Dr Eschel Rhoodie (1984)
Lees reeks by Die ware inligtingskandaal
Die doel met die plasing van hierdie inligting oor die destydse Inligtingskandaal is om die leser perspektief te gee oor hoe Suid-Afrika tot by die haglike verval van 'n swart regering gekom het. Die verraad wat destyds in die kabinet van Vorster, PW Botha, Pik Botha en De Klerk plaasgevind het, nie net teenoor ons Boerevolk nie, maar ook onder en teenoor mekaar in die parlement, getuig van hul veragtelike motiewe en handeling.
SWART VRYDAG (2)
Nadat ek die Departement in Julie 1978 verlaat het, het ek vir ’n tydjie oorsee gegaan om saam met Stuart Pegg en sy familie in die Straat van Tiran, naby Sharm-el-Sheilagri ook by Ras-Muhammed, waar die Rooi See by die Golf van Suez aansluit, te gaan duik. By my terugkeer na Suid-Afrika het generaal Van den Bergh na my gekom en gesê dat die geheime projekte van die Departement so omvangryk was en die dokumentasie so geweldig dat dit hom van twee tot drie jaar sou neem om ’n volle waardebepaling en opsomming van die doeltreffendheid van die verskeie operasies te maak.
Met my hulp kon die tydsduur egter met die helfte verkort word. Ek het dadelik ingestem om te help. Ek was toe onverbonde, Direkteur van Orbis (Edms) Bpk., ’n maatskappy wat ek vir ’n Switsers-Duitse konsortium gestig het vir wie ek as ’n buitelandse beleggingskonsultant gewerk het. Ek kon kom en gaan soos ek wou, derhalwe het ek my dienste vrywillig aan Van den Bergh aangebied. Ek sou elke weeksoggend saam met hom en sy ondersoekspan werk.
Vir drie maande het ek elke oggend na die kantore op die tiende vloer van die Kingsley-Marais-gebou in Beatrixstraat, Arcadia, gegaan om die generaal en sy span by te staan. Ek het net vrae beantwoord. Honderde van hulle, op band, en het hulle gehelp om die regte dokumentasie te vind en die sogenaamde “spoke” of geheime medewerkers vir samespreking met die generaal in te bring sodat hy die inligting wat ek aan hom gegee het teenoor die van sy ondersoekspan kon kontroleer. Nie een van hulle het een keer iets gesê wat die inligting wat ek gegee het weerspreek het nie. Al die medewerkers het die ontvangs van gelde erken soos deur my aan generaal Van den Bergh uiteengesit.
Ons het so vinnig gevorder dat generaal Van den Bergh byna sy opsomming van die geheime aktiwiteite van die Departement voltooi het (maar nie die waardebepaling nie) toe ’n reeks dramatiese gebeure die wêreld op sy kop laat staan het, vir hom, vir Mulder, vir Vorster en vir Suid-Afrika.
Op 15 September het Vorster vir Van den Bergh ingeroep en aan hom gesê dat hy besluit het om as Eerste Minister te bedank. Sy ware motivering is nooit aan iemand uitgespel nie, maar ek vermoed dat hy die skrif teen die muur gesien het. Indien Van den Bergh se verslag aan die Kabinet moes voorgelê word, soos die Kabinet sonder twyfel sou op aangedring het, sou mnr. Vorster se rol in die finansiering van The Citizen aan alle Kabinetslede bekend geword het. Die Kabinet sou ontplof. Hulle sou voel, en tereg ook, dat as Louis Luyt deur Vorster met so ’n geheim soos The Citizen vertrou kon word waarom nie die Kabinet nie? Dit is presies wat Hendrik Schoeman ook agtema gesê het.
Vorster se eie party-ondersteuners was al hoe meer krities teenoor die wyse waarop die Inligtingsaak hanteer was. Hy het ook aan generaal Van den Bergh gesê dat hy baie bekommerd was oor die geheime wat aan die pers uitgelek het. Instede daarvan dat dit na my vertrek doodgeloop het en ten spyte van die herstruktuering van die Departement en die aanstelling van ’n nasionale bekende figuur soos generaal Van den Bergh om die projekte te evalueer, het die pers hulle grawery voortgesit. Meeste van hulle het vermoed dat ek nie uit vrye wil bedank het nie, maar geoffer was in die hoop dat dit ’n einde aan die indringende ondersoek sou bring.
