DIE WAARDE VAN GESKIEDENIS

E. Van Nantes

"Those who don't know history are destined to repeat it." (Edmund Burke).

Ten einde bogenoemde te illustreer kan verwys word na die klassieke voorbeeld waar Hitler, net soos Napoleon, besluit het om Rusland binne te val en beide invalle presies dieselfde gevolg gehad het. Die Russe het telkens net verder en verder na die binneland teruggeval totdat die winter die invallers onverhoeds betrap en hulle in hul duisende daar in die Russiese sneeu gesterf het.

Die geskiedenis is nie beperk tot slegs groot internasionale gebeurtenisse soos bogenoemde nie. Nasionaal, het die meerderheid volke elk hul eie geskiedenis opgeteken en bygehou sodat dit kan dien as verwysings vir hul nageslagte :

  • Die Amerikaanse revolusie (1775-1783) wat tussen 13 Amerikaanse state en die Vereenigde Koninkryk plaasgevind het.
    Die rede vir hierdie konflik was daarin geleë dat die patriotte geweier het om belastings, soos deur die Britse parlement opgelê, te betaal. Protes-aksies het vinnig tot boikotte geêskaleer, waarvan die Boston Tea Party bes moontlik die bekendste voorbeeld is.
  • Die Franse revolusie (1789-1799).
    Die primêre redes vir hierdie revolusie was onpopulêre belastingskemas deur die regering ten einde hul inkomste aan te vul, swak landbou-oeste en die algemene misnoë m.b.t. die voorregte wat die adelstand hulself toegeëien het. Die aanval op die Bastille was van die eerste aksies deur die ontevrede landsburgers geloods.
  • In 1917 spoel revolusie deur Rusland en word Tzar Nicholas II tot ‘n val gebring. Groeiende onrus onder landsburgers, gekoppel met voedseltekorte, regeringskorrupsie en ‘n swak ekonomie dra uiteindelik by tot die volskaalse revolusie wat volg.

Mens is geneig om te dink dat revolusies slegs beperk was tot die vorige eeue reeds omdat dit keerpunte in die geskiedenis verteenwoordig. Voorbeelde van meer onlangse revolusies sluit die volgende in :

  • Die revolusie in Sirië het gedurende Desember 2010 begin en was dan ook die begin van die sogenaamde “Arabiese lente”. Die redes vir protesoptredes was die outokratiese regeringstyl, korrupsie en ‘n hoë werkloosheidskoers.
  • Die revolusie in Tunisië (2010) was die gevolg van werkloosheid, voedselpryse, korrupsie en swak lewensomstandighede.
  • Die Egiptiese revolusie (2011). Van die griewe wat uiteindelik in protesoptredes uitgeloop het, was die gebrek aan vryheid van spraak, voedselprys-inflasie, lae lone, ‘n hoë werkloosheidsyfer, korrupsie, polisie brutaliteit, ensovoorts.
  • Die revolusie in Libië (2011)  - die primêre redes was behuising en korrupsie.

Uit hierdie voorbeelde blyk dit dat belastings, voedseltekorte, regeringsvergrype (korrupsie) en swak ekonomiese toestande ‘n teelaarde vir revolusies vorm, terwyl aspekte soos werkloosheid, lone, behuising en die optrede van die polisie, bydraende faktore daartoe is. Revolusie blyk verder ‘n ware “gentleman” te wees wanneer dit by baklei kom want dit is nie iets wat sy niksvermoedende prooi by wyse van verrassing oorval nie, maar waarsku dit eerder sy opponent eers met protesoptredes alvorens daar tot die aanval oorgegaan word. Reeds omdat die geskiedenis bewys het dat protesoptredes elke revolusie voorafgegaan het, word dit as ‘n voorvereiste vir revolusie beskou. Dit is verder interessant om daarop te let dat die redes vir hierdie revolusies oral basies dieselfde was, hetsy dit nou in Amerika, Oos-Europa, Wes-Europa of die Midde Ooste is. Die feit dat landsburgers reg oor die wêreld vereis dat hul regerings aan bepaalde verwagtinge moet voldoen όf dat hulle hul ten minste van bepaalde handelinge moet weerhou, is insiggewend. Hierdie gemeenskaplike “waardestelsel” dwing ons dus om nie slegs op ons eie geskiedenis te konsentreer nie, maar ook te leer uit díe van ander.

Op die vraag of die regering iets van enige volk kan / moet leer, is die anwoord ‘n onomwonde “ja”, en wel om die volgende : ten spyte van verligting m.b.t. persoonlike belastings vir die laer inkomstegroepe, plaas die onlangse implimentering van die brandstofheffing, die voortdurende NERSA-prysverhogings sowel as die afdwing van e-tol tariewe, enorme bykomende laste op die finansies van huishoudings regoor SA.

