AFRIKANERS PRAAT MET DE KLERK (6)

Lees reeks by Afrikaners praat met De Klerk

President De Klerk

•           U het die beginsel van een mens, een stem aanvaar;

•           U gee medeseggenskap aan die ANC en die Kommuniste by samesprekings en onderhandelings, terwyl hulle stakings en onluste reël;

•           U gaan onderhandel met die ANC en die SA Kommunistiese Party oor “die herverdeling van rykdom”, dit wil sê hoe die Blankes se rykdom aan Swartes uitgedeel moet word.

Hoe gaan Suid-Afrika lyk nadat u met hom klaar is, meneer De Klerk?

DIE PAD NA “DIE NUWE SUID-AFRIKA”

 

Deur die aanvaarding van die beginsel van een mens, een stem deur die De Klerk-regering is die belangrikste verskil tussen die Regering en die ANC uit die weg geruim, en is die strydvrae waaroor die NP en die ANC nog verskil, gereduseer tot hoofsaaklik drie kategorieë:

—        Beskerming van “minderhede” se politieke regte onder ’n Swart meerderheidsregering en die spoed waarteen alle manifestasies van rassebewustheid vooraf uitgeskakel moet word.

—        Staking van geweld, opheffing van die noodtoestande, Umkhonto we Ziswe se posisie en die rol van veiligheidsmagte.

—        Nasionalisering en gelykmaking van lewensstandaarde van Wit en Swart deur herverdeling van inkomste en rykdom.

Hervorming of Revolusie

Die Regering meen dat hy die verloop van onderhandelings sal kan beheer, en met die oog daarop probeer hy die ANC-SAKP-MDM se revolusionêre strewe vooruitloop deur die aanbring van “hervormings” wat die ANC-SAKP-MDM deur revolusie wil bewerkstellig. So reken die Regering sal hy die gang van sake kan dikteer in terme van sy benadering van hervorming, teenoor die revolusionêre benadering aan die ander kant.

Die ANC-SAKP-MDM se beplanning volgens die Harare-verklaring is om deur voortdurende druk en die monstering van steun oor ’n wye front die orde revolusionêr te verander en die mag te verower.

Hierdie botsende benaderings moet òf tot groeiende konfrontasie, òf kompromiee lei. En dit is byna vanselfsprekend dat daar eerder kompromieë aangegaan sal word as dat konfrontasie sal toeneem, soos ook blyk uit die De Klerk-standpunt dat as onderhandeling met die ANC in duie stort, dit hervat moet word, en dat as dit op ’n bepaalde punt stuit, die Regering deur hervorming ’n klimaat vir konstruktiewe onderhandeling sal skep, dit wil sê toegewings sal aan die ANC gemaak word.

Daar kan aangeneem word dat die ANC-SAKP-MDM hulle eise by die onderhandelings deur verskillende maniere van druk sal rugsteun, soos deur massa-optogte, verset oor alledaagse kwellings en die inroep van buitelandse bemoediging.

Harare verklaring

Daar moet goed begryp word wat die ANC se uitgesproke oogmerke met onderhandeling is. Die Harare-verklaring lui met betrekking tot “beginsels” soos volg:

1.         Suid-Afrika sal ’n verenigde, demokratiese, nie-rassige staat word.

2.         Almal sal ’n gemeenskaplike burgerskap en nasionaliteit hê.

3.         Almal sal die geleentheid hê om aan die regering en die administrasie van die land deel te neem op die grondslag van algemene stemreg, wat op ’n basis van een mens, een stem en ’n gemeenskaplike kiesers- lys uitgeoefen sal word.

4.         Almal sal die reg hê om enige politieke party te stig en aan enige politieke party te behoort, tensy die betrokke party rassisme bevorder.

5.         Suid-Afrika sal ’n nuwe regstelsel en ’n nie-rassige regbank hê.

6.         ’n Handves van Menseregte sal almal se regte en vryhede beskerm.

7.         Die Handves van Menseregte sal gegrond wees op die Freedom Charter.

8.         Die staat en alle sosiale instellings sal onder grondwetlike verpligting wees om rassediskriminasie in al sy vorme uit te wis.

9.         Die staat en alle sosiale instellings sal onder konstitusionele verpligting wees om daadwerklike stappe te doen om spoedig ekonomiese en sosiale ongelykheid uit te skakel wat deur rassediskriminasie veroorsaak is.

10.       Die propagering van rassisme, fascisme, nazisme en aanhitsing van etniese haat of streekseksklusiwiteit sal ontwettig verklaar word.

