Lees reeks by Afrikaners praat met De Klerk
Om die voorwaardes te skep vir die golf van plakkery, was sekere stappe van regeringskant nodig. Die belangrikste was die opheffing van beheer oor toestroming, die staking van die registrasie van dienskontrakte en die daarmee gepaardgaande herroeping van die Paswette. Dit is onbegryplik dat die regering nie sou ingesien het waartoe dit sou lei nie. En dat die verantwoordelike Minister — destyds Chris Heunis — kon sê dat toestromingsbeheer opgehef is om plek te maak vir “ordelike verstedeliking”, is seker een van die mees bytende politieke ironieë van hierdie eeu!
Hierdie stappe van die Regering het plaasgevind in die wyer raam van die sosio-ekonomiese beleid van finansiële bevoordeling van die groot monopolies, verarming van boere, agteruitgang van plattelandse dorpe, met die gevolglike noodwendige trek na die stede, en die bewuste regeringsbeleid om al meer te bestee aan onderwys, behuising en gesondheid vir die Swartes by die stede, terwyl besteding hieraan vir Blankes vasgepen is.
Aantreklik vir Swartes
Dr. Joep de Loor, destyds Direkteur-generaal van Finansies, het volgens The Pretoria News van 8 September 1981 gesê:
“Besteding aan Swart onderwys, behuising en gesondheidsdienste sal drasties verhoog moet word, terwyl besteding aan Blankes op dié gebiede sal stagneer”.
Hierdeur, en die gelyktydige afskaffing van werkreservering, die verhoging van Swartes se lone om rassegelykstelling te bevorder en die afskaffing van skeidingmaatreëls in Blanke geriewe, is dit vir Swartes al hoe aantrekliker gemaak om na die stede te verskuif en die voordele van ’n welsynstaat op die Blankes se rekening te geniet.
Gunstig vir revolusie
Dit is ’n bekende feit dat die georganiseerde geldmag (deur byvoorbeeld die Stedelike Stigting) al hierdie dinge bepleit het, wat uiteraard sou meebring dat al hoe meer Swartes in ’n kort tydsbestek op die betreklike klein oppervlaktes van metropolitaanse gebiede saamgetrek sou word in gebroke Swart samelewings, waarin weinig sosiale reëls erken kon word, en gevolglik ’n vrugbare teëlaarde vir die revolusionêre aksies van die Kommuniste sou wees.
Dit is opsigtelik uiters gunstige omstandighede wat vir die Kommuniste geskep is om die plakkery-veldtog van stapel te stuur, terwyl stakings en massa-demonstrasies tegelyk aan die orde is, roof, moord en diefstal ongekende afmetings in Suid-Afrika aangeneem het, en gevolglik effektiewe maatreëls teen die plakkery uiters moeilik, indien nie onmoontlik, maak nie.
Dit is ’n belangrike vraag of die georganiseerde geldmag die noodwendige gevolge van hulle voorstelle en aandrang besef het en daarom die revolusionêre toestand wou help skep, dan wel of hulle in onkunde Kommunistiese oogmerke help bevorder het.
Implementeer Freedom Charter
Die grootskaalse plakkery deur Swartes het ’n kant waaraan min, indien enige aandag gegee is. Dit is dat die ANC/SAKP se Freedom Charter plakkery uitdruklik as deel van ’n program van aksie in vooruitsig stel.
“Almal het die reg”, lui een van die bepalings, “om grond te beset waar ook al hulle verkies”.
Dit is ’n voorskrif vir plakkery en dit beteken dat geen ontsag getoon word vir enige eiendomsreg nie. Die betekenis is volkome duidelik. Die bewoording is berekend gekies en volgens die beste getuienis deur die Kremlin goedgekeur.
Die volle toepassing hiervan sal miskien nie plaasvind voordat ’n ANC/SAKP-regering oorgeneem het nie, maar dit het reeds begin en sal toenemend die metode wees waardeur die Blankes se eiendomsreg sinloos en kragteloos gemaak sal word. Eienaars sal gaandeweg bes moontlik in wanhoop van hulle eiendom af padgee met die hoop om hulle op die howe te beroep.
