E. Van Nantes
“Die regering se aankondiging dat hy nie die omstrede geblikte leeubedryf in Suid-Afrika gaan verbied nie, kom nadat veldtogte die afgelope maande wêreldwyd teen dié bedryf begin is.”[1]
Leeus wat in aanhouding geteel, net om later aan jagters beskikbaar gestel te word, staan bekend as “geblikte leeus”. Hierdie leeus word tipies in ‘n klein kampie aangehou sodat die leeu nie kan ontsnap wanneer die “jagter” kom om sy trofee te haal nie.
Die aanval op ‘n bekende ekonoom en sy gesin in hul woning op ‘n veiligheidslandgoed in Pretoria, was ‘n paar maande gelede groot nuus in die hoofstroom media. Die verwantskap tussen ‘n geblikte leeujag en hierdie tipe aanval is baie duidelik wanneer die jagters, die klein kampie en die leeu soos ‘n Hollywood film voor jou geestes-oog verby rol.
Of die aanval nou op ‘n plaas, binne die omheining van ‘n veiligheidslandgoed of op ‘n snelweg plaasvind, is totaal irrelevant. Wat wel relevant is, is dat die blanke moet begin besef dat hy ‘n teiken is van verskeie soorte jagters. Hierdie jagters, wie as lafaards beskou word, organiseer hulself meesal in groepe van vier of meer teen één huiseienaar en sy gesin ten einde te roof, te verneder, te martel en te moor. Afriforum wys geruime tyd reeds daarop dat die wreedheid wat met plaasaanvalle gepaardgaan, beslis aan die toeneem is.[2]
Die skrywer onthou nog hoe sy vader, hier gedurende die 70’s, elke oggend sy wapen saamgeneem het na sy werksplek as gevolg van die bedreiging wat ons ook op daardie stadium in die gesig gestaar het, bínne en όp ons landsgrense. Sover onthou kan word, was die aanvalle op blankes maar min en word dit aanvaar dat die rede daarvoor geleë was in die feit dat blankes paraat en bewapen was. Dit is daarom vreemd dat soveel blankes besluit het om, met die oorgawe van die land, eerder hul wapens in te handig as om verbete daaraan vas te klou (2.4m[3] lisensiehouers gedurende 1994 teenoor 1.8m[4] in 2015). Die bedreiging het per slot van sake tog nie op daardie dag eensklaps verdwyn en sodoende almal se veiligheid verseker nie. In teendeel, dit kan sekerlik met veiligheid gesê word dat méér blankes oor die laaste 21 jaar binne die landsgrense aangeval is as gedurende die 21 jaar wat 1994 vooraf gegaan het (wat ‘n tyd van oorlog was).
Dat die jagters goed bewapen is, is ‘n voldonge feit en word dit keer op keer deur die media bevestig wanneer daar wel oor aanvalle berig word. Dit is daarom dat daar met groot satisfaksie verneem word van voorvalle waar huiseienaars, plaaseienaars of motoriste hulself en hul gesinne suksesvol kon verdedig teen hul jagters. Alhoewel sodanige verdediger normaalweg daarna ‘n klagte van moord of poging tot moord in die gesig staar, is dit seer sekerlik beter as om een van jou geliefdes aan hierdie jagters af te staan en salueer die skrywer elkeen van hierdie leeus wie hom nie in ‘n blik laat druk het nie. Die Amerikaners het ‘n gesegde wat soos volg lui : “It’s better to be tried by twelve than be carried by six”, wat nogal raak gesê is.
Met die misdaadvlakke waar dit is en die onvermoë van die polisie om almal altyd veilig te hou, sou die redelike man (lees regering) eerder soveel as moontlik vuurwapens in die hande van landsburgers wou hê ten einde misdaad sover moontlik te bekamp, of so sê die logika van die skrywer. Die teendeel is egter eerder waar. Op die webtuiste van Wapeneienaars van Suid-Afrika verskyn die volgende : “10 March 2016: GFSA proves that they don't care about justice or innocent lives, but that they hate guns. How can GFSA have any credibility left?”[5] Die logiese vraag wat by mens opkom is, hoekom? Die logiese antwoord is dat enige moontlike weerstand wat teen die regering gebied kan word, sover moontlik beperk moet word. Wat daarmee saamgaan, is dat die persoon wat wel op sy reg tot die besit van ‘n vuurwapen aandring, op een of ander manier “gestraf” moet word deur vyf-jaarlikse hernuwings van hul lisensies...... amper iets soos die “sonde-belasting” wat op drank en sigarette van toepassing is. Hierdie sondaars stort elke 5 jaar (bereken teen R500 per hernuwing[6]) ten minste R900m in die koffers van die regering! Nog ‘n “scam” deur hierdie regering, soos met die tolstelsel, om geld uit niks te maak nie. Die ekonomiteitsbeginsel van “minimum inset vir maksimum uitset” het sopas nuwe betekenis gekry! Die waarde wat hierdie “hernuwing” vir die lisensiehouer inhou, is NUL, maar lag die staat al die pad bank toe.
Die slotsom waartoe die skrywer kom is dit, of dit nou rowers in ‘n veiligheidslandgoed of die regering is, beide hou hul lywe Simson. Indien die leeu oorwin kan word, is dit voorwaar ‘n geval van “Spys het uit die eter uitgegaan, en soetigheid uit die sterke”.
Ter afsluiting moet daar sekerlik darem net gemeld word dat Sylvester, na sy tweede ontsnapping, weer terug is in sy tuiste by die Karoo Nasionale Park. Die skrywer kan identifiseer met Sylvester se strewe na Vryheid. Feit van die saak is dit : daardie tralies kon nog nooit enige leeu in ‘n kombuiskat verander nie, maak nie saak hoe lank jy hom in die kampie aanhou nie.