Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Net jy kan besluit of jy 'n gelukkige mens of 'n slagoffer van die lewe wil wees. Vertrou op God vir alles en word 'n gelukkige mens.
OPSTANDE IN DUITS-WES-AFRIKA (5)
EJG Norval
Tydens Oktober 1904 het Hendrik Witbooi met sy Witkam-Namas, met Jacob Marenga en Abraham Morris se Bondelswarts-Namas saamgewerk om die Duitsers en Boere uit SWA te verdryf. Hulle was goed bewapen met gewere en daarbenewens was hulle uitstekende ruiters wat die kuns van guerrilla-oorlogvoering verstaan het. Morris het gewere by Kouwater polisiestasie, asook by etlike plaasboere, w.o. Freddie Dreyer en Roelf Badenhorst, gebuit. Die plaasboere en hul families het by Keetmanshoop laer getrek en hul besittings net so gelaat om geplunder te word. Die Witkams se vesting was by Rietmond, vanwaar hulle aanvalle op die blankes wou loots na Hendrik Witbooi se oproep dat alle blanke mans vermoor moes word. Witbooi het besluit om teen 1904 toe te slaan op Boere wat in die suidelike dele van DWA geboer het. Witbooi het op 3 Oktober 1904 sy gewig by die Herero’s, Simon Koper se Fransmanne, Basters en Marengo se Bondelswarts teen die Boere en Duitsers ingegooi.
Die moeilikheid met die Namas het die aand van 4 Oktober 1904 begin met ‘n aanval op die eenman polisiepos langs die Visrivier naby Kub (Noord van Marienthal) waar sersant Ficke op diens was. Hy is deur Witkamme deur die bors geskiet, waarna hulle gepoog het om Bockeleki se winkel te plunder. Hy was skrams in die nek geskiet toe hy die aanvaller met ‘n voorwerp gegooi het. Bugalecki het die nag ingevlug en die mense in die omgewing gewaarsku dat die Witkams uit was om te moor. Hy het hulle gemaan om gewapend na die skoolgebou te kom om te skuil. Plaasboere soos Kock en Donkin was vermoor. Op 5 Oktober was Dawid Maritz en Izak van der Linde saam met Andries de Wet, vrou en skoonma op reis na De Wet se plaas Ses-Kameelboom waar ‘n winkeltjie en oornagplek was. By die winkel was Koos en Jan de Wet en ene Van Alphen. Hulle het verneem dat die Duitse sersant die vorige aand by Hatzam doodgeskiet was en dat hy ook onthoof is. Die Namas het die plaas aangeval en die drank van die kantien bygedam, terwyl die blankes na Jan Mostert se plaas gevlug het. Barend Burger en sy gesin, weduwee Van der Linden, Joseph Jooste, Abraham Bouwer en sy vrou, Koos Hugo met sy gesin en mev C Brink het ook soontoe gehaas.
Drie transportryers, by name twee Burger-mans en Jan Louw is by Gochas doodgeskiet. Die transportryers Jacobus Coetzee en Christoffel Rosseau was op 4 Oktober ook in die gebied op die Gibeonpad by hul waens vermoor, hul lyke geplunder en hul wa weggevoer. Coetzee was later sonder kop gevind.
Op Seskameelboom was Charles Rietman vermoor, terwyl die eienaar Faber in ‘n put moes wegkruip. Hul huise was geplunder en hul vrouens en kinders ontvoer. Op dieselfde dag, het die moordenaars ook in die omgewing die Cilliers-opstal aangeval en Cilliers, sy seun en skoonseun Kuhn vermoor. Hul lyke was eers na die oorlog gevind. Von Klutzen en Kries was ook deur die aanvallers vermoor. Fick, die Hollanders Frans de Villiers Smeer en Bernhard Frans Smeer (voormalige lid van die Smit-trek) is ook vermoor. Lg. was voor sy vrou en aangenome seuntjie naby Marienthal met vyf skote doodgeskiet, terwyl hy vir sy moordenaars gebid het. Al sy besittings was verwoes en £600 uit sy kas is geplunder.
Die Witkam-sendeling, eerwaarde Ludwig Holzapfel, sy vrou en drie kinders was opgelaai en na die polisiestasie geneem, waar die sendeling voor sy familie deur 8 skote getref is. Die moordenaars het daarna na die Smeer-woning teruggekeer met die angsvolle vrouens en kinders. Vandaar het hulle die mense verder geneem en ene mev. Kleugden, haar 18-jarige dogter en mev. Husveld opgelaai. Die mense was later die dag in die veld afgelaai om verder te stap in die warm son. Voetseer, warm en dorstig, het hulle voortgestrompel en die nag in die bos deurgebring. Twee Duitsers het na hulle gesoek en gevind, waarna die mense na Windhoek geneem is.
