Die Kaapstad se Filharmoniese Orkes
Daar word heeltemal te min geskryf oor die skade wat die inperking aan ons land doen. Die media noem wel dat daar miljoene mense hulle werk verloor het maar geen fyn besonderhede daarvan word aan die publiek gegee nie. Intussen is dit hartverskeurend hoe mense op ons straathoeke vir ‘n aalmoes versamel. En moenie dink dit is net gewoonteboemelaars wat daar staan nie – ‘n baie groot aantal wat nou daagliks daar vermeerder, is mense wat vóór die inperking nog selfversorgend was en nou deur die ANC-regime se kortsigtigheid geen keuse het as om te bedel nie.
Om te demonstreer hoe maklik dit is om tot bedelstand verlaag te word kan ons luister na wat Bernhard Gueller, hoofdirigent van Kaapstad se Filharmoniese Orkes, oor die orkes se huidige situasie vertel. Hy glo dat die hou van simfonie-konserte met fisiese afstand as gevolg van die inperkmaatreëls nie standhoudend van aard is nie.
Gueller sê dit het nou ‘n oorlewingstryd geword het; hulle sit in sak en as en weet nie werklik hoe om daaruit te klim nie. Elkeen van die orkeslede is van die musiekkonserte afhanklik om ‘n bestaan te maak.
Tans is al hulle konserte vir die herfs en winter gekanselleer, sowel as baie ander konserte vorentoe. Van die lede het hulle eie videos gemaak en begin voorberei vir kamerkonserte maar daar heers groot ongelukkigheid en desperaatheid as gevolg van bekommernis oor hulle toekoms en hoe lank hulle soos nou sal kan aanhou.
Toe die grendelstaatmaatreëls begin het, het topkwaliteit orkeste en operahuise begin om gratis uitvoerings op internet aan te bied. Dit het nogal ‘n nuwe wêreld vir baie mense wat nie tevore uitvoerings kon bywoon nie, oopgemaak. Dit was seker die enigste goeie gevolg wat uit die inperking voortgespruit het.
Gueller is van mening dat ‘n direkte uitvoering aan ‘n lewendige gehoor nie vervangbaar is nie. Die kommunikasie en reaksie tussen die gehoor en die orkes bring ‘n kosbare atmosfeer wat bydra tot die sukses van die aanbieding. Die orkeslede veral word daardeur beïnvloed en aangemoedig om hul beste te lewer. Om met afstand soos nou tydens die inperking musiek aan ‘n onsigbare gehoor te bied bring by die hele orkes ‘n groot leemte aan opwinding en motivering en maak hulle selfs depressief. Wat Gueller betref is daar geen toekoms vir simfoniese orkesmusiek op hierdie wyse nie.
Die emosionele dinge hierbo genoem dra ook grootliks by tot die afname in kykers by hulle huise en vanselfsprekend ‘n tekort aan inkomste. Die Kaapstad se Filharmoniese Orkes sowel as die Jeugorkes benodig nou dringend fondse as hulle in die musiekwêreld wil oorleef. Daar heers groot dankbaarheid dat heelwat persone hulle gekanselleerde konsertfooie as skenkings gegee het, en daar was ook ander wat groot donasies geskenk het wat die orkes in die begin van die inperking geweldig gehelp het maar dit kon net tydelike uitkoms bied.
Nou bly daar by hulle nog een wens oor: dat konsertsale soos in 1918 net na die groot grieppandemie destyds, binnekort weer volgepak sal sit met musiekhonger konsertgangers wat die atmosfeer en orkes tot groot hoogtes sal lei.
Die tragedie wat tans in die Kaapse orkeste heers, geld ook vir elke ander orkes soos dié wat so gereeld in Pretoria en Johannesburg en baie ander stede opgetree het. Daar is soveel tekorte en ellende as gevolg van gebrek aan inkomste dat hulle nie net met donasies nie maar ook met opregte gebede kan doen.
Die vraag is net: wanneer sal die inperking tot ‘n einde kom? Of sal dit nie...