Die ANC se poging om skaliegasontginning te doen het op 'n skewe noot begin en elke aspek en studie hieroor aangepak laat wenkbroue lig. Daar is groot wantroue oor die impak van hierdie saak. Hierdie keer is die studie wat Econometrix gedoen het oor die ontginning deur die bekende geoloog, dr Chris Hartnady, tegniese direkteur van Umvoto Africa, gekritiseer.
Ook mnr. Andrew Venter, hoof uitvoerende beampte van die Wildlands Conservation-trust, sê dit kan kortsigtig wees om die ekonomiese voordele van hidroliese breking te ignoreer, “maar daar is groot wantroue oor die werklike skaal van die impak. Die Econometrix-verslag is wyd gekritiseer. Daar is gesê dat dit nie net eensydig is nie maar dat sy verwagtings ook onrealisties is”.
Tydens die Suider-Afrikaanse Skaliegaskongres in Kaapstad is vroeëre opmerkings – dat dié navorsing gedoen is sonder om die volle omvang van die gevolge vir die omgewing in ag te neem – weer opgehaal.
Bonang Mohale, voorsitter van Shell Suid-Afrika, wat opdrag gegee het dat die navorsing gedoen moes word, het gesê die bevindinge “is groter as die ontdekking van goud in Gauteng”.
Volgens Hartnady sal prospektering vir skaliegas in dié deel van Suid-Afrika die land duur te staan kom, veral wat die vermindering van waterbronne betref. Verder sal dit die Karoo se landelike habitat benadeel en geraasbesoedeling veroorsaak.
216 000 kubieke meter water
Tydens die prospekteringsfase sal sowat 216 000 kubieke meter water nodig wees om 24 skagte in drie dele van die Karoo te grawe.
“Skaliegasproduksie sal ’n ernstige mededinger wees, met vier keer soveel water wat nodig sal wees as die hoeveelheid grondwater wat tans in Shell se drie prospekteringsgebiede in die Karoo gebruik word,” aldus Hartnady.