Dr Eschel Rhoodie (1984)
Lees reeks by Die ware inligtingskandaal
Die situasie het in die sestiger-jare geensins verbeter nie.
By my aankoms in die Verenigde State, in Washington, het ek gevind dat die Ambassadeur met'n Kanadese meisie getroud is wat geen Afrikaans geken het nie. Sy was 'n verfynde dame, maar dit was nie vir my ter sake nie. In Nederland het ek 'n Ambassadeur gevind, getroud met'n Sweedse meisie en ten spyte van 25 jaar saam met haar man in die diens van Suid-Afrika, ook geen duidelike sin in Afrikaans kon kwytraak nie. Wanneer sy Hollandse gaste onthaal het, het sy gewoonlik gesê: "Nou, in Swede maak ons Swede ..." wat daarop mag volg).
Hierdie was die "lae-profiel" mense.
In Nederland het die Ambassadeur by 'n dinee aan my huis vir die eerste keer met die toekomstige Eerste Minister van Nederland, Barend Biesheu en twee van die sterkste politieke leiers van daardie tyd, Toxopeus en Melle kennis gemaak. Dit moes natuurlik andersom gewees het. Ek het baie meer Parlementslede intiem geken as die Ambassadeur en sy hele personeel tesame. By daardie dinee was dit ek en my vrou wat, desperaat, probeer het om die gesprek in 'n vrugbare politieke rigting te stuur terwyl die Ambassadeur en sy vrou storietjies oor hulle kinders wat destyds in Kanada gewoon het, en mev. die Ambassadeur se familie in Swede, vertel het. Die Ambassadeur het later eiendom in Spanje gekoop waar hy wou aftree.
Dit is geen geheim nie, dat, gedurende die jare toe Eric Louw en dr. Hilgard Muller by Buitelandse Sake koning gekraai het, letterlik dosyne Nasionale Party-lede van die Parlement probeer het om hulle te oorreed om iets te doen omtrent die nie-wen, lae-profiel, moenie-die-boot-skommel-houding wat soveel Ambassadeurs oorsee ingeneem het. Baie van hulle kon op een slag anti-regering, anti-apartheid sowel as Ambassadeur wees.
Verskeie kabinetsministers het mnr. John Vorster ook oor hierdie aangeleentheid genader. Hulle het oor Ambassadeurs gekla wat alles omtrent protokol geweet het maar niks omtrent entoesiasme vir die saak nie. Ambassadeurs wat ander diplomatiekebroeders onthaal het, maar geen ware kontak met die meningsvormers en besluitnemers gehad het nie. Hulle was ook van mening dat hierdie houding van hoofde van buitelandse sendings bygedra het tot die feit dat Suid-Afrika nie met die stryd om uit sy isolasie te breek begin het voordat dr. Connie Mulder en ek op die toneel verskyn het nie. Soos wat een onvriendelike Suid-Afrikaanse koerantredakteur dit aan my gestel het: "Dit ding moet ek toegee. Jy en Connie het ten minste daarin geslaag om Buitelandse Sake wakker te skud. Hulle het vir jare op hulle gestreepte broeke gesit en niks doen nie".
Die Ambassadeurspos in die Verenigde State, wat eintlik so ver as wat SuidAfrika betref, die belangrikste land ter wêreld is, moes na 'n man van durf-en-daad gegaan het. Iemand wat geglo het in dit wat hy doen. Maar wat het in Washington gebeur nadat Ambassadeur Taswell die amptelike woning in Massachusets Avenue ontruim het? 'n Verenigde Party ondersteuner, Frikkie Botha, is daarheen gestuur en binne ses maande het sake in Washington teen 'n slakkepas begin verloop. Botha het 'n diplomatieke-gevangene van die Staatsdepartement geword. Hy was eenvoudig nie sterk genoeg, nog gewillig genoeg, om sy weg na bo deur die middelvlak van die Amerikaanse Staatsdepartemente se beamptes oop te forseer nie.
"Wanneer die Staatsdepartement nies, kry Frikkie 'n verkoue", het 'n Republikeinse Kongreslid aan my gesê.