Dit het niks gehelp nie. Vorster se afgryslike flater was sy oortuiging dat slegs genoeg inligting die pers bereik het om my te vernietig, maar nie genoeg om sy eie rol bloot te stel nie.
Alhoewel die pers nie die hele Barrie verslag gepubliseer het nie, omdat Vorster aan Van den Bergh opdrag gegee het om meeste as aktiwiteite van die Buro te identifiseer, (my en my broer se sake uitgesluit,) het hulle natuurlik die ander name en instansies steeds voor hulle gehad. Bewapen met die materiaal uit Gerald Barrie se geheime verslag was dit daarna baie maklik vir die pers om die leidraad tot by ander geheime maatskappye en medewerkers in Suid-Afrika en die buiteland op te volg. Dit is waarom ek moes lag toe ek sien dat Kitt Katzin van The Sunday Express ’n plaaslike en intemasionale prys vir “ondersoekende joernalistiek” gekry het. Omdat hy eintlik ’n sorgelose, vriendelike en sportiewe joemalis is, was ek teleurgesteld dat Kitt Katzin nie die toekenning wat hy ontvang het teruggegee het nie, trouens hy moes dit in die eerste plek nooit aanvaar het nie. Die beste nuusstorie wat hy “geskryf" het, is uitgetik en gefotokopieer op ’n skinkbord aan hom aangebied.
Vorster se besluit was ’n kwalik-bedekte bekentenis dat hy die Eerste Minister se pos gaan ontruim terwyl hy dit nog met grasie kon doen. Hy was die skadufiguur wat die toutjies getrek het wat sy strooipop, Gerald Barrie, laat dans het. Die man wat die gat vir my en ’n super-lojale Connie Mulder gegrawe het.
Maar wie was die manne wat in die eerste plek die geheime inligting in opdrag aan die SAAN koerante besorg het, geheime wat seifs Gerald Barrie toe nog nie van geweet het nie?
In hulle boek Muldergate word Rees en Day se twee bronne van inligting as “Daan” en “Myrtle” aangegee. Skuilname. Rees skryf ook openlik hoe dikwels hy met advokaat Retief van Rooyen geskakel het en hoeveel inligting van Rooyen aan hom verskaf het.
Volgens Rees het van Rooyen hom op een stadium beloof dat hy ’n “bom" gaan lewer. Rees skryf ook van sy kontak met Les de Villiers in Pretoria en New York. Ook van gesprekke met Koos Waldeck en Roland Hepers van die Departement van Inligting. Maar nêrens in sy boek maak hy die pertinente bewering dat hierdie die mense is wat hom van inligting voorsien het nie, alhoewel Retief van Rooyen, volgens die boek, klaarblyklik ’n soort politieke alliansie met The Rand Daily Mail se verslaggewers teen Connie Mulder aangegaan het.
Rees beweer nie dat hierdie mense hom geheime inligting verstrek het voordat dit nog aan enigiemand anders buite die Departement bekend was nie. En tog wys hy in hulle boek baie beslis die vinger na sommige individue.
Volgens Rees was sy eie sogenaamde “Deep Throat” of spesiale bron, “’n hooggeplaaste staatsamptenaar met intieme kennis van die geheime projekte van die Departement van Inligting.” Dit vernuwe die veld al dermate dat net ses mense oorbly: generaal Van den Bergh, Gerald Barrie, Les de Villiers, Braam Fourie en my broer en ek. Niemand anders wat geweet het kom naby aan hierdie beskrywing nie.
Van hierdie mense was daar net ses staatsamptenare en net vyf kan as hooggeplaas beskryf word. Wie onder die vyf amptenare wie se name ek verstrek het, kon ’n motief gehad het, plus die intieme inligting uit die binnekring, om aan Rees sulke besonderhede te verskaf? Die twee Rhoodies kon onmiddellik uitgeskakel word, ook generaal Van den Bergh en Braam Fourie. Laasgenoemde was ’n totaal a-politiese figuur. Deur eliminasie staan twee figure hier uiteindelik heeltemal op hulle eie, Les de Villiers en Gerald Barrie.
