ONDERHANDELING- TAKTIEK

Johan Dorfling

Die doel van onderhandeling is om skriftelik of mondelings oorleg te pleeg om 'n ooreenkoms van gee en neem tussen twee of meer persone of partye te bereik. Dit moet vir beide 'n aanvaarbare ooreenkoms van voorstelle en afkeure wees. Onderhandeling is na sy aard iets feitelik en is 'n fyn kuns wat gebruik word om 'n redevoering vir 'n party se saak te wen.

Onderhandeling word nogal dikwels misbruik deur hoër eise te stel as wat werklik bereik wil word, byvoorbeeld 12% salarisverhoging en dan kastig toe te gee as die werkgewer bereid is om 6% toe te staan. Nou word die eis na 9% verminder en dit gestel dat die werkgewer in dieselfde mate moet toegee, want dit weerspieël 'n goeie gesindheid aan beide kante. As dit nie gedoen word nie, is die werkgewer ontoegeeflik en onredelik. Die waarheid is dat die eisers 9% in gedagte gehad het en dit gekry het, terwyl die werkgewer die volle 9% toegegee het.

Indien die werkgewer van die begin af aanvoer dat hy die werknemers se salarisse met 5% moet verminder omdat sy oorhoofse koste verhoog het vanweë hoër brandstofpryse en hoër BTW. Hy het sy pryse nogtans nie verhoog nie omdat hy begrip het vir die gewone publiek wat kos en klere moet koop. Dit tel egter nie dat die werkgewer se wins gedaal en sy verkope afgeneem het nie. Daar word steeds verwag dat hy hoër salarisse moet betaal, veel meer as die inflasiekoers. Dus ervaar hy groter verliese as die stakers wat nog meer skade veroorsaak. Die werkgewer word dubbel en dwars belas. Is dit regverdige onderhandeling as net na een kant gekyk word?  Dit is misbruik van onderhandeling wat nie toelaat moet word nie.

Die begrip onderhandeling word in die politiek en op ander gebiede verskuild en onbeskaamd misbruik. Daar word met Afrikaanse skole onderhandel om nie-Afrikaanssprekendes op te neem sodat hulle beter opleiding kan kry. Nee, dit is misbruik, want algou word van die skool geëis om na Engels oor te slaan sodat die paar nie-Afrikaanssprekendes bevoordeel kan word ten koste van die Afrikaanssprekendes. Indien dit geweier word, is die skole skuldig aan diskriminasie, asof diskriminasie (onderskeiding) 'n sonde is. Maar die enkele andertaliges onderskei (diskrimineer) juis Afrikaans teenoor Engels. Die vra vir hulp was skynheilig. (Josua 9:3-16).

Die onderhandelinge vir 'n swart regering wat twee of drie jaar voor 1994 'n  aanvang geneem het, was van die begin af gedoem. Valse versekerings is verkondig. IDASA se doel was om as 'n buite-parlementêre liggaam die verskillende politieke denkrigtings met mekaar te versoen. Op hierdie wyse word onderhandelinge uit die parlement gehou waar die meerderheid die verteenwoordigers van die volk was. Nou kon verskillende partye sake saam bespreek en met partye gelyk gestel, sal die meerderheid ander partye die minderheid oorstem vir maklike prysgee van beginsels. Blanke partye mog nie meer as die swart partye wees nie. Die CIA van Amerika was ook betrokke. Onmiddellik was die blankes getroef. Waarom die blanke regering se afvaardiging dit nie 'n hele paar jaar vooruit kon sien nie, is onbegryplik.

Die gevolg móés wees dat die volkstaatkonsep so gou moontlik daarna geïgnoreer sou word omdat die swart meerderheid sou regeer, sowel as afskaf van eie skole en eie woongebiede. Sommige blankes het hierdie dele van die onderhandelinge misgekyk totdat dit te laat was. Die oomblik wat 'n groep hulle by samesprekings inlaat, is dit 'n feit dat hulle aan die verloorkant gaan wees wanneer dit net van hulle verwag word om toegewings te maak. In hierdie geval het die swartes niks gehad om mee toegewings te maak nie. Hulle het volhard om geweld nie af te sweer nie. Buitendien, sodra 'n groep of party enige toegewings op beginsels maak, het hulle verloor. Ons volkgenote (swak of valse leiers) moes hulle geensins laat betrek het nie. Hulle het ‘n verkeerde beeld geskep dat die onderhandelinge gunstig vir die blankes sou verloop.

Afrikaners het sonder geweld en ewe gedienstig hulle onder beheer van volkvreemdes gestel. Selfvernietiging het begin intree, want die onbekwame leiers het oorgeloop en die volk leierloos gelaat. Toe moes 'n generasie verloop voordat ander leiers na vore kon tree.

Ons mense is met drogbeelde en 'n werklikheid van leuens mislei. Ons volk is in 'n geestelike oorlog ingetrek wat ons nie mooi verstaan nie. Die waarheid is dat ons slawe geword het van bose geeste van valse vrede en 'n goddelose werklikheid soos rasvermenging, bedrog, geweld, omkopery, moord en nog wat. Lees en luister na die nuusberigte. Satanisme en New Age vier hoogty. Ons geestelike lewe is oorspoel, selfs ons kerke is lam, sonder dat alle mense die werklikheid besef. Predikante is passief. Nou is die vraag of ons voortgaan om mee te loop met die gruwelike wat ons ondergrawe sodat ons in huise woon wat eintlik tronke is. Agter tralies.

Grondonteiening sonder vergoeding (ontneming van plase en besittings in dorpe en stede en ook ons geld in die bank), is op hande. Uit politieke kringe word beweer dat die blankes nie daarvoor bang moet wees nie, dit sal billik geskied. Vir my is dit soortgelyk as om te sê:  Moenie vir die diewe bang wees nie, hulle sal by jou huis inbreek en billik steel. Ons het mos self ervaar wat by IDASA onderneem was en wat toe geblyk het leë woorde te wees. Waarom moet die land se grondwet verander word as dit nie 'n set is nie?