Vroeër vandag het TLU SA gesê hy gaan 'sterk optree' teen die ANC en sy Jeugliga oor die uitspraak dat boere net sal leef as hulle hul grond vrywillig verlaat, en dat TLU SA later vandag 'n volledige mediaverklaring hieroor sal uitreik (poging hieronder). Maar so jammer dat TLU SA se 'sterk optrede' nou weer op die 'verbruiker' en die arme boere teruggegooi word. As die vraag nóu eers by TLU 'ontstaan' of die staat en sy polisiemag dalk nie die wil openbaar om boere te beskerm nie, wil ons graag weet hoeveel vir hierdie gedagte betaal is...
TLU SA sien grondbeset dreigemente in baie ernstige lig
Die dreigement deur die ANC-Jeugliga dat hulle plase wil beset en blanke boere se veiligheid in gedrang wil bring, word deur TLU SA in baie ernstige lig gesien. Wat die saak drasties vererger is die feit dat die land se president, die regering en die ANC se oorhoofse struktuur, waaronder die Jeugliga opereer, in al elf landstale hieroor swyg. Volgens TLU SA laat dit die indruk dat die regering hierdie uitsprake en uiteindelike aksies ondersteun.
TLU SA se president, mnr. Louis Meintjes, sê dit word duidelik dat die ANC en sy president, die Jeugliga gebruik om sy Nasionaal Demokratiese Revolusie (NDR) namens hom te bevorder en uit te voer. “Dit laat onwillekeurig die vraag ontstaan of die staat en sy polisiemag, die uiteindelike wil sal openbaar om boere te beskerm teen moontlike plaasbesetting, intimidasie en selfs lewensverlies aan boerekant, omdat dit die NDR sal frustreer”, sê mnr. Meintjes.
Mnr. Meintjes het die ANC en sy Jeugliga beskuldig van flagrante rassisme met hulle uitsprake oor plaasbesettings. “Dit is opmerklik dat hierdie soort rassisme telkens gebruik word om die ANC populêr te hou by sy ondersteuners en dit lyk of dit selfs ’n noodsaaklike voedingsbron is vir sy voortbestaan en oorlewing.”
Die vraag wat nou ontstaan, is of dit nog enigsins sinvol is om ter wille van landbou se ontwikkeling, hoegenaamd betrokke te bly by regeringsaksies en regeringsforums ten einde landbou in Suid-Afrika te verbeter. “Ons begin die indruk kry dat ons daarbinne bedrieg word met mooipraatjies aan die een kant, maar buite daardie aksies en forums word ons gedreig en geïntimideer sonder dat die regering, wat binne die forums mooi broodjies bak, hierdie radikale en intimiderende uitsprake repudieer of daadkragtige aksies daarteen neem. Ons kan nie in so ’n verhouding voortgaan nie, en TLU SA sal baie spoedig oor sy posisie hieromtrent besin,” sê mnr. Meintjes.
“Intussen is ons net so bekommerd oor die stilswye in die breër landbou-omgewing oor hierdie dreigemente en intimidasie. Dit word nou dringend dat daar oor hierdie saak sterk gesamentlike standpunt ingeneem word en daarom doen TLU SA ’n beroep op elkeen wat ’n belegging of belang in landbou het, om hulle stem dik te maak teen hierdie dreigende optrede op die Zimbabwe-model”, sê mnr. Meintjes.
“Ook die verbruiker sal moet opstaan. Indien die situasie ontstaan dat boere gedwing word om hulle eiendom te verdedig, gaan dit noodwendig daartoe lei dat boerderybedrywighede daaronder ly, en ’n wesenlike gevaar van leë winkelrakke, soos in Zimbabwe, sal dan ontstaan.”
Indien enige plaasbesetting sou voorkom, of selfs net dreigemente daartoe, word grondbesitters gevra om onverwyld kontak met TLU SA te maak.