Die ander bron van Rees word in sy boek as “Daan” beskryf. By ’n geleentheid blaker “Daan” sommer ongevraagd aan Rees uit dat die Rand Daily Mail eintlik agter die Klub van 10 in London moet gaan. Baie min mense in die regering het die verhaal van die Klub van 10 geken. Die Kabinetskomitee, Denys Rhoodie, die generaal, Braam Fourie, Les de Villiers en ekself. “Daan” en Rees het egter in die middel van die nag by ’n verlate parkeerterrein bymekaar gekom waar “Daan” van sy geheime kennis ontslae geraak het. Kan enigiemand met ’n mate van gesonde verstand ’n toneel indink waar mnr. Vorster, dr. Horwood of Gerald Barrie die Mail se verslaggewer in sulke omstandighede ontmoet om die geheime uit te blaker?
Dit is hier waar “Daan” se onderrok begin uitsteek. Toe Mervyn Rees aan hom vra hoe die Klub van 10 ontmasker kan word, vertel “Daan” hom onmiddellik dat Lampas Nichas oorsee gestuur is om tydens ’n perskonferensie in London ’n tjek van £50 000 aan die Klub se bestuur te oorhandig. “Daan” vertel ook in besonderhede watter strategie ons destyds beplan het om die geheim van die Klub en die oënskynlike private karakter daarvan te beskerm.
Maar slegs vier mense het van mnr. Nichas se besoek aan London geweet, dr. Mulder, generaal Van den Bergh, Les de Villiers en ek.
Moet ek nou uit voorgaande aflei dat “Daan” niemand anders as Les de Villiers was nie? Ek verwerp dit en tog, soverre dit die kenners van die Inligtingsverhaal betref, sekerlik die binnekring, wys Rees regstreeks vinger na de Villiers. Indien ek de Villiers was sou ek die sterkste beswaar aanteken.
Op 25 Augustus 1978 skryf Rees in ’n memorandum aan die Redakteur van The Rand Daily Mail van die geld wat die regering aan John McGoff vir die Washington Star projek gestuur het. Hy verwys in sy memorandum na die feit dat McGoff die geld vir homself gehou het.
Rees voeg hieraan toe: “Ons inligting is dat McGoff ’n groot konfrontasie met Rhoodie gehad het”. Maar hierdie konfrontasie was nooit op skrif geplaas nie. Dit het slegs openbare kennis geword nadat die Erasmus-Kommissie sy laaste verslag in die jaar daarna gepubliseer het. Die enigste persone wat van die botsing geweet het, was diegene wat teenwoordig was nl. Dr. Mulder, ekself, McGoff en sy vriend Leipprandt en Les de Villiers. Weereens wys Rees sy vinger na de Villiers. Wat nog erger is, hy skryf in sy boek van ’n grappige opmerking wat ek teenoor de Villiers gemaak het om hom die regering se huis in Miami as ’n aftreeplek aan te bied wanneer die dak eendag sou inval. Daar was niemand anders teenwoordig toe ek dit aan de Villiers gesê het nie. Tog verskyn dit in ’n memorandum wat Rees aan sy redakteur geskryf het nog voordat die Inligtingskandaal uitgebars het. Rees dwing my om tot die gevolgtrekking te kom dat de Villiers hom hierdie stukkie inligting gevoer het.
In nog ’n treffende voorbeeld skryf Rees dat die verslaggewers van SAAN die kodename van verskeie persone en projekte geweet het, insluitende die kodename wat die binnekring by Inligting teenoor mekaar gebesig het. Daar was egter een besondere kodenaam vir (wyle) Marius Jooste wat ek uit respek teenoor sy familie nie hier sal noem nie. Daardie kodenaam was slegs aan my, my broer en Les de Villiers bekend. Die logiese afleiding is dat Rees hierdie inligting van De Villiers moes ontvang het. Watter ander “hooggeplaaste staatsamptenaar” het daarvan geweet? Niemand nie.
