Dr P.E. Van der Dussen
Die aangekondigde prysverlaging van brandstof is alles goed en wel, maar die verbruiker word alweer benadeel ten gunste van die oliemaatskappye. Die gemiddelde oorverhaling vir die tydperk 31/10-27/11 was 10c/liter groter as die prysverlagings omdat die minister die oliemaatskappye se winsgrense opgestoot het. Vir petrol bedra die maatskappye se aandeel vanaf Woensdag R2,149 per liter teenoor R2,028 in November en R1,989 in Junie 2014. Ten opsigte van Junie is dit ses maande later in Desember 8,5% meer, ‘n jaar-op-jaarstyging van 15+%. Diesel se toedrag van sake is soortgelyk, behalwe dat vulstasies self besluit hoeveel van die verhoogde groothandelsmarge aan verbruikers deurgegee word.
Die skerp daling in SASOL se aandeelprys dui daarop dat die afwaartse gang van petroleumpryse nog nie verby is nie
– beleggers stel immers nie net in huidige diwidend belang nie maar ook in toekomstige wins. Verder sal die pryse in Januarie waarskynlik verder daal. Die oorverhaling vir petrol was op 27 November ongeveer 125c/liter en sal waarskynlik daar bly vir die eerste drie waarnemingsdae (28 November en 2-3 Desember) van die nuwe waarnemingstydperk van 21 werksdae tot 31 Desember bly. Om ‘n gemiddeld van R1,25 in die daaropvolgende 18 werksdae tot nul te verwerk, sal ‘n gemiddelde onderverhaling van R1,07/liter vereis, wat volgens die huidige gang van sake buite rekening gelaat kan word. Saam met SASOL se aandeelprysdaling is volgehoue daling in brandstofpryse selfs na Januarie nie uitgesluit nie.Moet nogtans nie aflei dat ons daaroor bly en teenoor die regime dankbaar moet wees nie. Die brandstofprysformule van 1996, met geen beginselwysiging sedertdien nie, is ideaal geskik vir benadeling van die verbruiker om sy afhanklikheid van ander te bevorder, soos die Kommuniste dit wil hê – Vadertjie Staat met volle gesag oor die lewe van die bevolking. Vavi se onlangse uitspraak dat COSATU nooit sal toelaat dat ESKOM geprivatiseer word nie, is nog ‘n aanduiding daarvan.