REVOLUSIE STU VOORT, MALEMA OF TE NIE.

Dit gebeur maar skraal dat Beeld, u weet daardie liberale koerant wat eens deur opregte Afrikaners tot standgebring is, 'n berig skryf wat geen regstellings verg nie en ons kan nie die geleentheid laat verby gaan om 'n berig wat amper geen regstelling nodig het, hier te plaas nie – met inligting van groot betekenis oor wat binnekort vir die blanke in Suid-Afrika wag met Malema se twee uur lange intreerede wat moontlik een van sy mees militante en uitdagendste openbare toesprake nóg was:

Malema wil ANC oorneem

Julius Malema het Jacob Zuma en die ANC gister openlik met ’n “revolusie” gedreig en gesê hy gaan sy getalle gebruik om die ANC “oor te neem” as hulle nie hul sin kry nie.
Die president van die ANC-jeugliga het gewaarsku die regerende party moet instem tot grondonteiening sonder vergoeding en die nasionalisering van myne en banke.
As dit nie gebeur nie, gaan die jeugliga die volgende 18 maande, in aanloop tot die ANC-leiersverkiesing, gebruik om seker te maak hy gebruik sy getalle om die ANC “oor te neem” en leiers te verkies wat sý beleidstandpunte voorstaan.
Benewens sy uittarting van ANC-leiers, het hy uitgevaar teenoor die regbank en media wat “in die sakke van wit kapitaal is”.
Hy is soos gewoonlik deur Winnie Madikizela-Mandela geloof as die toekoms van Suid-Afrika. “Jy is (die volgende) Mandela. Ek het julle lankal gewaarsku: Diegene wat Malema ignoreer, doen so tot hul eie nadeel,” het sy gesê.
Die konferensie het ’n aantal resolusies aanvaar wat die hoeksteen van die jeugliga se beleid vorm. Dit sluit in ’n strewe om die eiendomsklousule in die Grondwet te verander en om seker te maak leiers word vanuit die jeugliga verkies.
Die “grondvraagstuk” het die nasionalisering van myne duidelik as die jeugliga se vernaamste strydpunt vervang.
Malema het herhaaldelik woorde soos “opeis”, “grondrevolusie”, “oorlog”, “omverwerp”, “opstand” en “vyand” gebruik.
“Ons leiers in die regering probeer diplomaties oor grond wees, jy kan nie. Kolonialiste het ons grond gesteel.  Ons moet demokratiese instellings en politieke mag gebruik om die grond te vat. Al wat ons nodig het, is wilskrag. Wanneer ons wit kapitaal wil konfronteer, sê ons leiers: ‘Nee, julle gaan die ekonomie ontwrig.’ Watter ekonomie? Die ekonomie wat julle namens die wit eienaars van kapitaal bestuur?”
ANC-leiers sal by die leiersverkiesing in Bloemfontein “verantwoording moet doen” of hulle “saam met die Oppenheimers geëet het” en of hulle gedoen het wat by Polokwane besluit is.
Hy het telkemale gevra waarom die leierskap nie finaal wegdoen met die beginsel van gewillige koper/verkoper nie, terwyl daar reeds by Polokwane saamgestem is dié beleid het misluk.
Hoewel die jeugliga nie saamstem met die manier waarop die grondvraagstuk in Zimbabwe gepak is nie, het Malema pres. Robert Mugabe se lof lank besing.
“Sonder grond het ons niks nie, sonder grond het ons niks om te wys die land behoort aan ons nie. Ons het leiers nodig wat die kwessie sal oplos. Ons wil die grond opeis.”
Die 'struggle' gaan ’n ingewikkelde fase binne, daarom kan nasionalisering slegs slaag “as jy FNB, Standard Bank en Nedbank beheer. Nasionalisering moet gefinansier word en sonder dié beheer sal dit misluk.”
Kgalema Motlanthe het kort voor Malema se toespraak gesê grondhervorming moet binne die raamwerk van die Grondwet bespreek word.