In sy memorandum aan die Redakteur van die Mail in 1978 waarin hy gedetailleerde besonderhede van The Citizen as geheime projek uiteengesit het, voorsien Rees ook die name van die mense wat die vergadering in Les de Villiers se huis in Waterkloof bygewoon het toe die groen lig aan Luyt gegee is om met die koerant te begin. Gesonde verstand vertel mens dat Luyt en sy ouditeur nie rede gehad het om sulke inligting in 1978 aan die pers te gee nie.
Dr. Mulder, generaal Van den Bergh, Alberts en ekself was almal slagoffers van die Inligtingsdrama. Maar de Villiers was nie.
Rees gaan nog ’n stap verder in sy vingerwysery. Hy beskryf die ontmoeting in die Holiday Inn in April 1977 toe Louis Luyt en ek in ’n hewige botsing met mekaar was. Daardie argument op daardie betrokke aand was slegs aan dr. Mulder, Van Zyl Alberts, Luyt en sy ouditeur en ek bekend. De Villiers was nie eens daar nie. Die botsing is nooit aan iemand anders oorvertel nie, behalwe aan De Villiers en Denys Rhoodie. Nie aan mnr. Vorster of selfs generaal Van den Bergh nie. Volgens Rees het Luyt gesê dat hy daardie “James Bond” (menende ek) “sou regsien”. Maar hoe snaaks, hoe uiters snaaks, dat hierdie sin, amper woord vir woord, ook in De Villiers se boek Secret Information verskyn, sowel as in Rees se memorandum, met die verskil dat Rees se memorandum ongeveer twee jaar voor die verskynihg van De Villiers se boek geskryf is! Die logiese gevolgtrekking is weereens dat De Villiers Rees van hierdie botsing in die Holiday Inn moes vertel het. Op daardie stadium sou Luyt en sy ouditeur kranksinnig gewees het om so iets aan die pers uit te lap. Hy het in elk geval eers agt maande daama The Citizen verlaat. Dit laat De Villiers weereens reg in die middel van Rees se visier.
Op een stadium het Rees aan sy Redakteur geskryf dat sy bron “Myrtle” hom in kennis gestel het dat Thor Communicators groot besigheid vir die Departement van Inligting hanteer het. Hy het daarby gevoeg dat sy bron aan hom gesê het: “Julle moet aanhou druk oor The Citizen, Valhalla Woonstelle, The Washington Star en die Plettenberg Baai huis”. Dit was nogal ’n mond vol geheime op een slag! Deur ’n proses van eliminasie kan slegs Retief van Rooyen as “Myrtle” oorbly aangesien De Villiers nie van my belangstelling in die Valhalla woonstelle geweet het nie. In die departement self het net Reynders en Braam Fourie hiervan geweet.
Rees skryf in sy boek dat, kort nadat hy hierdie memorandum aan sy redakteur gerig het, hy Retief van Rooyen in Pretoria gaan sien het: “ Advokaat van Rooyen. Ons weet dit was voorgestel dat van Thor se fondse gebruik word om ’n strandhuis in Kaapstad te koop,” het hy aan Van Rooyen gesê. Dit het regtig die kat uit die sak gelaat want op daardie stadium was die enigste persone wat iets geweet het van my planne om ’n strandhuis te koop my swaer, Retief van Rooyen ek ekself. Dit was toe nog nie eers aan die res van my gesin of aan my eie rekenmeester bekend nie. Trouens, inligting omtrent hierdie transaksie het eers as gevolg van die publikasie van die Mostert Kommissie se gegewens die lig gesien. Rees het nou wel in die besondere geval nie so ver gegaan om Van Rooyen na “Myrtle” te herdoop nie maar sy vinger wys beslis in sy rigting.
Op soortgelyke wyse gaan Rees voort om te skryf oor hoe sy bron hom oor die verkoop van die aandele in Luyt se vliegtuig aan Thor Communicators ingelig het. Dit was ’n feit wat slegs aan Braam Fourie, dr. Mulder, Les de Villiers, ek en Retief van Rooyen bekend was. Dieselfde bron vertel hom by dieselfde geleentheid hoedat Anthony Quin, die Griekse filmster, ’n woonstel in Clifton aangebied is as betaling vir sy optrede in die rolprent “Tigers Don’t Cry” wat Jan van Zyl Alberts en Thys Heyns gemaak het. Op daardie stadium was die inligting slegs aan Alberts en Retief van Rooyen bekend. Ek self het eers ’n jaar daarna van die saak gehoor. Hier wys Rees weer vinger na Roller van Rooyen.
