Dr Eschel Rhoodie (1984)
Lees reeks by Die ware inligtingskandaal
Vroeg in die sewentiger-jare, toe ek in die posisie geplaas is waar ek van tyd tot tyd direk met verskeie kabinetsministers, en met die Eerste Minister self kon praat, het ek tevergeefs probeer om die erns van die saak aan die gesagsorde te verduidelik. Ek het tevergeefs probeer verduidelik dat ons, ten einde enige ondersteuning en 'n "blaaskans" van die Weste te verkry, sal moet begin om openlik al die strukture van onderskeid af te breek wat suiwer op kleur gegrond is en wat niks met die kulturele erfenis van die Afrikaner te doen het of die beskerming van die identiteit van die witman van Suid-Afrika nie. Maar niks betekenisvol het gebeur nie.
Ek wou nie graag in die geskiedenis bekend word as die staat se Sekretaris van Inligting wat in gebreke gebly het om dit uit te spel nie en gevolglik het ek tien jaar gelede, in een van my jaarlikse verslae aan die Parlement, soos volg geskryf:
"Daar is een eenvoudige rede waarom die slagtings in Noord-Ierland nooit in die VV bespreek is nie. Katolieke sowel as Protestante is wit. As dit nie die geval was nie, sou die OAE en die Algemene Vergadering hulle lankal reeds met die saak bemoei het.
"Die enigste gemene deler wat lande met uiteenlopende sienings en houdings, soos byvoorbeeld Swede, Japan, Brittanje, Italië, Senegal, Kanada, Australië en Nieu-Seeland, in hulle opposisie teen Suid-Afrika verenig, is die kleur-vraagstuk, d.w.s. die oortuiging dat diskriminasie op grond van kleur die wêreld se grootste politieke gruwel is.
"Dit kan nie net bloot die beginsel van skeiding in ons beleid wees nie, want elders het dit tot die totstandkoming van Ruanda, Burundi, Pakistan, Wes- en Oos-Duitsland, die verskeie state in die Wes-Indies en die Maleise-Skiereiland gelei — om maar 'n paar voorbeelde te noem. Skandinawië self, wat oor 'n tydperk van 80 jaar probeer het om konings te deel, is uiteindelik in Noorweë en Swede verdeel. Malawi, Zambië en Rhodesië is ook produkte van soortgelyke skeiding. Daar is talle ander voorbeelde.
"Dit kan ook nie slegs die konsep van Tuislande wees nie, want dieselfde beginsel is op die voorgrond in Quebec, Skotland en die Moslem-tuisland wat President Marcos van die Fillipyne nou in daardie land wil instel, die pleidooi vir 'n Baskiese-tuisland in Spanje en die voorgestelde tuisland vir die Palestyn op die westelike oewer van die Jordaanrivier, wat so vuriglik deur talle mens en organisasies in die VSA en elders voorgestaan word.
"Dit kan ook nie wetgewing in verband met menseregte wees nie, want net 'n bewustelik-oneerlike persoon sal beweer dat sulke wetgewing in Suid-Afrika knellender as die in Oos-Duitsland, Yemen, Noord-Korea, Guinee en bykans 50 ander lande is.
"Ewemin kan die rede daarvoor wees dat Suid-Afrika weier om die VV konvensionele voorstelle oor menseregte te bekragtig. Selfs ons kritici gee tc kenne dat daar nie juis veel waarde geheg kan word aan die feit dat 'n voorbeeld soos Uganda, hierdie voorstelle bekragtig het nie.
"Ewemin kan die druk op Suid-Afrika alleenlik toegeskryf word aan iets soos die vryheid van die pers, godsdiensvryheid, onafhanklikheid van die regstelsel, ens., want in hierdie opsigte sal dit toegegee word dat ons rekord baie beter as dié van 100 ander lande in die wêreld is.
"Die oorsaak hiervan kan ook nie in ons stemreg-reëlings gesoek word nie. In Burundi is net 14 persent van die bevolking stemgeregtig en toe die meerderheid in 1972 gepoog het om algemene stemreg of te dwing, is bykans 220 000 vir hulle moeite doodgeskiet. In Liberië is effektiewe stemreg beperk tot die kusstamme; in die Eilandstaat van Fiji, maak die Brits-ontwerpte grondwet voorsiening dat die stemme van die minderheid, d.w.s. die Polinesië inboorlinge, meer setels in die Parlement verkry as dié van die Indiese meerderheid . . . In Sierra Leone sorg die grondwet vandag nog daarvoor
"Die oorsaak van die vyandigheid moet ook nie in die uitsetting of hervestiging van mense gesoek word nie. Dit is 'n beskuldiging wat herhaalde kere deur die buitelandse pers en Suid-Afrika se eie huishoudelike liberale kritici ingebring is, omdat soortgelyke uitsetting op 'n veel groter en wrede skaal in ander lande gepleeg is — en word nog steeds gedoen. President Amin se verbanning van 50 000 Asiërs uit Uganda het nie eers 'n klein golfie van protes in die VV veroorsaak nie. In 1963 het Burma die eiendom van 500 000 Indiër genasionaliseer en man, vrou en kind voor die voet uit die land verban.
Weer eens was daar geen reaksie van die VV nie, want in daardie stadium was U'Thant, Burma se Ambassadeur by die VV, alreeds deur die Derde-wêreld en Kommunistiese lande as die volgende Sekretaris-Generaal aangewys.