Volgens die 2014 publikasie van “Transparency International” het Suid-Afrika ‘n telling van 44 behaal in die “Korrupsie Persepsie Indeks” (waar 0 erge- en 100 lae korruptheid verteenwoordig). Volgens “Stats SA” het 53.8% gedurende 2011 onder die “wydste definisie van armoede” geval en oorleef hierdie groep met minder as R779 per maand.  Verder, dat 12m in “ekstreme armoede” leef. Volgens “Trading Economics” het die werkloosheidskoers gedurende die 3de kwartaal van 2014 op 25.4% gestaan. Die “Institute of Race Relations” stel dit in sy verslag dat Suid-Afrika gedurende 2010, 30% meer landbou produkte uitgevoer het as wat dit ingevoer het. Hoe die situasie nou, vyf jaar later daar uitsien, is onbekend. Met hierdie inligting in gedagte word die leser se aandag daarop gevestig dat Egiptenare besluit het om tot ‘n revolusie oor te gaan met ‘n 37 “Korrupsie Persepsie Indeks” en slegs die helfte van die armoede- en werkloosheidsyfers van Suid-Afrika! Met betrekking tot die finale vereiste vir ‘n volskaalse revolusie, naamlik protesoptredes, word die volgende uittreksel aan u voorgehou soos dit verskyn onder http://en.wikipedia.org/wiki/Protests_in_South_Africa:
Gedurende Februarie 2014 word gerapporteer dat daar gedurende die laaste 90 dae meer as 30 protesoptogte per dag plaasgevind het waarby meer as 1m betogers betrokke was en dat die redes vir hierdie optogte grond, behuising en basiese dienste was (vrye vertaling).

Volgens die skrywers van Senior Geskiedenis vir Suid-Afrikaanse Skole , kan die redes vir die Groot Trek kortliks soos volg saamgevat word : alhoewel verengelsing as sulks nie as ‘n direkte oorsaak vir die Groot Trek beskou kan word nie, het dit wel “die gevoel by die Afrikanerkoloniste geskep dat hulle, wat die owerheid betref, eintlik vreemdelinge in hul eie land geword het”, die gebrek aan selfregering, die filantropiese gelykstellingsbeleid en die bedreiging van hul stoflike bestaan (wat die afskaffing van die kommandostelsel in 1833 insluit). Alhoewel die koloniste nie tot ‘n revolusie oorgaan nie, beteken dit nie dat hulle hul omstandighede net gelate aanvaar nie.....nee, hulle trek! Die ANC het vanaf 1994 net soos die Britse Ryk van 1814 dieselfde beleid teenoor die Afrikaner gehandhaaf en wat was die reaksie van die Afrikaner?... emigrasie.

Die Kaapkolonie was egter nie genoeg vir die Britse Ryk nie en druk hulle die Afrikaner verder in ‘n hoek. Tydens die Bloemfontein-Konfensie van 1899 het Pres.Kruger met ‘n gebroke hart en betraande oë uitgeroep : “Dis nie my stemreg wat julle wil hê nie, dis my land! My land!” (bl.444)” Op 11 Oktober 1899 breek die Anglo-Boereoorlog uit en duur dit tot 1902. Die rede hiervoor : Brittanje weier om gehoor te gee aan die ultimatum van 9 Oktober waarin geëis word “dat (hulle) alle troepversterkings en troepebewegings in Suid-Afrika gestaak word.” (bl.445). Let daarna op dat hierdie oorlog ook bekend gestaan het as die Tweede Vryheidsoorlog.

Die feit dat die regering nie die internasionale of nasionale geskiedenis ken nie όf hulle besluit om dit maar eenvoudig te ignoreer, het inderdaad tot gevolg gehad dat hulle dit herhaal, soos hierbo uitgewys. Wat kommerwekkend is, is dat die ANC oor die laaste tyd beslis neig tot ‘n meer outokratiese regeringstyl. Dink maar aan die afdwing van die Inligtingswet, die e-tol stelsel en die verwydering van ‘n opposisie party uit die Parlementsgebou met behulp van die SAP. Wat die gevolge daarvan sal wees sal net die tyd ons kan leer. Ongelukkig is dit nie net die ANC wat hom hieraan skuldig gemaak het nie, maar het die NP ook in dieselfde slaggat getrap deur die geskiedenis van P. Retief en sy onderhandelinge met swart leierskap te ïgnoreer. Dit sou dalk van waarde wees vir enige leier om daarop te let dat revolusie ook geneig is om soms, net soms, spesiale behandeling aan die leierskorps uit te deel. Vra maar vir Marie Antoinette, Tzar Nicholas II, Muammar Gaddafi en Hosni Mubarak.

Edmund Burke het met sy stelling dus ‘n groot waarheid kwytgeraak of miskien het hy maar net Pred.1:9 in sy eie woorde probeer stel - “Wat gewees het, dit sal daar weer wees; en wat gebeur het, dit sal weer gebeur, en daar is glad niks nuuts onder die son nie.”