Dr Eschel Rhoodie (1984)
Lees reeks by Die ware inligtingskandaal
"Anthony Hamilton, wat deur Generaal Smuts uit die Britse Inligtingsdiens gewerf is, het onder Eric Louw en later onder dr. Hilgard Muller ver gevorder en het uiteindelik Ambassadeur vir Suid-Afrika in verskeie ander belangrike lande geword. (Smuts se betrokkenheid verklaar die hele situasie – so ver het sy aandeel gestrek tov die ondergang van Suid-Afrika)."
Aan die einde van die sestigerjare het Suid-Afrika maar net een-vyfde bestee van wat Italië en een-sesde van wat Japan per kapita aan hulle wêreldwye Inligtingsdienste gespandeer het!
In die Verenigde State, die een land waaraan Suid-Afrika se voorspoed gekoppel is, hetsy goed of sleg, en die een land wat Suid-Afrika kon maak of breek, het die Vorster-regering maar net .002 per kapita aan inligtingsdienste bestee. Gedurende daardie jare het blanke Suid-Afrikaners minder per kapita aan ons land se wêreldwye inligtingsdiens as die prys van 'n pakkie van 20 sigarette, of een bioskoopkaartjie, uitgegee. Van die regeringsbegroting was net 0,16 persent aan inligtingsdienste toegesê!
Die Verenigde State se inligtingsdiens het in 1972 'n begroting van $200 miljoen, of R1 per kapita gehad. Suid-Afrika, wat in vergelyking met die VSA in die hondehok was, het maar net 'n sesde uitgegee van wat die VSA vir sy oorsese diens nodig geag het. Plaaslike of Federale bedrae wat in die VSA self bestee is, het Suid-Afrika se verhouding na een-twaalfde laat krimp! Die VSA se syfers sluit egter nie Staatsdepartementsuitgawe aan inligtingsdienste in nie. Konserwatief bereken, het Suid-Afrika dus maar in sy geheel, sowat een-vyftiende per kapita spandeer, van wat die VSA nodig geag het om sy beeld, wat aansienlik beter as dié van Suid-Afrika was, te bevorder!
'n Ander belangrike vraag is ook waarom my voorgangers, selfs met beperkte middele tot hulle beskikking, nie meer doelgerigte produksie in die regering se inligtingsdiens aangewakker het nie, of hulle amp gebruik het om druk uit te oefen om meer fondse vir hulle departemente te verkry nie? Ek glo dit was gedeeltelik aan die persoonlikhede van my twee voorgangers toe te skryf. Brand Fourie, was ons Ambassadeur by die Verenigde Volke toe hy as Sekretaris van Inligting aangestel is, en vanwaar hy later tot Sekretaris van Buitelandse Sake bevorder is. Gerald Barrie is vanaf die Departement van Openbare Werke, met 'n bosbou-agtergrond, na Inligting oorgeplaas en was my onmiddellike voorganger.
Daar sal nog meer oor Brand Fourie gesê word, maar vir die huidige is dit genoeg om te sê dat hy al die aansien, versigtigheid en styl van 'n ouderwetse diplomaat gehad het. Hy was briljant op sy gebied, maar het weinig, of so te sê geen praktiese ondervinding op die gebied van pers- en inligtingswerk gehad toe hy na die Departement van Inligting gekom het nie. Ek glo dat Brand Fourie op aandrang van dr. Hilgard Muller na Inligting gestuur is ten einde hom vir die pos van Buitelandse Sake te skool en hom van die nodige senioriteit te voorsien om sy mede-amptenare in die Departement van Buitelandse Sake verby te kan gaan. Hy was aangesê om 'n lae profiel by Inligting te handhaaf. Dit is wat dr. Piet Rautenbach, Voorsitter van die Staatsdiens Kommissie aan generaal van den Bergh en myself vertel het. Dit verklaar ook waarom Brand Fourie op 'n keer aan my gesê het dat hy geen foute in sy loopbaan as 'n siviele amptenaar gaan maak wat die politiek op kop sou laat beland nie.