Die plaasboere het daarna laer getrek op Klaas Maritz se plaas by Garies. Hier was Frans van Zittert, Jan Lambrechts, Willem- en Jaap Dreyer, Willem Rosseau, mevr. Brand, Eduard Mostert, Dirk Booysen en hul families saamgetrek. Witbooi het ‘n boodskap by hulle afgelewer dat hy die twee transportryers Coetzee en Rosseau gevange hou en wou oorlewer vir ‘n som geld. Dit was natuurlik ‘n slenter, aangesien die twee reeds vermoor was. Booysen het dit so ingesien en die mense gemaan om te bly waar hulle was. Witbooi het geen reaksie gekry nie en hy het met ‘n bende opgedaag om hulle aan te val. Hy is begroet met ‘n heftige geskiet, waarna die bende die aftog geblaas het. Die laer te Maltahöhe was twee maal aangeval. Dirk Kotze, sy vrou, vier seuns en skoonseun, Jacobus van der Westhuizen, was op hul plaas Dassiesfontein, suid van Marienthal, in dié dae aangeval. Hulle het agter ‘n ringmuur om die opstal geskuil en geskiet, totdat ene Melchior die bende van agter aangeval het. Die bende het daarna gevlug en die gesin het na Kub gevlug met agterlating van hul besittings en vee.
Witbooi het weer met ‘n slenter vorendag gekom en Jacobus Steyn (‘n oud-Kaapse rebel uit Griekwaland-wes) laat weet om na sy stat te kom om daar te skuil terwyl die Herero’s met die Duitsers veg. Steyn het terug laat weet dat hy sou kom, maar hy, sy swanger vrou en die Fouries het besluit om eerder pad te gee. Hulle is egter deur ‘n Witkam-bende voorgelê wat hul wapens afgevat het. Die volgende dag was hulle weer voorgekeer en ses bendelede het gedreig om hulle te skiet. Manie Fourie het ‘n skoot gekry toe hy reeds ‘n ent weggehardloop het en Steyn was ook voor die vroue doodgeskiet. Vyf skote was op die 12-jaar oue Steyn-seun geskiet, wat hom slegs in die hand gewond het. Die 4-jaar oue Fourie-seuntjie was uit sy moeder se arms geskeur, maar wonderbaarlik nie deur die aanvallers beseer nie. By die waens was ene Willem Stoltz wat weens sy rooi songebrande gesig vir ‘n Brit aangesien was en wie se lewe daarom gespaar was. Mevr. Fourie en Steyn was daarna op ‘n wa gelaai en noordwaarts vervoer.
Landmeter Gardner was naby Marienthal deur Namas doodgeskiet. In die Gibeongebied was ‘n Switzer by name Seitweihler voor sy familie op sy plaas doodgeskiet, sy huis geplunder en al sy vee gestroop. Op ‘n plaas naby Marienthal, het die Duitser Johannes Mahler, sy vrou (Annie geb. Delport), die 11-jarige dogter Lily, ‘n ongetroude broer en sy swaer Izak Delport, gebly. Op 4 Oktober is die broer en swaer vroeg die oggend buite die opstal doodgeskiet, waarna Johannes uitgestorm het om te sien wat gaande was. Hy is voor sy deur in die bors geskiet en sy vrou en dogter in hul nagklere na Frans Smeer se huis voor die perde aangejaag, waar mev. Smeer opgelaai was om saam na Rietmond geneem te word. Hier was die vrouens van Smeer, Holzapfel en Seitweihler in uiterste angs aangehou. Die vroue was daarna op ‘n wa gelaai en in die veld afgelaai.
Op Hendrik Smit se plaas Swartmodder, (oos van Marienthal in die Hofmeyrdistrik), sy vrou Hannie en 4 kinders, het ‘n klompie gesinne op 10 Oktober 1904 bymekaar gekom om na ‘n veilige oord te trek. Smit was bevriend met Hendrik Witbooi en het ook sy plaas by Witbooi gekoop. Ook teenwoordig op die plaas was ‘n voormalige lid van die Transvaal Staatsartillerie by name Johannes Potgieter met sy vrou Annie en 2 babas van 3 weke en 18 maande, Hendrik van der Westhuizen met sy vrou en 4 dogters en 2 jong seuns, Cornelis Bothma met sy vrou en 2 jong dogters, die bejaarde bedlêende Hendrk van der Westhuizen (Hannie Smit se vader) en Gys van der Westhuzen. Almal was daar met hul vee byeen om na Lidfontein, die plaas van ene Louw en Hartfort te trek. Die trek het bestaan uit 6 waens en altesame 11 volwassenes, 4 vroue en 14 kinders. Die gesinne het voor die trek by Smit se huis saamgetrek om godsdiensoefning te doen. Teen dagbreek het Hendrik Smit na die veekraal gestap, toe daar meteens skote vanaf ‘n rantjie gevuur was en Smit dodelik getref het.
Terwyl die mense terug in die huis geskarrel het, het Izak Witbooi, broer van “Koning Hendrik” agter die rantjie tevoorskyn gekom en nader gestap. Hy het die mense in Namataal toegeroep:
“Deusmanne!....... ek het nie gekom om oorlog te maak….. ek is is spyt een van my manne het Deusman Smit geskiet, maar ek belowe dat as julle jul gewere en patrone aan my afgee, julle in vrede kan trek.”
