WAAROM GAAN DIT SO SLEG MET SA?

Andrè vd Berg

Lees meer van hierdie skrywer by Andrè van den Berg

VEREISTES VIR CHRISTELIKE VOLKSLEIERSKAP

"Om vir ‘n vark vlerke aan te sit, maak nie van hom ‘n voël nie.  Hy is en bly ‘n  vark! "

God is in volle beheer van die wêreld en almal wat dit bewoon: “Die aarde behoort aan die Here en die volheid daarvan, die wêreld en die wat daarin woon” (Ps.24:1).  Gevolglik is niks vir Hom verborge nie: “Die HERE is in sy heilige paleis....sy oë sien, sy ooglede toets die mensekinders” (Ps.11:4).

Hy seën ‘n volk met goeie leiers en straf hulle met slegtes.   Die Bybel bevat talle verhale van die Bondsvolk wat swaar onder slegte konings en voorspoedig onder goeies geleef het.   Alhoewel hulle soms bitter swaar gekry het, het God hulle altyd in tye van nood verlos omdat sy genade altyd helderder as sy oordeel skitter.

Omdat alle mag in die hemel en op die aarde aan Hom behoort, is alle aardse gesag afgeleide gesag en is ‘n volksleier nie ‘n baas nie, maar ‘n dienaar van God: “Laat elke mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is, want daar is geen mag behalwe van God nie, en die wat daar is, is deur God ingestel” (Rom.13:1).

Ongelowiges kan nooit goeie volksleiers wees nie omdat dit wat vir die Evangelie skadelik is, ook vir ‘n volk skadelik is.

 Wie weet wat reg is, maar dit nie doen nie, moet nooit God se seën verwag nie, maar eerder sy straf.   Daarom sak ‘n voorspoedige land se son sodra ‘n goddelose mens aan bewind kom.

1.    Geestelike lewe

1.1   Geloof

Gelowige volksleiers is regverdig en doen die regte dinge.  Van koning Josia word gesê: “En hy het gedoen wat reg was in die oë van die Here....” (2 Kon.22:2).  Ongelowige leiers het egter die Satan as meester.  Daarom pleeg hulle onreg en doen wat verkeerd is in die oë van God.   Met sulke volke kan dit nooit goed gaan nie!

‘n Gelowige volksleier se geesteskrag lê nie in sienlike dinge nie, maar in die onsienlike: “Die geloof dan is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie” (Heb.11:1).  God het nie slegs aandele in so ‘n persoon se lewe nie, maar die beherende belang.  Daarom getuig sy lewe van ‘n liefde vir God en baar dit voorspoed vir sy volk.

Hy is in God se oë belangrik genoeg om te vra en geseënd genoeg om te ontvang.   God is nie net sy Helper in nood nie, maar sy Leidsman in alle omstandighede.  Daarom is en bly hy kinderlik afhanklik van God en verkies om eerder saam met God in sy nood as sonder Hom in sy voorspoed te wees.

‘n Gelowige volksleier sien vir uitdagings kans: “Want met U loop ek ‘n bende storm, en met my God spring ek oor ‘n muur” (Ps.18:30).   Hy weet dat God met hom is al word dit ook hoe donker in sy lewe.  Hy wandel as kind van die lig ongeag watter lig of skaduwee op sy lewenspad val!

Daarbenewens is hy nie hartseer oor dit wat hom ontbreek nie, maar dankbaar vir alles wat hy het.   Gevolglik plaas hy nooit ‘n vraagteken waar God ‘n punt gesit het nie.   Hy is en bly optimisties en waak gedurig teen negatiewe gedagtes wat hom neerslagtig kan maak.   Sy optimisme is die ruitveërs van sy gemoed wat hom die lewenspad duidelik laat sien.  So ‘n leier se geestelike rykdom word in sy openbare optrede gesien - sy gesig weerkaats die inhoud van die skatkamer van sy hart.   Daarom skyn hy altyd soos ‘n ster al word dit ook hoe donker.

1.2 Die Bybel

‘n Gelowige volksleier is lief vir God se Woord omdat dit ‘n onuitputlike bron van waarheid is waarsonder hy nie sinvol kan regeer nie.  Daarom soek hy altyd na God se wil in die Bybel omdat Hy self daarin aan die woord is.  Hy bêre dit nie in ‘n boekrak nie, maar in sy hart.