Met 'n "lae-profiel" en onervare Sekretaris van Inligting in beheer is dit geen wonder dat daar gedurende Fourie se tyd by Inligting niks van belang gebeur het nie. Daar was geen nuwe ondernemings en geen uitbreiding nie. Die begroting het van jaar tot jaar byna onveranderd gebly en op die gebied van films, boeke en publikasies vervaardig is, was die prentjie so kleurloos dat dit nie eers noemenswaardige kritiek van die Verenigde opposisie in die Parlement kon uitlok nie.
By ondervraging oor hulle werk gedurende Brand Fourie se rentmeesterskap het die meerderheid van die amptenare geantwoord dat hulle dit moeilik vind om te onthou wat hulle destyds gedoen het. Fourie het nooit 'n konferensie oorsee belê ten einde sy Inligtingspersoneel op hoogte van sake te stel, of selfs om hulle in hulle moeilike taak aan te moedig nie. 'n Algemene strategie is nooit aan ons verduidelik nie.
Gedurende sy dienstydperk as Sekretaris van Inligting, het Brand Fourie nooit'n enkele openbare toespraak gelewer wat ek van weet nie; hy het nooit op televisie oorsee verskyn nie; daar was nooit oorsese besoeke, waar hy eerstehands, en op die hoogste vlak, kon uitvind wat koerantredakteurs en politici van Suid-Afrika gedink het nie. Hy het nooit sy gedagtes oor sy werk, of die probleme wat Suid-Afrika in die gesig staar, op skrif gestel en laat publiseer nie. Hy het ook nooit gewaag om in sy jaarlikse verslag aan te beveel watter nuwe uitweë die Parlement moontlik kon oorweeg nie. Bowenal kon geen inligtingsbeampte, selfs nie eens diegene van ons wat toe al baie jare oorsee deurgebring het, dit ooit waag om enige kritiek oor die nie-bestaande, lae-noot beleid uit te spreek wat die Departement van Buitelandse Sake in die buiteland gevolg het — nie as ons ons eie loopbaan liefgehad het nie. Fourie se weerhoudende hand was oral en as 'n mens regeer word deur 'n filosofie om "nooit foute te begaan nie", dan eindig jy ook sonder om enigiets van belang te doen. Brand Fourie, wat in die versigtige, stil wêreld van diplomasie opgegroei het in die dae toe Generaal Smuts man alleen buitelandse beleid bepaal het, was die verkeerde persoon op die verkeerde plek. Ek glo nie hy het ooit sy werk by Inligting geniet nie. Hy het Generaal Smuts en mnr. Vorster met eweveel entoesiasme gedien, maar of dit uit bewondering vir die manne persoonlik of vir hulle beleid was, het niemand ooit geweet nie.
In die geval van Gerald Barrie, Fourie se opvolger, en my onmiddellike voorganger, kan dit sterk aangevoer word dat sy pogings grootliks 'n onwyse aanwending van geld was, of om dit sagter te stel, die geld kon beter gebruik gewees het.
Baie meer sal nog oor Barrie gesê word, maar as Brand Fourie "uit sy plek" by Inligting was, dan was Barrie, by vergelyking, 'n man op 'n ander planeet. 'n Vis uit die water. Fourie het ten minste uitgebreide diplomatieke ondervinding in talle oorsese lande gehad en hy het 'n briljante brein gehad wat dinge baie gou kon snap. Hy was ongetwyfeld 'n harde werker, al was dit net omdat hy daarvan gehou het om dinge self te doen. (Hy het die idee van delegasie van bevoegdheid en gesag volkome gewantrou.) Gerald Barrie se oorsese ondervinding was grootliks tot sy studies in die landbou in Nederland beperk. Hy was nooit aan enige koerant verbonde nie en het nooit in die buiteland, in 'n verteenwoordigende kapasiteit, diens verrig nie. Hy het nooit 'n enkele artikel oor Suid-Afrika se beleid geskryf wat ek kon vind nie en nooit op televisie verskyn, of 'n vyandige gehoor van aangesig tot aangesig toegespreek nie. Sy gebrek aan kennis van die internasionale gemeenskap, of hoe lande en mense met mekaar kommunikeer, was pynlik om te aanskou en hy was op sy gelukkigste in regeringsdepartemente, soos Openbare Werke, sy obsessie met reëls en regulasies wat tot sy volle reg kon kom.
