WAAR IS JOU HART?

E. van Nantes

April 2015 sal sekerlik eerstens onthou word vir die xenofobiese aanvalle en tweedens vir die wye veroordeling daarvan.

Verskeie saamtrekke is in verskillende streke gereël ten einde die aandag op die onaanvaarbaarheid van xenofobiese gedrag te vestig. Die stemme van studente, gewone  landsburgers, ministers, die leier van die regerende party en selfs die sekretaris –generaal van die VN, het in ontsteltenis gereageer oor die dood van “broers en susters” wat die huidige Suid-Afrikaanse politieke elite tydens die apartheidstryd in húl onderskeie lande gevoed en geklee het. Die land, of nee die wêreld , het gesteier onder die dood van sewe wettig-onwettige immigrante in Suid-Afrika, of so het die media dit probeer oordra. Amper die hele bevolking van Suid-Afrika het aan die wêreld, maar veral aan Afrika, probeer bewys dat die xenofobiese gesindheid beperk was tot ‘n klein persentasie van die reënboognasie. Suid-Afrika is per slot van sake deel van die Afrika Unie, het buitelandse beleggings broodnodig en het die xenofobiese uitbarstings beide hierdie verhoudings ernstig bedreig. Dit is nie bekend hoeveel Afrikane, wettig en onwettig, tans in Suid-Afrika woon nie.

Sover vasgestel kan word, het sowat 70 hul lewens met ingang vanaf 2008 in sogenaamde xenofobiese aanvalle regoor Suid-Afrika verloor, dus gemiddeld sowat 10 per jaar. In teenstelling hiermee, is daar volgens die syfers van die TLU, 1544 boere in plaasaanvalle vermoor gedurende die periode 1990 tot 2012, of dan gemiddeld sowat 70 per jaar. Anders gestel, vir elke een dwelmhandelende immigrant word sewe voedselproduserende landsburgers vermoor. Maar daar is geen student, geen minister, geen president en geen sekretaris-generaal wat hulle stemme hieroor laat hoor nie. Daar is geen parlementêre ondersoek hierna nie, inteendeel, daar bestaan nie eens akkurate statistiek betreffende plaasmoorde nie. Daar’s net...  stilte.

Volgens ‘n internet-artikel huisves Suid-Afrika die grootste getal Chinese in die hele Afrika, blykbaar enige iets van 250 000 tot 350 000  (http://remi.revues.org/4878?lang=en). Hoe akkuraat dit is weet niemand nie, maar dit is reeds verskeie kere genoem dat hierdie groep totaal en al vrygestel is van Suid-Afrikaanse verkoops- en persoonlike belastings. Sou laasgenoemde wel korrek wees, is dit duidelik waarom Suid-Afrika spesifiek, en nie ander Afrikalande nie, ‘n baie gewilde finale bestemming vir hierdie Oosterlinge is. Interessant genoeg, mens hoor nooit van noemenswaardige aanvalle op hierdie Chinese in dieselfde mate as die xenofobiese aanvalle op swart buitelanders nie. Hierdie groep word verder beskou as behorende tot die “voorheen benadeelde” groep, wat beteken dat hulle aanspraak kan maak op bepaalde regte en vrygestel is van bepaalde verpligtinge, voordele wat die Blanke nie beskore is nie. Dit wil dus voorkom asof hulle onder die mees gunstige ekonomiese toestande en die grootste veiligheid hier aan die suidpunt van Afrika kan woon.

In teenstelling met hierdie swart regime se hart, wat uitgaan na elke wettige en onwettige immigrant en vuurwarm klop vir elke Chinees wat hier aanland, staan ek emosieloos teenoor enigiets wat hulle aangaan. Net soos die regering stil is oor die Boere én die boere, so is ek stil oor hulle immigrante. Jy sal my nie sien by hulle anti-xenofobiese optogte nie en ook my stem nie hoor nie. Was dit dan nie Mbeki wat ons in 2006 wou kom wysmaak dat dit net ons persepsie was dat misdaad buite beheer was, en daarmee was die saak afgehandel nie? Nogal snaaks hoe vinnig dieselfde owerheid nou opgetree het om die persepsie van xenofobia vas te vat, maar dis seker maar omdat dit nou hul eie bas raak.

Ek en die regering is soos die twee pole van hierdie aarde, teenoorgesteld en tot op die verste moontlike punte van mekaar verwyderd. Sou Mat 6:21, “...want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees”, op hierdie onderwerp van toepassing gemaak word, is dit duidelik dat die onderskeie skatte van die regering en dié van myself, beslis nie in dieselfde skatkis gevind sal word nie, om van harte nie eers te praat nie.