"Heelwaarskynlik kan die vyandigheid teenoor Suid-Afrika aan konstitusionele diskriminasie toegeskryf word. Dit is 'n klagte wat voortdurend by die Departement van Inligting in die buiteland gelê is, maar dan seer sekerlik nie diskriminasie op grond van geslags- of godsdienstige oortuigings nie ...)
"n Studie van die konstitusies van alle lande in die wêreld sal bewys dat diskriminasie op grond van geslag, godsdienstige of etniese oorsprong in die konstitusies van talle lande, op nasionale sowel as federale vlak ingebou is .. . Sien Rhoodie, E.M.: Discrimination In The Constitutions Of The World, Brentwood Communications, Cross Country Plaza, Columbus, Georgia, VSA., 1984.)
"... Die een faktor wat meer as enigiets anders die aandag van 'n groot deel van die wêreld en van sy politici en pers trek, is diskriminasie bloot op grond van kleur. Ongelukkig is Suid-Afrika se beeld in die buiteland dié van 'a land waar rasse-diskriminasie in so 'n mate floreer dat dit deur ons vyande met Nazi-isme vergelyk kan word.
"Suid-Afrika se politieke raamwerk sluit beide swart en wit in, en dit is wat emosies opwek. Die emosies van die wêreld word sekerlik nie opgewek deur 'n uitsluitlik wit, bruin of swart raamwerk nie. Nog Kommunisme, nog Fassisme lok ongevraagde kommentaar uit. In Italië, Frankryk en Nederland is Kommunisme 'n respektabele politieke filosofie, met miljoene aanhangers. Die Westerse wêreld het nie 'n broertjie dood aan kontak met Marxistiese-, Kommunistiese of Fassistiese regerings nie. Inteendeel, die Weste is gretig om die soort kontak uit te brei, selfs met wrede militêre diktatorskappe en eenparty-regerings soos dié van Nigerië, Kambodja of Noord-Korea.
"Sover as wat dit die Westerse wêreld aangaan, sal dit heelwaarskynlik korrek wees om te sê dat sowat tagtig persent van ons "beeld" en die normalisering van ons verhouding met Afrika, om die kwessie van kleur draai".
Politici is veronderstel om in staat te wees om tussen die lyne te lees, maar of die Nasionale Party Lede van die Parlement die boodskap wat ek probeer oordra het, ontvang het, kon ek nooit sê nie. Ek kan in die geheue roep dat die Amerikaanse Ambassadeur by 'n sosiale funksie aan my gesê het dat ek die eerste staatsamptenaar in Suid-Afrika is wie bereid was om, op skrif, 'n openbare waarskuwing aan die Parlement te rig dat hulle oogklappe moet afhaal. En ek weet dat min. Vorster ongemaklik begin voel oor my uitgesprokenheid oor hierdie onderwerp.
Op daardie stadium was ek baie bekommerd oor die ems van die regering se voorneme om "weg te beweeg" van diskriminasie wat hoofsaaklik op kleur gegrond was. Hier het ek in die besonder aan die politieke en sosiale posisie van die Kleurling- en Indiërbevolking gedink. Maar ek was toe nog nie ontnugter nie.
Die vraag moet ook gestel word of die situasie soos wat ek dit geskets toegelaat is om te ontwikkel sonder dat Suid-Afrika 'n daadwerklike poging aangewend het om sy kritici uit te oorlê, en om die diplomatieke druk wat op ons uitgeoefen is te verlig. Het ons probeer om 'n situasie te voorkom waar al Suid-Afrika se prestasies en doelstellings alleenlik op die kleurkwessie beoordeel sou word? Het ons, ons "sterk punte" kragdadig na vore kom? Het ons werklik elke moontlike kanaal probeer vind waardeur ons die meningsvormers en besluitnemers van die wêreld ons strategiese beplanning kon verduidelik; die waarde van ons strategiese metale en minerale ekonomiese groei en stabiliteit van die land; of van ons onafhanklike regstelsel, die vryheid van die pers, godsdienstige verdraagsaamheid, ons historiese agtergrond, 'n standvastige en betroubare bondgenoot van die Weste in tye van konflik: die veranderinge in rasse-verhoudings wat alreeds plaasgevind het, soos dié wat nog beplan was?
Het ons seker gemaak, dat hierdie punte die regte mense bereik? En het ons seker gemaak dat dieselfde boodskap en feite, of deur die gesproke woord, skriftelike vorm, hulle deur middel van onafhanklike, nie-regeringsoord bereik het, verkieslik nie-Suid-Afrikaans, sodat die regerings- en ander state nie anders kon as om hierdie punte in oënskou te neem nie. Het ons dit aanhoudend en op 'n groot skaal gedoen?
Ek stel voorgaande vrae omdat indien ons dit nie gedoen het nie, geskiedenis na die Suid-Afrikaanse besluitnemers van die tyd (1950-1971 'n onbevoegde kortsigtige spul gaan wys.
Sover dit hulle Inligtingsprogram aangaan, is die antwoorde op die vrae wat ek gestel het definitief "nee" en die regering van mnr. Strijdom, dr. Verwoerd en te meer, dié van mnr. Vorster, moet die blaam daarvoor dra. Geen wonder dus, dat, toe mnr. Vorster uiteindelik in 1974 'n verreikende vyf propaganda-veldtog om Suid-Afrika se isolasie te probeer breek, goedgekeur het, dr. Nico Diederichs hardop gesug het: "As ons maar net tien jaar gelede hiermee begin het!"
Vervolg...