Omdat die Bybel die verhaal van God se sukses is met gebroke mense wat heel geword het, leer dit hom hoe om reg te leef en oordeelkundig te regeer.  “Wie ag gee op die Woord, sal die goeie vind; en hy wat op die Here vertrou, is gelukkig” (Spr.16:20).  Dis ‘n goudmyn waarin hy diep kan delf.   Die Bybel is brood vir elke dag en nie koek vir spesiale geleenthede nie!  “Die woord van die Here is volmaak: dit verkwik die siel.....dit gee wysheid aan die eenvoudige.  Die bevele van die Here is reg: hulle verbly die hart; die gebod van die Here is suiwer: dit verlig die oë...die verordeninge van die Here is waarheid – tesame is hulle regverdig....in die onderhouding daarvan is groot loon” (Ps.19:8-12).

Die Bybel is die goddelike kompas vir elke gelowige leier se lewe. “maar sy behae is in die wet van die Here, en hy oordink sy wet dag en nag” (Ps.1:2).  “Welgeluksalig is die opregtes van weg, wat in die wet van die Here wandel” (Ps.119:1).   Dis ‘n lig wat helder skyn en waarmee hy sy lewensreis in donker tye met vertroue kan voortsit.

1.3   Gebed

Dankbaarheid is die mooiste blom in die tuin van die siel.  Dis die koning van alle deugde en gebed die vernaamste deel daarvan.  Daarom is ‘n gelowige volksleier ‘n man van gebed.   Baie van die groot volksleiers van die Bybel was manne van gebed.  Luister bv. hoe bid koning Salomo: “Wend U dan tot die gebed van u kneg en tot sy smeking, Here my God, deur te luister na die geroep en die gebed wat u kneg vandag voor u aangesig bid” ( 1 Kon.8:28).

‘n Volksleier se alleentyd met God is nie net kosbare oefening vir sy siel nie, maar ook die geestelike dinamiet vir sy groot taak.   Dis die sleutel wat sy oggend oopsluit en die grendel wat sy aand toemaak.   Daarmee leun hy met sy menslike swakheid op God se almag, nie om God se wil te probeer verander nie, maar eerder om dit beter te leer ken.  En wanneer hy sy hande in gebed saamvou, maak God syne vir hom oop.  “Die vurige gebed van ‘n regverdige het groot krag”  (Jak.5:17).

Vir gelowige volksleiers is gebed meer as net woorde.  Dis gemeenskap met God.   Gebed is om na Hom te luister, met Hom te praat en behoeftes en bekommernisse met Hom te deel.   Dis kinderlike afhanklikheid van God.

Vir so ‘n mens is gebed nie ‘n noodwiel nie, maar ‘n stuurwiel.  Hy bid nie net wanneer die donker onweerwolke in sy lewe saampak nie, maar ook wanneer die son helder skyn.   Gebed hou sy lewe oop vir die inkomende gety van God se genade.   Dit hou sy oë op die grootheid van God gerig en nie op die omvang van sy probleme nie.  Gebed is nie ‘n kruk wat hom staande hou nie, maar stewige bene waarop hy kan vertrou.   Niks hou hom so op sy voete as om gereeld op sy knieë te wees nie.

2.  Beginsels

Deur aan ‘n erdepot te tik, kan ‘n mens hoor of dit gekraak is of nie.  So word ‘n leier ook geken aan die geluid wat hy maak.   ‘n Beginselvaste leier dwing eerbied by vriend en vyand af.   Op die reguit pad van die lewe is daar geen tolgeld te betaal nie.   Wie daarop beweeg, struikel nooit.

Net soos wat ‘n leë sak nie regop kan staan nie, kan ‘n beginsellose volksleier se regering nooit staan nie.   Gedienstigheid het beperkte waarde.   Beginsels duur ‘n leeftyd!   ‘n Volksleier wat beginsels begin versaak, begin by een, daarna word dit twee en so hou dit aan totdat daar by hom niks anders oorbly as die begeerte om kwaad te doen nie.

‘n Volksleier is soos ‘n generaal op die slagveld.  As die generaal sterk is, is daar nie swak soldate nie.  As die generaal swak is, is daar nie sterk soldate nie.  ‘n Sterk leier staan slegs voor God op sy knieë en nooit voor mense nie.