Dit moes ook erg embarasserend vir Retief van Rooyen gewees het om in Muldergate te lees dat, voordat die res van die wêreld dit gesien het, Roes reeds van ’n geswore verklaring wat Van Rooyen aan die Mostert Kommissie oorhandig het geweet het. As dit nie Van Rooyen is wat die Mail hieroor ingelig het nie dan was dit Regter Mostert en dit verwerp ek onmiddellik.
Volgens Rees was die skuldige party “Myrtle”, maar die enigste “Myrtle" wat in die prentjie oorgebly het was Retief van Rooyen self.
Op 7 Mei 1978 het The Sunday Times ’n verslaggepubliseer van ’n bedrag van $2 miljoen wat Thor Communicators van ’n Switserse Bank ontvang het.
Toe Rees vir Retief van Rooyen daaroor nader het van Rooyen erken dat hy van die fondse se aankoms geweet het. Op daardie stadium was die enigste mense wat vooraf van die aankoms van die geld geweet het Les de Villiers, Retief van Rooyen, Braam Fourie en ekself. Dr. Mulder het nog nie daarvan geweet nie, ook nie mnr. Vorster of mnr. Barrie nie. Soos Rees ook destyds geskryf het: “The Sunday Times het klaarblyklik toegang tot iemand in die binnekring van Thor”. Dit werp ’n duidelike refleksie op Van Rooyen.
Rees voorsien selfs ’n motief wat Van Rooyen tot die stap oorgehaal het om Inligting se geheime aan die pers te verraai. Hy skryf dat Van Rooyen behep was met die idee om dr. Mulder, generaal Van den Bergh en myself “te stop”.
Volgens Rees het Van Rooyen gevoel dat hierdie drie manne die nuwe “diktators” in Suid-Afrika gaan word. Hoedat hy tot hierdie idiotiese gevolgtrekking gekom het weet slegs hy. Ek was veronderstel om sy vriend te wees wat eendag langs hom in Natures Valley gaan aftree. Ons vrouens was boesemvriende. Hulle was dikwels saam by ons aan huis. Maar hy sê nooit ’n woord teenoor my nie. Hy debateer nie eens my politieke standpunt nie.
Generaal Van den Bergh was weer mnr. Vorster se vertroueling, en op daardie stadium was Vorster nog stewig in die saal. Onaktief ja, maar stewig in die saal en Vorster was Van Rooyen se beskermheer. Van Rooyen het dr. Connie Mulder nog nooit in sy lewe persoonlik ontmoet nie en het van Mulder se politieke filosofie niks geweet nie. Wat hy wel daarvan uit die pers kon aflei was dat dr. Mulder ’n baie lojale Vorster-ondersteuner was. Maar hierdie drie manne sien hy as die “diktators” van die toekoms! Wat ’n veragtelike leuen!
Aan Rees word vertel dat indien hierdie drie die leisels sou oorneem hy “polities dood” sou wees. “Van Rooyen het geweet dat hy iets moes doen, en dit waaragtig vinnig moes doen om hulle te stop,” skryf Rees.
Selfs al sou hierdie gesprek eers heelwat later in die drama plaasgevind het, word Van Rooyen in Rees se boek tog duidelik as ’n desperate politieke figuur geskets en dat hy polities sterk gemotiveer was om as radikale aktivis op te tree.
Mervyn Rees het ’n wavrag harde en omstandigheidsgetuienis in sy boek geproduseer wat by almal van ons wat met die geheime projekte gewerk het die duidelike indruk gelaat het dat Van Rooyen en De Villiers sy bronne van inligting was. De Villiers en Van Rooyen was nog boonop beter vriende as wat De Villiers en ekself blykbaar was, vandaar De Villiers se versoek aan Van Rooyen om mnr. Vorster se instruksies oor sy toekoms in Inligting te verkry, terwyl hy my in die duister gehou het. Van Rooyen het ’n baie sterk, amper irrasionele, politieke motief gehad terwyl De Villiers die ontevrede, ambisieuse amptenaar was wat nie bo kon uitkom sonder om die Rhoodies uit die pad te vee nie.