Howe ingespan
Dit is baie betekenisvol dat ’n ANC/SAKP-segsman, ene Pennell Maduna, juis volgens The Citizen van 13 Julie by ’n konferensie van die Black Sash onder andere gesê het:
“Die huidige regstelsel sal volkome omgewerk en vervang word deur een wat die politieke, sosiale en ekonomiese veranderings sal reflekteer wat teweeg gebring is deur ‘die stryd’, wanneer die ANC die mag oorneem”.
Dan lui dit verder:
Die hele benadering tot die gereg en menseregte sal fundamenteel hervorm word deur te leen uit inboorlingtradisies en -gebruike, terwyl onewewigtigheid in die verdeling van grond en besittings in behandeling geneem sal word.
Hieraan het hy toegevoeg dat daar ook ’n gepaste plek gesoek sal word vir “volkshowe wat behartig sal word deur gemeenskapswerkers of deur para-regsmense met basiese regskundigheid”.
Hieruit kan afgelei word hoe die howe deur die ANC/SAKP ingespan sal word om die berowing van Blanke grondeienaars te wettig; en enige beroep van Blankes op sulke howe om hulle regte te beskerm, sal natuurlik futiel wees.
Regering verlam
Dit gee enigsins ’n indruk van hoe die SAKP te werk sal gaan om die ander ingrypende oogmerk in die Freedom Charter te verwesenlik, naamlik: “Alle gronde moet herverdeel word onder dié wat dit bewerk”.
Die georganiseerde plakkery deur Swartes in die wintermaande van 1990 is klaarblyklik die eerste groot skuif om hieraan uitvoering te gee sowel as aan die reeds aangehaalde aanspraak in die Freedom Charter: “Almal het die reg om grond te beset waar ook al hulle verkies”.
En die Regering van Suid-Afrika het homself daarteen verlam deur enersyds die beleid neer te lê dat niemand met geweld van ’n gebied verskuif mag word nie, en andersyds dat die Suid-Afrikaanse Polisie nie by sulke gevalle betrokke mag raak nie.
Blankes moet ly
Hierdie politieke plak-offensief van die Kommuniste sal verder reik volgens die beleid wat deur die Freedom Charter uitgestippel is. Een van die betrokke bepalings is: “Alle mense het die reg om te woon waar hulle wil, ordentlik gehuisves te wees ... ” en “’ongebruikte woningruimte moet aan die volk beskikbaar gestel word”. So, die bekendmaking in Julie 1990 dat volgens ANC/SAKP-beleid onbewoonde woonstelle betrek sal word, is ook in ooreenstemming met die Kommunistiese Freedom Charter.
Dit was sekerlik nie toevallig nie dat juis midde-in die plakkery-offensief, ’n Swarte van die VSA op besoek in Suid-Afrika was en geleentheid gekry het om Swartes in die Amerikaanse Inligtingskantoor se “Kultuur-sentrum” in Johannesburg teen Blankes op te rui. “Witmense”, het hy oa gesê, “sal moet ly, omdat hulle ver meer besit as waarop hulle geregtig is... As iemand in die nuwe bedeling ’n huis van tien vertrekke het en net drie gebruik, moet hy ’n huis van drie vertrekke kry, of sewe vertrekke van sy huis afstaan aan dié wat nie huisvesting het nie’’. (Die Transvaler, 29 Junie 1990).
Daar kan aangeneem word dat hy waarskynlik ’n Kommunis is wat volgens die voorskrifte van die ANC/SAKP gepraat het.
Blanke huise beset
Wanneer hierdie voorskrifte van die Freedom Charter saamgelees word, is dit te begrype waarop daar afgestuur word:
• Almal het die reg om grond te beset waar ook al hulle verkies.
• Alle mense het die reg om te woon waar hulle wil en om ordentlik gehuisves te wees.
• Ongebruikte woonruimte moet aan die volk beskikbaar gestel word.