2.1   Waarheid

‘n Goeie volksleier is lief vir die waarheid omdat dit vir altyd staan.  Leuens moet egter uitgedink word.   ‘n Leuen word egter nooit die waarheid nie al glo die meerderheid dit.   Net so min word ‘n waarheid ‘n leuen net omdat mense dit minag.  Reg bly reg al stem almal daarteen en verkeerd bly verkeerd al stem almal daarvoor!

Deur leuens te herhaal, kan ‘n bose volksleier baie mense laat glo dat die hemel die hel en die hel hemel is.   Hoe groter die leuen, hoe makliker word dit geglo.  Daarom is ‘n goeie volksleier dit aan sy volk verskuldig om vir die waarheid te stry al is die versoeking om dit te minag ook hoe groot.   Sy liefde vir die waarheid sal die leuen telkens in die gesig van sy teenstanders laat ontplof!

‘n Volksleier wat die reguitpad in die lewe loop, se volk is geseënd.  Geen volk kan reguit op ‘n krom pad loop nie!   So ‘n volksleier klim die berg van die waarheid nooit tevergeefs nie en laat altyd die waarheid soos ‘n verblindende lig in die donker nag van die leuen skyn.   Ongelukkig word die waarheid nie sondermeer as reg aanvaar nie.  ‘n Harde waarheid prikkel tog te maklik die vel van ydelheid.   Dit maak sommige mense kwaad, ander verleë en baie vry.

2.2   Nederig

Die Bybel roep gelowiges op om hulself te verloën (Joh.3:30).   Valse trots het al van engele duiwels gemaak en nederigheid van mense engele.   Dis ‘n gawe van God.  ‘n Nederige hart is die mooiste tempel vir die Heilige Gees om in te woon, veral diè van ‘n volksleier.

Nederigheid is nie swakheid nie, maar geesteskrag.  ‘n Nederige leier dink nie minder van homself nie, maar minder aan homself.   Goedheid drup uit sy toegewyde lewe soos heuning uit ‘n byekorf.  ‘n Swak volksleier daarenteen kyk altyd teen sy eie belangrikheid vas en vergal ander se lewe.

‘n Gelowige volksleier buk laag voor sy Skepper.   Te midde van oorvloed ag hy niks as sy eie nie omdat God aan hom die krag, wysheid en insig skenk om sy volk te lei.  Dit as sulks plaas hom feitlik buite die Satan se bereik!

Hy ken ook sy beperkinge en laat nooit vir hom ‘n groter baadjie maak as waarvoor hy materiaal het nie.   Eerder ‘n diamant met ‘n vlek as ‘n klip daarsonder.  Slegte leiers daarenteen is gewoonlik so vermetel soos ‘n haan wat krediet verwag omdat die son opgekom het!

2.3  Eerbaar

Ons lewe word deur ons gedagtes ingekleur.  Daarom is eerbare gedagtes die moeder van alle wysheid.   ‘n Eerbare volksleier se karakter word soos kunstige borduurwerk stekie vir stekie al hoe mooier.  Dit bring nie net sonskyn in sy eie lewe nie, maar ook in diè van sy volksgenote.

‘n Eerbare volksleier is ook ‘n stiptelike mens.  Stiptelikheid is die hoflikheid van prinse en ‘n kosbare deug wat tot ‘n leier se sukses bydra.   ‘n Eerbare mens neem altyd volle verantwoordelikheid vir sy keuses.  Dit as sulks maak hom so standvastig soos ‘n waterstroom wat nooit van rigting verander nie.  Gevolglik weet mense altyd waar hulle met hom staan.

Eerbaarheid is ‘n vuur wat aangesteek is en maklik aan die gang gehou word.  As dit egter eers geblus is, kry ‘n mens dit moeilik weer aan die gang.   Dis soos fyn porselein wat maklik breek en nooit weer na wense heg nie.   Daarom berokken ‘n eerlose volksleier ‘n land meer skade as ‘n oorlog!

2.4   Geduld

‘n Gelowige volksleier is geduldig.  Hy weet dat sy lewe soos smeeyster op God se aambeeld lê en dat Hy hom bruikbaar wil maak.   Geduld is nie ‘n doodse berusting om te bly soos wat jy is nie, maar eerder ‘n gewilligheid om te word wat God wil hê.   Geduld is dus die kuns van hoop waarby ‘n volksleier meer baat as by geweld.   Soos wat ‘n windpomp nie na wind soek nie, nie maar wag dat dit op sy tyd kom, wag ‘n gelowige volksleier op God se voorsiening.

