NUWE BOEKE- MONUMENT OOR PLAASAANVALLE

"Veldtog teen plaasaanvalle begin binnekort"

Hierdie poging kan nie juis as 'n verdedigingsveldtog gesien word nie maar om 'n boek met al die gegewens oor plaasaanvalle saam te stel het wel sy waardevolle plek in ons Afrikanervolk se geskiedenis. Ons moet egter bid dat daar werklike uitkoms sal kom anders sal daar geen nageslag wees om hierdie boek te lees nie.

Plaasmoorde in Suid-Afrika het nou ʼn krisispunt bereik en daadwerklike optrede is nou noodsaaklik om die probleem te pak en dit as ʼn prioriteitsmisdaad te laat klassifiseer, het die Solidariteit Beweging (spesifiek Solidariteit, AfriForum en Kraal Uitgewers) vandag gewaarsku. Dit volg in reaksie op die reeks plaasaanvalle wat reeds sedert die begin van die jaar die landbougemeenskap teister.

In die jongste aanval is die 36-jarige Christo Jansen van Rensburg van die Heilbron-omgewing Dinsdag deur aanvallers met ʼn petrolbom bestook en aan die brand gesteek.

Hy het die aanval oorleef, maar ernstige brandwonde opgedoen. In nog ʼn aanval is Dave Foxon (43) op ʼn vakansieplaas buite Hazyview koelbloedig voor sy swanger vrou en twee kinders vermoor.

Die Solidariteit Beweging se uitgewersmaatskappy, Kraal Uitgewers, gaan binnekort, met die ondersteuning van Solidariteit en AfriForum, ʼn veldtog teen plaasaanvalle van stapel stuur. Dit gaan onder meer ʼn projek behels waarin alle Suid-Afrikaners wat deur plaasaanvalle geraak is, hulle stories kan vertel sodat dit in ʼn nuwe “boeke-monument” oor plaasaanvalle opgeteken kan word. Die organisasies gaan ook druk plaas op die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) om plaasaanvalle as ʼn prioriteitsmisdaad te klassifiseer.

“Die landbougemeenskap leef reeds vir jare in vrees en nuwe voorvalle van plaasaanvalle word byna daagliks aangemeld,” verduidelik dr Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit. “Intussen hou die polisie en die regering hulself doof vir die probleem en probeer die boeregemeenskap paai met praatjies van ʼn landelike veiligheidsplan. Die SAPD het reeds ʼn maand gelede aangekondig dat ʼn veiligheidsplan binnekort bekendgestel sal word, wat onder na polisie-sigbaarheid in landelike gebiede, dienslewering by polisiestasies en die verhouding tussen die polisie, plaasgemeenskappe en die uitgebreide landelike gemeenskappe sal kyk. Daar het egter nog niks van hierdie beloftes gekom nie.”

“In die eerste uitgawe van Kraal Uitgewers se boek oor plaasaanvalle in Suid-Afrika, Treurgrond, is daar vir die tydperk tussen 1990 en 2010 meer as 2 600 aanvalle en moorde gelys. Hierdie syfers skets egter nie die volle prentjie nie en die waarheid is selfs meer skokkend,” verduidelik Hermann. “Die boek gaan vanjaar bygewerk word. Elkeen se storie moet gehoor word. Ons mag nie stilbly oor die wreedheid van plaasmoorde wat veroorsaak dat ons landelike gemeenskap in permanente vrees leef nie.”

Die Solidariteit Beweging het ook sy steun toegesê aan die Transvaalse Landbou-unie van Suid-Afrika (TLU SA) wat onlangs ’n beroep op die polisie gedoen dat plaasaanvalle as ʼn afsonderlike misdaadtipe geklassifiseer moet word. “Vir solank as wat plaasaanvalle nie as ʼn aparte tipe misdaad beskou en geklassifiseer word nie, sal daar eenvoudig nie werklik ernstig opgetree kan word om dit hok te slaan nie. Dit is ʼn feit dat hierdie tipe misdaad moeilik is om presies te klassifiseer, maar daar kan nie ontken word dat aanvalle van dié aard verskil van moorde en aanvalle wat in stedelike gebiede plaasvind nie,” sê Hermann.

