E. Van Nantes
Volgens die Griekse mitologie het Midas een wens van die god Dionysus ontvang bloot omdat hy ‘n vriend van Dionysus, bedagsaam behandel het. Die wens van Midas was dat alles wat hy sou aanraak, in goud moes verander. Dionysus het die wens aan Midas toegestaan en vandaar dan die welbekende “Midas touch”-uitdrukking. Hierdie wens het nie net alleen die geldgierigheid van die koning ontbloot nie, maar ook sy totale dwaasheid aangesien hy byna gesterf het van honger omdat selfs sy kos ook in goud verander het.
Bogenoemde verhaal mag dalk as mitologie beskou word elders in die wêreld, maar hier in Suid-Afrika is dit ‘n realiteit wat op ‘n daaglikse basis afspeel. Ongelukkig vir die meerderheid onderdane van koning Zumdas is die geldgierigheid, dwaasheid en bedagsaamheid daar waar die ooreenkoms tussen die Europese en Afrika weergawes van Midas eindig, want van goud máák is daar net geen sprake aan hierdie kant nie. Inteendeel, dit wil voorkom asof hierdie koning eerder oor die vermoë beskik om reeds bestaande goud in net mooi niks te verander. Nkandla, die “emosionele onderskraging” van onbekwame staatsamptenare (ESKOM) en die eliminasie van moontlike bedreigings (NVG) is goeie voorbeelde hiervan. Die bedagsame “golden handshake” het die “Midas touch” vervang!
So van drukkies en soentjies gepraat, skrywer sien dat die minister van polisie uitspraak gelewer het omtrent daardie heilige ANC koei waarvoor Zumdas nie gevra het nie. Wat egter bekommerenswaardig is, is dat die minister eerstens die intelligensie van die gemiddelde landsburger onderskat met sy sogenaamde verklarings ter verduideliking van die astronomiese uitgawes aangegaan en tweedens die indruk met sy verslag wou skep dat Zumdas volgens hom, geensins aanspreeklik gehou kan word nie. Dit is asof die polisieminister aan Zumdas dan nou een of ander “teken” gegee het, vir almal om te sien, dat hy wat Zumdas is, onvervolgbaar is. Dit laat mens nogal dink aan die verhaal van Kain en die merk wat hý ontvang het.
Onwillekeurig vra mens jouself af hoe op aarde ons tot op hierdie punt gevorder het. Die staatskas is sonder twyfel leeg wanneer die ANC die een lening na die ander van China moet bedel net om die infrastruktuur aan die gang te hou of wanneer die ANC by pensioenfondse begin soebat om ESKOM-aandele aan te koop ten einde die kontantvloei van laasgenoemde te verbeter! Die totale arrogansie van die ANC, naamlik dat die fondse van pensionarisse aangewend moet word om die wanadministrasie van die regering verder te finansier, skreeu ten hemele. In die lig van voorafgaande word dit aanvaar dat buitelandse investering verder bes moontlik ‘n rekord laagtepunt bereik het.
Met laasgenoemde in gedagte, is dit nie slegs net die investerende Europese “koloniste” wie se oë besig is om oop te gaan en investering te weerhou nie. Die openlike “gegiggel” onder die “uitgelese gehoor” tydens sy openingsrede by die WEF, is ‘n bepaalde aanduiding dat Zumdas geen aansien in die finansiële wêreld geniet nie. Dit is egter ook so dat hierdie gebrekkige aansien nie net beperk is tot die buitewêreld nie. Dink maar aan die uitjouery van die begrafnisgangers tydens sy toespraak by daardie groot begrafnis so tydjie gelede en die Afrikaner-kerke wat onlangs ook besluit het om nie met die regering in gesprek te tree nie omdat laasgenoemde se “morele ineenstorting” sinvolle gesprek onmoontlik sou maak.
Die vraag kan met reg gevra word of ons wel hier met ‘n “morele ineenstorting” of eerder ‘n “immorele natuur” te make het.
