Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Stuart Cloete se woorde in sy gesprek met die Goewerneur-Generaal van die eertydse Belgiese Kongo in sy boek "The African Giant":
" 'Your Excellency, what would happen if the white man left the Congo? How long would it last?'
'A few years' he said, 'because we have built well. The buildings will stand'.
'And then?' I said.
'Then, monsieur, the forest will return'.
This is the classic reply all over the continent. There is no other answer".
BROKKIES UIT DIE BOEK “DIE VERONTREGTES” (34)
(u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
“Never anger a man who has nothing to lose.”
“Never mind the badmen. They are cowards at heart. But take care if the peace-loving townsmen, the butcher, the baker, the town saw-bones, the storekeeper and the stable-hand get their anger up.”
- Louis L’Amour
Die grootste dryfvere in die wese van normale mense, indien daar sulke wesens is, is liefde, maar ook haat, woede, vrees en bitterheid. Die meeste van die inwoners van Vuilbaardsvlei, maar ook die nuwelinge, wat nie as sogenaamde “inkommers” beskou word nie, maar as deel van die gemeenskap, deel in die verontwaardiging van die vorige bedeling en die situasie waarin dit hulle geplaas het.
So byvoorbeeld is daar Janah, wat aangerand en gemolesteer is, Cor wat sy vrou verloor het, maar ook sy plaas en besittings, sy lewenskwaliteit en uiteindelik sy gewete, kenmerkend van die groep. Daar is ook WP en Giel wat nie meer die verontmensliking van die regering kon hanteer nie en bloot gery het om vergelding te gaan uitvoer vir ‘n jong vrou.
Daar is oom Klaas, wat bloot aan die diepkant ingegooi is, tesame met Liza die apteker, Oudok, Bartel wat nie meer wil leef nie, daar is Cliff Naude, Beyers Conradie en sy vrou Sonja vanaf Breedefontein, en nog ‘n dubbele bakhand vol mense wat een-een en twee-twee aangekom het die afgelope tyd. Hulle is vasberade, ingegrawe en agter skuilings verskans.
Beyers Conradie maak seker almal is gewapen, al is dit met ou gewere, genoeg ammunisie, water en een of ander kossoort wat energie gaan verskaf. Niemand weet hoe lank hierdie geveg gaan aanhou nie.
*
Heinz se opdrag aan Abdul was baie duidelik: “Blaas die hek oop, ry die volle lengte van die dorp deur en begin van die ander kant af skoonmaak. Skiet alles en almal, man, vrou, kind, oumens, honde, katte – alles. Ek wil niks lewendig hê nie. Ek en die res van die groep sal aan die ander kant van die dorp wag.” - Natuurlik om almal wat op die een of ander manier oorleef en uitkom, self van die gras af te maak. Dis in die wese van ‘n man met so ‘n intense psigotiese afwyking. Wanneer hy op die hoogtetjie reg oorkant die Westekant se hek is, saam met twintig van sy betroubaarste en mees gedissiplineerde manne, sien hy met genoegdoening dat die volle mag van sy leër se kop nie ver van die Oostekant van die dorp is nie. Die twee flanke beweeg onder die twee koppies weerskante van die dorp in – daar is geen manier waarop enigeen kan ontsnap nie. Die lokval is gestel en al waarvoor hulle wag is sy bevel.
*
Waar hy skuins agter ‘n rots lê met die vyand in sig, kyk Nicodemus na sy neef, groot Nicolaas, wat homself gemaklik maak agter ‘n grondwalletjie. Hy het weer die ou, lang Remington Hepburn No 3 in sy skouer. Hy en Assie het lank geëksperimenteer met moderne kruit, om nuwe lading te ontwerp vir die ou wapen. Al is hierdie een reeds in 1879 gemaak en het heel moontlik diens gedoen by die slag van Amajuba.
Ingeligte bronne meen dis met hierdie spesifieke wapen waarmee beide Colley en Rommily geskiet is, op ‘n afstand van meer as nege honderd tree. Die twee groot nadele is dat die wapen nie ‘n magasyn het nie en elke lang rondte moet dus een-een gelaai word. Dit pla Nicolaas glad nie, want hy meen dis beter om ‘n ou met een goedgemikte rondte raak te skiet, as mis met tien vinniges.
Die tweede probleem is dat swartkruit ’n bol rook blaas as die skoot afgaan en kan die vyand jou dus maklik raaksien. Hierdie probleem het hulle opgelos met saamgestelde ladings uit moderne rooklose dryfmiddel. Die ou aksie is baie sterk en nog net so rigied as die dag wat dit die fabriek verlaat het.
Nicodemus merk dat Nicolaas ‘n nuwe teleskoop op die ding gemonteer het. Natuurlik is dit ‘n yslike anachronisme, maar Nicolaas gee nie daarvoor om nie.
Aan Nicolaas se regterkant lê sy vrou, Elsabé, met ‘n Steyr-Mannlicher .243. Nicodemus verwonder hom aan haar kalmte. Hy kyk na die manne en vroue aan sy ander kant. Lara, die bedorwe hoërskoolmeisie van anderdag en haar vriende, Robin en Marcus. Nog verder aan Knoets, Lori, en Johan Burger wat die kinders Rambo Bob genoem het.