Toe dr. Connie Mulder vir Hennie Bekker as Inligtingsraad na Washington gestuur het, het Bekker baie gou teenoor Botha te staan gekom. Die Ambassadeur het nie van die manier gehou waarop Bekker met mening, op my instruksies, begin het om vriendskaplike betrekkinge met meningsvormers en besluitnemers in die Kongres en Senaat aan te knoop nie. Toe ek in 1974 na Washington gekom het, het Bekker 'n partytjie gereël wat deur 'n dosyn Kongreslede en ander belangrike politici bygewoon is. Twee dae later het die Ambassadeur 'n onthaal gereël en nie 'n enkele Kongreslid het opgedaag nie. Kort daarna is 'n brief aan die Departement van Buitelandse Sake gestuur waarin gekla is dat Bekker die posisie van die Ambassadeur "ondermyn". Sowaar. "Ondermyn".
"Die waarheid", het ek aan dr. Mulder geskryf toe ek om 'n verduideliking gevra is, "is dat Bekker daarin geslaag het om binne 18 maande meer en beter kontakte uit die geledere van Senatore, Kongreslede, Kongres- en Senaatassistente, top-sakemanne en koerantmense op te bou, as wat Ambassadeur Botha in vier jaar kon doen. Dit is ook (Don) de Kieffer se skatting. Frikkie Botha het teenoor Les de Villiers en myself erken dat hy 'n "lae profiel" handhaaf, waarom nou die trane? Hy het aan my gesê dat hy nie sake met die Amerikaanse Administrasie gaan forseer nie. Senater (Edward) Kennedy het ook persoonlik aan my gesê dat hy op goeie gesag van die Staatsdepartement verneem dat Botha nie aan die Suid-Afrikaanse Regering die "seine" uitstuur wat van hom verwag is nie. Toe ek Kennedy gesien het, was Don buite en ek het hom onmiddellik daarna vertel wat Kennedy aan my gesê het.
Die vete tussen Bekker en Botha het kragtiger geword. Toe ek met my daaropvolgende besoek in Washington aangekom het, het Bekker 'n spreekgeleentheid op Capital Hill voor Kongresassistente gereël. Meer as 200 verskeie Kongreslede ingesluit, het opgedaag om my te hoor praat.
Die Ambassadeur het Bekker se vlerke begin knip. Hy kon nie eers die koerantredakteur sien sonder Frikkie Botha se voorgaande toestemming nie. Ek moes uiteindelik die hele saak op die hoogste vlak in die reine bring. Dr Hilgard Muller het in die lig van die Eerste Minister se amptelike instruksies toegegee dat die verantwoordelikheid om meningsvormers en besluitnemers bereik, nie die uitsluitlike prerogatief van die Departement van Buitelandse Sake was nie, en dat Bekker nie die name van enige persoon met die Ambassadeur hoef uit te klaar alvorens hy hulle vir middagete uitneem, soos wat Botha hom beveel het.
Frikkie Botha het waarlik die Staatsdepartement geglo toe hulle aan hom gesê het dat Inligting "agterdeur-diplomasie"onderneem. Hulle was heeltemag reg ook, maar nie in die sin wat Botha gedink het nie. Die Staatsdepartement het besef dat indien Inligting daarin sou slaag om die Kongres, en belangriker nog, die Senaat, se belangstelling te wek in wat in Suid-Afrika aangaan, nie langer die monopolie sou hê om die VSA se buitelandse beleid teenoor Suid-Afrika te bepaal nie.
Die Staatsdepartement se vyandige houding is altyd onmiddellik aan die opposisiekoerantverteenwoordigers in Washington uitgelek, in besonder aan Donald de Kieffer, lobbyis vir die Departement van Inligting in Washington en later handelsadviseur vir die Wit Huis van President Reagan. Ken Owen, later Redakteur van The Sunday Express en toe die Argus groep se verteenwoordiger in Washington. Ons eie diplomate het deelgeneem. (Soos self deur Ken Owen in The Sunday Times van 24 Februarie, 1980 erken is.)
Frikkie Botha se haat teenoor Bekker het uiteindelik so gegroei dat hy gedreig het om tugmaatreëls teen Bekker toe te pas. Bekker kon nie langer direk met die Ambassadeur praat nie, maar moes alles skriftelik aan hom oordra. Op hierdie stadium het Connie Mulder sy voet neergesit. Hy het met mnr. Vorster gepraat en dié het 'n vergadering tussen homself, dr. Hilgard Muller, dr. Connie Mulder en myself belê. Die uiteinde was dat Vorster ingestem het om Frikkie Botha uit Washington te laat verwyder, met die voorwaarde dat Bekker ook verplaas moes word. Dr. Hilgard Muller was so gesteld op die tydsberekening van die verskuiwing dat albei amptenare op dieselfde tyd en dieselfde dag verplaas is.