2.5 Rein

Omdat mense oor die algemeen te veel op genot en te min op vreugde ingestel is, maak hul lewe min sin.  Genot lei dikwels tot onreinheid.  “....en moet ook nie met die sondes van ander gemeenskap hê nie.  Hou jou rein” ( 1 Tim.5:22).  Reinheid gee egter ware vreugde en is die porseleinklei waarvan eerbare mense gemaak word.   Dit bevry hulle van wellus en spreek ‘n taal wat selfs blindes kan sien en dowes kan hoor.

Ongelukkig is die versoeking om sleg te wees, altyd groter as om goed te wees (Rom.7:21).  Baie mense gehoorsaam hulle drange soos ‘n slaaf sy meester se bevele.   Die gevolg is dat slegte begeertes slegte karakters baar; die begin en die einde van die Satan se alfabet!

Versoekings is soos ‘n muisvalletjie – altyd makliker in as uit.   Een verkeerde stap kan ‘n volksleier van glorie na vernedering laat tuimel.  Onreinheid is soos vergiftigde brood wat die honger tydelik stil, maar aan die einde die dood baar.   Daarom moet versoekings nooit soos koek, maar soos gif hanteer word!

Reinheid daarenteen baar ‘n skoon gewete en voed ‘n gesonde gees.  Daarom slaap geen kussing so sag soos ‘n rein gewete nie.   Dis die spieël wat ‘n gelowige se siel weerkaats.  Onreinheid daarenteen is ‘n foltering soos koning Dawid dit in Ps.32 so treffend beskryf.

Christelike vryheid is nie losbandigheid nie.  Gelowiges is nie vry om te sondig nie (Rom.6).  Christus het hulle juis vrygemaak om nie weer deur sondes gebind te word nie.   Wie rein leef, is waarlik vry al verrig hy ook die eenvoudigste werk.  Wie onrein leef, bly ‘n slaaf, al is hy ook koning.   Een slaaf kan nie ‘n ander een lei nie. “En as ‘n blinde ‘n ander blinde lei, sal al twee in die sloot val” (Mt.15:14).

Talle beskawings het al weens sedelike verval tot niet gegaan.   Dit wat sedelik verkeerd is, kan nooit polities reg wees nie.   Baie volksleiers het al soos ‘n Saul van ouds goed begin, maar sleg geëindig (1 Sam.31).   Omdat hy verkeerd was, was sy ore en oë niks werd nie.   As jy duwweltjies saai, gaan jy dorings maai!

2.6   Doelgerig

As ‘n seiljagvaarder nie weet waarheen hy vaar nie, is geen wind vir hom die regte wind nie.  ‘n Gelowige volksleier weet egter presies waarheen hy gaan.  Daarom maak hy die beste van die lewe deur die meeste daarvan te maak.   Dis nie vir hom ‘n kleedrepetisie nie.  Daarom leef hy elke dag voluit vir God en sy volk.

Daarbenewens gaan hy versigtig te werk om sy doelwitte te bereik en gee eerder een tree terug as om ‘n sprong in die donker te waag.   Al beweeg hy ook soms hoe stadig, bly hy egter aan die beweeg.  ‘n Versigtige mens maak altyd die minste foute.

‘n Goeie volksleier hou van eerbare uitdagings omdat dit aan hom geesteskrag verleen en tot groot hoogtes aanspoor.   Hy is soos ‘n hoenderhaan wat die dagbreek nooit kop onderstebo aankondig nie omdat hy weet Wie die son laat opkom.  En as hy sy doelwit nie bereik nie, verskuif hy nie die doelpale nie, maar verander eerder sy spelpatroon.    Wanneer hy sy doelwit bereik, gaan hy nie stilstaan nie, maar beskou dit eerder as die beginpunt van ‘n volgende doelwit.

2.7   Verantwoordelik

‘n Eerbare volksleier is ‘n verantwoordelike mens.  Wie geen verantwoordelikheid aanvaar nie, kan nooit sinvol regeer nie en is soos ‘n motor sonder ‘n stuurwiel wat almal langs die pad raakry.   ‘n Onverantwoordelike leier staan nie net onverskillig teenoor sy eie lewe nie, maar benadeel ook diè van sy volksgenote.   Daarom word hy baie maklik deur die stormwind van sy eie onverskilligheid weggewaai!   Die boom van pligsbesef daarenteen, dra altyd goeie vrugte.