Aan Nicodemus se linkerkant lê Tamar, Tant Bessie, Hendrik, Martie, Ben en veertig ander manne en vroue.
Op die ander koppie lê Arno, Skeermes, John MacDonald, die Malan broers, hier en daar ‘n jonger meisie of seun soos klein Ezra, oftewel Kleinskeer, Nico en Retha, die Engelbrecht boeties en natuurlik Len Groenewald, met sy groot .458 Brno, Johan, Lucille en nog ‘n paar half-bekende manne. Heel op die verste punt lê Maya, met die Steyr SSG.
*
Heinz voel ’n ekstase-rilling teen sy rugraat afloop, soos elke maal gebeur wanneer hy op die punt staan om uitwissing te pleeg. Dit maak nie vir hom saak wie skuldig is, ‘n goeie of minder goeie mens is nie, wie dit verdien of nie verdien nie. Die absolute megalomaniese drang om van sy medemens ontslae te raak, word groter en groter namate hy die slagtings kan orkestreer. Voeg daarby die onmenslike genot wat hy daaruit put om die genadeskote te kan gee wanneer mense gewond en hulpeloos smeek om genade.
Om sy wreedheid en gevoelens te verberg, hou hy die verkyker voor sy oë en verstel net af en toe aan die fokus. Sy manne is nou sowat sestig meter van die versterkte buite-hek af en hy sien met genoegdoening dat sersant Mpefu die vuurpylwerper oor sy skouer het. ‘n Vinnige flits uit die RPG se stert is vir ‘n oomblik sigbaar en dan vlieg die pylgranaat reguit en sekuur na die middel van die hek, waar die dik, staal sluitbalke bymekaarkom. Die RPG vernietig nie net ‘n deel van die hek nie, maar staal en kartetse vlieg agtertoe en na die kante van die pad, teen die geboue die naaste aan die hek vas. ‘n Enorme vuurvlam, rook en stukke metaal maak vir ‘n paar sekondes plek vir stof en grond. Die slag is oorverdowend.
Soos hulle opgelei is en al menige keer gedoen het, hardloop die manne gedissiplineerd deur die dorp, met wapens wat skiet na enige sigbare mens of dier. Die probleem blyk onmiddellik te wees dat al die dorpsinwoners agter dik mure van opmekaar en agtermekaargestapelde sandsakke is, natuurlik gemaak uit duisende voer en kunsmissakke, soos dit maar is in ‘n dorp waarvan die koöperasie die grootste winkel is.
Majoor Abdul Ibn Jusaf is vooraan die lang ry manne wat die volle lengte van die hoofstraat ontplooi, vanwaar hulle aanvanklik handgranate oor die sandsakmure sal gooi en dan bo-oor klim en spring om die oorlewendes met geweer, handwapen en bajonet om die lewe te bring.
Heins von Kleibel kan skaars sy asemhaling beteuel as hy sien hoe sy leër die operasie feitlik perfek uitvoer. Nie heeltemal een honderd persent na sy mening nie, maar dis bloot omdat niks ooit aan sy standaarde sal voldoen nie.
Die volgende oomblik egter, lyk dit asof die hele straat oplig en in ‘n bol rook en vlamme uitbars. Al Heinz se manne vlieg deur die lug, val kante toe en word verswelg deur die ontploffing. Behalwe vir die sakke wat in die koöperasie geberg word, is daar ook honderde tonne kunsmis, waarvan ‘n groot persentasie uit ammoniumnitraat, wat nitroglisireen bevat, bestaan. En as dit met diesel gemeng word, is dit net so doeltreffend as dinamiet. Vir die ingeligte mens, wat video’s daarvan gesien het, of dit self beleef het, lyk dit soos die sogenaamde “plofadder” wat gebruik is gedurende die Grensoorlog, om landmyne uit te plof.
Sodra die stof, kartetse en rook genoeg gaan lê het, klim die dorpsmense tot bo-op die sandsakke en skiet na die oorlewendes. Daar is nie baie nie.
Die oomblik nadat die hek met die RPG oopgeskiet word, hardloop die “horings” van die aanvalsmag uit hulle skuilings nader. Dit is immers die teken waarop hulle gewag het, onbewus daarvan dat hulle van drie kante af omarm word deur die manne en vroue van Nicodemus se bende aan die een kant, dié van Skeermes aan die ander kant en die dorpsmense aan die derde een.
“Allahu akhbar!” Skeeu Abdul. Hy is oortrek met en deurtrek van skrapnel en koeëlwonde. Met die naam van sy god op sy lippe, val hy dood neer.
Hoop kan groei soos Phoenix, die legendariese vuurvoël, maar kan net so maklik verswelg word in wanhoop. Heinz von Kleiben het ‘n paar minute gelede nog op die golfkruin van verworwe roem en bewese rykdom gery, maar die brander het verkeerd gebreek en hy word, spreekwoordelik gesproke, in die sand ingeslaan.
Wanneer hy opkom vir lug, en die soutwater van teleurstelling uitspoeg, besef hy dat sy ideale onder sy voete uitgeslaan is en al hoop wat hy nou het is om weg te kom en miskien, net miskien, weer van voor af te begin.