In 'n goeie politieke oorsig skryf mnr Meinhard Peters in Die Afrikaner dat die ANC baie maklik uitmekaar kan spat al dink sommiges dat die eens magtige kommunistiese party vir ewig sal leef. Dalk moet ons onthou hoe magtig die ou Nasionale Party destyds was...
So is die Verenigde Party van die verloopte Jan Smuts in 1948 deur Afrikaners in 'n verkiesing verslaan, dit ten spyte daarvan dat die hele Britse Ryk hom ondersteun het nadat hy sy volk verlaat en Brittanje terwille was - soos gewoonlik vir eie gewin.
Die oorsaak van die Nasionale Party se val was hoofsaaklik sy inkruipery by die swart kommuniste en FW se gekruipery by die internasionale geldmag - weer eens tot sy persoonlike voordeel van miljoene rande, eer en 'n sogenaamde vredesprys. Sy pogings om saam met die kommunistiese magte te probeer regeer het egter het klaaglik misluk. In 1996 het FW de Klerk bedank uit die ANC-regering en slegs enkele jare later het die party heeltemal verdwyn - soos beplan natuurlik.
Dit is ‘n noodwendige uitvloeisel in politiek dat ’n party wat sy beginsels versaak, wat sy ondersteuners in die steek laat en wie se leiers hul mag misbruik om te oorleef of vir eie gewin 'n verskuilde agenda volg, uiteindelik die prys daarvoor moet betaal. Die ANC is lankal op dié glybaan en hy kan homself nie meer daaruit red nie.
Dit gaan nie oornag gebeur nie voorspel mnr Peters, maar al die tekens is daar dat die ANC uitmekaar sal spat.Daar is net te veel foutlyne en krake in die strukture van die alliansie-vennote. Dit het reeds in die dekade negentig begin met die moeilikhede wat rondom Winnie Mandela uitgebreek het kort na die 1994-verkiesing. Sy het nie gaan lê nie, en sy sou veel sterker gestaan het om die ANC se leierskap uit te daag indien Chris Hani nie gesneuwel het nie. Sy probeer tans ’n agterhoede geveg voer met Julius Malema as haar spreekbuis. Die Winnie-faksie is beslis nie nalaatbaar nie, en binne die ANC se vroueliga beheer sy ’n betekenisvolle deel van die ANC se populêre of radikale steun.
Dan noem mnr Peters ook nog wegbrekers soos Terror Lekota wat COPE gestig het. Hulle lyk miskien nie invloedryk nie, maar dit was ’n bewuste repudiëring van die ANCalliansie se eenheidsdwang. COPE het gedemonstreer dat nie almal in dieselfde kraal wil sit as Zuma en sy vennote nie.
Die ANC se gesukkel om ontslae te raak van ’n roekelose maar onbenullige figuur soos Julius Malema, toon hoe swak die leierskap werklik staan. Hulle het Malema nou al ’n paar keer geskors, die skorsing gehandhaaf en verklaar dat hy nie meer regte in die ANC het nie; dan lees mens weer in die fynskrif dat die skorsing net tydelik was, dat daar nog appél aangeteken kan word, en die hele drama begin weer van voor af.
Intussen verklaar die meeste jeugleiers in die verskillende provinsies dat hulle agter Malema staan, en groei die onrus binne die ANC-geledere net verder. Dit is ’n knaende probleem vir Zuma en Malema gaan nie verdwyn nie.
Die leierskapstryd binne die ANC is nou al maande aan die kook, en die skade daarvan is oral te bespeur. Die stryd om beheer van die SABC se nuusdienste is een arena waarin die onmin uitgebars het. Die SABC sou dan te veel publisiteit aan Malema (die nuusmaker van die jaar) gegee het. Die hoof van die nuusdienste is toe summier op vakansie gestuur.
Die magsoorname by Pietersburg, toe Thabo Mbeki uitgestoot is en Zuma die leierskap oorgeneem het, het diep spore van verdeeldheid in die geledere van die ANC gelaat. Die naskok daarvan word nog steeds gevoel. Pas het Frank Chikane, ’n invloedryke veteraan van die alliansie, ’n boek gepubliseer waarin hy die verhaal vanuit die Mbeki-kamp vertel. Chikane word reeds heeltemal verstoot en ook aangeval vanuit die Zuma-kamp. Dit is alles simptome van die groeiende ontevredenheid wat die ANC verswak.
Rondom Zuma is meer dreigende kwessies. Sy aandeel aan die wapenskandaal, sy verbintenisse met die Shaik-groep, en met die Gupta-familie, is dinge wat nie tot rus wil kom nie. Senior figure om hom, soos Montlante en Mathews Phosa, wag hulle kanse af. Zuma kan eintlik nie meer op hulle reken nie, hoewel hy hard probeer om hulle nader te trek en by hom te hou. Phosa is egter kop in een mus met Winnie Mandela, en almal weet wat dit beteken.
Om alles te kroon, word die gaping tussen die ANC-leierskap en Cosatu by die dag groter. Dit gaan oor gebrek aan dienslewering, oor die minagtende wyse waarop die staat sy hulpbronne vermors, getuienis van die ANC-leiers se korrupte kaders, en dinge soos die tolpad-skandaal. Alles wat verkeerd gaan word op die brood van die ANC-leierskap gesmeer.
Cosatu is tans die stem van die werkloses en die gefrustreerdes, nie die ANC self nie. As ’n selfstandige politieke mag kan Cosatu die regering van Zuma ’n ernstige knou toedien deur stakings en protes en kan hy sy eise afdwing wanneer hy wil.
Natuurlik gaan die ANC nie oornag van die toneel verdwyn nie, meen mnr Peters, maar die verdeeldheid en verval is aan die gang, en dit sal net groter word. Dit maak dit soveel dringender dat Afrikaners self paraat moet wees en dat ons moet versamel rondom beginsels en duidelike strategiese doelwitte, want ons gaan stormagtige tye tegemoet.
Maar dit is ook so dat daar nie veel tyd is om in ons onmagtige situasie ons strategiese doelwitte tot fyn beplanning en met samewerking van baie volksgenote tot uitvoer te bring nie. Daarom sal elke individu in hierdie volk ernstig na sy eie veiligheid en dié van sy geliefdes moet omsien – waarvoor daar ook reeds min tyd oor is aangesien die tekens van die tye al duideliker word.