Lees reeks by Die Nuwe Suid-Afrika (1990 en verder)
NP-leiers gebind deur Broederbond
EK het op 16 Februarie 1987 die volgende brief hieroor gerig aan die toenmalige provinsiale leiers van die NP, naamlik mnr. FW de Klerk, mnr. Chris Heunis, mnr. Kobie Coetsee en mnr. Stoffel Botha:
“In die komende algemene verkiesing wil u party ’n mandaat hê vir magsdeling met die Swartes van Suid-Afrika. U het egter nog geen aanduiding gegee van wat die aard en omvang van die magsdeling sal wees nie. Waar dit so ’n ernstige saak is, is die versuim onrusbarend.
“Dit is veral onrusbarend omdat die Broederbond, waarvan u ’n lid is, in sy onlangse geheime werksdokument met die titel ‘Basiese staatkundige voorwaardes vir die voortbestaan van die Afrikaner’, ’n uiteensetting van magsdeling met Swartes gegee het wat van uiters ingrypende aard is.
“In die geheime dokument word die terminologie gebruik wat eie aan u party geword het, soos byvoorbeeld ‘voortbestaan in geregtigheid’, ‘groepsregte wat nie verabsoluteer moet word nie’, ‘deelname op alle vlakke van besluitneming’, magsdeling moet sodanig wees dat daar nie groepsoorheersing sal wees nie’, ‘die regte en aspirasies van groepe moet beskerm en bevredig word’, ens.
“Die Broederbond-dokument gaan egter veel verder en gee duidelik inhoud aan hierdie frases deur onder andere te sê dat die beoogde magsdeling met Swartes ‘inderdaad kan beteken dat in sommige modelle die staats- en/ of regeringshoof nie noodwendig ’n Blanke is nie’, en dat ‘die meerderheid van die regeringslede wel Swart kan wees’. (Par 3.7 en 3.9)
“Hieruit is dit duidelik dat hoewel die waarheid nog effe vermom word deur woorde soos ‘in sommige modelle’, die Broederbond hom in die geheim verbind het tot aanvaar ding van ’n Swart meerderheidsregering en ’n Swart (of Nieblanke) President.
“Wat hierdie slotsom beklemtoon, is die stelling by par. 4.3 van die Broederbonddokument, naamlik dat die toets vir aanvaarbaarheid moet wees wat in ons belang sou wees ‘indien ons byvoorbeeld in opposisie sou beland’. Dit beteken dat die Broederbond in vooruitsig stel en erken dat volgens sy konstitusionele plan die Blankes in opposisie sou kan beland teen ’n Swart meerderheidsregering. En dan word in die paragraaf verder gesê: ‘menslik gesproke kan daar geen waarborge bestaan nie’, dit wil sê die herhaalde versekerings dat die aspirasies van groepe wat beskerm en bevredig moet word’ en dat daar ‘nie groepsoorheersing’ moet wees nie, is ydel praatjies. ’n Swart meerderheidsregering sal uiteraard die veiligheidsmagte beheer en sal die Blanke opposisie en Blanke volk magteloos en regteloos laat: daar is geen waarborge nie.
Skuld aan kiesers
“Hoe ver die Broederbond al van links geïnfiltreer en gekondisioneer is, blyk uit die laaste paragraaf van die geheime dokument waarin gesê word dat die wydsmoontlike deelname aan die opstel van ’n grondwet verseker moet word, en dan word verklaar dat ook ‘die wat moet voldoen aan die spesifieke vereiste van die afswering van geweld’, ingesluit moet word— ’n onmiskenbare identifisering van die ANC.
“Dit is derhalwe onbetwisbaar dat die Broederbond die ANC in ’n nasionale konvensie by die opstelling van ’n nuwe grondwet betrek wil hê. En natuurlik as die ANC ’n grondwet help opstel vir Suid-Afrika, sal die verbod op die ANC opgehef moet word, sal hy sy bedinging uitoefen deur rewolusiegerigte aksies, en sal die Regering as ’n deelnemende party aan so ’n konvensie feitlik verlam wees. Dit is presies waarna die Kommunistiese Party strewe. Uit so ’n konvensie moet ’n regering kom waarin die ANC verteenwoordig sal wees, met sy kommunistiese beheer. Dit is die politieke resep waarmee die Kommuniste hulle magsgreep gewoonlik uitvoer: hulle frontorganisasie (die ANC) moet net eers deel van die regering word.
