Volstruisboere het vir meer as 'n jaar lank nie meer inkomstes nie. Sowat 40 000 volstruise is sedert die uitbreek van die siekte H5N2-voëlgriepvirus, verlede jaar van kant gemaak. Die Klein-Karoo-vallei het jaarliks sowat 90% van sy volstruisvleis aan die EU verskaf, met sowat 250 000 diere wat jaarliks vir vleis, vere en leer geslag is.
Volgens Nuus24 het die ledetal van die Volstruisbesigheidskamer (VBK) die laaste paar maande aansienlik gedaal, met die Europese Unie (EU) se verbod op uitvoer as die hoofrede, aangesien die bedryf nie meer winsgewend is nie. Die VBK het begin verlede jaar 741 lede gehad, maar dit het drasties gedaal sedert die H5N2-voëlgriepvirus in April verlede jaar in die Klein-Karoo uitgebreek het.
Die plaaslike volstruisbedryf is vroeg hierdie jaar deur 'n afvaardiging van die Europese Unie besoek en sekere voorstelle is vir die verbetering van die bedryf gemaak. Die ANC-regime het glo aangedui dat hy om die opheffing van die verbod aansoek sal doen sodra dié voorstelle gereed is. Die virus het in Februarie vanjaar laas voorgekom. Volgens die aanbevelings moet alle boere in die bedryf hul ondernemings en boerderye herregistreer en aan sekere standaarde voldoen. Hierdie proses kan 'n jaar of langer duur en sal nie die bedryf kan red nie.