NIE MEER APARTHEID SE SKULD

Kriewelkop

Apartheid in die hande van die ANC is soos 'n flikkerlig – hy werk, hy werk nie; hy werk, hy werk nie... Hier kom Tafel & Bedjie se boetie, Moeletsi Mbeki en hy reken amper al die gemors in ons land is die ANC se skuld. Dit is glo die ANC wat die hele infrastruktuur wat ons Afrikanernasionaliste in die apartheidsjare alleen opgebou het, vernietig het. Hy meen die swart kommuniste is nie in staat om so 'n goeie infrastruktuur in stand te hou nie al het hulle dit soos lekkergoed persent op 'n skinkbord gekry.

Maar hy is ook nou nie heeltemal so seker dis net die ANC se skuld nie want daai selfde Afrikanernasionaliste het daai selfde wonderlike infrastruktuur opgebou deur uitbuiting van swart arbeid terwyl die arme ANC hulle s'n deur middel van die staatskas moet doen.

  Nou wonder mens wie is die mense wat die staatskas vol maak terwyl die ANC dit so vinnig in hul sakke uitdop. En dit is seker nie uitbuiting van blanke belastinggeld wanneer onmenslike hoë belasting gehef word waarmee die ANC partytjies hou nie?

Maar, sê Moeletsi toe hy weer bykom, dit is eintlik die regeringsbeleid wat dit nou onmoontlik maak vir nuwe swart en wit kommersiële boere om suksesvol te wees – dus is dit nie meer apartheid se skuld nie. Die ANC het meer as R40 miljard bestee aan duisende hektaar kommersiële plase, maar op byna geen een word geboer nie. Tot die eens vet beeste lê nou daar gevrek want niemand het vir hulle kos en water gegee nie.

Daarby, sê hy, was Suid-Afrika een van die wêreldleiers in vee-artseykunde en diere-medisyne, tot die ANC dit alles opgefoeter het en moet nou die medisyne invoer. Moeletsi moet dalk nog net uitvind dat dit ook vir mense-medisyne geld. En vir al die baie ander lewensnoodsaaklikhede wat ons nodig het. Volgens hom beweeg Suid-Afrika weer terug na ’n ekonomie wat onverwerkte minerale uitvoer, soos destyds voordat die Afrikaners die land onder dr Verwoerd se suksesvolle ontwikkelingsbeleid tot 'n Eerste wêreldland opgebou het en ons die meeste van ons verbruikersmiddele plaaslik vervaardig het – selfs ses kernbomme, biologiese en chemiese wapens...

Moeletsi se helder insigte strek nog verder: dat hier in Suid-Afrika 'n soortegelyke revolusie as dié in Noord-Afrika gaan plaasvind as gevolg van die ekonomiese krisis wat ons nou ingaan, wanneer die swart massas in opstand gaan kom teen die ryk elite-groepie daar in die duur sitplekke van die ANC. Die buiteland gaan ook nie meer die baie swart bakhande volstop nie en die boepmage gaan al platter word terwyl die woede en geweld al meer word en uiteindelik soos 'n sweer sal oopbars. Die kruitvat waarop Suid-Afrika sit het net 'n klein vlammetjie nodig om aan die brand gesteek te word voordat die ontploffing plaasvind. Maar dis eintlik ou nuus, vir dié wat ore het om te hoor.

Nou wonder mens of daardie ontploffing weer apartheid se skuld sal wees...