Toe Barrie na Inligting gekom het, het hy dit met huiwering gedoen. Hy dit ook gedurende die eerste week na sy aankoms baie duidelik aan ons gestel dat hy nie daarvan hou om daar te wees nie en dat hy van ons verwag om hom te vertel wat hy moet doen. Ons het ook, maar hy was die grootste hardekop idividu wat ek nog ooit teëgekom het. Hy het miljoene spandeer aan Regeringspublikasies, brosjures en films vir oorsese verspreiding, wat nooit die daglig moes gesien het nie. Hy was skynbaar nie in staat om te onderskei tussen die rolle wat die Departemente van Inligting en Onderwys, Kuns en Wetenskap (soos dit destyds bekend gestaan het) gespeel het nie, asook die werk van die Suid-Afrikaanse Toeriste-Korporasie wat ex-officio, op die Raad van Direkteure gedien het. Hy was, kortkom professioneel maar bykans totaal onbekwaam vir sy amp. Dit verduidelik waarom beide die Toeriste-Korporasie en die Departement van Inligting binne agtien maande, duursame rolprente oor die wilde blomme van Afrika vervaardig het. Maar Barrie se mees gedenkwaardige bydrae was die rolprent genaamd "Rock Art of the Bushmen". Wat die rotskuns v Boesmans (of wilde blomme) kon vermag om Suid-Afrika se beeld in die Sharpvilleperiode te verbeter, sal net Barrie kan sê. Al wat ek weet is dat hierdie nuttelose films, en daar was ander ook, R60 000 elk gekos het om te vervaardig en teen die tyd dat afdrukke gemaak en van buitelandse klankbane voorsien is, elke afsonderlike film ongeveer R1 20 000 gekos het. Teen
vandag se koste ongeveer R200 000. Suid Afrikaanse Panorama, wat jaarliks honderdduisend rand gekos het om uit te gee, het destyds so 'n gebrek aan harde, treffende, ekonomiese en politieke inligting oor Suid-Afrika bevat dat die skoolkinders wat voortdurend op soek was na materiaal vir 'n geillustreerde skooltaak (op st. 6-8 vlak) dit waarskynlik die beste kon benut het.
Dit verg nie baie verbeeldingskrag nie om op die vraag te antwoord waarom Inligting in Brand Fourie en Gerald Barrie se tyd iets geword het wat dr Diederichs, spottenderwys, " 'n Verheerlike Pos- en Toeristekantoor" genoem het.
En wat omtrent die Departement van Buitelandse Sake self?
Hoe het die Departement sy rol in die steeds-toenemende politieke sielkundige stryd gesien waarin Suid-Afrika van Generaal Smuts se tyd af verstrengel geraak het, toe die Verenigde Volke se Algemene Vergadering die eerste keer begin het om Suid-Afrika oor sy behandeling van die bevolking aan te val? Aangesien die regering se amptelike inligtingsverteenwoordigers oorsee deur 'n tekort aan personeel en fondse verlam was; en hulle bykans nooit aangemoedig, gedwing, aangedryf, en, bo alles, deur hulle hoofde in Suid-Afrika gelei is nie, hoe het ons groot kanonne in die diplomatieke wêreld gereageer? Wat was Buitelandse Sake se houding ten opsigte van die toenemende vyandigheid van die pers, radio en televisie, die bedrywighede van die anti-apartheidsorganisasies en die Wêreldraad van Kerke? Hoe het sy senior amptenare, Suid-Afrika se Ambassadeurs en sy Konsuls-Generaal, oor die propaganda-aanslag teen Suid-Afrika gevoel? Watter planne het hulle gehad, en wat presies het hulle gedoen?
