...WANT DAAR SAL NIE MEER BRANDSTOF WEES NIE
Kriewelkop
Suid-Afrika word deur Amerika gedwing om vanaf 1 Julie afstand te doen van 26% van sy olie-invoer vanuit Iran. Al klink dit onmoontlik is dit 'n saak wat Obama goed deurdink het en uitvoerbaar is deurdat hy sanksies teen Iran se sentrale bank instel wat dit van internasionale finansiële stelsels afsluit. Suid-Afrika, soos China, Indië en talle ander lande behalwe 11 lande wat van hierdie strafmaatreël vrygestel is, sal dus nie meer vir olie kan betaal nie want dit is uitsluitlik aan hierdie bank wat lande se raffinaderye betalings aan Iran vir die olie doen.
Die VSA het selfs gedreig dat sankies direk teen Suid-Afrika ingestel word indien Zuma nie gehoor gee aan die afskaal van olie uit Iran nie. Zuma het hom tot dusver doof gehou vir hierdie situasie en maak asof dit nie bestaan nie.
Obama het in 2011 reeds alle voorbereidings vir hierdie plan getref en in Januarie 2012 is Amerika se wet op verdedigingsbemagtigting deurgevoer, 'n wet wat deur die VSA se sekerheidsbestel afgedwing móét word.
Die rede vir Amerika se drastiese optrede spruit direk uit sy vrees vir 'n moontlike kernprogram deur Iran. Totdusver kan niemand met sekerheid sê of Iran werklik met 'n kernprogram besig is nie aangesien hy die heel moeilikste intelligensieteiken in die wêreld is; daar is egter rede om te glo dat Iran nie tans aktief besig is om kernwapens te vervaardig nie maar wel met navorsing en voorbereiding besig is. Daar word ook beweer dat Iran oor die vermoë beskik om binne vyf jaar talle kern- en biologiese wapens te bou aangesien hy oor genoeg verrykte uraan beskik waarvan die verrykingsproses tans by minstens twee aanlegte in volle gang is.
Natuurlik verkeer Israel ook in die ergste vrees dat Iran een of twee kernbomme bo Tel Aviv en Haifa kan laat ontplof wat Israel feitlik heeltemal sal vernietig. Israel is egter nie sterk genoeg om op eie houtjie Iran se kernprogram uit te skakel nie en die VSA se hulp kan 'n groot verskil maak.
Obama probeer egter nog vir eers met ekonomiese druk op Iran deur middel van 'n wêreldwye olieboikot om Iran te dwing om nie met 'n kernprogram voort te gaan nie – die volgende stap is 'n volskaalse oorlog. Daarom sal ook Suid-Afrika geen genade ontvang wanneer hierdie sankies in werking tree nie.
Die gevolge vir Suid-Afrika sal meer omvattend wees as wat tans in meeste Suid-Afrikaners se gedagtes omgaan. Brandstofpryse sal nie weer daal nie maar skerp die hoogte inskiet alhoewel dit nog die kleinste van ons probleme sal wees; brandstof sal so skaars word dat Siener van Rensburg se visioen van die "karre wat op die bulte staan" nou naby verwesenliking is. Mense sal nie meer by hulle werk kan kom nie, voedsel sal nie meer vryelik geproduseer en na markte toe aangery kan word nie, kortom, niks sal meer funksioneer soos dit hoort om 'n ekonomie aan die gang te hou nie. En die gevolge daarvan sal 'n totale ekonomiese ineenstorting wees wat met groot anargie gepaard sal gaan, net soos dit deur sommige leiers en profete voorspel is.