“Niemand kan so naïef wees om te dink dat die Broederbond nie weet dat dit is waarop sy geheime grondwetplan sal uitloop nie. Die indruk is onontwykbaar dat die Broederbond gebruik word om onder Afrikaners hierdie ondermynende idees en verwoestingspolitiek te bevorder.
“U is lid van die Broederbond, soos die groot meerderheid van u mede-Kabinetslede, die Staatspresident inkluis, en die groot meerderheid van die NP-koukus.
“U skuld dit aan die kiesers om te verklaar hoe dit moontlik is dat die Broederbond hierdie infame geheime plan vir ’n Swart meerderheidsregering, met die kommunisties-beheerde ANC daarby ingesluit, onder sy lede kan propageer as u en ander belangrike NP-figure wat Broederbondlede is, nie daarmee akkoord gaan nie.
“Uit my kennis van Broederbondprosedure tydens my lidmaatskap van 1949 tot 1972 is dit heeltemal ondenkbaar dat die Broederbond so ’n radikale dokument sou uitvaardig sonder die medewete en goedkeuring van die Broederbondlede wat NP-leiers is. Die feit dat na verloop van maande waarin hierdie ondermynende dokument openbaar gemaak is, u of enige ander NP-leier dit nog nie gerepudieer het nie, bevestig my afleiding dat u en ander NP-leiers nie beswaar teen die dokument het nie, of dat u magteloos is teen die geknoei van die Broederbond.
“U staan beskuldig daarvan dat u deur u Broederbondlidmaatskap deel het aan hierdie verraderlike gekonkel agter die rug van die Blanke volk om die ANC deur ’n nuwe grondwetlike proses in die regering te laat deel as voorspel tot ’n noodwendige kommunistiese oorname as eindresultaat.
“Ek wil u vra om aan die kiesers van Suid-Afrika duidelik te sê hoe u u Broederbondlidmaatskap regverdig as u nie hierdie geheime geknoei goedkeur om die Blankes uit te lewer aan ’n proses wat noodwendig sal lei tot ’n toekomstige Swart Kommunistiese regering”.
Beteuterde antwoord
Daarop het mnr. FW de Klerk geantwoord. Sy brief was baie kort. Die tersaaklike deel het soos volg gelui:
“Ek erken ontvangs van u brief van 16 Februarie 1987. U het dit goed gedink om ook ’n gelykluidende brief aan die ander drie Provinsiale Leiers van die Nasionale Party te skryf.
“Namens die vier Provinsiale Leiers van die Nasionale Party wens ek mee te deel dat ons geen behoefte daaraan het om per korrespondensie of andersins met u in dispuut te tree oor dokumente van ander organisasies nie”.
Dit is ’n ongelooflik beteuterde en waarheidontwykende antwoord op ’n brief waarin ’n saak van die grootste politieke belang uitvoerig behandel is, met uiters sterk morele implikasies vir De Klerk en sy kollegas. Die brief het aan hulle die geleentheid gegee om of die Broederbonddokument te repudieer of dit te onderskryf. Dit is wat politieke eerbaarheid vereis het.
Die antwoord kan net beteken dat hoewel De Klerk en sy kollegas as Broederbondlede reeds in 1986 verbind was tot aanvaarding van die kommunisties beheerde ANC as gespreksgenoot oor Suid-Afrika se toekoms en tot die beginsel van Swart regering, sonder enige waarborge vir die Afrikanervolk se waardes en regte, hulle verkies het om die kiesers daaroor bedrieglik in die duister te hou.
Hulle het dus as NP-leiers ’n geheime agenda gehad, en het kiesers mislei oor die ingrypende beleid waartoe hulle verbind was weens hulle Broederbondlidmaatskap.
Geen party en geen partyleier kan met selfrespek daarop aanspraak maak nie dat die gebruik van sulke oneerbare politieke metodes aan hom ’n mandaat besorg. De Klerk en sy kollegas se aanspraak dat hulle ’n mandaat het vir hulle uitverkoping van die Blankes aan ’n stelsel van een mens, een stem, Swart meerderheidsregering en medeseggenskap van die Kommunistiese Party deur die ANC, is vals en blote bedrog.
Wat net so belangrik is, is dat die Broederbond nou geïdentifiseer is as ’n instrument van verraad van die Afrikanervolk.
Vervolg...