Wetsbeskermers word wetsverkragters
Die Afrikaner
Kan die Suid-Afrikaanse publiek enigsins kwalik geneem word as hulle van oordeel is dat die polisie eerder ‘n samevoeging is van skurke wat polisielede geword het juis om daardeur te poog om uit die tronk te bly?
Die voorlaaste kommissaris is ‘n veroordeelde misdadiger. Sy opvolger is tans nog op spesiale verlof hangende ‘n ondersoek na onreëlmatighede wat hy gepleeg het wat moontlik met korrupsie verband hou. Die hoof van misdaadinligting, Mdluli, is geskors hangende strafregtelike ondersoeke wat selfs moord ingesluit het. Die sake teen hom is voorlopig teruggetrek, maar dit beteken nie dat hy onskuldig is nie. Toegegee, niemand is skuldig tot hy skuldig bewys is nie, maar die vrae rondom die beskuldigings is ook nie bevredigend beantwoord nie. Bowendien word sy naam genoem as moontlike opvolger vir Bheki Cele wat tans geskors is.
Ook die Minister van Polisie se naam is die afgelope week verbind met bepaalde onreëlmatighede waaroor hy skynbaar bowendien gelieg het.
Selfs ANC-lede in die parlementêre portefeuljekomitee het tydens ‘n onlangse sessie die SA Polisiediens se topbestuur erg oor die kole gehaal oor hulle onvermoë om die SAPD behoorlik te bestuur en te beheer. Heel duidelik is korrupsie en doodgewone misdadigheid steeds alledaags binne die polisie en is daar skynbaar ‘n onvermoë, en dalk selfs ‘n onwil, om daarvan ontslae te raak.
Verlede week is weer ‘n polisielid in verband met ‘n ernstige misdaad in hegtenis geneem ten aanskoue van selfs TV-kameras. Kan die publiek dus kwalik geneem word as hulle vertroue in die polisie daagliks verminder as gevolg van die een skok-onthulling na die ander? Die persepsie bestaan reeds in sekere kringe dat die polisie self ‘n spul misdadigers is en eerder deel is van die misdaadprobleem as van die misdaadoplossing. Geen wonder nie dat mense geen vertroue meer het om enige saak by die polisie aan te meld nie. “Dit help tog nie”, is die algemene antwoord, en daarmee word die ANC-bewind in wese gehelp deurdat hulle kan beweer dat misdaad afneem as die amptelike statistiek vrygestel word. Eintlik moet elke misdryf, hoe gering ook al, juis by die polisie aangemeld word om hulle besig te hou sodat hulle hul nie met misdadigheid, korrupsie en vreemde elemente kan ophou nie. Daardeur sal ook die werklike prentjie van misdaad aan die lig kom as die statistieke vrygestel word. Nie dat dit gaan help om misdaad te verminder nie, veral nie as polisielede hulleself daaraan skuldig maak nie.
Uiteindelik gaan dit hier ook oor die politieke onwil om iets aan die saak te doen. Die Kommissaris van Polisie word deur die land se president aangestel. Hy kan daarom ook deur die land se president afgedank word. Senior offisiere se aanstellings moet ook bekragtig word deur die politieke leiers. Maar die politieke leiers, soos die president en Minister van Polisie, is self nie vry van die agterdog van korrupsie waarmee hulle al verbind is nie.
Die publiek het bepaalde regte in terme van selfverdediging en selfbeskerming. Hulle het selfs bepaalde regte in terme van burgerlike arrestasies. Daar kan verwag word dat die publiek die burgerlike magte wat hy het, tot die maksimum gaan gebruik in ‘n poging om self iets teen die misdaad te doen, en omdat die polisie nie vertrou word nie. Dit is ook om dié rede dat mense, met ‘n kultuur van wetsgehoorsaamheid, en wat wil leef in ‘n land waar wet en orde bestaan, nie langer deel van so ‘n bestel wil bly nie. Die Boere- of Afrikanervolk het dwarsdeur sy geskiedenis juis so ‘n kultuur gehad. Nou word hy juis die slagoffer van hierdie laksheid en selfs misdadigheid van die ANC-bestel se polisie, deurdat hy besteel word en daar ‘n volksmoord teen hom gepleeg word terwyl die polisie nie die vermoë of die wil het om dit te ondersoek of te verhoed nie.
Moreel kan daar van geen volk verwag word om ewig onderhorig aan so ‘n bandelose bende te bly nie. Dit is een van die sterk dryfvere in ons stryd om vryheid en selfbeskikking in ons eie land, onder ons eie korrupsievrye regering, met ‘n deeglik gekeurde en misdaadvrye polisiemag.