As daar aanvaar moet word dat dit nie die bedoeling van Rees was om sy vinger so duidelik na De Villiers en Van Rooyen te wys nie, dan het hy onbewustelik ’n merkwaardige oortuigende saak teen hulle uitgemaak. Enige redelike persoon wat met die geheime projekte gewerk het en die kronologiese volgorde van gebeure in gedagte hou sal nouliks tot ’n ander gevolgtrekking kan kom. Ek onderskryf nie Rees en Day se uitkenningsparade nie. Ek onderstreep wel die feit dat indien Rees wil hê dat die ou garde van die Departement van Inligting moet glo dat “Myrtle” en “Daan” nie Van Rooyen en De Villiers is nie, dan het hy laasgenoemde twee here ’n groot ondiens bewys.
Daar kon natuurlik, en daar is waarskynlik, ’n ander bron gewees het waaruit Rees en die SAAN koerante hulle inligting geput het. Daar kan seifs twee bronne wees.
Die een was die Ouditeur-Generaal wie sedert Julie 1977 reeds in die geheime projekte van Inligting rondgedolwe het om sy verslag aan John Vorster op te stel. Maar ek glo nie dat mnr. Barrie self hierdie inligting aan die pers gegee het nie. Dit is waar dat hy die enigste persoon buite die Kabinetskomitee, die Departement, en generaal Van den Bergh en Van Rooyen was wat soveel geheime inligting tot sy beskikking gehad het. Dat daar wel lekkasies uit sy kantoor van sekere geheime was het ek egter nie die minste twyfel aan nie.
Die ander bron weer kon moontlik mnr. Vorster self gewees het. Weens die feit dat hy voorsitter van die Kabinetskomitee was, plus die feit dat hy deur my, Loot Reynders, Gerald Barrie en Van Rooyen goed op hoogte van sake gehou is, het beteken dat hy alle inligting gehad het wat hy aan die pers wou laat lek het. Hy het seker ’n motief gehad. Deur selektief te werk te gaan kon hy inligting wat vir my persoonlik skadelik sou wees openbaar maak. Mnr. Vorster kon egter nie en sou nie met die verslaggewers van The Rand Daily Mail regstreeks oor sulke sake gesels nie en ek kan my nie voorstel dat hy of dr. Owen Horwood in die nag in parkeerruimtes gaan rondsluip nie. Nee, mnr. Vorster het sekerlik nie met die pers gesels nie. Maar ander mense in wie hy vertroue gehad het kon dit doen indien hulle gevra of aangesê was om dit te doen.
Natuurlik kan daar ’n heel maklike en verstaanbare rede vir al hierdie lekkasies wees en vir al die geheime feite wat in Rees en Day se boek mens in die gesig staar, naamlik dat die Mail nooit die inligting wat Rees en Day beweer het dat hulle ontvang het, gekry het nie. Hulle het ook nie die inligting op die datum en plek ontvang soos wat hulle beweer dit plaasgevind het nie. Die memorandums in hulle boek Muldergate het nooit bestaan nie. Daar was gcen “Myrtle” nie. Daar was geen “Daan” nie. Hulle het nooit met Van Rooyen en De Villiers en die ander persone gesels nie. Hulle het al hulle inligting eers ná die tyd bymekaar gemaak; uit hulle gesprekke met my in Ecuador in 1979, uit ou koerantverslae, uit die drie verslae van die Erasmus-Kommissie (nie die 6 000 bladsye gepubliseerde getuienis nie, dit het eers ná hulle boek beskikbaar geword) en uit gesprekke met Van Rooyen en ander mense ’n jaar of twee na die gebeurtenisse.
Daarna het hulle gaan sit en die hele boek van kant tot kant gekook, vervals. Hulle het “Daan” en “Myrtle” opgemaak. Hulle het denkbeeldige memorandums opgestel wat hulle beweer het dat hulle in 1978 en 1979 aan hulle redakteur geskryf het. Hulle het al hierdie dinge gedoen slegs om die Engelssprekende publiek te oortuig dat hulle eintlik die slim, hardwerkend joernaliste was, en dat al die toekennings aan Kitt Katzin van The Sunday Express, sonder dat hy daarvoor moes werk, eintlik na hulle twee moes gaan.