Ilze Nieuwoudt

Woordvoerder: Kraal Uitgewers

Tel: 012 644 4430

Sel: 079 874 2024

Van die plaasaanvalle wat reeds vanjaar plaasgevind het, sluit onder meer in:

  • Saterdag, 14 Januarie: Dries du Toit is in die vroeë oggendure van Saterdag, 14 Januarie op sy plaas in die Ventersburg-omgewing aangeval en vermoor. Sy vrou en suster is ook in die aanval aangerand.
  • Donderdag, 26 Januarie: ʼn 70-jarige boer, Corrie Potgieter, van ʼn plaas in die Karino-streek, wes van Mbombela (Nelspruit), het ʼn rower wat probeer het om toegang tot sy plaashuis te verkry, doodgeskiet. Een van die drie rowers het die boer se tuinwerker aangehou terwyl ʼn ander onverwags ʼn pistool op die boer gerig het. Potgieter het die rower geskiet. Nadat die polisie op die toneel aangekom het, is bevind dat die rowers platiekpistole (“BB-guns”) in die aanval gebruik het. (Hierdie aanval was een van vele in die distrik.)
  • Sondag, 29 Januarie: Die liggaam van die 77-jarige Hendrik Johannes (Boet) Cilliers is op sy plaas sowat 15 km buite Stella in Noordwes gevind. Hy is vermoedelik vroeër die naweek vermoor nadat hy erg aangerand, teen ʼn boom vasgebind en doodgeskiet is.
  • Sondag, 5 Februarie: Girlie van Niekerk (62) is deur twee inbrekers aangerand. Hulle het ook probeer om haar te verwurg. Die aanval het op die Groep 14-kleinhoewes buite Bothaville plaasgevind.
  • Sondag, 12 Februarie: Reinetha Venter (59) en haar dogter René (27) is op hulle plaas sowat 30 km buite Modjadjiskloof aangeval. Reinetha is minstens tien keer met ʼn mes in die hande gesteek voordat sy en haar dogter vasgebind is.
  • Maandag, 20 Februarie: David Hall (48) is aangerand en doodgeskiet tydens ʼn plaasaanval op sy melkplaas in die Fochville-omgewing. Sy vrou, Bernadette (44), is tydens die aanval vasgebind.
  • Dinsdag, 21 Februarie: Carel Bester (74) is op sy hoewe op die Eindhoek-suikerhoewes sowat 13 km buite Empangeni deur ʼn rower aangeval.
  • Donderdag, 10 Maart: Vic Nel en sy vrou, Hannie, is omstreeks 21:00 op hulle plaas naby Vergeleë in Noordwes, sowat 10 km van die Botswana-grens, aangeval. Daar is op Vic geskiet. Die paartjie is met kabels vasgebind en beroof.
  • Dinsdag, 20 Maart: Tjokkie Venter (34), ʼn boer van die Harrismith-distrik, is op die plaas Uitvlugt deur werknemers van ʼn plaas van die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap aangerand, met ʼn mes in die gesig gesteek en met ʼn ysterpyp oor die kop geslaan.
  • Sondag, 25 Maart: Die 57-jarige Bouke Tack is tydens ʼn aanval op sy melkplaas, Golden Valley, in die Magaliesburg-omgewing in die rug geskiet. Hy het die aanval oorleef, maar die skietwond het hom gedeeltelik verlam gelaat. Sy vrou, Olga (53), en seun, Marnus (18), was ook tuis ten tye van die aanval, maar is nie beseer nie.
  • Woensdag, 28 Maart: ʼn Inbreker wat in die vroeë oggendure in ʼn plaashuis op ʼn plaas in die Donkerhoek-omgewing buite Zeerust betrap is, is deur die inwoner doodgeskiet.
  • Dinsdag, 3 April: At van der Merwe (68) is dood nadat hy tydens ʼn aanval op sy plaas in die Leeubosch-omgewing in die Bloemhof-distrik erg aangerand is.
  • Vrydag, 6 April: Deon Steenkamp (44), sy vrou, Christelle (43), en hul 14-jarige dogter, Marthella, is op die plaas Naauwhoek buite Griekwastad in die Noord-Kaap vermoor.
  • Sondag, 8 April: Charlotte Sroneman (64) is in ʼn rooftog op die plaas Dagbreek buite George in die Suid-Kaap doodgesteek. Haar man is ook tydens die aanval gesteek, maar het die aanval oorleef.
  • Dinsdag, 10 April: Die 36-jarige Christo Jansen van Rensburg van die Heilbron-omgewing is deur plaasaanvallers met ʼn petrolbom bestook en aan die brand gesteek. Hy het die aanval oorleef, maar het ernstige brandwonde opgedoen.
  • Dinsdag, 10 April: Dave Foxon (43), bestuurder van die vakansieplaas Umbhaba Lodge buite Hazyview, is tydens ʼn aanval koelbloedig voor sy swanger vrou en twee kinders doodgeskiet.