• Alle grond moet herverdeel word onder dié wat dit bewerk.
Laasgenoemde het blykbaar betrekking op plaasgrond, en kan, hoewel van ingrypende betekenis, in hierdie bespreking eers oorgeslaan word, omdat die Kommunistiese aanslag vir eers op die stede gerig is.
Uit die drie betrokke bepalings hierbo kan die verskillende fases van die offensief afgelei word. Een, plakkery by stede en dorpe; twee, agitasie dat mense nie in sulke krotte kan lewe nie; drie, hulle mag net verskuif word na behoorlike behuising; vier, dit is onmoontlik om behoorlike behuising op so ’n groot skaal in ’n kort tydsbestek te voorsien; dus vyf, hulle moet geakkommodeer word in bestaande onbenutte woonruimtes in Blanke woongebiede en -eenhede.
Die roekeloosheid van die plakkersoffensief toon duidelik dat die Kommuniste vir niks sal stuit om hierdie voorskrifte van die Freedom Charter ten volle te implementeer nie. Daarom moet aangeneem word dat die voorwaardes reeds geskep is vir die verskillende fases van die offensief en dat indringing in Blanke gebiede betreklik gou verwag moet word. Wanneer die eerste indringing plaasgevind het — moontlik in woonstelblokke—sal die weg berei wees om ook woonhuise te betrek; en daarna sal die indringing in bewoonde huise begin — waarskynlik nadat Blanke Kommuniste en liberaliste Swart gesinne ingeneem het om die praktyk te vestig en die eksklusiewe Blanke aard van ’n woongebied te vernietig. Dit sal onrealisties wees om te dink dat die De Klerk-regering so ’n ontwikkeling sal kan verhoed. Hy is nie meer in staat om vanuit sy verbroedering met die Kommuniste enige linkse offensief wilskragtig teen te gaan nie.
Pandora-kis
Die dinge wat nou reeds gebeur rondom die onwettige besetting van grond, en die uitlatings wat in verband daarmee gemaak word in die geledere van die ANC en die SAKP, is net die begin van die implementering van die Freedom Charter se bepalings in dié opsigte. Uit die aard van die saak sal die implementering deur elke nuwe stap momentum wen, en daardeur die voorwaardes skep vir die volgende en die volgende ontwikkeling in ’n eskalering van rewolusionêre aksie, waardeur Blankes tot bloedlose oorgawe gedring of gewelddadige verset genoop sal word.
Dit is die samehang waarin die De Klerk-regering se ontbanning van die ANC en die SA Kommunistiese Party en die vroeëre wettigverklaring van die Freedom Charter deur die Appelraad op Publikasies beskou moet word.
Deur die opheffing van toestromingsbeheer en ander maatreëls waarna vroeër hierin verwys is, is die Pandora-kis van revolusie deur die De Klerk-bewind geopen, en deur die wettiging van die SAKP is die middel voorsien om die booshede uit die Pandora-kis volgens voorskrif van die Freedom Charter in te span teen die Blankes van Suid-Afrika.
Blankes sal moet besef dat die Regering weens sy beleid van paai en toegee reeds ’n groot deel van sy gesag verloor het; dat hy steeds meer en meer gekompromitteerd teenoor die SA Kommunistiese Party sal word, en nie Kommunistiese geïnspireerde aksies sal kan teenstaan of bestry nie; en dat hy al meer geloof en gevlei sal word deur die WO, deur die Britse vyande van die Afrikanervolk en deur sy gespreksgenote in die ANC/SAKP ten einde hom hegter te verbind tot saamgaan op die revolusionêre weg.
As hierdie bose kringloop nie gestuit word nie, sai Afrikaners en hulle Blanke landgenote al hoe minder beskerming van die staat geniet, en sal hulle al hoe meer moet saamstaan om hulle eie belange en lewens te beskerm. Die toestand is reeds nou (Julie 1990) baie erger as wat mense se gerustheid hulle toelaat om te erken.
AFRIKANERS EN BLANKES SE REGTE NIE BESKERM – VERVOLG...