Enigiemand wat voorgaande verduideliking aanvaar sal natuurlik ook bereid wees om te glo dat mnr. P.W. Botha eintlik drs. Mulder en Treurnicht baie admireer en dat mnr. Pik Botha en ek in die geheim briefies uitruil om mekaar te vertel hoeveel ons van mekaar hou! Die feit is dat al die redakteurs van die SAAN koerantgroep in 1977 — 1978 daardie selfde memorandums ontvang het, nie net die Mail nie. Nadat hulle die inhoud bestudeer het, het hulle gesamentlike fondse beskikbaar gestel om Rees en Day se oorsese reis en ander uitgawes te dek. Bo en behalwe hierdie feit is dit ongelukkig ook so dat die SAAN koerante, en veral The Rand Daily Mail wel in 1977 en 1978 inligting gepubliseer het wat ons as geheim beskou het. Hulle het dus beslis nie die inligting eers in 1979 bekom nie maar wel op die datums wat hulle aangegee het. Ons het ook al in 1977 telefoonoproepe van SAAN joemaliste ontvang wat dit vir ons duidelik gemaak het dat hulle toegang tot ons geheime verkry het. Ten slotte het Rees en Day in hulle boek sekere stellings, grappige om kodename gepubliseer wat slegs aan my en my broer en een of twee ander mense bekend was.
Muldergate bevat baie onsin en baie wat onwaar is, maar die data wat “Myrtle” en “Daan” aan Connie Mulder se vyande besorg het was ongelukkig heeltemal outentiek. Ek glo dat die inligting wat uiteindelik dr. Mulder se politieke dood veroorsaak het, planmatig in die geheim aan die opposisie pers gelek is.
Die enigste vraag wat onbeantwoord bly is wie vir “Myrtle” en “Daan” instruksies kon gee om hulle verradelike daad te pleeg? Wie was hierdie persoon wat soveel invloed of gesag gehad het dat “Daan” en “Myrtle” bereid was om hulle vriende en kennisse te verraai en self die gevaar te loop dat hulle uitgevang kon word? Indien Mnr. Vorster gelukkig was om te sien dat slegs genoegsame inligting na die pers uitlek om my te forseer om te bedank, dan sou hy tog nie enige verdere inligting wou laat uitlek nie. Daar was eenvoudig geen enkele rede daarvoor nie. Maar iemand wat mnr. Vorster se volle vertroue geniet het, en in die geheim daarop uit was om mnr. Vorster uiteindelik ook uit te skakel, sy plek in te neem, ’n ander ambisieuse politieke figuur, kon wel die man gewees het wat vir “Daan” en “Myrtle” aangevoer het. Dit is ’n tergende geheim waarop slegs mnr. Vorster lig sou kon werp.
’n Groep Nasionale Party parlementslede in die teater van die Departement van Inligting luister aandagtig na ’n uiteensetting van die geheime aksies van die departement deur dr. Mulder). Sommige van hierdie persone was lede van mnr. Botha se Kabinet bv. mnr. F. W. de Klerk en mnr. Pen Kotze. Links op die voorgrond sit dr. D.O. Rhoodie adjunk-sekretaris van Inligting. By ’n soortgelyke geleentheid in Kaapstad het feitlik die hele Inligtingstudiegroep van parlementariers van omtrent 40 lede, die uiteensetting bygewoon. Talle lede van die groep soos adv. Louis Nel, Dawie de Villiers, Barend du Plessis, Dennis Worral het aan talle geheime projekte oorsee meegedoen, wetende dat dit deel van ons geheime aksies was. By hierdie geleentheid het hulle dr. Mulder ’n luide applousgegee nadat hulle alles aangehoor het. Van hierdie selfde projekte is later deur die Erasmus-Kommissie ondersoek. Toe die Kabinetslede van mnr. P. W. Botha egter voor die Erasmus-Kommissie moes getuig het nie een na voregetree en gesê dat hy kennis van die projekte gedra het nie. Algehele politieke vergeetagtigheid het skielik 'n siekte geword.
Vervolg...