Gevolglik moet ‘n volk sy leiers versigtig kies.  Wie dit nie doen nie se lugkastele verander altyd in puinhope en hul dagdrome in nagmerries.   Onverantwoordelike leiers verwar ‘n volk.  Verantwoordelike leiers bind hulle egter saam.  Eersgenoemdes boesem geen vertoue by hul volk in nie en word gewoonlik deur groot lyfwageenhede opgepas.  Wie op ‘n leeu ry, is altyd bang om af te klim, want wie byt, kan self gebyt word!

3.    Kennis

Kennis is die voedingsbron van ‘n beskawing en ‘n kundige volksleier se kennis die resultaat van ‘n flink brein.  Geleerdheid is ‘n skat wat niks weeg nie en oral saamgedra kan word.  As dit van ‘n onkreukbare karakter vergesel word, is dit ‘n sieraad vir ‘n volk!    Kundigheid vloei soos ‘n sterk stroom deur ‘n eerbare volksleier se lewe sonder dat hy daarmee te koop loop.   Hy dra dit soos ‘n sakhorlosie uit die oog en haal dit net uit as iemand daarna vra.

3.1   Wysheid

Wysheid is ‘n gawe van God. “En as iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid.... en dit sal aan hom gegee word” (Jak.1:5).  ‘n Wyse volksleier is nie oorhaastig nie, maar dink deeglik na alvorens hy optree.  Hy veronagsaam ook nie voor die hand liggende feite nie.

Dwase leiers daarenteen probeer dikwels die ware toedrag van sake met onsinnige argumente en niksseggende redenasies om te keer.  Benewens hul verstommende onbekookte optredes, wissel baie van hul uitsprake van lagwekkende onkunde tot weersinswekkende dreigemente.   En as hulle optrede misluk, word die gebrek aan sukses smadelik op die gewete van kundiges geplaas.

Eerlose volksleiers kan dit wat eerbare voorgangers oor baie jare opgebou het, in ‘n oogwink vernietig en voorgegee dat geregtigheid oor sg. geskiedkundige onreg geseëvier het.   Booswigte skuil al te dikwels agter die masker van gewaande onreg.   ‘n Jakkals sal altyd dom ganse vind om na sy gepreek te luister.  Slegte honde blaf altyd vir ‘n dooie leeu!

Dwase leiers word maklik deur hul gevoelens en nie deur hul verstand gelei nie.  ‘n Wyse leier daarenteen dink met sy verstand.   Hy neem dikwels meer blaam as wat hy verdien en minder eer as wat hom toekom.   Die beste hond kry nie altyd die grootste been nie.

Omdat die beleid van inval of verdwyn geen oplossing bied nie, beskerm ‘n wyse leier altyd sy minderheidsgroepe.  Vyf wolwe en een skaap kan tog nie om ‘n tafel gaan sit en stem wat hulle vir aandete wil hê nie!   Derhalwe sien ‘n eerbare volksleier altyd na swakkeres om soos ‘n groot boom wat die meeste son, wind en weer trotseer ten einde die plante daaronder te beskerm.

Wanneer hy soms ter wille van sy volk dinge moet doen wat nie aangenaam is nie, verknies hom nie daaroor nie.   God gee aan hom die nodige wysheid en verstand om sulke situasies te hanteer.   Al is sy optrede vir sommige volksgenote soos ‘n klip in die skoen, is dit vir die meeste soos ‘n diamant in ‘n ring!

‘n Volksleier met baie verstand, maar min oordeel, is ‘n gevaar vir ‘n volk.  Wyse leiers daarenteen het beide goeie verstand en goeie oordeel.   Dit beteken egter nie dat hulle nie foute maak nie.   Hulle herhaal dit net nie.   Daarbenewens laat hulle hul nie deur teenstanders van stryk bring nie omdat hulle in werklikheid niks daardeur verloor nie.

