom moeilik sou wees nie. Hy sou hulle net kwaad gemaak het of hulle beveg het, totdat hulle hom doodmaak. Maar hoe groot moet die hulpeloosheid nie wees as jy weet dat jy niks kan doen vir iemand vir wie jy lief is nie. En dan is hierdie tweetjies nog so klein.