Niemand by die Departement van Buitelandse Sake kon nog ooit daarin slaag om my 'n half-bevredigende antwoord te gee nie. Ek weet dat gedurende die veertien jaar wat ek oorsee onder verskeie Ambassadeurs werksaam was, daar eenvoudig geen teken van 'n omvattende strategie of beleid was nie. Ek het uiteindelik, teen my sin, tot die slotsom gekom dat die amptelike beleid gedurende die periode vanaf 1956 tot 1971 was om niks te doen nie. Die "beleid" en "strategie" was om nie die boot te skommel nie; om die bedrywighede van die buitelandse diens grootliks, en ek wil sê, byna oorheersend, tot die enge en strenge vertolking van die aard van die diplomasie te beperk, naamlik, die amptelike skakel tussen die regering van die dag en dié van die vreemde lande met wie ons diplomatieke betrekkinge geniet het. Buite daardie sfeer, behalwe vir normale konsulêre dienste, het die departement egter geen rol vir homself gesien nie. Hy was nie van plan om die pers, die vakbonde, die kerke, die studente, die anti-apartheid-seekat, of selfs die politici, die stryd aan te sê nie.
Ywerige en energieke pogings om andere, veral buitelandse individue en organisasies, oor te haal om vir Suid-Afrika in die bres te tree, is net nooit aangewend nie.
Daar is nog 'n verontrustende faktor — iets wat vir so lank onder 'n dekmantel gehou is dat 'n mens kon dink dit 'n soort "heilige koei" is. Toentertyd was dit van belang en het dit vandag nog 'n sekere toepaslikheid. Dit was die louwarm houding wat baie van die senior-beroepsamptenare destyds in die oorsese kantore van die Departement van Buitelandse Sake teenoor die aktiewe bevordering en verkondiging van regeringsbeleid ingeneem het. Ek praat nie van die jonger garde nie, maar die senior-amptenare van die vyftiger- tot die middel sewentiger-jare. Talle van hulle was met buitelanders getroud. Talle van hulle het uiteindelik hulle persoonlike vertroue in die toekoms van Suid-Afrika getoon, deur eiendom oorsee te koop, terwyl hulle nog aktief werksaam was, en hulle in Brittanje, die VSA, Spanje, Switserland, Frankryk en Swede na aftrede te vestig. Op een stadium het ons 'n belangrike Ambassade oorsee gehad waar die Ambassadeur met 'n Amerikaanse dame getroud was, die Raad met 'n Kanadees en die Tweede Sekretaris met 'n Duitser. Aldrie het grond oorsee gekoop en ná aftrede oorsee gaan woon — permanent. Sommige van ons diplomate het later by politieke partye aangesluit wat die regering teengestaan het. Hulle was die mense wat nooit die regering se beleid kon ondersteun nie. Hulle was sekerlik nie Nasionaliste nie. In teenstelling met die Sowjet-Unie, waar 'n man slegs 'n Ambassadeur kan word as hy 'n goeie Party-Kommunis is, en nie omdat hy voortreflik Engels kan praat, onberispelik aantrek nie, het agtereenvolgende Buitelandse Ministers in Suid-Afrika hulle nie aan die ideologiese of politieke lojaliteite van ons Ambassadeurs gesteur nie.
Vele Suid-Afrikaanse Ambassadeurs, gerieflik in hul deftige wonings oorsee ingerig, was glad nie gretig om in die stryd om apartheid te bevorder of verdedig verwikkel te raak nie. Hulle het verslae na Suid-Afrika teruggestuur wat hulle geweet het die regering graag wou lees. Ek weet. Ek het eerstehandse ondervinding opgedoen gedurende die 14 jaar wat ek in verskeie Suid-Afrikaanse Ambassades oorsee deurgebring het.
In Australië het Anthony Hamilton (destydse Hoë-Kommissaris) hom verkneukel toe hy my dit vertel het. Hy, en veral sy vrou, kon beswaarlik Afrikaans praat. Wanneer besoekende Suid-Afrikaanse Parlementariërs na Canberra gekom het, het mev. Hamilton by sosiale funksies altyd my vrou eenkant toe geroep. Dan het Katy aan haar 'n sin in Afrikaans voorgesê wat sy op haar beurt ewe voldaan na die besoeker geslinger het!