3.2  Keuses

Eerbare volksleiers maak die regte keuses en vat nie onnodige kanse nie.  Hulle pluk die rose en los die dorings.  En waar daar geen pad is nie, wyk so ‘n persoon selfs van die gebaande weë af om ‘n nuwe weg vir sy volk te baan.   Hy maak ook nie van een duiwel twee nie, maar laat die sonlig van God se beloftes altyd oor al sy probleme skyn sonder om eerbare drome te laat vaar.  ‘n Swak leier daarenteen gryp gewoonlik na te veel dinge in die lewe sonder om enigiets te bereik.   Verwarde denke het nog nooit probleme opgelos nie, maar dit net herrangskik.

3.3  Kritiek

Goeie volksleiers bereik nie sonder opoffering en teenstand iets in die lewe nie.  Dit wat so ‘n persoon nie breek nie, maak hom eerder sterk.   Desondanks laat hy hom nie deur teenstanders van stryk bring nie.   Dis altyd makliker om te kritiseer as om te waardeer!

Kritiek is nie altyd aangenaam nie.  Tog is dit baie belangrik.  Dis soos pyn wat ‘n mens van tekortkominge met jou liggaam bewus maak.  Daarom beskou ‘n goeie volksleier sy teenstanders nie sondermeer as vyande nie, maar eerder soos ‘n skerpmaker wat hom al hoe bruikbaarder maak.

3.4   Struikelblokke

God help gelowiges om hul lewensskip reg te stuur sodat dit die storms van die lewe suksesvol kan trotseer.  Daarom skyn God se reënboog van genade altyd helder in hulle lewe.   God gee hulle die genade om ‘n lig aan te skakel eerder as om die donker te verwens.  Daarom oorweldig spanning hulle nooit.

‘n Volksleier wat deur God se genade gedra word, reis altyd lig.  Sy se genade verdun nooit.  Daarom is elke gelowige volksleier soos ‘n sterk boom wat geen storm vrees nie.   Beproewing breek nie sy geestesspoed nie, omdat hy weet dat geen diamante sonder hitte kan vorm nie.   Soos wat edel metale deur vuur gelouter word, maak beproewing ‘n gelowige leier sterk.

Hy steek gereeld hand in eie boesem om sy tekortkominge deur selfondersoek te ontdek en sien selde ‘n fout in ander mense raak wat hy nie self kon begaan het nie.  Daarbenewens gee hy nie ander die skuld vir sy eie foute nie.  Hy beskou mislukkings nooit as terugslae nie, maar eerder as pogings wat nie geslaag het nie.    Dit verhinder hom egter nie om weer te probeer nie.   Vir hom is mislukkings soos ‘n mes wat reg hanteer word.  ‘n Mes kan ‘n mens òf dien òf sny.   Dit hang net af hoe dit hanteer word; aan die hef of aan die lem.

Mislukkings ontstel ‘n gelowige volksleier hoogstens.  Dit ontsenu hom egter nooit nie.   Dis leermeesters en nie begrafnisondernemers nie; vertragings en nie nederlae nie.  Mislukkings is ‘n ompad en nie ‘n doodloopstraat nie.   Daar is geen kroon sonder stryd nie!

3.5   Sukses

Omdat die pad na sukses opdraand loop en altyd in aanbou is, word geen snelheids-rekord daarop opgestel nie.   Daar is geen galeislawe op die boot na sukses nie.  Elkeen moet maar self roei.   ‘n Eerbare volksleier weet dat sukses die neweproduk van baie harde werk is.   Dis ‘n vrug wat stadig ryp word.   Niemand bekom dit teen  ‘n winskoopprys nie.   Al het harde werk bitter wortels, dra dit altyd soet vrugte.

Die beloning vir harde werk is nie wat ‘n leier daarvoor ontvang nie, maar wat hy daardeur bereik.   Niemand behaal per toeval sukses nie.  Dis harde werk.  Die geheim van enige leier se sukses is dat hy doodgewone werk buitengewoon goed doen.  Hy beland nie in die seekatgreep van ydele, onversadigbare drange na sukses nie.   Wie hierin beland, is soos ‘n man wat met ‘n gorilla stoei en nie kan ophou as hy moeg word nie.   Die dierasie moet eerste moeg word!

‘n Suksesvolle leier is aanpasbaar.  As hy nie meer brandhout bymekaar kan maak nie, maak hy sy vuur kleiner.   Met God by hom, is niks onmoontlik nie.    Dis mos nie hoe ‘n matroos die hawe uitvaar wat van hom ‘n gesoute seeman maak nie, maar hoe hy na ‘n storm daarheen terugkeer.  ‘n Kalm see kweek nooit vaardige matrose nie!

