E. van Nantes
Die minister van finansies het aangekondig dat daar planne gemaak word om ‘n suikerbelasting op versoete drankies met ingang vanaf 1 April 2017 in te stel, in ‘n poging om landsburgers te “help om hul uitermatige suikerinname te beperk.”[1]
Die artikel verduidelik verder dat ‘n hoë suikerinname verband hou met oorgewig en diabetes en volgens 'n voorspelling van Priceless-SA, sal die totale gesondheidssorg-uitgawes met betrekking tot diabetes in volwassenes, die land in 2030 tussen $1 en $2 biljoen uit die sak jaag. Volgens die Mail & Guardian sal ‘n 20% belasting op hierdie drankies die regering verseker van ‘n soete ekstra R7 biljoen per jaar. Die tesourie huldig verder die mening dat “fiskale inmenging soos belastings toenemend erken word as hulpmiddels ten einde die epidemie aan te pak”.
Nou toe nou! Met die lees van die artikel wil mens dink dat die minister voortydig sy 2017 April-gek grap aan al wat suikerverbruiker is wil oordra omdat hy bang is dat hy dalk volgende jaar van hierdie “goeie een” gaan vergeet. Maar soos mens verder lees, is dit duidelik dat die regering homself as ‘n ouerfiguur vir elke suikergebruiker in die land beskou – so asof ons ongehoorsame kinders is wat húlle leiding nodig het. Dit is verder lagwekkend dat hulle van mening is dat hierdie belasting, wat deur óns betaal sal word, óns sal help om óns inname van versoete drankies in te perk! Tipies – skep eers skuldgevoelens waarna die kind dan meer bereidwillig sal wees om sy straf te dra.
Ek vind dit verder vreemd dat Priceless-SA (Priority Cost Effective Lessons for Systems Strengthening South Africa, a research institute at the Wits School of Public Health) hul koste-projeksie in Dollars aankondig terwyl hulle in Suid-Afrika gestel is. Wat verder interessant is, is dat Priceless-SA nou alreeds, 13 jaar die toekoms in, vir pappa regering kan sê wat die R/$ verhouding gaan wees, aangesien hospitalisering sekerlik deur Suid-Afrikaanse doktors en hospitale behartig sal word en die rekeninge derhalwe in Rande betaal sal moet word. Ek sal ook graag wou weet presies wíé dan nou toenemend belastings as hulpmiddels beskou in die hantering van epidemies – is dit landsburgers of ander regerings?
Ek is jammer, maar ek sluk maar swaar aan hierdie kwansuise hulp wat my aangebied word deur die regering, óf dat my gesondheid en my lewensverwagting vir húlle van enige waarde is. Ek dink eerder dit is die omgekeerde, naamlik dat die regering, na ‘n tydperk van finansiële vetsug nou finansiële diabetes onder lede het en spartel om sy eie lewensverwagting te verleng. Vergelyk mens die regering se betrokkenheid by die beperking van plaasmoorde, die daarstel van ordentlike provinsiale hospitale en die verskaffing van noodsaaklike dienste met hul betrokkenheid by die wanbesteding van belastings soos byvoorbeeld om staatsinstansies soos SAA, Petrosa, Eskom, ens, ens, ens aan die gang te hou, en skandale soos Nkandla in beheer te hou, sal jy besef dat dit beslis net oor hulleself en hulle maatjies gaan en niemand anders nie.
Persoonlik is ek, om die minste te sê, so bietjie laer af as keelvol vir die betaal van belasting en om iks in ruil daarvoor te kry nie. Van persoonlike belasting (waarvoor ek werk want ek kry nie toelaes nie) tot BTW-oorbetalings elke tweede maand (voorraad op my rakke waartoe die regering nie bygedra het tot die finansiering of produksie daarvan of enige risiko daarvoor gedra het of bemark het nie) tot my kind wat ‘n deel van sy erfporsie moet afstaan (waarop reeds deur my belasting betaal is) tot kapitaalwinsbelasting (waar ek alleen die risiko moes dra) tot sondebelasting (waar aborsie, korrupsie en wanbestuur nie sonde is nie) tot toelaes op brandstof tot tolgeld tot koolstof belasting (bande en motors) nie.
Suid-Afrika bevind hom in ‘n kamma kapitalistiese bestel wat binne ‘n Afrika-kraal funksioneer waar die koning voor sy hut sit en reëls maak en verder wag vir die oes om in te kom. In ruil vir belasting is die regering veronderstel om werk te skep, die ekonomie te stimuleer, veiligheid en dienste aan burgers te verskaf, landsgrense te beskerm, kortom, hy moet na die belange van sy inwoners omsien, nie na sy eie nie! Ek kan aan geen diens dink waarvoor ek van die regering afhanklik is nie. In die afwesigheid van ‘n regering verkry privaat hospitale, skole, sekuriteitsmaatskappye, konstruksiemaatskappye, telefoon-, en internet diensverskaffers, vervoerkontrakteurs, lugrederye, energieverskaffers, ens hul beslag. . . en hoe waar is dit nie van Suid-Afrika nie? Indien u my nie glo nie, Standard & Poors was ‘n paar maande gelede alreeds gereed om die paar maer staatsbeeste wat nog hier rondom die kraal ronddwaal tot rommelstatus te verklaar.
Hierdie kraal-opset werk goed vir die regering, maar dit werk gladnie vir my nie. Dit werk goed vir hom want so kan hy maandeliks die lojaliteit van die werklose massas met toelaes koop en verkiesingstyd weer ‘n paar T-hemde uitdeel vir stemme. Dit werk goed vir hom deur bloed uit die klippe van belastingbetalers te tap en dan mildelik in die bekers van wanpresteerders te skink onder die dekmantel van prestasiebonusse en goue handdrukke. Dit werk nie vir my nie want ek het geen afhanklikheid en dus geen lojaliteit teenoor hom nie.
Inteendeel, hierdie hele politieke bestel is ‘n klug bloot omdat die aantelers altyd in die meerderheid sal wees. Geen ander party, maak nie saak hoe edel, bekwaam of opreg nie, sal ‘n kans tot oorwinning staan indien dit nie deel van hierdie massa is nie. Die politiek en ekonomie van Suid-Afrika is soos spookasem – weliswaar kleurvol maar sonder enige substansie, waar die parasiet se verterende Afrika-asem die Westerse standaard tot net ‘n spook verander het. Belas maar hierdie suikerdrade en jy sal sien, kort voor lank is die produk nie meer beskikbaar nie – weg is die suikerrietplaas, weg die werksgeleenthede wat daarmee gepaard gegaan het en weg is jou inkomste uit belasting – maar moenie bekommer nie, in ruil daarvoor groei jy die werklose massa wat jou aan bewind sal hou omdat hulle van jou afhanklik is vir daardie maandelikse toelagie waarmee hulle elke dag net ‘n brood kan koop – maar ek is seker jy sal, natúúrlik om die mense te help met hul oormatige koolhidraatinname en gevolglike skeerbuik wat die land in 2032 ‘n beraamde $50 bj gaan kos, daarna sondebelasting op die brood kom instel.