Bekker het die slagoffer geword van sy eie harde werk, sy entoesiasme en die welslae waarmee hy vriende vir Suid-Afrika verwerf het. Ek het sy spoor in 1978 verloor en weet dus nie of hy op hierdie trant voortgegaan het nie. Die Ambassadeur was 'n slagoffer van beroepsjaloesie en sy eie Departement se "lae-profiel, moet-nie-die-boot-skommel" houding, wat die Staatsdepartement so gerieflik gevind het. Toe dit rugbaar geword het dat Botha na Suid-Afrika terugverplaas word, het die Staatsdepartement die ongewone stap geneem om 'n gerug onder Kongreslede te versprei dat hy vanweë sy teenkanting teen Suid-Afrika se regeringsbeleid teruggeroep is. Hulle was reg omtrent sy "politiek".
Toe ek met Senator Edmund Muskie (later Staatssekretaris) gepraat het, het hy aan my gesê dat indien Suid-Afrika se Ambassadeurs in die VSA soos die agtereenvolgende Israeliese Ambassadeurs opgetree het, ons land se stem ook beter in hoë kringe gehoor sou word. Muskie het nooit eers die Suid-Afrikaanse gesant te siene gekry nie.
Dat dr. Mulder en ek reg was aangaande Frikkie Botha, het duidelik geword toe mnr. Vorster besluit het om Pik Botha as sy opvolger aan te stel. Die verskil was soos tussen dag en nag. Toe mnr. Vorster vir dr. Mulder en myself ingelig het dat Pik Botha na Washington sou gaan, het hy gesê: "Ek weet die ander Botha was 'n nat kombers. Julle wil iemand hê wat bereid is om op te tree. Wel, Pik sal julle nie teleurstel nie".
Tot sy krediet het Pik Botha in die VSA onmiddellik na die top van die totempaal gemik. Hy sou nie 'n lae profiel handhaaf nie. Hy sou nie 'n Staatsdepartement-ja-broer wees nie. Hy sou die boot skommel en hy het dit geskommel. Binne een jaar het hy meer in die openbaar verskyn, toesprake gelewer en meer op TV opgetree as wat Frikkie Botha in vyf jaar gedoen het. Vir die eerste maal sedert Taswell het die Amerikaanse Administrasie en die pers ag geslaan op wat Suid-Afrika se Ambassadeur te sê gehad het. Vir die eerste maal het miljoene Amerikaners besef dat Suid-Afrika 'n Ambassadeur het, en dat hy werklik 'n paar punte beet het wat die moeite werd was om te oorweeg. Dat Pik Botha, vanuit die Ambassadeurswoning ook in die pos in die kabinet in Suid-Afrika gewoel het, het gehelp. Maar dit is 'n treurige storie dat 'n hardwerkende Inligtingsbeampte vanuit Washington oorgeplaas moes word, bloot omdat die Ambassadeur in 'n niksdoen beleid verstrik wat sy eie politieke afkeer van apartheid gepas het.
Ek is oortuig daarvan dat die lae-profiel-houding van Buitelandse Sake voordat Connie Mulder Minister van Inligting geword het, beslis daartoe bygedra het dat buitelandse regerings en hulle politieke ondersteuners swak oor Suid-Afrika ingelig was.
Ek is ewe oortuig daarvan dat dit die lae-profiel-beleid was wat gelei het tot die situasie in die VSA waar die Kongres geen rol in die formulering van VSA se regeringsbeleid teenoor Suid-Afrika gespeel het nie. Nadat dr. Mulder by Inligting oorgeneem het, het sake spoedig verander. Toe 'n eerste regsman as lobbyis in Washington aangestel is om vir die Departement Inligting te werk, het Pik Botha onmiddellik die geleenthede wat dit sou bied raakgesien. Alhoewel hy vir my en my twee Adjunk-Sekretarisse meer as keer genader het om 'n soortgelyke medewerker tot sy beskikking te stel ( vergoed uit Inligting se geheime fonds) het hy nie die moed gehad om dit met Brand Fourie te doen nie. Ek het, op my beurt, geweier om op te tree te Botha en die regte kanale volg. Botha het my nooit hieroor vergewe nie.