Aan 1, 2, 3 en 6 van die ANC se eise het die Regering reeds toegegee. Tot 8 en 9 het hy by implikasie ingestem. 4 en 10 van die ANC se eise is opsigtelik die Kommunistiese Party se voorwaardes: enige politieke party wat die Kommuniste se basiese uitgangspunt teenstaan, moet verbied word, terwyl die Kommunistiese Party volkome wettigheid en vryheid sal geniet.

So sal sommige aspekte van die “nuwe Suid-Afrika” volgens die ANC-visie daaruit sien. Dit is van die uitdruklike voorwaardes wat die ANC stel, terwyl die Regering blykbaar meer daaroor begaan is om met die ANC te onderhandel as om bepaalde voorwaardes te stel.

Intussen gebruik Mandela die ANC se verbintenis tot voortgesette geweld om belangrike toegewings van die Regering af te dwing vóór die begin van formele onderhandelings. Die ANC-SAKP soek oorwinning, terwyl die Regering vrede soek.

Voorwaardes om geweld te staak

Mandela se uitlating op Umtata op 22 April oor die voortsetting van geweld was selfs skerper as die vroeëres. “Die gewapende stryd moet voortduur — en selfs verskerp word” — het hy gese, “totdat die minimum-vereistes van die Harare-verklaring nagekom is”.

Die “minimum-vereistes” van die Harare-verklaring is:

1.         Alle politieke gevangenes moet onvoorwaardelik vrygelaat word;

2.         Alle politieke organisasies en persone moet ontperk word;

3.         Alle Weermaglede moet uit Swart dorpe onttrek word;

4.         Die noodtoestand moet opgehef word;

5.         Alle wetgewing wat politieke optrede beperk, soos die Wet op Binnelandse Veiligheid, moet herroep word;

6.         Alle politieke verhore en politieke teregstellings moet gestaak word.

Aan verskeie van die vereistes is reeds deels of in geheel voldoen, maar 3,4 en 5 sal ernstige gevolge hê, wat die ANC in staat sal stel om druk baie te verskerp. So, die Regering staan voor die probleem dat as hy nie aan die vereistes voldoen nie, die ANC geweld voortsit en daar dan volgens die Regering nie onderhandel kan word nie. Voldoen hy aan die vereistes, kan die ANC na die opheffmg van die noodtoestand en herroeping van die Wet op Binnelandse Veiligheid deur middel van die SAKP se ondergrondse struktuur die gesag van die Regering baie erg aantas en sy vermoë om wet en orde te handhaaf, byna onmoontlik maak.

Die ANC met sy oorheersende Kommunistiese inslag sal ’n tweeledige gedragslyn volg: onderhandeling deur bedrewe onderhandelaars, maar tegelyk die daarstelling van ondergrondse organisasies wat ondermynend te werk gaan, geweld kan beoefen en kan toetree as die gang van sake dit vereis. Hierby is dit ter sake dat die wapendraers van Umkhonto we Ziswe na Suid-Afrika gebring sal word en daarop gesteld sal wees om erkenning te geniet in hulle rol as militêre vleuel. Hulle sal saam met die opstandige jeugdige Swartes militêr moet integreer om hulle onder beheer te probeer hou.

Massabeweging

Die ANC sal op sy Nasionale Konferensie op 16 Desember 1990 sy bestuursamestelling in verhouding tot sy verbrede grondslag moet bring en sal bygevolg die leierskader van die MDM (wat die UDF en COSATU insluit) in die Hoofbestuur moet opneem. Daardeur sal die ANC dit regkry om die voorkoms van ’n massabeweging aan te neem, wat sy binding sal geniet weens sy anti-blanke benadering en die belofte van “bevryding”.

COSATU sal waarskynlik naas die nuwe samevoeging bly voortbestaan, sodat dit as vakbondorganisasie sekere funksies kan verrig. Die UDF oorvleuel in hoë mate met die ANC en sal waarskynlik daarin opgaan, maar die UDF se afdelings vir vroue, leerlinge en ander groepe sal bly voortbestaan en deur die ANC gebruik word. Die MDM se strukture is egter die organisasie waardeur die ANC-SAKP sal werk tot 16 Desember. Die SAKP sal, soos te verwag, nie ’n hoë sigbaarheid vertoon nie, omdat baie van sy lede (veral Blankes) steeds as Verligtes en Hervormers moet opereer. Maar die SAKP sal oor die mediumtermyn die sterk rol speel om die oorgang na ’n Kommunistiese staatsorde te bewerkstellig.

’n Belangwekkende verwikkeling waaroor gepraat word, is dat die SAKP reeds met COSATU ’n verstandhouding bereik het dat “ ’n onafhanklike” sosialistiese party gestig moet word wat, soos in sommige Oos-Europese state, ’n sogenaamde demokratiese sosialisme kan bevorder, sonder om die stigma van Kommunisme te dra.

Vervolg...