4.  Gesag

4.1   Mag of gesag?

Mag is iets wat een mens op ‘n ander een kan afdwing, maar nie gesag nie.  Mense kan slegs daartoe oorreed word.  Daarom buig mense nie onder gesag nie, maar voor gesag.   Gevolglik word die grootheid van ‘n volksleier aan die gesag wat hy onder volksgenote inboesem, gemeet.

Gelowige volksleiers word deur die mag van die liefde en nie deur die liefde vir mag gedryf nie.   Daarom word hulle grootheid nie van kop tot tone gemeet nie, maar met ‘n maatband van die liefde om hul hart.

‘n Liefde vir mag loop altyd op magsmisbruik uit.   Vir baie het die plaaslike vryheidstryd nie om die bevryding van volksgenote gegaan nie, maar om despotiese mag te bekom.  Alle duiwels het nie noodwendig gesplete hoewe nie!

As ‘n swak volksleier eers mag geproe het, deel hy dit met niemand nie.  Hy sal selfs teenstanders se lig uitdoof net om sy eie een beter te laat skyn.   Wie ‘n ander benadeel om sy eie lewe te wil vul, is in werklikheid die leegste van almal.

Mag is ‘n gawe van God waarmee wet en orde gehandhaaf moet word (1 Kor.14:40).   Elke landswet moet met God se Woord ooreenstem.  As dit in stryd daarmee is, kan dit nooit goed vir ‘n volk wees nie.  Dis gewoonlik die grondslag van ‘n skrikbewind.   ‘n Leier wat egter met liefde en geregtigheid regeer, hoef selde die swaard te gebruik.   Goeie volksleiers is immers beter as goeie wette!   Goeie wette maak dit egter makliker om die regte dinge te doen.   Slegte wette daarenteen is soos spinnerakke wat dikwels groot insekte deurlaat, maar kleintjies vang.

Geen volksleier is bo die wet verhewe nie.  Dit wat vir die volk geld, geld ook vir hom.   Hy durf nooit die reg as ‘n persoonlike besitting gebruik nie.   Slegte volksleiers misbruik graag die reg om vir hulself naam te probeer maak deur vrees by onderdane in te boesem.   Niks is so verfoeilik soos om iemand uit vrees te moet eerbiedig nie.   ‘n Donkie met ‘n leeuvel aan maak ook mense bang!

Magsmisbruik lei altyd tot selfverryking. ‘n Slegte leier leer geen kuns gouer aan as om die staatskas te plunder nie.  Eers raak hy van die reëls van ‘n ordelike gemeenskap ontslae waarna hy sy land op die glybaan van korrupsie en vermorsing laat beland.  Daarna word hy soos room - ryk en dik!

4.2 Veiligheid en misdaad

‘n Goeie volksleier gee voorkeur aan burgerlike veiligheid omdat ‘n veilige volk ‘n gelukkige volk is.   Hy is ‘n herder en nie ‘n laksman nie.  Daarom slag hy nie sy skape nie, maar laat hulle eerder veilig wei.   Slegte gras kan nooit goeie voer wees nie.  Goeie weivelde daarenteen voed goeie skape.

Gebrekkige leierskap word aan ‘n gebrek aan dissipline gekenmerk.  Dit lei tot misdaad en geweld.    Talle vreedsame staatsbestelle is al deur georganiseerde guerrilla-oorlogvoering omver gewerp net omdat dit nie aan die eis van ‘n skrikbewind voldoen het nie.

Omdat misdaad deel van hul politieke mondering vorm, kan regerings wat deur geweld tot stand gekom het, slegs deur geweld in stand gehou word.  Daarom word wetsgehoorsame burgers gereeld die slagoffers van mense met barbaarse neigings.   Desondanks word daar van hulle verwag om die vreesaanjaende eer wat hulle te beurt geval het, gelate te aanvaar net omdat die seuns van Lucifer hulself gate uit geniet!

Ongelukkig ry skobbejakke nie almal aan die pen nie.   Baie gaan ongesteurd voort om van hulle land ‘n wildernis te maak.  Misplaaste nasionale en internasionale toekennings maak van geen booswig ‘n eerbare leier nie.   Wie soos ‘n engel praat, maar soos ‘n duiwel leef, is soos ‘n heuningby met heuning in die bek en ‘n angel aan die stert!

