WAT IS IN ‘N NAAM ?

E. van Nantes

Die afgelope week is daar geluide gemaak rondom die verandering van skoolname - herinner die regering glo te veel aan die apartheidsdae, of so verstaan ek.

Oor die afgelope twintig jaar neuk die ou spul aan en af met die name van publieke vakansiedae, provinsies, strate, dorpe, en al draai sommige hiervan in die hof, word daar maar net eenvoudig daarmee volgehou. Die gerapporteerde kostes hieraan verbonde, is om die minste te sê, astronomies en kan mens nie help om te wonder of die ou geldjies nie maar beter aangewend kon word nie, soos om byvoorbeeld dienslewering op te knap in daardie gebiede waar daar daagliks onluste voorkom reeds as gevolg van die gebrek aan dienste nie.

Onwillekeurig begin mens wonder waarom hierdie regering nie bereid is om van sy inkomste af te staan ten einde die omstandighede van sy eie mense te verbeter nie, maar wel bereid is om geld te mors ten einde name te verander.

Nou hoekom is die naamding dan vir hulle so seerpunt?

  • Dat daar in hierdie nuwe Suid-Afrika geen plek is vir enigiets wat Blank en Afrikaans is nie en dit derhalwe wortel en tak uitgeroei moet word, of
  • dat dit slegs ‘n voortsetting van die bestaande totale onteieningsprogram is waar die strop net nouer en nouer om die Blanke getrek word sodat hy uiteindelik sonder taal, eiendom, geskiedenis of ‘n land sal sit, of
  • dat die regering in sy twintig jaar van bewind nog nooit iets blywend hier tot stand kon bring waaraan hy sy naam kon koppel nie en nou maar poog om die bestaande apartheidstrukture te kaap by wyse van naamsverandering in ‘n poging om vir homself ‘n vals nalatenskap te vestig.

Of bogenoemde reg of verkeerd is, is debateerbaar, maar feit van die saak is dat name as sulks, uiters belangrik is. Dink maar net hoe ondernemings hul handelsmerke beskerm of hoe mense by wyse van regsaksies hul name teen skending beskerm. Neem as voorbeeld die volgende :

‘n Selfoon met bepaalde eienskappe word deur ‘n mededinger gesteel en laasgenoemde behou die tegnologie, maar verander net die naam daarvan ten einde dit te bemark as sy eie produk. Vraag is nou, is dit ‘n nuwe produk, of is dit nog steeds gesteelde tegnologie, slegs met ‘n nuwe naam? Laasgenoemde natuurlik, en wees verseker dat die werklike  eienaar nie maar net bloot agteroor gaan sit en dit toelaat nie. Inteendeel, so ‘n produk word as namaaksel en van minderwaardige gehalte beskou terwyl die skepper daarvan allerweë as oneerlik en sonder enige kreatiewe vermoëns beskou word.

So, waar laat dit die Afrikaner? Net een van twee moontlike opsies natuurlik, όf ons aanvaar dit όf ons beveg dit. Diegene met skuldgevoelens oor apartheid en wat van mening is dat ons iemand iets skuld, kan maar rustig bly sit en TV kyk, die res van ons sal dit seer sekerlik beveg sover ons kan. Hierdie laasgenoemde groep het ook ‘n naam, ons is Boere.