Pik Botha was seker die uitsondering op die gebied van hoë-profiel diplomasie. Hy het werklik daarin geslaag om die Amerikaners van die Suid-Afrikaanse Ambassade bewus te maak en om na Suid-Afrika se "Saak' luister. Maar sy metodes was dieselfde as dié wat Connie Mulder en ek alreeds so lank aanbeveel het: "Ons moet isolasie afweer en hoe gouer verteenwoordigers uit hulle leuenstoele opstaan en begin praat, hoe gouer sal die wêreld kennis neem van ons teenwoordigheid en van ons besware", het Mulder eendag in 'n seldsame vertoon van gramskap aan Vorster gesê. Botha was wis-en-seker die uitsondering, want toe dr. Mulder en ek in Skandinawië aangekom het, het ons dieselfde houding aangetref as wal Frikkie Botha se gebied hoogty gevier het. By een Suid-Afrikaanse Konsulate was die diplomate te bang om die Suid-Afrikaanse landsvlag te hys, uit vrees, so het hulle aan dr. Mulder vertel, dat hulle opgemerk sou word en demonstrasies sou uitlok! Mulder was woedend en het by sy terugkeer reguit na Vorster gegaan. Dit het 'n direkte opdrag van Vorster aan dr. Hilgard Mulder geverg om die vlag gehys te kry. Tien jaar later, was daar nog geen berigte van demonstrasies nie!
Dieselfde patroon is in Japan gevind. Die jong Suid-Afrikaanse diplomaat wat ons op die lughawe kon ontmoet het, kon nie 'n woord Afrikaans praat nie. Carel von Hirschberg, destydse Suid-Afrikaanse Konsul-Generaal in Japan het aan my en dr. Mulder vertel sy instruksies van Brand Fourie was om nie eers op die mees vyandige en verdraaide nuusberigte oor Suid-Afrika in die Japannese pers te reageer nie. "Ons mag nie aandag trek nie", het hy gesê.
Die Japannese pers het ten koste van Suid-Afrika baljaar. Omdat niemand kapsie gemaak het teen die leuens en verdraaiings nie, kan 'n mens niejuis die Japannese regering en die publiek verkwalik omdat hulle dit as die voile waarheid aanvaar het nie. Dit het my herinner aan wat wyle Dag Hammerskjold, Sekretaris-Generaal van die Verenigde Volke op 22 Desember 1957 gesê het: "Die waansinnige het op die markplein geskreeu. Niemand het gaan staan om horn te antwoord nie. Aldus is sy stelling as onomstootlik bewys."
Na die skietvoorvalle by Sharpeville (in 1960) het die hele Departement van Buitelandse Sake die gestalte van 'n reuse-skilpad aangeneem, met sy nek, kop en pote deeglik onder sy gestreepte dop ingetrek. In stede daarvan om uit te gaan en aan die wêreld te vertel waaroor dit alles gaan, het Ambassadeurs aan almal opdrag gegee om stil te bly. Ek, en vele ander in die Departement van Inligting, het eenvoudig aangehou om te praat. Miskien was ons 'n bietjie meer trots op ons land. In elk geval, tussen 1960-1961 was ek sekerlik die enigste amptenaar by die Ambassade in Washington wat uitgegaan het en met studente en koerantverslaggewers gepraat het en, moeilik soos dit was, bereid was om oor die radio en op televisie Suid-Afrika se standpunt te verdedig. In die proses het wit en swart studente eenkeer op my gespoeg. Tog was ek in staat om ons saak op baie plekke te stel. Ander Inligtingsbeamptes het dit elders ook onvervind.
Die houding van Inligtingsamptenare teenoor hulle kollegas in Buitelandse Sake het ook byna onherstelbaar versuur. By skemerkelkpartytjies en onthale het 'n sekere patroon begin ontwikkel. Sodra die regering se beleid onder skoot gekom het, het diplomate opgemerk: "Ag, verskoon my tog, ek moet regtig road beweeg", en daarmee die pers-of inligtingsattache verlaat om op eie houtjie voort te worstel.
Baie van ons senior diplomatieke verteenwoordigers het die gewoonte gehad om soos volg op moeilike vrae te antwoord of hulle antwoorde aldus in te lei: "Wel, om die waarheid te s@, die houding van die huidige regering ...". In teenstelling, het die Inligtingspersoneel hul antwoord begin met, "Ons in Suid-Afrika ...". In daardie dae het ek dikwels gesê dat as 'n swart regering toe in Suid-Afrika aan die bewind sou kom, hulle nie veel veranderinge in die geledere van hulle senior diplomatieke personeel sou hoef aan te bring nie.
Vervolg...