4.3 Reg en geregtigheid

Gelowige volksleiers het ‘n sterk sin vir reg en geregtigheid wat nie deur landswette bepaal word nie maar deur die Woord van God en die lewensinsig wat Hy aan gelowiges gee.  Daarom kan ‘n gelowige volksleier hom nooit met ‘n teenstrydige waardesisteem versoen nie.   Hy laat hom nie deur onregsdienaars beïnvloed nie en lei eerder self onreg as om volksgenote te veronreg.

Daarbenewens laat hy booswigte nie ongestraf hul gang gaan nie.  ‘n Volksleier wat misdadigers beskerm, is soos ‘n predikant wat nagmaalbrood vergiftig.   Onregmatig genade aan misdadigers het al tot die dood van etlike wetsgehoorsame burgers gelei.  Daarom durf genade nooit bo geregtigheid verhef word nie!

Swak volksleiers probeer altyd eerbare burgers in die modderpoel van onreg versmoor.  Hulle word gedwing om parasiet-kulture te huisves wie se behoeftes groter is as hul vermoë om dit te bevredig.   Mense word gedwing om voorregte waarvoor hulle hard gewerk het met ander te deel wat feitlik niks gedoen het.   Dit laat ‘n  gewoonte om iets vir niks te verwag ontstaan.

4.4   Volksliefde

Omdat ‘n gelowige volksleier lief is vir sy volk, raak hy nie van beproefde volkswaardes ontslae nie.   Hy trek die skeidslyn tussen hom en die volksvyand baie duidelik en weier om tot enige vergelyk met hom te kom.  Swak volksleiers buig weer graag voor die volksvyand en wys daarmee hul agterstewe vir hul volk.   Wie die volksvyand gedienstig is, is soos ‘n man wat ‘n krokodil voer met die hoop dat hy die heel laaste opgevreet sal word!

5.  Nalatenskap

Geen land het al ooit ‘n mens beroemd gemaak nie.  Mense maak eerder ‘n land beroemd.   Daarom is die geskiedenis van die mensdom die lewensbeskrywing van eerbare leiers wie se volksliefde vir knoeiers en verraaiers ‘n verleentheid was.

‘n Leier se liefde vir God en sy volk is die skarniere waarop sy menseverhoudings draai.  Dis die deur wat hom uit die kerker van selfsug na buite lei.  Eer moet egter nie met eerbewys verwar word nie.  Geen mens is nog ooit vereer vir wat hy ontvang het nie, maar slegs vir wat hy gegee het.   Swak leiers word dikwels met misplaaste eerbewyse oorval.  Gelowige leiers daarenteen verkies eerder om gehaat te word vir wat hulle is as om geëer te word vir wat hulle nie is nie.

Eer is die vergoeding vir deugsaamheid.  Dit kan bewonder, maar nooit nageboots word nie.  ‘n Volksleier is eerder eerbaar as gewild omdat eerbaarheid stand hou soos mosaïek terwyl gewildheid soos kinderkuns verdwyn.  Daar is niks so roemloos en verfoeilik soos eer wat wederregtelik bekom is nie.  Baie van die leiers wat tans op die wêreldverhoog sit, verdien geen standbeeld nie omdat hulle vir dade vereer word waarvoor ander in die tronk sou beland.   Wie ‘n berugte leier vereer is soos een wat ‘n lyk met blomme bestrooi net om die aakligheid daarvan te probeer verboem!

‘n Eerlose volksleier sal nooit eerbaar word indien hy nie wedergebore word nie (Joh.3:3).  Net so min as wat uit verrotte hout iets goed gekerf kan word, kan ‘n ou aap ‘n mooi gesig hê of ‘n glimwurm ‘n lantern wees.  Om vir ‘n vark vlerke aan te sit, maak nie van hom ‘n voël nie.  Hy is en bly ‘n vark!

‘n Volk met ‘n gelowige leier is baie geseënd.   Sy gees is te edel om die volksvyand te bevoordeel en sy liefde vir sy volk te groot om hulle leed aan te doen.   So ‘n leier sterf in werklikheid nooit nie, maar bly vir altyd in die gees van sy volk voortleef.