Een manier om die vraag te beantwoord, sou wees om na die vrugte van die boom te kyk. Die wapenskandaal, die verkragtingsaanklag, die Waterkloofskandaal, Nkandla en die Omar al-Basjir aangeleentheid hang soos half-gevrete muisvoël-vye aan hierdie boom. Die ander manier om die vraag te beantwoord, is om na Zumdas se vriende te kyk want jy word mos aan jou vriende geken, of hoe? Dink maar aan Schabir Shaik, en die Guptas.
In alle billikheid teenoor die koning moet sekerlik ook gevra word of die kwaliteit van die boom nie bepaal word deur die tipe kunsmis waarin dit opgegroei het nie. Gegewe dat die ANC deurtrek is van korrupsie, omkopery, wanadministrasie en ‘n eenvoudig totale disfunksionaliteit, mόés dit ‘n invloed op die boom en sy vrugte gehad het. Sou dit dan wel so wees dat die kwaliteit van die boom beïnvloed word deur die kwaliteit van sy bemesting moet daar sekerlik verder gedelf word ten einde te bepaal wie die grond vir daardie boom afgebaken, voorberei en dit geplant het. Die enigste antwoord hiervoor is dat dit die boer, of liewer dan iemand wat hom voorgehou het as die boer, was.
“Morele ineenstorting” impliseer dat moraliteit wel vroeër bestaan het, maar dat dit met verloop van tyd ineengestort het. Gedurende 2007 het die veiligheidsmuur vir die woning van Mbeki R90m gekos en het dit net soveel aandag geniet soos Nkandla. Mbeki moes in 2008 bedank ná die uitspraak van regter Nicholson wie bevind het dat Mbeki ingemeng het in die NVG. Dit word selfs aangevoer dat Mbeki, met sy weiering van antiretroviale behandelings in staatshospitale, verantwoordelik was vir die voortydige dood van 330 000 tot 365 000 mense. https://en.wikipedia.org/?title=Thabo_Mbeki
Op 20 Mei 1983 sterf 19 mense in die Kerkstraat bomontploffing soos goedgekeur deur Mandela. Hy wat Mandela was, kon alreeds in 1985 ‘n vry man gewees het indien hy in die openbaar geweld sou afsweer, maar hy weier hierdie aanbod van P.W. Botha.
In die lig van bogenoemde wil mens tot die gevolgtrekking kom dat immoraliteit die natuur van die ANC en sy leiers is en dat die sogenoemde “ineenstorting” waarna Afrikaner-kerke verwys, eenvoudig oë verblindery is. Is en was Afrikaner-kerke en politieke leiers dan oningelig omtrent die aard en die natuur van hierdie vreemde boom wat hulle in hul eie boord kom plant het? ‘n Boord wat deur hul voorgangers met gebed en deur bloed omgeploeg is? ‘n Boord wat jaloers deur hul voorgangers beskerm is, reeds teen hierdie vreemde bome? Ek twyfel.
Op 31Mei 2015 kom die wekroep van De Klerk “hou op skuldig voel en verset julle” en op 03 Junie 2015 verklaar die kerke dat hulle nie kans sien vir samesprekings met die ANC nie. Dit is ironies dat die voorgee-boer vir 21 jaar in die skadu van sy aanplanting kon sit en toekyk hoe die oorspronklike bome verdring en vernietig word sonder om eers ‘n woord te sê. Vir 21 jaar het die kerk en De Klerk hulle vreemde aanplanting vertroetel en hul eie bome afgeskeep en nou draai beide hulle binne 3 dae weg van hul skepsel?
Deut 17:15: "...dan moet jy sekerlik ‘n koning oor jou aanstel wat die HERE jou God sal verkies; uit die midde van jou broers moet jy ‘n koning oor jou aanstel; jy mag geen uitlander, wat jou broer nie is nie, oor jou aanstel nie.”
Dit is te laat vir die K(l)erk want die oorblyfsel van die oorspronklike boord vertrou nie meer op prinse όf konings nie... nie eers díe met die merk van Kain nie, en daar loop ‘n paar van hulle in hierdie boord rond! Gen 4:9: "Toe sê die HERE vir Kain: Waar is jou broer Abel? En hy antwoord: Ek weet nie. Is ek my broer se wagter?”