Terwyl ek graag wou hê dat die Hoë-Kommissaris so aktief moontlik in openbare betrekkinge en die verspreiding van inligting aan politici en die pers moes wees, het Hamilton so 'n "lae profiel" ingeneem dat hy amper nooit by enige openbare byeenkoms gesien of gehoor is om Suid-Afrika se saak bevorder nie. Sekerlik nooit oor die radio of televisie nie. Hy kon beswaarlik die politieke vyandigheid jeens die regering van dr. Verwoerd in toom hou. Toe Australiese Premier, Robert Menzies en Hamilton en ek by geleentheid (op Uniedag)'n bespreking oor afsonderlike ontwikkeling gehad het, het Hamilton gesê: "Dit is hoog tyd dat hierdie vervloekte Nasionaliste besef dat hulle nie met hul sotlikhede kan wegkom nie"!
Kort daarna het die Suid-Afrikaanse afvaardiging na die Statebonts Parlementêre Unie se byeenkoms in Canberra opgedaag. Ek het Hamilton se houding een aand by my huis aan Jan Visse, Nasionale Party L.V. (later Burgemeester van Pretoria) gerapporteer, sowel as aan Sand du Plessis, ook 'n L.V. (en later Administrateur van die Oranje-Vrystaat) en ander Nasionale L.V.'s. Terug in Suid-Afrika, het twee van hulle die destydse Minister van Buitelandse Sake, mnr. Eric Louw gaan besoek. Drie weke later het ek 'n brief van Piet Meiring, destydse Direkteur van Inligting ontvang, wat Eric Louw se antwoord aan my oorgedra het. Ek wou dit nie glo nie, maar ek moes dit as eg beskou: Moet jou nie met die politieke sienswyse van die Hoë-Kommissaris bemoei nie. Hy, Eric Louw, gee nie om of die man Liberaal (die destydse woord vir Progressief) of Nasionaal is nie. Net solank hy Suid-Afrikaans is. Louw gee ook nie om as Hamilton net sowat drie of vier ure per dag in kantoor deurbring nie. Hamilton het soveel van sy tyd in die tuin verwyl, dat sy seun Tim teenoor ons opgemerk het: "My vader is die hoogstebetaalde tuinier in Australië
Indien Hamilton se aanmerkings teenoor Menzies as voorbeeld kon dien, wat het hy nie alles by dinees kwytgeraak waarby ek en ander mede-Suid-Afrikaanse amptenare teenwoordig was nie?
Ek gebruik Anthony Hamilton as voorbeeld, nie omdat ek nié van die man gehou het nie, inteendeel, ek het Hamilton altyd'n vriendelike, hoflike person gevind. 'n Goeie gasheer. Maar hy was 'n prototipe van manne, op seniorvlak in Buitelandse Sake, wat nie Suid-Afrika se saak wou bevorder nie, wat doelbewus die laagste profiel moontlik gehandhaaf het en wat nie die boot wou skommel nie. Hulle het teruggesit en gehoop dat die Nasionale Party Regering eendag sal verdwyn. Hamilton het so dikwels teen die regeringsbeleid uitgevaar dat ek een keer tromp-op aan hom gevra het waarom hy dan Suid-Afrika verteenwoordig. "Ou Seun", het hy geantwoord, "jou mense sal nie veel langer aan bewind bly nie, en dan sal jy verstaan".
Anthony Hamilton, wat deur Generaal Smuts uit die Britse Inligtingsdiens gewerf is, het onder Eric Louw en later onder dr. Hilgard Muller ver gevorder en het uiteindelik Ambassadeur vir Suid-Afrika in verskeie ander belangrike lande geword. (Smuts se betrokkenheid verklaar die hele situasie – so ver het sy aandeel gestrek tov die ondergang van Suid-Afrika).
Vervolg...