DIE AFSKHUWELIK...

E. Van Nantes

Op Vrydag 26 Junie 2015, beslis die Hooggeregshof van Amerika by wyse van ‘n verdeelde stem (5 teen 4), dat “selfde-helfte” (same-sex) huwelike voortaan in alle state (ook die 13 wat dit tot op hede teengestaan het) gewettig word en dat hierdie “paartjies” in terme daarvan geregtig sal wees op dieselfde regte en voorregte as díé van heteroseksuele huwelike. Ter viering van die uitspraak is die Wit Huis, toring 1 van die WTC en verskeie stadsale daardie selfde aand nog, in die kleure van die reënboog gehul. Selfs Obama kon nie anders as om sy stempel op die geleentheid af te druk nie, met die woorde “Today we can say in no uncertain terms that we’ve made our union a little more perfect”. Tydens ‘n verdere toespraak het Obama die ondersteuners van “selfde-helfte” huwelike aangemoedig om ander mense te help om oor hul geloofsoortuigings te kom sodat laasgenoemde nie langer teruggehou word van ‘n progressiewe Amerikaanse siening van gelykheid nie (vry-vertaling)[1]

Met die aanhoor van hierdie “nuus” was my eerste gedagte “Geval, geval het die groot Babilon” en dit deur één regter. Dit is net eenvoudig skokkend om te dink dat hierdie een  regter namens meer as 300 miljoen Amerikaners kon besluit om ‘n stempel van goedkeuring op homoseksuele en lesbiese “huwelike” af te druk en sodoende die lewende GOD van hemel en aarde uit te tart...  en dan nog met die goedkeuring van Obama.

Dank die Here dat daar wel Amerikaners is wie nie hierdie besluit aanvaar nie maar by die voorskrifte van die Bybel hou en gehoorsaamheid aan GOD bo gehoorsaamheid aan ‘n regering stel.

Sedert 30 November 2006, in terme van die Civil Union Act, sluit die definisie van huwelik “selfde-helfte” pare in Suid-Afrika in soos op 28 November 2006 aanbeveel deur die Nasionale Raad van Provinsies , en wel by wyse van 36 teen 11 stemme.[2] Indien die situasie in Amerika, waar hierdie wetgewing met ‘n 11.12% meerderheid goedgekeur is skokkend is, wat sal dan van Suid-Afrika gesê kan word waar dit met ‘n 53.20% meerderheid goedgekeur is? Is Suid-Afrika verder van GOD en sy Woord verwyder as Amerika όf is ons sogenaamde leiers maar net meer goddeloos as díe van Amerika? Hoe dit ookal mag sy, behoort dit duidelik te wees dat navolgers van Jesus alle rede tot kommer behoort te hê, híér sowel as dáár.

In Gen.18 pleit Abraham by GOD om Sodom en Gomorra te spaar indien vyftig regverdiges daarin gevind sou word. Abraham hou aan by GOD totdat hy by tien regverdiges kom, maar des nieteenstaande word die stede tόg vernietig. Die oningeligte mag voorwaar vra hoekom GOD dit goedgedunk het om hierdie twee stede te vernietig. Wel, die antwoord lê opgsluit in die volgende verse :

Gen.13:13 En die manne van Sodom was sleg en groot sondaars voor die HERE.

Gen.18:20  Verder het die HERE gesê: Die geroep oor Sodom en Gomorra is waarlik groot, en hulle sonde is waarlik baie swaar.

Gen.19:4  Hulle het nog nie gaan slaap nie toe die manne van die stad, die manne van Sodom, die huis omsingel: jonk en oud, die hele bevolking, almal saam.

Gen.19:5  En hulle het na Lot geroep en aan hom gesê: Waar is die manne wat vannag na jou gekom het? Bring hulle na ons toe uit, dat ons hulle kan beken.

Die uiteinde van hierdie twee stede word verder soos volg beskryf :

Gen.19:24 En die HERE het swawel en vuur oor Sodom en Gomorra laat reën van die HERE uit die hemel,

Gen.19:25  en Hy het hierdie stede omgekeer en die hele Jordaanstreek, ook al die inwoners van die stede en wat op die grond groei.

Gen.19:28  Toe hy uitkyk oor Sodom en Gomorra en oor die hele land van die Jordaanstreek, sien hy dat die rook van die land optrek soos die rook van ‘n smeltoond.

Uit bogenoemde aanhalings behoort dit duidelik te wees dat GOD die oortreding van die stede in ‘n baie ernstige lig beskou het en dat die straf daarvoor vinnig en finaal was.

GOD bevestig sy afkeur van hierdie lewenswyse in Lev.18:22 Met ‘n manspersoon mag jy ook geen gemeenskap hê soos ‘n mens met ‘n vrou het nie. Dit is ‘n gruwel.En tog, ons leiers en regters probeer om met hul menslike wetgewing dít wat GOD tot gruwel verklaar het, te ontgruwel! Die humanisme dra groter gewig as die gehoorsaamheid aan GOD, en menslike wette troef díé van GOD, of so dink hulle!  Maar kyk wat sê Jes.5:20 “Wee hulle wat sleg goed noem en goed sleg, wat die duisternis lig maak en die lig duisternis, wat bitter soet maak en soet bitter.” Die Grondwet van Suid-Afrika word blykbaar regoor die wêreld “bewonder en gerespekteer vanweë sy baanbrekende benadering tot menseregte[3] Hoekom hierdie humanistiese benadering soveel respek van die wêreld onvang, gaan die verstand te bowe aangesien dit lynreg in stryd is met die Woord van GOD betreffende hierdie aangeleentheid.

Op 26 Mei 2013 neem 1miljoen mense deel aan ‘n protesaksie teen “selfde-helfte” huwelike in Parys, Frankryk.[4] terwyl daar op 16 September 2006 “duisende” Suid-Afrikaners saamgetrek het om protes hierteen aan te teken.[5] Dit is verder bemoedigend om die opinie van die APK[6] rondom hierdie aangeleentheid te lees terwyl díe van ander kerke weer die moed in jou skoene laat sak.

Tot en met einde 2011 is ‘n totaal van 3327 sodanige huwelike in Suid-Afrika voltrek. Dit gaan die verstand te bowe dat die “regte” van hierdie 6654 sogenaamde “huweliksmaats” bo die geloofsoortuigings van duisende Godvresende landsburgers gestel kan word. Mag JESUS vir ons intree wanneer die HERE na Suid-Afrika en Amerika begin kyk, mag daar genoeg “regverdiges” gevind word om die swawel en die vuur oor ons af te wend! Dit is my bede dat ons volk ons sal verootmoedig voor die Almagtige Vader en dat Hy ons genadig sal wees. Mag die Vader/kind verhouding tussen Hom en ons herstel word.  Mag ons nie as ‘n Sodom en Gomorra gereken word nie. Mag sy koninkryk gou kom.