Potgieter wou niks daarvan hoor nie: “Nooit gee ons onse gewere af nie. Onthou Piet Retief, hulle het dieselle aan hom gesê….. en kyk wat het gebeur. Ek sê ONS VEG hier!”
Hendrik snr: “Ons moet maar seker doen soos hulle seg.”
Potgieter: “Nimmer as te nooit, hulle sal ons dan vermoor, oom”
Hendrik: “Ek gaat my ou Martini afgee en julle doen dieselfde”
Die ander mans, asook die vroue was teen ‘n geveg gekant en Hendrik van der Westhuizen jnr. het Witbooi toegeroep: “Ons kom in vrede met die gewere en patrone.” Ses manne het die sowat 60 Namas genader wat agter die rantjie te voorskyn gekom het. Hulle het hul gewere en patroonbande afgegee en daarna het Witbooi in Nama geskree: “SKIET ALMAL VREK”
Potgieter het agter die buitemuur geskuil om op die bende te skiet. Na ‘n paar skote was Potgieter getref. Die arme vroue het angsgille geskree, terwyl die woestaards die huis bestorm het Die siek bejaarde Van der Westhuizen was op sy bed doodgeskiet, waarna die 18-maande oue klein Potgieterseun, asook Hendrik Van der Westhuizen se 11-jaar oue seun, die 3-jarige Ben van der Westhuizen teen die grond gegooi en elk deur die kop voor hul moeders geskiet is. Izak het ‘n stuk van die skedel voor sy moeder se voete gegooi met:
”Vatso , hies ‘n persent vi’djou”
Die 11-jarige Van der Westhuizen-seun was ernstig gewond, die 10-jarige Bothma-seun en die 14-jarige Smit seun is doodgeskiet.
Die Van der Westhuizen-kind het erg gely, aangesien sy arms en hande flenters geskiet was. Klein Ben se arm en hand was flenters geskiet en hy moes baie gely het. Izak Witbooi het hom gegryp en na sy moeder gesleep:
“Vat jou kind, ons god wil hom nie hê nie!”
Klein Dirkie Smit is nie vermoor nie, aangesien hy ‘n doopfrokkie aangehad het en die moordenaars hom waarskynlik vir ‘n dogtertjie aangesien het. Die 3-weke oue Potgieter babaseuntjie se lewe was ook gespaar. Die Witkamme wou die gewonde Van der Westhuizen kind doodskiet, maar die moeders het die moordenaars gesmeek om hom te spaar. Die bende het alles in die huis geplunder, verwoes en alles op die waens uitgegooi. Die ses vroue en 12 kinders was op een wa gelaai nadat die ander waens, perde en osse na Kalkfontein gestuur is. Die wa vol blankes moes toesien hoe aasvoëls op hul geliefdes se lyke toegesak het. By die groep het ook aangesluit die Stoltz-, Steyn- en Fourie-vroue met 4 kinders, wie se mans twee dae gelede voor hul oë vermoor was. Om sake te vergerger het Annie Potgieter se 4-weke oud baba tydens die tog gesterf. Sy het die bondeltjie langs die pad in ‘n vlak graf geplaas, ‘n vrou verteer deur smart na die verlies van haar man, vader, twee broers, swaer en twee kindertjies.
Mevrou Steyn het geboorte gekenk aan ‘n baba wat twee dae later langs die pad in ‘n vlak graf begrawe is. Hulle was daarbenewens geplaag deur honger, erge hitte, dors en beledigings wat hulle vir ‘n maand lank moes verduur, voordat hulle naby by Marienthal in die veld afgelaai is. Daarna moes hulle verder te voet deur onherbergsame gebied aansukkel. Hulle het oor die warm sand en sonder water na Koës aangestrompel, waar die geweersmous Bob Duncan hulle opgelaai en na Rietfontein geneem het. Dit sou interresant wees om te kon ondersoek wat die omvang en die rol van geweersmouse in die bewapening van Namas teen die blankes was en tot watter mate die Britse regering ‘n hand hierin gehad het.
Van Upington was hulle oor Prieska per trein terug na Piketberg. Teen die einde van 1905 het mevroue Smit, Potgieter en Van der Westhuizen per skip na Swakopmund gereis om die plaas Swartmodder te beoek, om hul geliefdes se beendere te versamel. Ene Piet Brand het die drie vroue na die toneel geneem en die beendere van die 6 manne en 2 seuntjies tydelik begrawe, totdat hulle later in kiste herbegrawe was. Mevr. Smit het geweet haar man het geld op die werf voor sy moord begrawe en sy het na ‘n gesoek ‘n trommel met £600 goue munte en ‘n tweede met £300 uitgegrawe. Die geld wat Gys voor sy moord begrawe het was ook gevind, naamlik £33 se silwergeld.